Gaan na inhoud

Masaccio

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Masaccio
Detail van Petrus wat die Seun van Theophilus ophef en as die Eerste Biskop van Antiogië Gekroon word, Brancacci-kapel, S. Maria del Carmine, Florence
Gebore
Tommaso di Ser Giovanni di Mone (Simone) Cassai

(1401-12-21)21 Desember 1401
San Giovanni Valdarno, Republiek van Florence
Sterfsomer 1428 (ouderdom, 26)
Rome, Pouslike State
NasionaliteitItaliaans
Masaccio se fresko, Die Uitdrywing uit die Tuin van Eden (1426–1427).

Masaccio (Italiaans: maˈzattʃo; 21 Desember 1401 – somer 1428), gebore as Tommaso di Ser Giovanni di Simone, was 'n Florentynse kunstenaar wat beskou word as die eerste groot Italiaanse skilder van die Quattrocentotydperk van die Italiaanse Renaissance. Masaccio was volgens Vasari as gevolg van sy vaardigheid in die skilder van natuurtonele en die herskepping van lewensgetroue figure en beweging, sowel as die vermoë om 'n oortuigende atmosfeer van drie-dimensionaliteit te skep, die beste skilder van sy generasie.[1] Hy het van naakfigure en voorverkortings in sy figure gebruik gemaak. Die tegniek was selde voor hom van gebruik gemaak.[2]

Die naam Masaccio is 'n humoristiese weergawe van Maso (kort vir for Tommaso), wat "lomp" (ook "onhandig") of "rommelig(e)" Tom beteken. Die naam is waarskynlik geskep om hom te onderskei van sy opponent, ook bekend as Maso, en wat weldra bekend sou staan as Masolino ("klein/delikate Tom").

Ten spyte van sy kort loopbaan het hy 'n diepgaande invloed op ander kunstenaars uitgeoefen. Hy word beskou as die kunstenaar wat die vroeë Italiaanse Renaissance in die skilderkuns begin het in die middel- en laat-1420's. Hy was een van die eerste kunstenaars om lineêre perspektief in sy skilderkuns te gebruik, met die gebruikmaking van sulke tegnieke soos verdwijnpunt wat sodoende vir die eerste keer in kuns gebruik is. Hy het wegbeweeg van die Internasionaal Gotiese styl en die uitvoerige ornamentasie van kunstenaars soos Gentile da Fabriano, na 'n meer naturalistiese styl wat gebruik gemaak het van perspektief en chiaroscuro vir groter realisme.

Masaccio het op die jeugdige ouderdom van ses-en-twintig jaar beswyk. Min is bekend oor die presiese omstandighede van sy dood.[3] Nadat hy verneem het van Masaccio se dood het die groot meester Filippo Brunelleschi gesê: "Ons het 'n enorme verlies gely." [4]

Vroeë lewe

[wysig | wysig bron]

Masaccio is gebore as die seun van Giovanni di Simone Cassai en Jacopa di Martinozzo in Castel San Giovanni di Altura, vandag San Giovanni Valdarno (vandag deel van die provinsie van Arezzo, Toskane).[5] Sy vader was 'n notaris en sy moeder die dogter van 'n herbergier van Barberino di Mugello, 'n dorpie geleë 'n paar myl noord van Florence. Sy familienaam, Cassai, is afkomstig van die bedryf van sy grootvader aan vaderskant, Simone, en grootoom Lorenzo, kabinetmakers en timmermanne (casse, derhalwe cassai). Masaccio se vader sterf in 1406 toe hy nog 'n 5-jarige was; later in dieselfde jaar is sy broer Giovanni, (1406–1486), vernoem na sy vader, gebore. Hy het ook 'n skilder word, met die noemnaam lo Scheggia wat "die splinter" beteken.[6] In 1412 is Monna Jacopa getroud met 'n bejaarde apteker genaamd Tedesco di maestro Feo, wat reeds sewe dogters gehad het, waarvan een met die enigste ander gedokumenteerde skilder van Castel San Giovanni, Mariotto di Cristofano, te trou (1393–1457). Daar is geen beskikbare gesag wat Masaccio se artistieke opvoeding betref nie,[7] alhoewel Renaissance skilders gewoonlik op 12-jarige leeftyd 'n vakleerlingskap onder 'n gevestigde meester begin het. Masaccio sou in all waarskynlikheid na Florence moes verhuis om opleiding te ontvang, maar sy naam kom die eerste keer voor toe hy op 7 Januarie 1422 as onafhanklike meester aangesluit het by die skildersgilde (die "Arte de' Medici e Speziali"), as "Masus S. Johannis Simonis pictor populi S. Nicholae de Florentia."

Eerste werke

[wysig | wysig bron]

Die eerste werke wat aan Masaccio toegeskryf word is die San Giovenale Triptiek (1422), wat tans in die Museum van Cascia di Reggello naby Florence gehuisves word, en die Maagd en Kind met die Heilige Anna (Sant'Anna Metterza) (omstreeks 1424), tans in die Uffizi.

San Giovenale Triptiek (1422)

Die San Giovenale altaarstuk is in 1961 in die kerk van San Giovenale by Cascia di Reggello, naby Masaccio se tuisdorp, ontdek. Dit beeld die Maagd en Kind uit met engele in die sentrale paneel, met die heiliges Bartolomeus en Blaise op die linkerpaneel, en die heiliges Juvenal (d.i. San Giovenale) en Abbe Antonie op die regterpaneel. Die skildery het die meeste van sy oorspronklike raamwerk verloor en die oppervlak is erg beskadig.[8] Masaccio se doelwit daarmee was die daarstelling van drie-dimensionaliteit deur volumetriese figure en voorverkorte vorms. Die werk word alom waardeer as 'n hernuwing van Giotto se benadering, eerder as 'n voortsetting van kontemporêre modes van die dag.

Masolino & Masaccio, Maagd en Kind met die heilige Anna (omstreeks 1424), Uffizi

Die tweede werk was waarskynlik Masaccio se eerste samewerkingspoging met die ouer en alreeds-beroemde kunstenaar Masolino da Panicale (1383/4–omstreeks 1436). Die omstandighede rondom die twee kunstenaars se samewerking is egter onbekend. Aangesien Masolini heelwat ouer was wil dit voorkom asof hy Masaccio onder sy vlerk geneem het. Die verdeling van arbeid in die Maagd en Kind met die heilige Anna is egter van so 'n aard dat dit onwaarskynlik is dat die ouer kunstenaar in beheer was.[9] Daar word geglo dat Masolino die figuur van die heilige Anna en die engele geskilder het wat die bekleedsel agter haar vashou, terwyl Masaccio die belangriker figure van die Maag en Kind op hul troon geskilder het. Masolini se figure is delikaat, grasievol en ietwat plat, terwyl Masaccio se figure solied en stewig is.

Volwassenheid

[wysig | wysig bron]

Masaccio kon in Florence die werk van Giotto studeer en was bevriend met Filippo Brunelleschi en Donatello. Volgens Vasari het Masaccio in 1423 op hulle aandrang na Rome gereis saam met Masolino: van daardie oomblik af was hy bevry van alle Gotiese en Bisantynse kunsinvloede, soos gesien kan word in sy altaarstuk vir die Karmeliete-kerk in Pisa. Die spore van antieke Romeinse en Griekse kuns wat teenwoordig is in sommige van Masaccio se werke het hul oorsprong vermoedelik te danke aan hierdie reis: hulle moes ook teenwoordig gewees het in 'n verlore Sagra (vandag bekend as gevolg van tekeninge en sketse, insluitende een deur Michelangelo), 'n fresko wat aangevra is vir die inwyding van die kerk van Santa Maria del Carmine in Florence (19 April 1422). Dit is vernietig toe die kerk se klooster aan die einde van die 16de eeu herbou is.

Die Eerbetoon-geld, fresko in die Brancacci-kapel in Santa Maria del Carmine, Florence

Brancacci-kapel

[wysig | wysig bron]

In 1424 het die magtige en ryk Felice Brancacci die "duo preciso e noto" (Masaccio en Masolino) opdrag gegee om 'n freskosiklus vir die Brancacci-kapel in die kerk van Santa Maria del Carmine di Firenze in Florence te maak. Terwyl die twee kunstenaars waarskynlik gelyktydig gewerk het, het hulle eers in omstreeks 1425 met skilderwerk begin. Die kapel is om onbekende redes onvoltooid. Dit is in die 1480's deur Filippino Lippi voltooi. Die ikonografie van die fresko-versiering is ietwat ongewoon. Terwyl die meerderheid van die fresko's die lewe van die heilige Petrus verteenwoordig, beeld twee tonele, aan weerskante van die drumpel van die kapelruimte geleë, die versoeking en verdrywing van Adam en Eva uit. In die geheel gesien, beeld die fresko's die verhaal van die lewe van die heilige Petrus voor asof dit die verhaal van verlossing is.[10] Die styl van Masaccio se tonele toon veral die invloed van Giotto. Die figure is ontsaglik groot, swaar en solied; emosies word uitgedruk deur die gelaatstrekke en gebare van die figure; en die skilderye skep 'n sterk indruk van naturalisme. Anders as Giotto, gebruik Masaccio egter lineêre en atmosferiese perspektief, rigtinggewende lig en chiaroscuro, wat die voorstelling van vorm deur lig en kleur sonder buitelyne is. As gevolg daarvan is sy fresko's selfs meer oortuigend-lewensgetrou as dié van sy trecento-voorganger.

Werke in die kapel

[wysig | wysig bron]
Toe dit in die 1980's skoongemaak is, het Masaccio se fresko, Die Uitdrywing uit die Tuin van Eden (1426–1427) die bykomende vyeblare verloor.

Die Uitdrywing uit die Tuin van Eden beeld 'n benoude Adam en Eva uit wat deur 'n dreigende engel uit die tuin gejaag word. Adam bedek sy gesig in skaamte terwyl Eva sekere dele van haar liggaam bedek. Die fresko het 'n groot invloed op Michelangelo en sy werk gehad. 'n Ander groot werk is Die Eerbetoon-geld, waarin Jesus en die apostels as neo-klassieke argetipes uitgebeeld word. Wetenskaplikes het al dikwels opgemerk dat die skaduwees van die figure deur die venster van die kapel wegval, asof die figure daardeur verlig word; wat 'n verdere bewys is van Masaccio se versiendheid. Dit lewer ook bewys van Masaccio se innoverende genialiteit. In die Opstanding van die Seun van Theophilus het hy 'n sypaadjie in perspektief geskilder, wat omraam word deur groot geboue om 'n driedimensionele ruimte te verkry waarin die figure in verhouding staan tot hul omgewing. In die opsig was hy 'n pionier in die toepassing van die nuutgevonde perspektief-reëls. Op September 1425 het Masolino egter die werk verlaat en na Hongarye vertrek. Dit is nie bekend of dit weens geldkwessies met Felice of 'n artistieke geskil met Masaccio was nie. Daar word ook aanvaar dat Masolino hierdie reis van die begin af beplan het, en dat hy 'n medewerker nodig gehad het wat kon voortgaan met die werk na sy vertrek. Masaccio het die fresko's in 1426 onvoltooid gelaat om sy aandag toe te spits op ander opdragte, waarskynlik van dieselfde beskermheer. Dit is al voorgestel dat die onbenydenswaardige finansiële posisie van Felice Brancacci onvoldoende was om vir verdere werk te betaal, en dus het die skilder elders werk gesoek.

Opstanding van die Seun van Theophilus

Masaccio het in 1427 teruggekeer om weer in die Carmine aan die Opstanding van die Seun van Theophilus te werk, maar dit blykbaar ook onvoltooid gelaat, hoewel daar beweer is dat die skildery later in die 15de eeu eeu erg beskadig is omdat dit portrette bevat het van die Brancacci-familie, wat destyds as vyande van die Medicifamilie beskou is. [11] Hierdie skildery is óf gerestoureer óf meer as vyftig jaar later deur Filippino Lippi voltooi. Sommige van die tonele deur Masaccio en Masolino is in 1771 tydens 'n brand vernietig; ons dra slegs kennis van dit danksy Vasari se biografie. Die oorblywende dele is grootliks deur rook en roet beskadig. In die twintigste eeu het die verwydering van marmerblaaie wat twee dele van die skilderye bedek het die oorspronklike voorkoms van die werk onthul. [12]

Pisa-altaarstuk

[wysig | wysig bron]

Op 19 Februarie 1426 is Masaccio deur Giuliano di Colino degli Scarsi da San Giusto versoek om 'n groot altaarstuk te skilder (vir die bedrag van 80 florins): die Pisa-altaarstuk. Dit was bedoel vir San Giusto se kapel in die kerk van Santa Maria del Carmine in Pisa. Die werk is in die 18de eeu afgebreek en versprei, en slegs elf van die ongeveer twintig oorspronklike panele is in verskillende versamelings regoor die wêreld herontdek.[13] Die sentrale paneel van die altaarstuk (Die Madonna en Kind) is tans in die Nasionale Galery in Londen. Alhoewel dit erg beskadig is, bevat die werk 'n beeldhoukundige en menslike Madonna, sowel as 'n oortuigende perspektief-uitbeelding van haar troon. Masaccio het waarskynlik slegs in Pisa daaraan gewerk, en heen en weer geskuif na Florence waar hy nog aan die Brancacci-kapel werksaam was. In hierdie jare het Donatello ook in Pisa gewerk aan 'n monument vir kardinaal Rinaldo Brancacci, wat na Napels gestuur moes word. Daar word bespiegel dat Masaccio se eerste proefsteke in plastisiteit en perspektief gebaseer is op Donatello se beeldhouwerk, voordat hy Brunelleschi se meer wetenskaplike benadering tot perspektief kon bestudeer.

Heilige Drie-eenheid

[wysig | wysig bron]
Die Heilige Drie-eenheid (omstreeks 1427) - fresko, Santa Maria Novella, Florence

Masaccio het in omstreeks 1427 'n prestigeryke opdrag ontvang om 'n fresko van die Heilige Drie-eenheid te skep vir die Dominikaanse kerk van Santa Maria Novella in Florence. Daar bestaan geen kontemporêre dokumente wat die beskermheer van die fresko identifiseer nie, maar onlangs is verwysings na die eienaarskap van 'n graftombe teen die voet van die fresko in die rekords van die Berti-familie van die Santa Maria Novella-kwartier van Florence gevind; hierdie werkersklas-familie het groot toegewydheid aan die Heilige Drie-eenheid getoon, en kon dalk Masaccio se skildery aangevra het.[14] Dit is waarskynlik die manlike beskermheer wat aan die linkerkant van die Maagd uitgebeeld word, terwyl sy vrou aan die regterkant van die heilige Johannes die Evangelis uitgebeeld word. Die fresko, wat deur baie as Masaccio se meesterwerk beskou word, is die vroegste oorblywende skildery om gebruik te maak van sistematiese lineêre perspektief, wat moontlik deur Masaccio bedink is met die bystand van Brunelleschi[15].

Volgens die rekonstruksie[16] het Masaccio begin deur 'n rowwe skets van die komposisie- en perspektieflyne op die muur te maak. Die skets is bedek met vars pleister vir die skep van die fresko. Ten einde die akkurate oordrag van die perspektieflyne vanaf die skets na die pleister oor te dra het Masaccio 'n spyker by die verdwynpunt onder die basis van die kruis ingevoeg en lyne daaraan vasgeheg, wat hy ingedruk het (of ingekerf het) in die pleister. Die merke van die voorbereidingswerk is steeds sigbaar.

Die heilige figure word verteenwoordig bo 'n beeld van 'n geraamte wat op 'n sarkofaag rus. 'n Inskripsie wat skynbaar in die muur bo die geraamte ingekerf is, lees: "Io fui gia quel che voi siete e quel ch'io sono voi anco sarete" (Ek was eens wat jy nou is en wat ek is, sal jy nog wees). Hierdie geraamte is duidelik 'n verwysing na Adam, wie se sondige natuur die dood na die mens gebring het, en 'n herinnering dat mense se tyd op aarde van verbygaande of verganklike aard is. Die fresko sinspeel daarop dat dit slegs deur geloof in die Drie-eenheid is dat 'n mens die dood kan oorkom.[17] Die Heilige Gees kan gesien word in die vorm van 'n duif bo Jesus Christus.[18] Die kombinasie van drie-eenheid, dood, verganklikheid en verval "kan geïnterpreteer word as 'n transposisie van die Golgotha-kapel"[16] in die Kerk van die Heilige Graf in Jerusalem.

Ander skilderye

[wysig | wysig bron]

Masaccio het twee verdere werke geskep voordat hy na Rome vertrek het; 'n toneel van die geboorte van Christus en 'n Aankondiging (nou verlore). In Rome was Masolini besig met 'n fresko van tonele uit die lewe van die heilige Katrina in die Basilica di San Clemente. Dit is onseker of Masaccio wel meegewerk het aan die stuk, alhoewel dit moontlik is dat hy bygedra het tot Masolini se triptiek vir die altaar van die Santa Maria Maggiore, met die paneel wat die heilige Hiëronimus en heilige Johannes die Doper uitbeeld. Die werk word tans gehuisves in die Nasionale Galery in Londen. Masaccio het aan die einde van 1428 gesterf. Volgens legende is hy deur 'n jaloerse mededinger vergiftig.[19]Slegs vier fresko's wat onweerlegbaar van Masaccio afkomstig is bestaan steeds, alhoewel ander werke ten minste gedeeltelik aan hom toegeskryf word.

Nalatenskap

[wysig | wysig bron]

Masaccio het 'n diepgaande invloed op die skilderkuns uitgeoefen. Baie skolastici is van mening dat die vroeë Italiaanse Renaissance in die skilderkuns by hom begin het. Volgens Vasari het byna al die "mees gevierde" Florentynse "beeldhouers en skilder" sy fresko's uitvoerig gestudeer om die "voorskrifte en reëls van die skilderkuns te leer en te vertsaan". Hy het die rigting van die Italiaanse skilderkuns drastiese verander deur weg te breek van die idealisering van Gotiese kuns, en die skilderkuns vir die eerste keer laat voorkom as iets wat deel is van 'n meer diepliggende, natuurlike en humanistiese wêreld. Masaccio het bygevolg 'n groot aantal kunstenaars beïnvloed; beide voor en na sy afsterwe. Sy invloed is veral merkbaar in die werke van mindere Florentynse meesters soos Andrea di Giusto, Giovanni dal Ponte en andere, wat gepoog het om sy gloeiende, lewensgetroue vorme na te maak.

Hoofwerke

[wysig | wysig bron]
Maagd Maria met stralekrans deur Masaccio (1426).[20]
  • San Giovenale-triptiek (1422) tempera op paneel, 108 x 153 cm, Cascia di Reggello
  • Maagd en Kind (1424) - tempera op paneel, 24 x 18 cm, Palazzo Vecchio, Florence
  • Maagd en Kind met die heilige Anna (1424–1425) - tempera op paneel, 175 x 103 cm, Uffizi, Florence
  • Die Eerbetoon-geld (1424–1428) - fresko, 247 x 597 cm, Brancacci-kapel, Florence
  • Heilige Drie-eenheid (1425–1428) - fresko, 667 x 317 cm, Santa Maria Novella, Florence
  • Portret van 'n Jong Man (1425) - hout, Nasionale Kunsgalery, Washington, D.C.
  • Madonna met Kind en Engel (1426) - olie, Nasionale Galery, Londen
  • Kruisiging (omstreeks 1426) - tempera op paneel, 83 x 63 cm, Museo di Capodimonte, Napels
  • Paulus (1426) - tempera op paneel, 51 x 30 cm, Museo Nazionale di Pisa, Pisa
  • Die heilige Hiëronimus en Johannes die Doper (omstreeks 1426-1428) paneel, 114 x 55 cm, Nasionale Galery, Londen
  • Maagdelike geboorte (Berlynse Tondo) (1427–1428) - tempera op hout, omtrek 56 cm, Staatliche Museen, Berlyn
  • Sint Andreas - olie, 51 x 31 cm, J. Paul Getty-museum, Los Angeles

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Giorgio Vasari, Le Vite de' piu eccellenti pittori, scultori ed architettori, ed. Gaetano Milanesi, Florence, 1906, II, 287-288.
  2. Vasari, Giorgio, "The Lives of the Artists" Translated by Julia Conaway Bondanella and Peter Bondanella, Oxford World Classics.
  3. The Guardian, Masaccio, the old master who died young
  4. Vasari, Giorgio, "The Lives of the Artists" Vertaal deur Julia Conaway Bondanella en Peter Bondanella, Oxford World Classics.
  5. John T. Spike, Masaccio, New York: 1996, 21-64, and Diane Cole Ahl, The Cambridge Companion to Masaccio, Cambridge, 2002, 3-5.
  6. Wat Giovanni se loopbaan betref, sien Luciano Bellosi en Margaret Haines, Lo Scheggia, Florence, 1999.
  7. Vasari (II, 295) stel voor dat Masolino Masaccio se leermeester was, maar die vroegste bekende werk deur Masaccio (die San Giovenale Triptiek) is geskilder in 'n styl wat heelwat verskil van Masolino se styl, en dit is moeilik om die twee style met mekaar te versoen (Luciano Berti, "Masaccio 1422," Commentari 12 (1961) 84-107. Kenners verskil oor die identiteit van Masaccio se leermeester, indien enige, alhoewel verskeie name (Mariotto di Cristofano, Bicci di Lorenzo, Niccolo di ser Lapo) opgehaal is. Kenners het onlangs voorgestel dat hy opgelei is as 'n manuskrip-helper. (Roberto Bellucci en Cecilia Frosinini, "Masaccio: Technique in Context," in The Cambridge Companion to Masaccio, red. Diane Cole Ahl, Cambridge, 2002, p. 105-122).
  8. Roberto Bellucci and Cecilia Frosinini, "The San Giovenale Altarpiece," in The Panel Paintings of Masolino and Masaccio, red. Carl Brandon Strehlke, Milaan, 2002, 69-79; Dillian Gordon, "The Altarpieces of Masaccio," in The Cambridge Companion to Masaccio, red. Diane Cole Ahl, Cambridge, 2002, 124-126.
  9. Roberto Longhi, "Fatti di Masolino e di Masaccio," Critica d'arte 25-6 (1940) 145-191.
  10. Umberto Baldini and Ornella Casazza, The Brancacci Chapel, New York, 1990; Diane Cole Ahl, "The Brancacci Chapel," in The Cambridge Companion to Masaccio, red. Diane Cole Ahl, Cambridge, 2002, 138-157; J.T. Spike, “The Brancacci Code,” in Watching Art: Writings in Honor of James Beck, ed. L. Catterson and M. Zucker (Todi: Ediart, 2006), pp. 247–54.
  11. Casazza, Ornella. 1990. Masaccio and the Brancacci Chapel. Antella, Firenze, Italy: Scala. p. 46. OCLC 25093965
  12. Casazza, Ornella. 1990. Masaccio and the Brancacci Chapel. Antella, Firenze, Italy: Scala. p. 15. OCLC 25093965
  13. Jill Dunkerton and Dillian Gordon, "The Pisa Altarpiece", in The Panel Paintings of Masolino and Masaccio: The Role of Technique, red. Carl Brandon Strehlke, Milaan, 2002, 89-109.
  14. Rita Maria Comanducci, "'L'altare Nostro de la Trinità': Masaccio's Trinity and the Berti Family," The Burlington Magazine, 145 (2003) 14-21. Die meeste skolastici is egter van oordeel dat die Lenzi-familie die fresko aangevra het: Ugo Procacci, "Nuove testimonianze su Masaccio," Commentari, 27 (1976) 233-4; Rona Goffen, Masaccio's "Trinity," Cambridge, 1998; Timothy Verdon, "Masaccio's Trinity," in The Cambridge Companion to Masaccio, red. Diane Cole Ahl, Cambridge, 2002, 158-160.
  15. "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 April 2018. Besoek op 1 Oktober 2019.
  16. 16,0 16,1 B. Deimling, Early Renaissance Art in Florence and Central Italy, in R. Tolman (ed.), The Art of Italian Renaissance, Konemann, 1995, p. 244-246
  17. Alessandro Cortesi, "Una lettura teologica," in La Trinità di Masaccio: il restauro dell'anno duemila, red. Cristina Danti, Florence, 2002, 49-56; Verdon, 158-161.
  18. Cothren, Marilyn Stokstad Michael W. (2010). Art History Portable, Book 4 14th-17th Century Art (4th red., Portable uitg.). Upper Saddle River, NJ: Prentice Hall. ISBN 978-0205790944.
  19. "Tommaso Cassai Masaccio Biography". Artble (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Maart 2020. Besoek op 14 Februarie 2017.
  20. Mack, bl.66

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Mack, Rosamond E. Bazaar to Piazza: Islamic Trade and Italian Art, 1300-1600, University of California Press, 2001 ISBN 0-520-22131-1

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]