Gaan na inhoud

Percy Bysshe Shelley

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie



Percy Bysshe Shelley

Engelse digter


Handtekening


Gebore
4 Augustus 1792
in Horsham, Sussex, Engeland,
Groot-Brittanje


Oorlede
8 Julie 1822
in Lerici, Koninkryk Sardinië
(tans Italië)


Literêre stroming
Romantiek


Bekende werke

Ode to the West Wind
Adonaïs

Percy Bysshe Shelley [ˈpɜrsi ˈbɪʃ ˈʃɛli], (* 4 Augustus 1792, † 8 Julie 1822), was een van die groot Romantiese digters in die Engelse letterkunde. Van sy liriese poësie word by die meesterwerke van Engelse digkuns gereken.

Sy radikale benadering was nie beperk tot sy digkuns nie, maar het ook uitdrukking in sy politieke en sosiale oortuigings gevind. So het Shelley gedurende sy leeftyd min erkenning as digter geniet. Eers ná sy afsterwe het sy digkuns steeds meer aanklank by kritici en lesers gevind. Shelley was 'n sleutelfiguur in 'n nou kring van visioenêre digters en skrywers wat Lord Byron, Leigh Hunt, Thomas Love Peacock en sy eie tweede vrou, Mary Shelley, die skrywer van Frankenstein, ingesluit het.

Shelley se bekendste werke sluit klassieke gedigte soos Ozymiandas, Ode to the West Wind, To a Skylark, Music, When Soft Voices Die , The Cloud en The Masque of Anarchy in. Van sy ander belangrike werke is lang, visioenêre gedigte soos Queen Mab (later herbewerk as The Daemon of the World), Alastor, The Revolt of Islam, Adonaïs, die onvoltooide The Triumph of Life en die visioenêre versdramas The Cenci (1819) en Prometheus Unbound (1820).

Sy nou kring van bewonderaars het van die progressiewe denkers van sy tyd ingesluit, onder wie sy skoonvader, die filosoof William Godwin. Alhoewel Shelley sy lewe lank gedigte en prosa geskryf het, het die meeste uitgewers en tydskrifte geskroom om sy werke te publiseer - uit vrees dat hulle weens godslastering of aanhitsing tot oproer in hegtenis geneem sou word.

Shelley het die sukses van sy werk en die invloed, wat dit tot vandag nie net op literêre gebied, maar ook op belangrike stromings van sosiale en politieke denke uitoefen, nie meer self beleef nie. Hy het saam met sy vriend Edward Ellerker Williams verdrink nadat sy skoener tydens 'n skielike storm vergaan het.

Hy het die idool van die volgende drie of vier generasies van digters geword, waaronder belangrike Victoriaanse en Pre-Rafaelitiese digters soos Robert Browning en Dante Gabriel Rossetti. Hy is bewonder deur Oscar Wilde, Thomas Hardy, George Bernard Shaw, Bertrand Russell, William Butler Yeats, Karl Marx, Upton Sinclair en Isadora Duncan. Henry David Thoreau se burgerlike ongehoorsaamheid is blykbaar deur Shelley se geweldlose protes en politieke aktiwisme beïnvloed.

Die Golfo dei Poeti of Golf van die Digters: Uitsig oor die Isola del Tino vanaf Tellaro

Op 8 Julie 1822, enkele weke voor sy 30ste verjaardag, het Shelley saam met die afgetrede offisier Edward Ellerker Williams en die jong bootsman Charles Vivien in sy boot Don Juan vanuit Livorno vertrek en was op pad na Lerici, waar hy kort tevore die Casa Magni gehuur het, toe 'n skielike seestorm in die Golf van La Spezia opgekom het. Shelley en sy metgeselle het verdrink nadat hul boot, wat in Genua volgens Shelley wense gebou is, in die see vergaan het. Die golf, geleë langs die Liguriese kus tussen La Spezia en Lerici, word tans ook Golfo dei Poeti genoem - 'n verwysing na Shelley en Lord Byron wat hier geswem het.[1]

Shelley het sy laaste rusplek op die Cimitero Acattolico te Rome gevind wat ook bekend staan as Engelse of Protestantse begraafplaas.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Barbara Schaff: Italianised Byron - Byronised Italy. In: Manfred Pfister and Ralf Hertel (reds.): Performing National Identity. Anglo-Italian Cultural Transactions. Amsterdam | New York, NY: Editions Rodopi 2008, bl. 116