Gaan na inhoud

Isadora Duncan

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Isadora Duncan
Agtergrondinligting
GeboortenaamAngela Isadora Duncan
Gebore27 Mei 1877
San Francisco, Kalifornië, VSA
Sterf4 September 1927
Nice, Frankryk
GenresEkspressionistiese dans, moderne dans
Beroep(e)Danseres, choreograaf
Jare aktief1896 - 1927

Angela Isadora Duncan (* 27 Mei 1877, † 14 September 1927) was 'n Amerikaanse danseres en choreograaf. Nadat haar danskuns, wat sy selfs as "beweging wat uit die siel ontspring" beskryf het, min aanklank by inheemse gehore gevind het, het Duncan, 'n boorling van Kalifornië, in 1898 na die Verenigde Koninkryk gereis waar sy as vrygees groot sukses met haar balletkuns behaal het.[1]

Isadora Duncan tree kaalvoet op in Marseillaise tydens haar Amerikaanse toernooi tussen 1915 en 1918
Foto: Arnold Genthe

In 1905 het Duncan in Rusland gebly waar sy 'n groot indruk op die impresario Sergei Diaghilef en die danser en choreograaf Michel Fokine gemaak het. Met haar optredes het Duncan Fokine tot die ontwikkeling van 'n vryer dansstyl geïnspireer wat later die kenmerk van die befaamde balletgeselskap Ballets Russes sou word.

Duncan was 'n wegbereider van die moderne sinfoniese ekspressionistiese danskuns. Sy het 'n nuwe liggaams- en bewegingsgevoel ontwikkel wat die Griekse skoonheidsideaal as voorbeeld geneem het en sy was die eerste danseres wat klassieke konsertmusiek - veral emosievolle musiekstukke van komponiste soos Schubert, Beethoven, Brahms en Wagner - vir haar opvoerings gebruik het. As 'n teenstander van die klassieke balletkuns het sy daarna gestreef om die antieke danskuns te laat herleef. Haar vloeiende kostuums is deur antieke Griekse beeldhoukuns in die Britse Museum te Londen geïnspireer.[2]

Wat mode betref, was Isadora Duncan onder meer baie gesteld op waaiende serpe - 'n passie wat bygedra het tot haar tragiese en ontydige afsterwe in 'n motorongeluk in die Suid-Franse hawestad Nice. Die syserp, wat sy om haar nek gedra het, het in die motor se oop wielspeke en die agteras verstrengel geraak en haar nek gebreek.[3] Sy het haar laaste rusplek op die Paryse begraafplaas Père-Lachaise gevind.

In 1987 is Isadora Duncan in die National Museum of Dance se Mr. & Mrs. Cornelius Vanderbilt Whitney Hall of Fame opgeneem.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Antony Mason: Welt im Umbruch - 1900-1914. Stuttgart, Zürich en Wene: Verlag Das Beste 1999, bl. 56
  2. Mason (1999), bl. 56
  3. Debra Craine en Judith Mackrell: The Oxford Dictionary of Dance. Oxford: Oxford University Press 2000, bl. 152