Gaan na inhoud

KwaZulu

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Hierdie artikel handel oor die voormalige tuisland KwaZulu in die huidige Suid-Afrika. Vir die huidige Suid-Afrikaanse provinsie, sien asb. KwaZulu-Natal.
KwaZulu

1981 – 1994
Vlag Wapenskild
Vlag Wapen
Volkslied: Nkosi sikelel'iAfrika
Ligging of KwaZulu
Ligging of KwaZulu
Destydse ligging van KwaZulu in Suid-Afrika
Hoofstad Ulundi
Taal/Tale Zoeloe
Regering Republiek
Historiese tydperk Apartheid
 - Stigting 1981
 - Weer ingelyf in Suid-Afrika 27 April 1994
Oppervlakte
 - 1994 36 074 km2
13 928 sq mi
Bevolking
 - 1994 skatting 5 748 950 
     Digtheid 159,4 /km² 
412,8 /sq mi
Geldeenheid Suid-Afrikaanse Rand

KwaZulu is 'n voormalige Bantoestan (tuisland) in die ooste van Suid-Afrika. Dit het 'n oppervlak van sowat 5 748 950 vierkante kilometer beslaan en uit sewe ingeslote grondgebiede bestaan, wyd versprei deur die vorige Suid-Afrikaanse provinsie van Natal. Die hoofstad in 1981 was Ulundi. Die tuisland is geskep om Zoeloesprekende mense te huisves en in 1994 het dit meer as 36 074 inwoners gehad.

Vlag van KwaZulu van 1977 tot 1985

Ná die eerste demokratiese Suid-Afrikaanse algemene verkiesing van 1994 is die tuisland heringelyf by die Republiek van Suid-Afrika en wel as deel van KwaZulu-Natal.

Knelpunte kenmerkend vir 'n ontwikkelende staat was algemeen in KwaZulu: Daar was 'n gebrek aan onderwysers en onderwysgeriewe, die gesondheidsdienste was ontoereikend, die tekort aan behuising was ernstig en die infrastruktuur was swak. Die belangrikste sektor van die ekonomie was landbou.

KwaZulu het oor uiters vrugbare landbougrond beskik en was ook bale waterryk. Suikerriet en katoen was die belangrikste kontantgewasse. Die staat se nywerheidsgroeipunt was iSithebe, wat oor een van die grootste nywerheidsgebiede in Suid-Afrika beskik het.

Die dorp iSithebe het baie vinnig ontwikkel en het talle moderne fabrieke gehuisves. Gedurende die eerste helfte van 1982 het die Suid-Afrikaanse regering aangekondig dat die Ingwavuma-distrik in die noorde van KwaZulu, aan die grens van Mosambiek, by Eswatini (destyds bekend as Swaziland) ingelyf sou word. KwaZulu was daarteen gekant en opeenvolgende hofbevele het die deurvoering daarvan vertraag. In Augustus 1982 is daar onderneem om nuwe samesprekinge oor die aangeleentheid te voer.

Ligging en klimaat

[wysig | wysig bron]

KwaZulu was die grootste van die selfregerende swart nasionale state van Suid-Afrika.

Die gebied waarin KwaZulu geleë was, grens in die noorde aan Mosambiek, in die suide aan Transkei, in die ooste aan die Indiese Oseaan en in die weste aan die Drakensberge, Qwaqwa en Lesotho. Wat landskap, plantegroei en klimaat betref, kon KwaZulu in 4 streke ingedeel word, naamlik die kusstreek, die suidoostelike doringveldstreek, die streek oos van die Drakensberge en die laagliggende bosveldstreek.

Die kusstreek het 'n hoe reënval wat tussen 1 000 en 1 100 mm per jaar wissel. Die maksimum temperatuur in die somer is gemiddeld 28 °C en die minimum temperatuur in die winter gemiddeld 9 °C. Die plantegroei bestaan hoofsaaklik uit doringveld en natuurlike woude. Talle riviermondings kom in hierdie streek voor, waarvan die Tugelamond die grootste is.

Die suidoostelike doringveldstreek strek vanaf die Tugelarivier in die noorde tot by die Umzimkulurivier in die suide. Die gemiddelde reënval wissel tussen 635 en 1000 mm per jaar en die klimaat stem met die van die kusstreek ooreen. 'n Groot aantal kleiner riviere vloei deur die streek, waar hoofsaaklik suurveld en plantegroei, wat kenmerkend vir die Natalse misgordel is, voorkom. Die landskap van die streek oos van die Drakensberg wissel van hoë berge en rante tot laerliggende valleie, rivierlope en stroompies.

Mis en motreën kom algemeen teen die berghange voor en die meeste sneeu in Suid-Afrika val hier. Die jaarlikse reënval wissel tussen 860 en 1 900 mm, terwyl die gemiddelde dagtemperature tussen 27 °C in die somer en 3 °C in die winter wissel. Suurveld en soet tot gemengde grasveld is algemeen. Die laagliggende bosveldstreek lê in die noordoostelike deel van Natal.

Die belangrikste riviere is die Swart- en die Wit-Umfolozi, en die Hluhluwe. Die reënval wissel tussen 760 en 1 000 mm per jaar, terwyl die gemiddelde dagtemperatuur met dié van die kusstreek ooreenstem. Doringveld en tropiese plantegroei word in hierdie streek aangetref.

Staatkundige ontwikkeling

[wysig | wysig bron]

Historiese oorsig

[wysig | wysig bron]

Die Zoeloes van Natal is vir die eerste keer in reservate geplaas ingevolge 'n beleid van sir Theophilus Shepstone. Die reservate was tussen Blankes se plase geleë en die doel daarvan was om swart arbeiders in Natal eweredig te versprei.

Na die oorlog van 1879/80 tussen die Zoeloes en die Engelse het die Britse owerheid die onafhanklikheid van die Zoeloes beëindig. In 1887 het sir Garnet Wolseley die Zoeloe-koninkryk versplinter deur dit in 13 distrikte onder gelykwaardige kapteins te verdeel en dit onder Britse beskerming geplaas.

Selfregering

[wysig | wysig bron]

Een van die belangrikste stappe op die pad na selfregering was die instelling van ’n ongeaktiveerde gebiedsowerheid vir KwaZulu in 1970. Hierdie gebiedsowerheid, wat hoofsaaklik raadgewende bevoegdhede gehad het, is uit lede van die 25 streekowerhede verkies. KwaZulu het nie deur 'n fase van geaktiveerde gebiedsowerheid gegaan nie en die status van sy ongeaktiveerde gebiedsowerheid is in 1972 tot die van wetgewende vergadering verhoog. Dit het uit 126 lede bestaan, waaruit 'n uitvoerende raad saamgestel is.

Kaptein Mangosuthu Gatsha Buthelezi is tot hoof- uitvoerende raadslid verkies. Op 1 Februarie 1977 het KwaZulu 'n selfregerende staat met 'n hoofminister en 'n kabinet geword. Die eerste algemene verkiesing is in die daaropvolgende jaar gehou en kaptein Buthelezi is tot hoofminister verkies. In die vroeë tagtigerjare het KwaZulu onafhanklikwording verwerp.

Gatsha Buthlezi

[wysig | wysig bron]

Mangosuthu Buthelezi, destydse hoofminster van KwaZulu, is een van die mees dinamiese en bekendste swart leiers van Suider-Afrika. Hy is op 27 Augustus 1928 naby Mahlabatini in die suide van Zoeloeland gebore en het aan die Adams-kollege naby Amanzimtoti gematrikuleer. Daarna het hy in die geskiedenis en Bantoe-administrasie aan Fort Hare gestudeer en 'n BA-graad behaal.

Hy is van koninklike afkoms en is die erfopvolger van die Buthelezistam, waarvan hy in 1953 kaptein geword het. Buthelezi het nie net as staatshoof bekendheid verwerf nie, maar ook as politieke denker. Hy is die stigter van die Inkatha-Vryheidsparty, 'n "kulturele bevrydingsbeweging" wat sowat 300 000 aanhangers het veral onder die Zoeloes. Hy het reeds talle reise deur Afrika, Europa en die Verenigde State onderneem en soms omstrede uitsprake daar gemaak.

Tydens 'n vergadering van Afrikaleiers in Addis Abeba in 1973 het hy byvoorbeeld opspraak verwek deur te sê dat die blankes van Suid-Afrika inheems in Suid-Afrika is. In Oktober 1980 het Buthelezi die eerste swart leier van Suid-Afrika geword wat sosialistiese lede van die Europese Parlement in Straatsburg toegespreek het. Tydens sy toespraak het hy onder meer die aanspraak van die verbode politieke organisasie, die African National Congress (ANC), verwerp dat die organisasie die enigste verteenwoordiger van swart aspirasies in Suid-Afrika sou wees.

Buthelezi se volgehoue verwerping van onafhanklikheid vir KwaZulu in die vroeë tagtigerjare word weerspieël in onder meer Inkatha se motto: "Suid-Afrika – een land, een volk".

Sosiale gegewens

[wysig | wysig bron]

Bevolking

[wysig | wysig bron]

Sowat 60% van die Zoeloebevolking van Suid-Afrika het in KwaZulu gewoon. Hoewel Zoeloes die oorgrote meerderheid van die sowat 3,5 miljoen inwoners van KwaZulu uitgemaak het, was daar ook Suid-Sotho's, Swazi's en Xhosas wat in die gebied gewoon het. Sowat 80 % van die inwoners was Christene, en die separatistiese kerke het die meeste aanhangers gehad. Van die ander kerkgenootskappe wat ondersteun is, was die Rooms-Katolieke Kerk, die Metodistekerk en die Lutherse Kerk die belangrikste. Net 'n geringe aantal Zoeloes was lidmate van die Afrikaanse kerke.

Onderwys

[wysig | wysig bron]

Baie aandag is daaraan bestee om die geletterdheidspeil in KwaZulu te verhoog. Reeds meer as 80 % van alle skoolryp kinders het skool gegaan, hoewel die persentasie wat die skole na enkele jare weer verlaat, hoog was. Daar was 'n aantal onderwyserskolleges en hoewel die tekort aan behoorlik opgeleide onderwysers ’n knelpunt was, was dit nie so ernstig as in sommige van die ander nasionale state nie.

Die Universiteit van Zoeloeland net suid van Empangeni is in 1959 as 'n universiteitskollege vir Zoeloes en Swazi's gestig en het in 1970 'n volwaardige universiteit geword. Dit bied kursusse in die lettere, wetenskap, opvoedkunde, regte, teologie en handel aan. Ander naskoolse opleiding is deur ’n tegniese en 'n landboukollege aangebied, terwyl die KwaZulu Ontwikkelingskorporasie ’n opleidingsprogram vir sakemanne en ondernemers aangebied het.

Gesondheid en behuising

[wysig | wysig bron]

KwaZulu het meer hospitale as enige ander nasionale staat gehad, maar omdat die land ook verreweg die meeste inwoners gehad het, was die verhouding van hospitaalbeddens per 1 000 inwoners nie hoër as die gemiddelde van die nasionale state nie. Hierdie situasie is verder versleg deur die groot tekort aan klinieke, dokters, tandartse en ander gesondheidspersoneel.

Daar was 'n verskeidenheid van welsynsinrigtings soos kinderhuise, tehuise vir bejaardes en sentrums vir liggaamlik gestremdes, maar die meeste is deur private organisasies bedryf. KwaZulu se knellendste sosiale probleem was behuising vir die stedelike bevolking. In die Vroeë tagtigerjare is die tekort aan stedelike wonings op sowat 80 000 geraam.

Die wooneenhede wat die algemeenste gebou is, was standaard-viervertrekhuise.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Landbou

[wysig | wysig bron]

Ondanks sporadiese droogtes soos die van 1979/80, toe die oesopbrengs in sekere dele van KwaZulu met sowat 80 % gedaal het, was die gebied die waterrykste in Suid-Afrika en beskik oor uiters vrugbare landbougrond. Landbou was dan ook die vernaamste ekonomiese bedrywigheid van die inwoners.

Suiker en katoen was die belangrikste kontantgewasse, terwyl groot dele ook besonder geskik is vir veeteelt. Feitlik die hele voormalige KwaZulu is geskik vir die verbouing van suikerriet. In die rypvrye kusstrook word subtropiese vrugte soos piesangs en pynappels aangeplant, terwyl papajas en avokado's in die suidoostelike deel van die voormalige KwaZulu goed aard. Katoen en sisal word in die laer deel van die Umfolozidistrik verbou. Laasgenoemde twee streke is ook plek-plek geskik vir mielieverbouing.

Die belangrikste vertakking van die veeteelt in die voormalige KwaZulu is beesboerdery, wat veral in die binnelandse gebiede bedryf word. Skape en bokke word ook algemeen op die platteland aangehou.

Nywerheid

[wysig | wysig bron]

KwaZulu se nywerheidsgroeipunt was Isithebe. Die dorp, wat sowat 100 km noord van Durban geleë is, beskik oor een van die grootste nywerheidsgebiede in Suid-Afrika en is per spoor met Durban en Richardsbaai verbind. Dit het onder meer die grootste enkele onderneming in enige ontwikkelende swart staat in Suider-Afrika gehuisves, naamlik 'n gietery vir mangaan-staatallooi.

Die mikpunt van die gietery was 'n jaarlikse produksie van 11 000 ton. In die ander fabrieke in iSithebe is 'n groot verskeidenheid artikels vervaardig, byvoorbeeld vragmotorbakke, motorsleepwaens, veselglas- en laaghoutartikels, erdeware, reinigingsmiddels, klere, betonpype en chemikalieë.

Elders in KwaZulu is daar 2 skoenfabrieke en saagmeulens. Die belangrikste nywerheidsentra buite die voormalige KwaZulu wat werk aan pendelaars verskaf het, is Pietermaritzburg, Richardsbaai, Durban, Ladysmith, Newcastle en Hammarsdale.

Mynbou

[wysig | wysig bron]

Hoewel daar 31 ekonomies ontginbare minerale in die voormalige KwaZulu voorkom, staan die mynbou nog in sy kinderskoene. Die bestaande myne is hoofsaaklik in die Tugela-vallei, waar goeie afsettings van onder meer kaolien en kookssteenkool voorkom. Veral die groot steenkoolafsettings was belangrik vir die ekonomie. Bekende afsettings in die Nongoma-distrik beloop etlike miljoene ton.

Ander bedrywe

[wysig | wysig bron]

Die voormalige KwaZulu het die laaste stuk ongerepte kuslyn van Suid-Afrika besit, naamlik die van Maputaland. Dit het 'n subtropiese klimaat en 'n besonder ryk fauna en flora. Sommige kenners meen die koraalseeskap daar is een van die skouspelagtigstes ter wêreld. Hier en elders in die voormalige KwaZulu is natuurbewaring deur die staat geïnisieer en gesteun. Naas wildreservate is ook onder meer die oorspronklike jagvelde van Shaka tot natuurreservaat verklaar. Die ontwikkeling van 'n toeristebedryf is egter as ’n langtermynprojek beskou.

In die vroeë 1980's bestaan die bedryf hoofsaaklik uit enkele vakansie-oorde vir swartes verder suid aan die kus, waarvan Umgababa die gewildste was. Dit het sowat 500 vakansiehutte, swembaddens en ander ontspanningsgeriewe gehad. Sowat 45 000 ha van die voormalige KwaZulu is geskik vir bosbou, maar dit is nie behoorlik benut nie. Die grootste deel van die bosbouproduksie het uit nie-kommersiële hout en brandhout bestaan.

Infrastruktuur

[wysig | wysig bron]

Die stedelike sowel as die plattelandse infrastruktuur in KwaZulu was baie gebrekkig. Sowat 20% van die land se paaie was in ’n uiters swak toestand en net die hoofroetes wat deur die staat gelei het, was geteer.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
  • Wikimedia Commons logo Wikimedia Commons het meer media in die kategorie KwaZulu.
  • (en) "KwaZulu". Encyclopædia Britannica. Besoek op 24 Junie 2019.