Laomedon
Laomedon | |
---|---|
Ouers | Ilos II en Eurudike of Leukippe of Batia |
Broers en susters | Temis (of Themis), Telekleia en Titonus |
Kinders | (1) Titonus, Priamos, Lampos, Hicetaon, Klytius, Hesione, Cilla, Astjoche, Proklia, Aetilla, Medesikaste en Klitodora (2) Bukolion |
In die Griekse mitologie was Laomedon (Grieks: Λαομέδων. Die woord beteken "heerser van die mense") 'n Trojaanse koning, seun van Ilos en dus die broerskind van Ganumedes en Assarakos.
Laomedon word met afwisseling geïdentifiseer met verskillende ouers, en broers en susters, sowel as verskeie kinders, insluitende Priamos en Titonus. Sy moontlike vroue was Placia, Strymo, Zeuxippe, of Leukippe. Laomedon het magiese perde met goddelike voorouers besit. Dit was 'n geskenk van Zeus aan sy grootvader Tros, om daarvoor te vergoed dat hy Tros se seun Ganumedes ontvoer het.
Zeus het Poseidon en Apollo gestuur om Laomedon te dien as straf vir 'n sameswering teen Zeus. Die twee gode het mure rondom Troje gebou, maar Laomedon het geweier om vir die werk te betaal, wat tot 'n uitbreek van pes gelei het asook 'n seemonster wat die stad aangeval het. Om die rampe te beëindig, moes Laomedon sy dogter Hesione aan die seemonster offer. Herakles het opgedaag en ingestem om Hesione te red in ruil vir Laomedon se magiese perde. Laomedon het egter teruggegaan op sy belofte, wat veroorsaak het dat Herakles oorlog teen Troje verklaar het.
Herakles het uiteindelik die stad verower en Laomedon en sy seuns gedood, met die uitsluiting van Podarkes. Hesione is aan Telamon gegee as 'n oorlogsprys, en sy het haar broer Podarkes losgekoop, wat van toe af bekend gestaan het as Priamos.
Familie
[wysig | wysig bron]Laomedon se moeder was óf Eurudike,[1] óf Leukippe óf Batia. Dus is sy moontlike broers en susters Temis,[1] Telekleia[2] en somtyds selfs Titonus.
Hy was die vader van Priamos[3], Lampos, Hicetaon, Klitius, Hesione, Cilla, Astjoche,[4] Proklia,[5] Aetilla,[6] Medesikaste[7] en Klitodora.[8] Titonus word ook deur die meeste bronne aangedui as Laomedon se oudste wettige seun, en die meeste bronne laat Ganumedes weg uit die lys van Laomedon se kinders, en dui hom eerder aan as sy oom. Laomedon se moontlike vroue was Placia, Strymo (of Rhoeo), Zeuxippe[9] of Leukippe[3];[10] by eersgenoemde het hy Titonus verwek en by laasgenoemde Koning Priamos («ὁ μὲν γὰρ Πρίαμος ἦν Λευκίππης, ὁ δὲ Τιθωνὸς Ῥοιοῦς ἢ Στρυμοῦς τῆς Σκαμάνδρου θυγατρὸς υἱός»: "Priamos was die seun van Leukippe, terwyl Titonus die seun was van Rhoeo of Strymo, die dogter van Skamander"[11]). Hy het ook 'n seun genaamd Bukolion gehad by die nimf Kalybe, soos vertel deur Homeros in die Ilias.[12] Dictys Cretensis het Thymoetes bygevoeg tot die lys van Laomedon se kinders.[13]
Mitologie
[wysig | wysig bron]Magiese perde
[wysig | wysig bron]Laomedon het verskeie perde wat van goddelike afkoms was besit. Zeus het dit aan Tros (Laomedon se grootvader) gegee as vergoeding vir die ontvoering van Tros se seun Ganumedes.[14] Anchises het in die geheim sy eie merries uit hierdie magiese perde geteel.
Volgens een verhaal is Ganumedes ontvoer deur Zeus, wat die uitsonderlike Deugde van die seun gesien het. Hy het vir Ganumedes na Berg Olimpus geneem, van waar die jong man na die Hemel opgevaar het. Tros was bedroef oor sy seun. Zeus het simpatie gehad met Tros en Hermes gestuur met twee perde wat so vinnig was dat hulle oor water kon hardloop. Hermes het Tros ook verseker dat Ganumedes onsterflik is en bekerhouer/skinker vir die gode sou wees, 'n posisie van onderskeiding. Laomedon self was die seun van Ganumedesse broer Ilos, seun van Tros (Laomedon was dus Ganumedes se broerskind).
Toorn van die gode
[wysig | wysig bron]Toe Poseidon en Apollo 'n sameswering aangegaan het om Zeus gevange te neem het die oppergod aanstoot geneem en hulle gestuur om koning Laomedon te dien as straf vir hul onheilspellende gedrag.[15][16] In ander bronne sou die twee gode bloot Laomedon se moedswilligheid getoets het.[17] Soos beveel deur Laomedon (wat lone vir die harde werk beloof het), het die twee gode, wat menslik vorms aangeneem het, onderneem om groot mure rondom die stad te bou. Toe hulle klaar was, het die koning egter geweier om die ooreenkoms na te kom. Apollo het uit wraak, voor die Trojaanse Oorlog, 'n pestillensie na Troje gestuur, terwyl Poseidon 'n seemonster vrygelaat het wat, gedra deur 'n stormvloed, mense van die vlakte weggeruk het.
Die orakels het voorspel dat Troje van die ramp verlos sou word indien Laomedon sy dogter Hesione aan die seemonster sou blootstel. Die koning het haar toe aan die rotse naby die see vasgemaak. Maar toevallig het Herakles, net nadat hy teen die Amasone geveg het en by Troje aangeland het, gesien hoe die meisie geoffer word. Die held het belowe om die prinses te red op voorwaarde dat hy van Laomedon se merries ter vergoeding sal ontvang. Toe Laomedon instem, het Herakles (saam met Oicles en Telamon) die monster doodgemaak en Hesione op die laaste oomblik gered. Toe Laomedon egter nie sy belofte nakom nie het die held gedreig het om oorlog teen Troje te maak.
Die beleg van Herakles
[wysig | wysig bron]Na sy diens het Herakles 'n leër van edele vrywilligers bymekaar gebring en na Ilium gevaar met 'n vloot van agtien skepe met vyftig roeispane elk. Nadat hy die hawe by Ilium bereik het, het hy die bewaking van die skepe aan Oicles oorgelaat en saam met die res van die leër die stad aangeval. Intussen het Laomedon met 'n menigte teen die skepe opgeruk en Oicles in die geveg gedood. Maar toe hy deur die troepe van Herakles afgeweer is, is Laomedon beleër. Telamon het eerste deur die muur gebreek en die stad binnegegaan, en ná hom Herakles. Toe die seun van Zeus die stad ingeneem het, het hy Laomedon en sy seuns gedood (met die uitsondering van Podarkes). Herakles het Hesione as oorlogsbuit aan Telamon toegeken (by wie Telamon 'n seun gehad het genaamd Teucer[18]) en haar toegelaat om die gevangenes saam te neem wat sy sou benodig. Toe Hesione Podarkes gekies het, het Herakles gesê dat haar broer eers 'n slaaf moet wees en dan deur haar losgekoop moet word. Toe die prins verkoop word, het Hesione dus die goue sluier van haar kop afgehaal en dit as losprys gegee; daarom is Podarkes van toe af Priamos (van priamai 'om te koop') genoem.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 Apollodorus, 3.12.2
- ↑ Skolia oor Euripides, Hekabe 3
- ↑ 3,0 3,1 Tzetzes oor Lycophron, voorwoord
- ↑ Apollodorus, 3.12.3
- ↑ Apollodorus, E.3.23 & 24
- ↑ Konon, Verhale 13
- ↑ Tzetzes oor Lycophron, 921
- ↑ Apollodorus en Hyginus p. 63; Dionusios van Halikarnassos, Antiquitates Romanae 1.62.2
- ↑ Skolia oor Homeros, Ilias 3.250 soos aangehaal in Alkman, fr. 105: "[Seun van Laomedon] : Priamos se moeder, soos aangedui deur Porphyrius in sy boek Oor die Name weggelaat deur Homeros, was volgens die liriese digter Alkman Zeuxippè, maar volgens Hellanikos was dit Strymo."
- ↑ Apollodorus en Hyginus p. 63
- ↑ Tzetzes oor Lycophron, 18
- ↑ Homeros, Ilias 6.22
- ↑ Dictys Cretensis, 4.22
- ↑ Apollodorus en Hyginus bl. 34
- ↑ Skolia oor Homeros, Ilias 21.444 en Tzetzes oor Lycophron, 34 (soos gekonstateer in Apollodorus, 2.5.9. =Apollod.+2.5.9&fromdoc=Perseus%3Atext%3A1999.01.0022 f.n 2)
- ↑ Die samesweerdergode was Poseidon, Hera, en Atena. Apollo word nie genoem in Homeros se Iliad nie1.399 e.v.
- ↑ Apollodorus, 2.5.9
- ↑ Apollodorus en Hyginus pp. 38–39
Bronne
[wysig | wysig bron]- Apollodorus en Hyginus (2007) Apollodorus' Library and Hyginus' Fabulae: Two Handbooks of Greek Mythology. Vertaler, R. Scott Smith en Stephen Trzaskoma. Indianapolis: Hackett-uitgewers. ISBN 1603843272.
- Apollodorus, Die Biblioteek, met 'n Engelse vertaling deur Sir James George Frazer, F.B.A., F.R.S. in 2 Volumes, Cambridge, MA, Harvard-universiteit drukkers; Londen, William Heinemann Bpk. 1921. ISBN 0-674-99135-4. Aanlyn weergawe beskikbaar by die Perseus digitale biblioteek. Griekse teks beskikbaar by dieselfde webwerf.
- Konon, Vyftig Verhale, oorgelewer as een-paragraaf opsommings in die Bibliotheca (Biblioteek) van Fotios, Patriarg van Konstantinopel, vertaal uit die Grieks deur Brady Kiesling. Aanlyn weergawe beskikbaar by die Topos teksprojek.
- Dictys Cretensis, uit die Trojaanse Oorlog. Die Kronieke van Dictys van Kreta en Dares die Frigiër, vertaal deur Richard McIlwaine Frazer, Jnr. (1931-). Indiana-universiteit drukkers. 1966. Aanlyn weergawe beskikbaar by die Topos teksprojek.
- Dionusios van Halikarnassos, Romeinse Oudhede. Engelse vertaling deur Earnest Cary in die Loeb klassieke biblioteek, 7 volumes. Harvard-universiteit drukkers, 1937–1950. Aanlyn Aanlyn weergawe beskikbaar by Bill Thayer se webtuiste
- Dionusios van Halikarnassos, Antiquitatum Romanarum quae supersunt, Vol I-IV. . Karl Jacoby. In Aedibus B.G. Teubneri. Leipzig. 1885. Griekse teks beskikbaar by die Perseus digital biblioteek.
- Homeros, Die Ilias, Afrikaanse vertaling deur Johannes Petrus Jansen van Rensburg, 1952
- Homeros, Die Ilias, Engelse vertaling deur A.T. Murray, Ph.D. in twee volumes. Cambridge, MA., Harvard-universiteit drukkers; Londen, William Heinemann, Bpk. 1924. ISBN 978-0674995796. Aanlyn weergawe beskikbaar by die Perseus digitale biblioteek.
- Homeros, Homeri Opera in vyf volumes. Oxford, Oxford-universiteit drukkers. 1920. ISBN 978-0198145318. Griekse teks beskikbaar by die Perseus digitale biblioteek.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Laomedon. |