Richard III van Engeland
Richard III | |
---|---|
Koning van Engeland | |
Huis | Huis van York |
Regeer | 22 Junie 1483 – 22 Augustus 1485 |
Voorganger | Eduard V |
Opvolger | Hendrik VII |
Eggenote | Anne Neville |
Kinders | Eduard van Middleham, Prins van Wallis |
Gebore | 2 Oktober 1452, Northamptonshire |
Oorlede | 22 Augustus 1485, Slag van Bosworth, Leicestershire |
Vader | Richard Plantagenet, Hertog van York |
Moeder | Cecily Neville |
Richard III (2 Oktober 1452 – 22 Augustus 1485) was van 1483 tot met sy dood koning van Engeland. Hy was die laaste koning van die Huis van York en sy nederlaag met die Slag van Bosworth het ’n einde gebring aan die Rose-oorlog en die Plantagenet-dinastie, wat sedert 1154 met die troonopvolging van Hendrik II oor Engeland regeer het.
Weens die omstandighede van Richard se troonbestyging en die oorwinning van Hendrik VII is Richard se lyk dringend naby die slagveld begrawe; die presiese plek was meer as vyf eeue lank onbekend. In 2012 het argeoloë opgrawings in ’n munisipale parkeerterrein in Greyfriars, Leicester, begin doen na aanleiding van dokumente waaruit hulle afgelei het hy is langs die stad se katedraal begrawe, waar die parkeerterrein tans is. In September 2012 het hulle aangekondig dat hulle ’n geraamte gekry het wat moontlik Richard s’n is en op 4 Februarie 2013 het die Universiteit van Leicester bevestig dat dit wel bo alle redelike twyfel syne is. Dit is vasgestel deur ’n kombinasie van DNS-toetse op die geraamte en op afstammelinge van die koning se suster, Anne van York. Ook is koolstoftoetse op die beendere gedoen, wat bewys het hulle is sowat 500 jaar oud, en beskrywings van Richard is met die beendere vergelyk.[1][2][3]
’n Ondersoek van die geraamte het gewys die koning het verskeie wonde gehad en ’n deel van die kopbeen is met ’n skerp wapen afgekap;[4] dit sou tot sy onmiddellike dood gelei het. Die argeoloë het afgelei dat hy nie ten tyde van sy dood ’n helm gedra het nie.
Hy is op 26 Maart 2015 in die Leicester-katedraal herbegrawe.[5]
Vroeë jare
[wysig | wysig bron]Tydens die bewind van sy broer koning Eduard IV, het Richard hom bewys as ’n getroue militêre aanvoerder en het hy een van die invloedrykste en rykste edelmanne van Engeland geword. Hul ander broer, George Plantagenet, 1ste Hertog van Clarence, het egter met Eduard vasgesit en is weens verraad tereggestel.
Richard het die noorde van Engeland beheer tot met Eduard se dood op 9 April 1483. Daarna het hy verantwoordelikheid aanvaar vir die veiligheid van Eduard se seuns, koning Eduard V (12) en Richard (9), met die titel lord protector. Later het hy die twee seuns volgens sommige bronne in die Londense Tower laat opsluit en die troon vir homself toegeëien. Hy is op 6 Julie 1483 gekroon.
Bewind
[wysig | wysig bron]Daar was twee grootskaalse rebellies teen Richard. Die eerste een, in 1483, is onderdruk, maar in die tweede een, in 1485, wat gelei is deur Hendrik Tudor, 2de Graaf van Richmond, is Richard dood in die Slag van Bosworth. Hy was die laaste monarg van die Huis van Plantagenet en word dus algemeen beskou as die laaste Middeleeuse koning van Engeland. Richard III en Harold II is die enigste Engelse monarge wat in ’n oorlog dood is.
Hy is opgevolg deur Hendrik Tudor as Hendrik VII. Hendrik het sy aanspraak op die troon versterk deur te trou met Elizabeth van York, die dogter en erfgenaam van koning Eduard IV.
Kinders
[wysig | wysig bron]Richard is op 12 Julie 1472 getroud met Anne Neville, die jongste dogter van die Graaf van Warwick. Anne se eerste man was Edward van Westminster, die seun van Hendrik VI.
Richard en Anne het een seun gehad: Eduard Plantagenet (ook bekend as Eduard van Middleham), 1473 – 9 April 1484. Hy is dood kort nadat hy die Prins van Wallis geword het. Richard het ook ’n paar buite-egtelike kinders gehad.
Reputasie
[wysig | wysig bron]Moderne historici verwerp ’n groot deel van wat voorheen as feite oor Richard III aanvaar is. So is Richard byvoorbeeld deur Tudor-skrywers as liggaamlik gestrem beskryf, wat beskou is as bewys van ’n bose karakter. Die twyfelagtige geskiedenis wat toegeskryf word aan Thomas More het ’n groot indruk gemaak op William Shakespeare en is lank beskou as die gesaghebbende weergawe van gebeure. Shakespeare het Richard gebruik as die onderwerp van sy toneelstuk Richard III, waarin hy negatief uitgebeeld is.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Richard III: DNA confirms twisted bones belong to king Maev Kennedy, The Guardian, 4 Februarie 2013
- ↑ "Richard III dig: DNA confirms bones are king" (in Engels). BBC News. 4 Februarie 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 April 2020. Besoek op 4 Februarie 2013.
- ↑ Fricker, Martin (5 Februarie 2013). "Edinburgh-based writer reveals how her intuition led archaeologists to remains of King Richard III". Daily Record and Sunday Mail. Besoek op 5 Februarie 2013.
- ↑ Eliza Mackintosh. "'Beyond reasonable douby,' bones are the remains of England's King Richard III". The Washington Post. Besoek op 5 Februarie 2013.
- ↑ "Richard III: Leicester Cathedral reburial service for king". BBC News Online. 26 Maart 2015. Besoek op 12 April 2019.
Verdere leesstof
[wysig | wysig bron]- Dockray, Keith. Richard III: A Reader in History, Sutton, 1988.
- Drewett, Richard en Redhead, Mark. The Trial of Richard III, Sutton, 1984.
- Fields, Bertram. Royal Blood: Richard III and the mystery of the princes, HarperCollins, ©1998, ISBN 0-06-039269-X.
- Hammond, Peter W. en Sutton, Anne. Richard III: The Road to Bosworth Field, Constable, 1985, ISBN 0-09-466160-X.
- Hicks, Michael. Richard the Third, Tempus, 2001, ISBN 0-7524-2302-9.
- Kendall, Paul Murray (red.). Richard III: The Great Debate, W.W. Norton, 1992.
- Kendall, Paul Murray. Richard III, W.W. Norton, 1956, ISBN 0-393-00785-5.
Skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Richard III van Engeland.
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.