Gaan na inhoud

Richard II van Engeland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Richard II
Koning van Engeland
Portret in Westminster-abdy, middel 1390's.
Portret in Westminster-abdy, middel 1390's.
Huis Angevyne
Regeer 22 Junie 137730 September 1399
Voorganger Eduard III
Opvolger Hendrik IV
Eggenote Anna van Boheme
Isabella van Valois
Gebore 6 Januarie 1367
Oorlede c. 14 Februarie 1400
Vader Eduard die Swart Prins
Moeder Johanna van Kent
Regent O.a. Jan van Gent
Handtekening

Richard II (6 Januarie 1367 – c. 14 Februarie 1400) was van 1377 tot met sy afsetting in 1399 koning van Engeland. Hy was die laaste koning van die Huis van Anjou. Hy was die seun van Eduard die Swart Prins en is gebore tydens die bewind van sy oupa, Eduard III. Op vierjarige ouderdom het hy die tweede aanspraakmaker op die troon geword ná die dood van sy ouer broer, Eduard van Angoulême. Met sy pa se dood in 1376 het hy die troonopvolger geword. Toe Eduard III die volgende jaar sterf, het Richard op tienjarige ouderdom koning geword.

Sy regente was sy ooms, Edmund, die Hertog van York, Thomas, die Hertog van Gloucester en Jan van Gent, die Hertog van Lancaster.

Bewind

[wysig | wysig bron]

Richard het sommer gou te doen gekry met ’n opstand deur die boere oor ’n belastingkwessie. Hy het dit onderdruk en daar is verwag dat hy ’n goeie koning sou word.

In 1382, toe hy 15 was, het hy getrou met die 16-jarige Anna van Boheme, dogter van keiser Karel IV van die Heilige Romeinse Ryk. Sy is in 1394 sonder kinders oorlede.

Richard het slegte raadgewers gehad en het boonop aan depressie gely. Dié omstandighede, tesame met die bedreiging van ’n inval deur Frankryk, waarmee Engeland sedert 1337 in die Honderdjarige Oorlog betrokke was, het tot groot teenstand gelei. ’n Magstryd tussen Richard en sy ooms, wat deur die parlement gesteun is, is in 1388 in sy ooms se guns beslis. In 1389 het Richard hom uit die regentskap losgemaak en toenadering tot die parlement gesoek, waarna ’n periode van vrede gevolg het. In 1389 het Richard ’n wapenstilstand met Frankryk gesluit.

In 1396 het hy met Isabella van Valois, die dogter van Karel VI van Frankryk, getrou. Ook dié huwelik was kinderloos.

Die parlement wou invloed op die finansiële beleid gehad het. Richard het toe ’n nuwe parlement ingestel wat met sy beleid saamstem. Met die absolute mag in sy hande, het hy met ’n tydperk van terreur begin, wat gekenmerk is deur onderdrukking, doodsvonnisse en swaar belasting. Toe hy in 1399 ’n veldtog teen Ierland begin, het sy neef Hendrik Bolingbroke (die seun van Jan van Gent wat in 1398 verban is en latere koning Hendrik IV), teruggekeer. Hy het Richard op 30 September 1399 in die Londense Tower laat opsluit. Hy is daarna na ’n kasteel in York gebring, waar hy waarskynlik in 1400 vermoor is.

Skakels

[wysig | wysig bron]