Gaan na inhoud

Paradise Lost

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Paradise Lost
Die titelblad van die eerste uitgawe (1667).

SkrywerJohn Milton
OmslagontwerperJ.B. de Medina
Henry Aldrich
LandEngeland
TaalEngels
GenreEpiese digkuns
Christelike mitologie
UitgewerSamuel Simmons (oorspronklike)
Uitgegee1667
VervolgParadise Regained

Paradise Lost is 'n epiese gedig in rymlose verse deur die 17de-eeuse Engelse digter John Milton (1608-'74). Die eerste uitgawe, wat in 1667 gepubliseer is, bestaan uit 10 boeke met meer as 10 000 reëls. 'n Tweede uitgawe het in 1674 gevolg wat in 12 boeke verdeel is (op die manier van Vergilius se Eneïde), met klein hersienings.[1][2] Dit word beskou as Milton se meesterstuk en het sy reputasie help vestig as een van die grootste Engelse digters van alle tye.[3]

Die gedig gaan oor die Bybelse storie van die sondeval van die mens: Adam en Eva se verleiding deur die gevalle engel Satan en hulle uitdrywing uit die tuin van Eden.

Skryfproses

[wysig | wysig bron]
Milton Dikteer aan Sy Dogter, Henry Fuseli (1794).

In sy inleiding van die Penguin-uitgawe van Paradise Lost skryf die Milton-kenner John Leonard "John Milton was amper 60 toe hy Paradise Lost in 1667 gepubliseer het. Die biograaf John Aubrey (1626-'97) vertel vir ons die gedig is omstreeks 1658 begin en omstreeks 1663 voltooi. Dele daarvan is egter byna vir seker vroeër geskryf, en die wortels daarvan lê in Milton se vroegste jeug."[4] Leonard spekuleer die Engelse Burgeroorlog het Milton se vroegste pogings onderbreek om te begin met sy "epiese gedig, wat op alle ruimte en tyd beslag sou lê".[4]

Leonard skryf ook Milton "het nie aanvanklik beplan om 'n Bybelse epos te skryf nie."[4] Omdat eposse gewoonlik oor heroïese konings en koninginne geskryf is (en met heidense gode), het Milton hom aanvanklik voorgestel dat hy sy epos sou skoei op 'n legendariese Saksiese of Britse koning soos die legende van koning Arthur.[5][6]

Milton het in 1652 blind geword en het die hele Paradise Lost gedikteer, met die hulp van assistente en vriende. Hy het ook dikwels geskryf terwyl hy siek was of emosioneel gelei het, soos ná die dood van sy tweede vrou, Katherine Woodcock, in 1658 en hulle babadogter.[7]

Samevatting

[wysig | wysig bron]
Gustave Doré, The Heavenly Hosts (omstreeks 1866) 'n Illustrasie vir Paradise Lost.

Milton se storie het twee storielyne, die een oor Satan (Lucifer) en die ander oor Adam en Eva. Dit begin nadat Satan en die ander gevalle engele verban is na die hel (of Tartaros, soos dit in die gedig genoem word). In Pandæmonium, die hoofstad van die hel, gebruik Satan sy redekundigheid om sy volgelinge te organseer; hy word bygestaan deur Mammon en Beëlsebul. Belial, Kemos en Molog is ook teenwoordig. Aan die einde van die debat onderneem Satan vrywillig om die nuut geskepte aarde en God se nuutste skepsels, die mense, te verlei. Hy durf die gevare van die diep waters alleen aan, op 'n manier wat herinner aan Odusseus of Eneas. Ná 'n veeleisende reis deur die Chaos buite die hel gaan hy God se nuwe materiële wêreld, en later die tuin van Eden, binne.

Op verskeie plekke in die gedig word uit verskillende perspektiewe vertel van 'n oorlog tussen engele oor die hemel. Satan se rebellie volg op die epiese konvensie van grootskaalse oorlog. Die gevegte tussen die getroue engele en Satan se magte duur drie dae. In die laaste geveg oorwin die Seun van God alleen die hele legioen van engelrebelle en verban hulle uit die hemel. Ná hierdie suiwering skep God die wêreld, en daarna vir Adam en Eva. Hoewel God Adam en Eva die vryheid en mag gee om oor die hele skepping te regeer, gee hy een duidelike opdrag: om nie te eet van die boom van alle kennis nie, anders sal hulle sterf.

Die storie van Adam en Eva se verleiding en val is 'n fundamenteel verskillende, nuwe soort epiese gedig: 'n huishoudelike een. Adam en Eva het in die gedig 'n romantiese en seksuele verhouding, al is hulle nog sonder sonde. Hulle het passies en afsonderlike persoonlikhede. Satan, vermom as 'n slang, slaag daarin om Eva te oorreed om van die verbode boom te eet. Adam pleeg dieselfde sonde toe hy uitvind Eva het gesondig. Hy sê aan Eva hulle is aan mekaar verbind, omdat sy van sy vlees gemaak is – as sy sterf, moet hy ook sterf. Op dié manier beeld Milton vir Adam as 'n heroïese figuur uit, maar ook as 'n groter sondaar as Eva omdat hy bewus is daarvan dat hy verkeerd optree.

Nadat hulle die vrug geëet het, het Adam en Eva wellustige seks. Adam is eers oortuig daarvan dat Eva reg was deur te dink dit sal voordelig wees om die vrug te eet. Hulle raak egter gou aan die slaap en het verskriklike nagmerries. Toe hulle wakker word, voel hulle vir die eerste keer skuldig en skaam. Toe hulle besef hulle het 'n vreeslike sonde teen God gepleeg, begin hulle mekaar oor en weer beskuldig.

Intussen keer Satan triomfantlik terug na die hel, waar sy mede- gevalle engele hom prys. Hy vertel vir hulle hulle het nou volle beheer oor die Paradys. Toe hy klaar gepraat het, verander al die gevalle engele om hom in aaklige slange, en kort daarna word Satan self 'n slang, sonder ledemate en nie in staat om te praat nie. Hulle deel dus almal dieselfde straf, want hulle deel dieselfde skuld.

Adam en Eva nader God en vra om vergifnis. In 'n visioen wat die aartsengel Migael aan hom gee, sien Adam alles wat met die mens sal gebeur tot met die sondvloed. Adam is baie ontsteld daardeur en Migael vertel dus vir hom ook van die mens se moontlike verlossing van die erfsonde deur Jesus Christus (wat Migael "Koning Messias" noem).

Adam en Eva word uit die Paradys verdryf. Hulle het nou 'n afsydiger verhouding met God, wat alomteenwoordig maar onsigbaar is (anders as die tasbare vader in die tuin vn Eden).

Beeld van bladsy 362 van The Poetical Works of John Milton. Containing Paradise Lost. Paradise Regained. Samson Agonistes, and his Poems on several occasions, by Milton, John., Michael Burghers (1695).

Karakters

[wysig | wysig bron]

Satan

[wysig | wysig bron]
Satan Arousing the Rebel Angels, William Blake (1808).

Satan, voorheen Lucifer genoem, is die eerste belangrike karakter wat in die gedig bekend gestel word. Hy is 'n tragiese figuur wat verklaar: "Dis beter om in die hel te regeer as om in die hemel te dien" (1.263). Ná sy ydellike rebellie teen God word hy uit die hemel na die hel gewerp. Die rebellie spruit uit Satan se trots en afguns (5.660ff.).

Menings oor die karakter is in 'n groot mate verdeel. Milton stel Satan voor as die oorsprong van alle boosheid, maar lesers het histories gesukkel om dié vertolking te aanvaar. Veral romantieke resensente, onder andere William Blake, Lord Byron en Percy Bysshe Shelley, het Satan beskou as die "ware held" van Paradise Lost. Dit het ander resensente, soos C.S. Lewis en Charles Williams, wat albei groot Christene was, genoop om lesers daarteen te maan om Satan as 'n heroïese figuur te beskou.[8]

John Carey meen dié konflik kan nie opgelos word nie, want Satan se karakter bestaan in meer modusse en groter diepte as die ander karakters in Paradise Lost: So het Milton 'n teenstrydige karakter geskep, en enige argument "vir" of "teen" Satan neem net die helfte van die feite in ag. Satan se teenstrydigheid "is 'n voorvereiste vir die gedig se sukses", sê Carey. Dit is 'n belangrike faktor in die aandag wat dit opgewek het.[9]

Adam is die eerste mens wat deur God gevorm word. Hy vra 'n metgesel van God (8.389–392), en God keur dit goed en vorm Eva. God stel Adam en Eva toe aan om oor al die wesens van die wêreld te regeer en in die tuin van Eden te bly.

Adam is geselliger as Eva en smag na haar teenwoordigheid. Hy is heeltemal versot op haar. Rafael waarsku hom (5.635–636), maar sy groot liefde vir Eva dra by tot sy ongehoorsaamhed aan God.

William Blake se The Temptation and Fall of Eve, 1808 (illustrasie vir Milton se Paradise Lost).

Anders as die Bybelse Adam, gee Migael vir Milton se Adam 'n blik op die toekoms van die mens, wat stories van die Ou en Nuwe Testament insluit.

Eva is die tweede mens wat deur God geskep word. God neem een van Adam se ribbes en vorm Eva daaruit. Of Eva eintlik minderwaardig teenoor Adam is, is 'n omstrede punt. Sy is dikwels ongewillig om onderdanig te wees. Sy is dalk die intelligentste een van die twee. Sy is oor die algemeen gelukkig, maar smag na kennis, veral selfkennis. Toe sy Adam die eerste keer ontmoet, draai sy weg van hom omdat sy meer in haarself geïnteresseerd is.

Sy het na haar weerkaatsing in 'n meer gekyk voordat sy onsigbaar na Adam gelei is. Sy erken teenoor Adam dat sy hom minder aanloklik vind as haar weerkaatsing (4.477-480).

Hoewel Eva lief is vir Adam, vind sy sy konstante teenwoordigheid versmorend. Sy voel sy wil op haar eie wees en haar individualiteit verken. In Boek 9 oortuig sy Adam dat hulle vir 'n ruk skei en in verskillende dele van die tuin werk. In haar alleenheid word sy deur Satan verlei. Satan as die slang lei Eva na die verbode boom. Hy oortuig haar hy het van die boom se vrugte geëet en kennis gekry, en sy moet dieselfde doen.

Dit is nie maklik om haar te oortuig nie, maar haar liggaam en verstand is honger.

Die Seun van God

[wysig | wysig bron]
The Judgment of Adam and Eve: "So Judged He Man", William Blake (1808).

Die Seun van God is die gees wat gestalte sal kry as Jesus Christus, hoewel hy nooit uitdruklik genoem word nie omdat hy nog nie 'n menslike gestalte aangeneem het nie. Milton het geglo die Seun is sekondêr tot die Vader en is God se "groot onderheerser" (5.609).

Milton se God in Paradise Lost verwys na die Seun as "My woord, my wysheid en effektiewe mag" (3.170). Die gedig is nie uitdruklik anti-Drie-eenheid nie, maar stem ooreen met Milton se oortuigings. Die Seun is die primêre held van die epiese gedig en is oneindig magtig – hy verslaan Satan en sy volgelinge op sy eie en verdryf hulle na die hel. Ná hulle val vertel die Seun van God vir Adam en Eva van God se oordeel.

In die finale boek onthul Migael 'n visioen van redding deur die Seun aan Adam. Die naam Jesus van Nasaret en die detail van Jesus se storie word nie in die gedig uitgebeeld nie,[10] hoewel daarop gesinspeel word.

God die Vader

[wysig | wysig bron]

God die Vader is die skepper van die hemel, hel en aarde, van almal en alles wat daar is, deur die bemiddeling van sy Seun. Milton stel God voor as almagtig en alleswetend, as 'n oneindige groot wese wat nie eens deur die groot leër engele wat Satan teen hom opsteek, omvergewerp kan word nie. Milton beeld God uit as immer geselsend oor sy planne en motiewe vir sy dade met die Seun van God. Die gedig wys hoe God die wêreld skep op die manier waarop Milton geglo het dit gedoen is: God het die hemel, aarde en hel en al die wesens wat dit bewoon, geskep uit 'n deel van Homself, en nie uit niks nie.[11] Volgens Milton kom die primêre mag van God oor alle dinge wat gebeur uit die feit dat hy die "outeur" van die hele skepping is. Satan regverdig sy rebellie deur hierdie aspek van God te ontken en te beweer hy het homself geskep, maar erken aan homself die waarheid.[12][13]

Rafael

[wysig | wysig bron]
The Archangel Raphael with Adam and Eve (Illustration to Milton's "Paradise Lost"), William Blake (1808).

Rafael is 'n aartsengel wat God na Eden stuur om Adam en Eva sterk te maak teen Satan. Hy vertel 'n heroïese verhaal oor die oorlog van die engele wat die grootste deel van Boek 6 in beslag neem. Eindelik berei die storie wat Rafael vertel, waarin Satan uitgebeeld word as sterk en daadkragtig, nie vir Adam en Eva voor op Satan se subtiele verleidings nie - en dit kon selfs die sondeval in die eerste plek veroorsaak het.[14]

Migael

[wysig | wysig bron]

Migael is 'n aartsengel wat voortreflik in militêre manhaftigheid is. Hy lei 'n geveg en gebruik 'n swaard (6.322–323).

God stuur Migael na Eden en gee hom opdrag om Adam en Eva uit die tuin van Eden te verdryf: verdrietig maar in vrede. Hy moet ook aan Adam wys wat die toekoms inhou en 'n wag voor die Paradys plaas.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Milton 1674.
  2. "Paradise Lost: Introduction". Dartmouth College. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Mei 2019. Besoek op 26 Maart 2010.
  3. "John Milton". Poetry Foundation. 19 April 2018.
  4. 4,0 4,1 4,2 Leonard 2000, p. xii.
  5. Leonard 2000, p. xiii.
  6. Broadbent 1972, p. 54.
  7. Abrahm, M.H., Stephen Greenblatt, reds. The Norton Anthology of English Literature. New York: Norton, 2000.
  8. Carey, John (1999-07-22), Danielson, Dennis, ed., "Milton's Satan", The Cambridge Companion to Milton (Cambridge University Press): pp. 160–174, doi:10.1017/ccol052165226x.011, ISBN 978-0-521-65226-1, https://www.cambridge.org/core/product/identifier/CBO9780511999116A014/type/book_part, besoek op 2022-05-02 
  9. Carey, John (1999-07-22), Danielson, Dennis, ed., "Milton's Satan", The Cambridge Companion to Milton (Cambridge University Press): p. 161, doi:10.1017/ccol052165226x.011, ISBN 978-0-521-65226-1, https://www.cambridge.org/core/product/identifier/CBO9780511999116A014/type/book_part, besoek op 2022-05-02 
  10. Marshall 1961, p. 17
  11. Lehnhof 2004, p. 15.
  12. Milton 1674, 4.42–43.
  13. Lehnhof 2004, p. 24.
  14. Johnson, Kimberly (2012). "Raphael's "Potent Tongue": Power and Spectacle in "Paradise Lost"". Milton Quarterly. 46 (4): 205–218. doi:10.1111/milt.12010. ISSN 0026-4326. JSTOR 24462156.

Skakels

[wysig | wysig bron]