Gaan na inhoud

Commodus

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Commodus
18de Keiser van die Romeinse Ryk
Borsbeeld van Commodus.
Borsbeeld van Commodus.
Regeer 177 – 17 Maart 180 (met Markus Aurelius)
18 March 180 – 31 Desember 192 (alleen)
Volle naam Caesar Lucius Aelius Aurelius Commodus Augustus
Gebore 31 Augustus 161; Lanuvium naby Rome, Romeinse Ryk
Oorlede 31 Desember 192; Rome, Romeinse Ryk (op 31)
Begrawe Rome
Voorganger Markus Aurelius (alleen)
Opvolger Pertinax
Adellike huis Nerva-Antonynse dinastie
Vader Markus Aurelius
Moeder Faustina die jongere
Eggenoot Bruttia Crispina
Kinders geen

Lucius Aurelius Commodus, (31 Augustus 161 – 31 Desember 192) was die 18de keiser van die Romeinse Ryk van 177 tot met sy dood in 192. Hy het ook as mede-keiser saam met sy pa Marcus Aurelius regeer vanaf 177 tot sy pa se dood in 180. Die klassieke, moontlik partydige geskiedskrywing van die Historia Augusta, beskou hom as een van die slegste keisers van die Romeinse Ryk. In elk geval is Commodus deur die Romeinse Senaat gehaat en gevrees. Deur sy vader was hy lid van die belangrike Romeinse gens Aurelia.

Commodus was die negende kind en enigste oorlewende seun van Marcus Aurelius en Faustina. Hy is in Augustus 161 in Lanuvium gebore. Van sy vroegste kinderjare af het sy pa die beste moontlike onderwys aan hom verskaf. Die beroemde dokter Claudius Galenus het hom as pasiënt gehad. Hy het die titel Caesar op die ouderdom van vyf gekry, wat beteken dat hy van toe af amptelik Marcus Aurelius se opvolger was. Sodoende het Marcus Aurelius afgewyk van die tradisie om 'n aangenome seun vir die eerste keer in vyf geslagte as opvolger aan te stel.

Op die ouderdom van tien het Commodus die titel Germanicus gekry en op veertienjarige ouderdom het hy princeps iuventutis geword. In 175 vertrek hy saam met sy vader oos en keer 'n jaar later terug in triomf, waarna hy die titel van imperator ontvang het.[1]

Begin as keiser

[wysig | wysig bron]

In 177 het Commodus die titel Augustus gekry en het dus mede-keiser van sy vader geword. Dieselfde jaar is hy met Crispina getroud. Na sy vader se dood in 180 verkry Commodus volle mag as keiser. Sy amptelike naam het Marcus Aurelius Antoninus Commodus geword, maar hierdie naam is later weer verander. Vanaf 180 het hy sy bes gedoen om vrede terug te bring en die uitbreiding van die ryk te beëindig, geïnisieer deur sy voorgangers. Hy het vrede gemaak met Germania en vinnig na Rome teruggekeer waar hy sy pa met die titel 'Divus' (vergoddelikte) vereer het.

Komplot

[wysig | wysig bron]

Volgens die derde- en vierde-eeuse historici Cassius Dio, Herodianus en die anonieme skrywer van die Historia Augusta, het die nuwe keiser nou geblyk heeltemal te ontbreek in sy vader se eienskappe as leier. Daar word gesê dat hy baie vyande gemaak het deur swak vriendskappe en keuse van verkeerde raadgewers. Sy suster Lucilla en sy vrou Crispina, wat oorspronklik nie oor die weg gekom het nie, het hul geskille besleg en in 183 betrokke geraak by 'n komplot deur 'n groep senatore om van Commodus ontslae te raak. Die saak het egter uitgelek en Lucilla is na die Villa Jovis op die eiland Capri verban. Commodus se vyandskap met die Senaat het oop en grimmig geword en daar word gesê dat sy outokratiese regering al hoe meer korrup geraak het. In dieselfde jaar het die keiser sy vrou Crispina van owerspel beskuldig en haar laat teregstel. Volgens die Romeinse geskiedskrywing sou hierdie beskuldiging kom van die man wat self so owerspelig was dat daar gesê word dat hy 'n harem van 300 vroue en soveel mans gehad het.[2]

Daar word gedink dat Commodus se regime die ryk verwoes het. Betogings het oral begin uitbreek, insluitend onder die troepe. Verskeie sluipmoorde het misluk. Die korrupsie het selfs hongersnood veroorsaak en Rome op die rand van burgeroorlog gebring. Daarbenewens het 'n plaag-epidemie uitgebreek en deur Italië versprei.

Terreur

[wysig | wysig bron]

Oor die jare het Commodus se waansin al hoe duideliker gemanifesteer. Hy was uiters wreed en het teregstellings beveel het vir die geringste vermoede. Sy regime van terreur was nie minderwaardig teenoor die regerings van Caligula en Nero nie en hy sou nie net deur die Senaat gehaat word nie, maar ook deur die bevolking. Selfs sy naaste raadgewers sou nie veilig gewees het nie.

Grootsheidswaan

[wysig | wysig bron]

Sy aandag aan staatsake het selfs minder geword as wat dit aan die begin was en hy was toenemend bekommerd oor sy stokperdjies: jag en gladiatorspeletjies. Tot die walging van die senaat het hy self ook as gladiator in die sirkus opgetree. Sy waanbeelde van grootsheid was onbeperk. Hy laat homself met Hercules geïdentifiseer en aanspreek. Ook hernoem hy alle maande van die jaar na sy eie name en titels, in volgorde: Aelius, Aurelius, Commodus, Augustus, Herculeus, Romanus, Exsuperatorius, Amazonius, Invictus, Felix, Pius. Veral die naam Amazonius, sy titel as gladiator, het met baie verkeerd afgegaan. Hy herdoop die weermag en vloot na homself. In 192 het 'n deel van Rome afgebrand. Commodus het die geleentheid gebruik om die stad te hernoem as Colonia Commodiana.[3]

Einde van die regime

[wysig | wysig bron]

Aan die einde van 192 het Commodus aangekondig dat hy tydens die belangrike geleenthede wat vir Nuwejaarsdag 193 geskeduleer is, as gladiator sou verskyn om so sy nuwe konsulaat te begin. Die Senaat was so verontwaardig dat 'n groep senatore besluit het dat hy onder geen omstandighede die geleentheid gegun moet word om plegtige tradisionele seremonies te ontheilig nie. ’n Komplot is vinnig maar versigtig beplan om hom uit die pad te kry en op Oujaarsaand 192 is hy deur sy byvrou Marcia vergiftig en, om seker te maak hy oorleef nie, verwurg deur ’n gehuurde atleet, Narcissus. Jubelend het die verligte Senaat die doodsberig ontvang en spreek 'n damnatio memoriae (vervloeking ter nagedagtenis) uit. Binne drie jaar is die senaat egter deur Septimius Severus gedwing om die titel 'Divus' (goddelik) toe te ken aan die Commodus wat hulle vervloek het.[4][5]

Commodus in moderne media

[wysig | wysig bron]
  • The Fall of the Roman Empire, 1964.

Commodus word vertolk deur Christopher Plummer.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Birley vertaalde Herodianus' beschrijving van Commodus (Anthony Birley Septimius Severus).
  2. Historia Augusta Commodus. De woorden van deze historici kunnen echter niet voetstoots worden aangenomen, met geschiedschrijving werd in de oudheid altijd een bepaalde partij of een bepaald doel gediend.
  3. Historia Augusta Commodus online Engelse vertaling
  4. Vanderhoeven, A. e.a.: Het oudheidkundig bodemonderzoek aan de Schaetzengaarde te Tongeren (prov. Limburg). Eindverslag 2004
  5. Exploratorium: Zegelring met portret van Commodus (Gallo-Romeins Museum)

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]
  • O.J. Hekster, Commodus: an Emperor at the Crossroads, Amsterdam, 2002. ISBN 9050632386
  • E. Hohl, Kaiser Commodus und Herodian, Berlijn, 1954.
  • M.R. Kaiser-Raiß, Die stadtrömische Münzprägung während der Alleinherrschaft des Commodus: Untersuchungen zur Selbstdarstellung eines römischen Kaisers, Frankfurt am Main, 1980. ISBN 3921302285 (fragmentweergave in Google Books)
  • A.E. Raubitschek, Commodus and Athens, Princeton, 1949. (= in Hesperia (supp.) 7 (1949), pp. 279–290.)
  • F. von Saldern, Studien zur Politik des Commodus, Rahden, 2003. ISBN 9783896468338

Sien ook

[wysig | wysig bron]