Gaan na inhoud

Hiasint

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Hiasint
Kultivar van Hyacinthus orientalis
Wetenskaplike klassifikasie e
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Plantae
Klade: Tracheofiete
Klade: Angiospermae
Klade: Eensaadlobbiges
Orde: Asparagales
Familie: Asparagaceae
Subfamilie: Scilloideae
Genus: Hyacinthus
Tourn. ex L.
Tipespesie
Hyacinthus orientalis
Spesies

Sien teks.

Een van die bykans 2 000 variëteite wat uit die oorspronklike hiasint en ander naverwante spesies geteel is

Hyacinthus /ˌhəˈsɪnθəs/ is 'n klein genus van bolvormige, lentebloeiende meerjarige plante.[1][2] Hulle is geurige blomplante in die Asparagaceae familie[3] en word algemeen hiasinte genoem. Die genus is inheems aan die gebied van die oostelike Middellandse See vanaf die suide van Turkye tot Palestina, hoewel dit wyer genaturaliseer is.[4]

Agtergrond

[wysig | wysig bron]

Die eerste hiasint wat beroemdheid verwerf het as tuin- en potplant, was die Hyacinthus orientalis, 'n blou blomplant wat gedurende die Renaissance vanuit die Nabye Ooste na Wes-Europa ingevoer is. Sedertdien is dit veral in Nederland in talle variasies en hibrides gekweek en weer uitgevoer, onder andere na Suid-Afrika, waar dit 'n besonder gewilde tuinplant geword het.

Suid-Afrika het egter ook sy eie inheemse hiasint, wat op sy beurt in 1870 na Europa uitgevoer is, daar 'n gewilde tuinplant geword het en hier relatief onbekend gebly het. Hiasint is ook die benaming van 'n waterplant wat die afgelope paar dekades dermate handuit geruk het dat dit 'n hele aantal damme en besproeiingskemas bedreig het.

Die oorspronklike hiasint (Hyacinthus orientalis), wat uit Klein-Asië na Wes-Europa ingevoer is, het heelwat anders gelyk as die kompakte, veelkleurige hiasinte wat vandag bemark word.

Hierdie meerjarige bolgewas, lid van die Asparagaceae-familie (dit was voorheen deel van die Liliaceae-familie), wat sedert die tweede helfte van die 18e eeu in veral Nederland gekweek is, was aanvanklik 'n kleiner, meer beskeie plant met heelwat minder blommetjies aan die blomsteel. Deur talryke kruisings en mutasies het daar nuwe, meer kompakte blomspesies ontstaan en vandag is daar meer as 2 000 variëteite bekend.

Die gewone hiasint wat vir die blommemark gekweek word, bestaan uit 'n meerjarige ronde bol met wit, perserige of blouerige skubbe waaruit daar vier tot sewe gelynde blare ontwikkel, en 'n blomsteel met tussen 20 en 50 individuele klein blommetjies, wat ook naeltjies of kelkies genoem word. Hoewel al die kelkies aan een blomstingel (net een uit elke bol) almal dieselfde kleur het, het blomtelers daarin geslaag om 'n wye verskeidenheid van kleure te kweek en is daar vandag benewens die oorspronklike ligblou hiasinte, ook plante met wit, geel, ligrooi, oranje, helderblou en pers blomme op die mark. Byna alle variëteite ruik besonder aangenaam.

Hiasinte blom in die lente en die bolle word reeds in die herfs in kalkagtige grond geplant. Die ou bolle word gewoonlik in die somer (Desember) opgegrawe nadat die blom en die blare reeds verdroog het, en word dan verdeel en gebêre vir die volgende seisoen. Binne-in die bolle self ontwikkel daar sogenaamde saadbolletjies, wat ná vier seisoene se groei volwasse genoeg is om self 'n blomstingel te kan vorm.

Kaapse hiasint

[wysig | wysig bron]

Die Kaapse hiasint of berglelie (Ornithogalum candicans), met sinonieme Galtonia candicans en Hyacinthus candicans, is vernoem na sir Frances Galton (1822–1911), 'n bekende volkekundige en Suid-Afrikaanse ontdekkingsreisiger. Hy het hierdie blom in KwaZulu-Natal in die Drakensberge ontdek en dit in 1870 in Europa bekendgestel. Daar het dit, veral in Engeland, 'n besonder gewilde kweekblom geword en sy tweede botaniese naam gekry.

In Suid-Afrika het hierdie hiasint egter 'n relatief onbekende en beskeie veldblommetjie gebly. Eers gedurende die afgelope paar jaar het hierdie wit, klokagtige blommetjie sy verskyning in Suid-Afrikaanse tuine begin maak. Wild word dit nog in die Drakensbergreeks, in Lesotho en langs die grens tussen die Oos-Kaap en Vrystaat aangetref. Die Kaapse hiasint is rypbestand, en afhangende van waar dit groei, blom dit van Oktober tot Februarie.

Waterhiasint met blom

Waterhiasint

[wysig | wysig bron]

'n Plant wat in Suid-Afrika hiasint genoem word, maar glad nie eers aan die Asparagaceae-familie verwant is nie, is die waterhiasint (Pontederia crassipes) van die plantfamilie Pontederiaceae. Die plant kom oorspronklik uit Suid-Amerika en is sedert 1879 in Europa as waterplant geteel.

Die plant het egter gou wêreldwyd so vervuil geraak dat dit reeds in 1884 in die warmer dele van Noord-Amerika tot onkruid verklaar is. Ook in Suid-Afrika het die plant gedurende die sestiger- en sewentigerjare geheel en al handuit geruk in byvoorbeeld die Hartbeespoortdam en ook in sommige dele van die Vaaldam. Omdat hierdie tropiese plant in die winter doodryp, besoedel dit ook die water en verstop dit besproeiingskanale. Eers gedurende die laat sewentigerjare is die waterhiasint met behulp van die onkruiddoder 2,4-D onder beheer gebring. In sommige lande is dié waterplant met sy orgidee-agtige welriekende, ligpers blomkelke egter nog 'n gewilde akwariumplant.

Spesies

[wysig | wysig bron]

Daar is drie spesies in die Hyacinthus genus:[5]

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Are Hyacinths Perennials?".
  2. "Are Hyacinths Perennials?".
  3. Stevens, P.F. "Angiosperm Phylogeny Website: Asparagales: Scilloideae". Mobot.org. Besoek op 7 November 2017.
  4. "Hyacinthus". World Checklist of Selected Plant Families. Royal Botanic Gardens, Kew. Besoek op 28 Oktober 2016.
  5. World Checklist of Selected Plant Families, The Board of Trustees of the Royal Botanic Gardens, Kew, http://apps.kew.org/wcsp/home.do, besoek op 2011-10-07 , search for "Hyacinthus" and its species

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]