Suid-Afrikaanse algemene verkiesing van 1970
Die Suid-Afrikaanse parlementsverkiesing van 1970 het op 22 April 1970 plaasgevind.
Alhoewel die regerende Nasionale Party van premier John Vorster 111 setels in Suid-Afrika en 6 setels in die mandaatgebied van Suidwes-Afrika gewen het, en nog steeds die grootse party was, het dit byna vier persent, of nege setels in totaal verloor. Die ultrakonserwatiewe Herstigte Nasionale Party (HNP) van Albert Hertzog (seun van oudpremier Barry Hertzog), het byna 4 persent van die uitgebragte stemme op hom verenig, maar geen setels behaal nie. Die Verenigde Party van De Villiers Graaff, het sy aantal setels van 39 na 47 opgestoot. Helen Suzman, die enigste parlementêre verteenwoordiger van die Progressiewe Party, het die kiesafdeling Houghton vir haar party behou.
Uitslag
[wysig | wysig bron]Party | Leier | % | Setels | Verskil |
---|---|---|---|---|
Nasionale Party | John Vorster | 54,43% | 118 | -8 |
Verenigde Party | De Villiers Graaff | 37,23% | 47 | +8 |
Herstigte Nasionale Party | Albert Hertzog | 3,57% | 0 | ±0 |
Progressiewe Party | Jan Steytler | 3,43% | 1 | ±0 |
Totaal | 100% | 166 |
Dr. H.F. Verwoerd se opvolger as Nasionale Party-leier en eerste minister, adv. B.J. Vorster, het te kampe gehad met spanning in sy parygeledere op kultuurrein en in die koerante wat die party ondersteun het. In die Parlement was daar onenigheid in die koukus oor wat sommige beskou het as 'n klaarblyklike afwyking van die sportbeleid van Vorster se voorganger. Dit was dr. Verwoerd se beleid dat gemengde sportspanne nie in Suid-Afrika ontvang sou word nie. Vroeg in 1967 het Vorster egter in die kabinet die sportkwessie aanhangig gemaak en gesê Suid-Afrika sou nie op die geslagsregister van buitelandse spelers ingaan nie. Op 1 April 1967 het hy sy sportbeleid in die Volksraad bekend gemaak. In wese het dit neergekom op die toelating van gemengde toerspanne in Suid-Afrika. Dit het heelwat konserwatiewe N.P.-lede teen Vorster laat draai.
Intussen was daar ook 'n skerp botsing tussen verligte en verkrampte elemente in die geledere van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat uiteindelik daartoe gelei het dat N.P.-leiers 'n beroep op die strydende faksies moes doen om die strydbyl ter wille van die party te begrawe. Dit was egter net die voorspel tot veel ernstiger botsings in 1968. Reeds in 1965 het die Nasionale Pers 'n Sondagkoerant, Die Beeld, in Transvaal gevestig as regstreekse mededinger van die Afrikaanse Pers (1962) Beperk se Dagbreek, 'n troue bondgenoot van die regering. Die botsing en meningsverskille oor wat N.P.-leiers as die verdelende rol van die pers beskou het, het tot 'n aantal vergaderings van die party se koukus in die Transvaal gelei. Uiteindelik aanvaar so 'n vergadering 'n mosie wat die rol van die Sondagkoerante in die ondermyning van party-eenheid veroordeel. Al het die klem op die koerante se rol geval, was dit duidelik dat die verskille in die party, veral in Transvaal, veel dieperliggend was. Mettertyd het die koerantredakteurs openlik, en verligte partyleiers minder openlik, begin steun werf vir die uitdrywing uit die party van die verkrampte elemente wat nie wou toegee aan die eise van die tyd om aan te pas nie.
Die verdeeldheid is tydens die parlementsitting van 1969 op die spits gedryf. Aan die hoof van die verkrampte faksie het dr. Albert Hertzog, seun van genl. J.B.M. Hertzog, gestaan wat in 1968 van sy oorblywende portefeulje as minister van gesondheid onthef is. In April 1969 lewer Hertzog sy sogenaamde Calvinistiese toespraak in die Volksraad waarin hy die verskille onderstreep tussen Afrikaners se Calvinistiese inslag en Engelssprekendes se tradisioneel liberale wêreldbeskouing. Hy het gesê dit is alleen die man wat deurdrenk is van Calvinisme wat sal kan staande bly in die aanslag teen die "Blankedom" in Afrika. Veral P.J. Cillié, redakteur van Die Burger, het dr. Hertzog skerp aangeval. In die Volksraad het sir De Villiers Graaff, leier van die opposisie, geëis dat Hertzog moet bedank. Die Transvaalse N.P.-leier, min. Ben Schoeman, het die eerste repudiëring in die Volksraad gedoen deur te sê dat die toespraak "'n verskriklike belediging van die Engelssprekendes was". Vorster self repudieer Hertzog hierna. Die spanning in die N.P. bereik breekpunt op die party se Transvaalse kongres op 9 September 1969. Afgevaardigdes moes oor vier besprekingspunte stem: die sportbeleid, immigrasie, Engels-Afrikaanse verhoudinge en die regering se uitwaartse beleid. Schoeman het gevra al die lede wat teen die punte gestem het, se name moet aangeteken word. Elf het daarteen gestem en sewe het buite stemming gebly. Die name is toe aan hul kiesfadelingsbestuur oorhandig vir optrede teen hulle. Dr. Hertzog se afdelingsbestuur op Breyten het hom op 4 Oktober uit die party gesit.
Vorster moes vinnig optree om enige moontlike wyer verset by die kiesers te besweer en Hertzog en sy volgelinge die geleentheid te ontneem om 'n nuwe party regs van die N.P. te vestig. Die enigste uitweg was 'n vervroegde algemene verkiesing. Op die Vrystaatse kongres op 16 September 1969, slegs 'n week na die Transvaalse, kondig Vorster aan die verkiesing wat eers in 1971 moes volg sou reeds in April 1970 gehou word. Hertzog hou op 24 Oktober 1969 'n groot openbare vergadering in die Skilpadsaal in Pretoria, wat die volgende dag uitloop op die stigting van die Herstigte Nasionale Party (H.N.P.).
Die verkiesing van 1970 sou dus 'n botsing wees tussen vier partye: Die N.P., Verenigde Party, Progressiewe Party en H.N.P. Al die klem het egter geval op die bittere stryd tussen die N.P. en die nuwe regsgesinde party. Die veldtog wat op die skeuring in Afrikanergeledere gevolg het, was die bitterste in 'n lang tyd. Vuisgevegte, tamatiegooiery en ander laakbare optrede was aan die orde van die dag. Dit was moeilik vir die pas gestigte H.N.P. om onder sodanige omstandighede sy boodskap aan die publiek oor te dra. Die oormag was ook geweldig teen die H.N.P. omdat die volle omvang van die regeringspers ingespan is ter ondersteuning van die regerende party om die nuweling te kelder. Tydens die veldtog het die regeringslede al hul aanvalle op die H.N.P. toegespits en die V.P. en P.P. feitlik geïgnoreer. Dit was heel moontlik omdat die V.P. en P.P. se krag reeds herhaaldelik getoets is, maar die N.P. nie geweet het hoe diep die ondersteuning vir die H.N.P. geloop het nie.
Met die ontbinding van die Parlement op 2 Maart 1970 was die stand van die partye: N.P. 119, V.P. 37, H.N.P. 4, P.P. 1, Kleurlingverteenwoordigers 3. Daar was ook ses vakatures. Ná die verkiesing was die stand van die partye: N.P. 117, V.P. 47, P.P. 1. Langlaagte was vakant nadat die N.P.-kandidaat oorlede is. Die N.P. behou die setel in die daaropvolgende tussenverkiesing en bring sy setels op 118 te staan. Die grootste verloorder van die verkiesing was die N.P. wat agt setels aan die V.P. moes afstaan. Dié kiesafdelings was Florida, Benoni, Jeppes, Turffontein, Umhlatuzana, Zoeloeland, Port Elizabeth-Sentraal en Maitland. Die N.P. se taktiese fout om al sy aandag aan die H.N.P. te bestee het in die V.P. se guns getel. Geen H.N.P.-kandidaat was suksesvol nie.