Gaan na inhoud

Khmer-ryk

Koördinate: 13°26′N 103°50′O / 13.433°N 103.833°O / 13.433; 103.833
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
អាណាចក្រអង្គរ
Khmer-ryk
802–1431

Flag of Khmer-ryk
Vlag

Ligging of Khmer-ryk
Ligging of Khmer-ryk
Kaart van Suidoos-Asië in 900 n.C.; Khmer-ryk in rooi.
Hoofstad Angkor
Taal/Tale Oudkhmer
Sanskrit
Godsdiens Hindoeïsme
Boeddhisme
Regering Monargie
Koning
 - 802–850 Jayavarman II
 - 1113–1150 Suryavarman II
 - 1181–1218 Jayavarman VII
 - 1393–1463 Ponhea Yat
Historiese tydperk Middeleeue
 - Gevestig 802
 - Troonbestyging van Jayavarman II 802
 - Siamese inval 1431
 - Ontbind 1431
Oppervlakte
 - 1150 1 200 000 km2
463 323 sq mi
Bevolking
 - 1150 skatting 2 000 000 
     Digtheid 1,7 /km² 
4,3 /sq mi

Die Khmer-ryk (Khmer: ចក្រភពខ្មែរ Chakrphup Khmer of អាណាចក្រខ្មែរ Anachak Khmer), amptelik die Angkor-ryk (Khmer: អាណាចក្រអង្គរ Anachak Angkor) was die voorloperstaat van die moderne Kambodja. Dit was ’n magtige Hindoe-Boeddhistiese ryk in Suidoos-Asië wat uit die ouer koninkryke Funan en Chenla ontwikkel het, en het met tye oor die grootste deel van die Suidoos-Asiatiese vasteland regeer.[1]

Sy grootste nalatenskap is Angkor, in die hedendaagse Kambodja, wat die hoofstad tydens die ryk se hoogtepunt was. Die majestueuse monumente van Angkor, soos Angkor Wat en Bayon – is getuienis van die Khmer-ryk se enorme mag en rykdom, indrukwekkende kuns en kultuur, argitektoniese tegnieke en astetiese prestasies, sowel as die verskeidenheid gelowe wat deur die eeue hier beoefen is. Satellietbeelde het onthul dat Angkor tydens sy hoogtepunt in die 11de en 13de eeu die grootste pre-industriële stadsgebied in die wêreld was.[2]

Die jaar 802 n.C. word gewoonlik beskou as die begin van die era van die Khmer-ryk. In dié jaar het koning Jayavarman II hom op Phnom Kulen verklaar tot chakravartin ("koning van die wêreld" of "koning der konings"). Die ryk het tot ’n einde gekom met die val van Angkor in die 15de eeu.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Stigting en groei

[wysig | wysig bron]

Jayavarman II, die stigter van Angkor

[wysig | wysig bron]
Boogskutters op die rug van olifante.
Bakong, een van die vroegste tempelberge in Khmer-argitektuur.

Volgens Sdok Kok Thom-inskripsies[3][4] was Indrapura omstreeks 781 die eerste hoofstad van Jayavarman II.[5] Hy was van die voormalige koninkryk Chenla en het gou sy invloed uitgebrei, ’n paar mededingende konings se gebiede verower en in 790 koning geword van ’n koninkryk met die Khmer naam "Kambuja". Hy het daarna sy hof noordwes na Mahendraparvata geskuif.

Jayavarman II (802–835)[6] word algemeen beskou as die koning wat die Angkortydperk in Kambodja se geskiedenis ingelui het met ’n grootse kroning in 802 op die heilige Berg Mahendraparvata, nou bekend as Phnom Kulen, om die onafhanklikheid van Kambuja van Javaanse oorheersing te vier.[7] Op dié seremonie is prins Jayavarman II uitgeroep as ’n universele monarg (Khmer: Kamraten jagad ta Raja), of godkoning (Sanskrit: Deva Raja). Hy het homself tot chakravartin verklaar in ’n ritueel wat van die Indiese Hindoe-tradisie oorgeneem is. Daardeur het hy nie net die goddelik aangewese en dus onbetwiste heerser geword nie, maar het hy ook die onafhanklikheid van sy koninkryk van Java aangekondig.

Volgens sommige bronne het Jayavarman II vir ’n tyd in Java gebly tydens die bewind van die Sailendras, of "Meesters van die Berge", en dus word geglo die begrip "Deva Raja" of godkoning kom van Java af.[3]:99–101

Die vroegste inligting oor Jayavarman II kom van ’n stele in die Sdok Kok Thom-tempel, wat van 1053 dateer. Dit vertel van twee en ’n half eeue se diens deur lede van die tempel se stigtersfamilie aan die Khmer-hof, hoofsaaklik as hoofpredikers van die Shaivistiese Hindoegodsdiens.[8]

In die volgende jare het hy sy gebied uitgebrei en eindelik, later tydens sy bewind, het hy van Mahendraparvata af weggetrek en sy nuwe hoofstad, Hariharalaya, naby die hendedaagse Kambodjaanse dorp Rolous gevestig.[3] Daardeur hy het die fondament gelê van Angkor, wat sowat 15 km noordwes daarvan ontstaan het. Jayavarman II is in 835 oorlede[6]:59 en is deur sy seun Jayavarman III opgevolg.[3][9] Dié is in 877 dood en is deur Indravarman I opgevolg.[3]

Jayavarman II se opvolgers het voortdurend Kambuja se grondgebied vergroot. Indravarman I (877–889) het die gebied sonder oorloë uitgebrei en het groot bouprojekte begin danksy rykdom wat met handel en landbou opgebou is. Die belangrikste was die tempel Preah Ko en besproeiingswerk. Hy het ook Bakong[4] omstreeks 881 laat bou.[3] Bakong toon veral groot ooreenkomste met die Borobudur-tempel in Java, wat daarop dui laasgenoemde het waarskynlik gedien as die prototipe vir Bakong. Daar moes ’n uitruiling van reisigers, of selfs sendings, tussen die Khmer-ryk en Java plaasgevind het, en so het nie net idees nie, maar ook tegniese en argitektoniese kennis Kambodja bereik.[10]

Yasodharapura, die eerste stad van Angkor

[wysig | wysig bron]
Die tempel en mausoleum wat opgedra is aan koning Yasovarman I.
Die Thommanon-tempel.

Indravarman I is opgevolg deur sy seun Yasovarman I (bewind: 889–915), wat ’n nuwe hoofstad, Yasodharapura, gestig het – dit was die eerste stad van Angkor. Die stad se sentrale tempel is op ’n heuwel van sowat 60 m gebou. Onder Yasovarman I is ’n enorme waterreservoir van 7,1 by 1,7 km ook gebou.[3]:111–114[4]:358,360–361

Aan die begin van die 10de eeu het die koninkryk verdeel. Jayavarman IV het ’n nuwe hoofstad by Koh Ker, sowat 100 km noordoos van Angkor, gestig met die naam Lingapura.[4]:360,363 Die koninklike paleis is eers tydens die bewind van Rajendravarman II (944–968) na Yasodharapura teruggeskuif. Hy het die uitgebreide bouprojekte van vroeëre konings hervat en ’n reeks tempels en kloosters in die Angkor-streek laat bou.[4]:363–367 In 950 het die eerste oorlog uitgebreek tussen Kambuja en die koninkryk Champa in die ooste (in die hedendaagse Viëtnam).[3]:114–117

Rajendravarman II se seun Jayavarman V het van 968 tot 1001 regeer. Nadat hy hom as nuwe koning gevestig het bo die ander prinse, was sy bewind ’n grootliks vreedsame tydperk, wat gekenmerk is deur vooruitgang en ’n kulturele bloeityd. Hy het ’n nuwe hoofstad gestig effens wes van sy pa s’n en dit Jayendranagari genoem; sy staatstempel, Ta Keo, was in die suide. Aan Jayavarman V se hof was filosowe, geleerdes en kunstenaars. Nuwe tempels is gebou, waarvan die belangrikste Banteay Srei was wat beskou word as een van die mooiste en mees artistieke tempels van Angkor, en Ta Keo, die eerste tempel van die streek wat heeltemal van sandsteen gebou is.[3]:117–118[4]:367

’n Dekade van konflik het gevolg op die dood van Jayavarman V. Drie konings het gelyk regeer totdat Suryavarman I (1006–1050) die troon bestyg het.[3]:134–135 Hy het diplomatieke bande met die Chola-dinastie van Suid-Indië aangeknoop.[11][12] Sy bewind is gekenmerk deur herhaalde pogings om hom omver te werp en deur militêre oorwinnings. Suryavarman het beheer van die Khmer-hoofstad, Angkor Wat, oorgeneem.[13] Terselfdertyd het Angkor Wat in konflik gekom met die Tambralinga-koninkryk op die Maleise Skiereiland.[13][14] Daar was dus ’n drierigtingkonflik op die vasteland van Suidoos-Asië.

Nadat hy verskeie invalle deur sy vyande oorleef het, het Suryavarman die hulp van die magtige Chola-keiser Rajendra Chola I gevra teen die Tambralinga-koninkryk.[13][15][16] Toe die Tambralinga-koninkryk van dié bondgenootskap uitvind, het hulle die hulp gevra van die Srivijaya-koning, Sangrama Vijayatungavarman.[13][14] Dit het eindelik daartoe gelei dat die Chola-ryk in konflik met die Srivijiya-ryk gekom het. Die oorlog het geëindig met ’n oorwinning vir die Chola-dinastie en die Khmer-ryk.[13][14] Dié bondgenootskap het ook ’n godsdienstige ondertoon gehad, want beide Chola en die Khmer-ryk was Shaivistiese Hindoes, terwyl Tambralinga en Srivijaya Mahayana-Boeddhiste was.

Ná Suryavarman I se dood in 1050 is hy opgevolg deur Udayadityavarman II, wat die Baphuon en Wes-Baray laat bou het.[3]:135,137–138 In 1074 het konflik ontstaan tussen Harshavarman III en die Champa-koning Harivarman IV.[3]:152

Goue tydperk

[wysig | wysig bron]

Suryavarman II – Angkor Wat

[wysig | wysig bron]
Boeddhistiese monnike by Angkor Wat.

Die 12de eeu was ’n tydperk van konflik en wrede magstryde. Onder Suryavarman II (1113–1150) het die koninkryk intern verenig geraak[6]:113 en die grootste tempel van Angkor is gebou: Angkor Wat, wat opgedra is aan die Hindoegod Vishnu. In die ooste was sy veldtogte teen Champa en Dai Viet onsuksesvol,[6]:114 maar hulle het die Champa-stad Vijaya in 1145 geplunder en Jaya Indravarman III van die troon gesit.[17]:75–76

Die Khmers het Vijaya tot in 1149 beset, toe Jaya Harivarman I hulle uitgedryf het.[3]:160 Suryavarman II het in 1114 ’n sending na Chola gestuur en ’n edelsteen aan die Chola-keiser Kulothunga Chola I geskenk.[18][19]

Nog ’n tydperk het gevolg waarin konings vir kort tydperke regeer het en gewelddadig deur hul opvolgers omvergewerp is. Eindelik, in 1177, is die hoofstad geplunder deur ’n Champa-vloot onder Jaya Indravarman IV, en Tribhuvanadityavarman is gedood.[3]:164[17]:78

Jayavarman VII – Angkor Thom

[wysig | wysig bron]
’n Borsbeeld van Jayavarman VII.
’n Bronsreplika van een van die 23 standbeelde wat koning Jayavarman VII in 1191 na verskillende dele van sy ryk gestuur het.

Koning Jayavarman VII (1181–1219) word algemeen as Kambodja se grootste koning beskou. As ’n prins was hy reeds ’n militêre leier onder vorige konings. Nadat Champa Angkor verower het, het hy ’n leër op die been gebring en die hoofstad terugverower. Hy het die troon bestyg en die oorlog teen die naburige oostelike koninkryk nog 22 jaar lank volgehou, totdat die Khmer Champa in 1203 oorwin en groot dele van hul grondgebied afgeneem het.[3]:170–171[17]:79–80

Jayavarman VII was die laaste van die groot konings van Angkor – nie net danksy sy suksesvolle oorlog teen Champa nie, maar ook omdat hy nie ’n tiran soos sy onmiddellike voorgangers was nie. Hy het die ryk verenig en merkwaardige bouprojekte aangepak. Die nuwe hoofstad, wat nou Angkor Thom (letterlik "Groot Stad") heet, is gebou. In die middel het die koning, wat ’n aanhanger van Mahayana-Boeddhisme was, die Bayon as die staatstempel laat bou,[4]:378–382 met torings wat klipgesigbeelde van die bodhisattva Avalokitesvara bevat het wat elk verskeie meters hoog was. Ander belangrike tempels wat hy laat bou het, is Ta Prohm vir sy ma, Preah Khan vir sy pa,[4]:388–389 Banteay Kdei en Neak Pean, sowel as die reservoir van Srah Srang. ’n Uitgebreide netwerk paaie is gebou wat elke dorp in die ryk verbind het, met blyplekke vir reisigers. Hy het ook 102 hospitale dwarsoor sy ryk laat oprig.[3]:173,176

Jayavarman VIII – die laaste opbloei

[wysig | wysig bron]
Baphuon, ’n tempel wat aan die Hindoegod Shiva opgedra is.

Ná die dood van Jayavarman VII het sy seun Indravarman II (1219–1243) die troon bestyg.[3]:180–181 Hy was, nes sy pa, ’n Boeddhis en het ’n reeks tempels voltooi wat tydens sy pa se bewind begin is. As ’n stryder was hy minder suksesvol. Onder toenemende druk deur ’n al hoe magtiger Dai Viet en hul bondgenoot, Champa, het die Khmer in 1220 begin onttrek aan baie van die provinsies wat hulle voorheen van Champa verower het. In die weste het sy Thai-onderdane gerebelleer en die eerste Thai-koninkryk by Sukhothai gestig. In die volgende 200 jaar sou die Thais Kambuja se belangrikste teenstanders word.

Indravarman II is deur Jayavarman VIII (1243–1295) opgevolg. Anders as sy voorgangers was hy ’n aanhanger van Shaivisme en ’n groot teenstander van Boeddhisme. Hy het baie standbeelde van Boeddha laat vernietig en Bhoeddistiese tempels in Hindoe-tempels laat omskep.[6]:133 Van buite is die ryk in 1283 bedreig deur die Mongole onder Koeblai Khan se generaal Sogetu (soms Sagatu of Sodu genoem), wat die goewerneur van Guangzhou in China was.[20] Die koning het oorlog met sy magtige teenstander, wat oor die hele China regeer het, vermy deur van 1285 af heffings aan hom te betaal.[3]:192[20] Jayavarman VIII se bewind het in 1295 geëindig toe hy deur sy skoonseun Srindravarman (1295–1309) van die troon gesit is. Die nuwe koning was ’n volgeling van Theravada-Boeddhisme, ’n skool van Sri Lanka wat deur Suidoos-Asië versprei het.

In Augustus 1296 het die Chinese diplomaat Zhou Daguan in Angkor aangekom en geskryf: "In die onlangse oorlog met die Siamese is die land heeltemal verwoes."[3]:211[17]:90 Hy het tot Julie 1297 aan die hof van koning Srindravarman gebly. Hy was nie die eerste of laaste Chinese verteenwoordiger wat Kambuja besoek het nie. Sy verblyf is egter belangrik omdat hy later ’n gedetailleerde verslag geskryf het oor die lewe in Angkor. Sy beskrywings is vandag een van die belangrikste bronne om die historiese Angkor te verstaan. Hy het nie net verskeie groot tempels beskryf nie, maar ook waardevolle inligting verskaf oor die alledaagse lewe en gebruike van die inwoners van Angkor.

Agteruitgang

[wysig | wysig bron]

Teen die 14de eeu het die Khmer-ryk ’n lang, moeilike en geleidelike agteruitgang beleef. Historici het al verskeie redes verskaf: die oorgang van Shaivistiese Hindoeïsme na Theravada-Boeddhisme wat sosiale en politieke stelsels beïnvloed het, aanhoudende interne magstryde onder Khmer-prinse, opstande deur leenhere, buitelandse invalle, peste en ekologiese verval.

Op sosiale en godsdienstige gebied het baie aspekte tot die verval van die ryk bygedra. Die verhouding tussen die heersers en hul elite was onbestendig – van die 27 konings van Angkor het 11 nie ’n wettige aanspraak op die troon gehad nie en daar was baie burgeroorloë. Die Khmer-ryk het meer op die binnelandse ekonomie gefokus en nie gebruik gemaak van die internasionale maritieme netwerk nie. Verder het die invloei van Boeddhistiese idees gebots met die staatsorde wat onder Hindoeïsme ontstaan het.[21]

Verandering van godsdiens

[wysig | wysig bron]
’n Kambodjaanse beeld van Boeddha uit die 11de eeu.

Die laaste Sanskrit-inskripsie was uit 1327. Dit beskryf Indrajayavarman se opvolging deur Jayavarmadiparamesvara.[3]:228 Historici vermoed daar is ’n verband met die konings se aanvaarding van Theravada-Boeddhisme: Hulle is dus nie meer as "devarajas" (godkonings) beskou nie, en dit was nie meer nodig om groot tempels vir hulle op te rig nie, of eerder vir die gode wat hulle beskerm het. Dit het dalk ook gelei tot ’n afname in die koninklike gesag en dus in die werkmag. Die waterbestuurstelsel het ook agteruitgegaan, wat beteken het die oeste is deur vloede en droogtes verklein. Terwyl vroeër drie rysoeste per jaar moontlik was – ’n aansienlike rede vir die vooruitgang en mag van Kambuja – het die kleiner oeste die ryk verder verswak.

As ’n mens egter na die argeologiese rekord kyk, is dit duidelik die Khmer het nie net ophou bou nie, maar hul historiese inskripsies was ook tussen 1300 en 1600 afwesig. Daar is dus min argeologiese bewyse waarmee gewerk kan word. Argeoloë kon wel vasstel die terreine is verlaat en daarna deur ander volke beset.[22]

Buitelandse druk

[wysig | wysig bron]
’n Sittende Boeddha uit die 12de eeu.

Die Khmer se westelike buurman, die eerste Thai-koninkryk, Sukhothai, is in 1350 deur ’n sterker Thai-koninkryk, Ayutthaya, in die laer Chao Phraya-bekken verower. Van die 14de eeu af het Ayutthaya die mededinger van Angkor geword.[3]:222–223 Angkor is in 1352 deur hul koning Uthongin beset en die volgende jaar verower, en daarna het verskeie opvolgende Siamese prinse die Khmer-monarg vervang. In 1357 het die Khmer-koning Suryavamsa Rajadhiraja die troon teruggewen.[3]:236 In 1393 het die Ayutthaya-koning Ramesuan Angkor weer beset en dit die volgende jaar verower. Ramesuan se seun het vir ’n kort ruk oor die Khmer regeer voordat hy vermoor is. Eindelik, in 1431, het die Khmer-koning Ponhea Yat Angkor verlaat omdat dit onmoontlik was om te verdedig. Hy het na die Phnom Penh-gebied verskuif.[3]:236–237

Die nuwe hoofstad van die Khmer-ryk was in die suidweste, in die huidige Phnom Penh-streek. Daar is egter bewyse dat Angkor nie heeltemal verlaat is nie. Een lyn van Khmer se konings het dalk daar agtergebly, terwyl ’n ander lyn na Phnom Penh verskuif het om ’n parallelle koninkryk te vestig. Die finale val van Angkor sou dan gewees het weens die verskuiwing van ekonomiese – en daarmee saam politieke – belangrikheid, want Phnom Penh het ’n belangrike handelsentrum geword. Daarbenewens word ernstige droogtes en daaropvolgende vloede beskou as belangrike redes vir Angkor se val.[23] Klimaatsveranderings, duur bouprojekte en magskonflik in die koninklike familie het die lot van die Khmer-ryk verseël.

Ekologiese verval

[wysig | wysig bron]
’n Satellietfoto van Angkor. Die droë Oos-Baray dui op omgewingsveranderings in die streek.

Ekologiese rampe en die verval van die infrastruktuur is ’n nuwe, alternatiewe teorie oor die einde van die Khmer-ryk. Wetenskaplikes wat aan die Groter Angkor-projek werk, glo die Khmer het ’n uitgebreide stelsel reservoirs en kanale gebruik vir handel, vervoer en besproeiing. Die kanale is ook gebruik vir die verbouing van rys. Namate die bevolking gegroei het, was daar al hoe meer druk op die waterstelsel. Verder was daar tydens die 14de en 15de eeu groot klimaatsveranderings wat ’n invloed op die stelsel gehad het. Tydperke van droogte het gelei tot ’n afname in landbouproduktiwiteit, en groot vloede weens die moesonreëns het die infrastruktuur in dié kwesbare tyd beskadig.[23]

Om by die groter bevolking aan te pas is bome op die Kulenheuwels afgekap om meer rys te kan plant. Dit het veroorsaak dat reën sediment na die kanaalnetwerk vervoer het. Enige skade aan die waterstelsel sou groot gevolge ingehou het.[24]

Die pes

[wysig | wysig bron]

Die pesteorie, waarvolgens ’n ernstige epidemie die digbevolkte Angkor-gebied getref het en tot die val van die ryk bygedra het, is in heroorweging geneem.[25] Teen die 14de eeu het die Swart Dood in Asië versprei. Dit het omstreeks 1330 in China ontstaan en Europa omstreeks 1345 bereik. Die meeste seehawens tussen China en Europa is geraak, en dit kon ’n groot impak op lewe dwarsdeur Suidoos-Asië gehad het. Moontlike siektes sluit in builepes, pokke en malaria.

Angkor ná die 15de eeu

[wysig | wysig bron]

Wat ook al gebeur het, daar is bewyse dat Angkor later steeds bewoon is. Tydens die bewind van koning Barom Reachea I (1566–1576), wat daarin geslaag het om die Thai tydelik terug te dryf, is die koninklike hof vir ’n kort ruk teruggeskuif na Angkor. Inskripsies uit die 17de eeu getuig van Japannese nedersettings tussen dié van die oorblywende Khmer.[26] Die bekendste inskripsie vertel van Ukondayu Kazufusa, wat die Kmer-nuwejaar in 1632 daar gevier het.[27]

In die daaropvolgende dekades is die Japannese egter in die plaaslike Khmer-gemeenskap opgeneem vanweë die gebrek aan nuwe Japannese aankomelinge.[26]

Kultuur en gemeenskap

[wysig | wysig bron]
’n Rekonstruksie van Prasat Bayon, die middelpunt van Angkor Thom.

Baie van wat bekend is oor die antieke Khmer-gemeenskap kom van basreliëfwerke en die eerstehandse beskrywings van die Chinese diplomaat Zhou Daguan, wat inligting verskaf oor die Kambodja van die 13de eeu en vroeër. Die basreliëfs van die Angkor-tempels, soos dié in Bayon, beskryf die alledaagse lewe van die antieke Khmer-ryk, insluitende die paleislewe, vlootgevegte op die riviere en mere en algemene markbedrywighede.

Ekonomie en landbou

[wysig | wysig bron]
’n Khmer-mark by Bayon.

Die antieke Khmer was ’n tradisionele landbougemeenskap wat swaar geleun het op die verbouing van rys. Die boere, wat die grootste deel van die koninkryk se bevolking uitgemaak het, het rys geplant naby die oewers van die riviere en mere, in die besproeide gebiede om hul dorpe of in die heuwels wanneer die laer gebiede oorstroom was. Die rysvelde is besproei met ’n groot en ingewikkelde hidrouliese stelsel, onder meer netwerke kanale en barays, of reuse-reservoirs. Dit het groot boeregemeenskappe om die Khmer-stede tot gevolg gehad. Suikerpalms, vrugte en groente is in boorde by die dorpe geplant, wat produkte soos palmsuiker, palmwyn, klapper en verskeie soorte vrugte en groente opgelewer het.

By die enorme Tonlé Sap-meer, en ook naby verskeie riviere en damme, het groot dele van die bevolking op vis staatgemaak vir ’n lewe. Vis was die bevolking se hoofbron van proteïen. Een van die produkte was prahok – gedroogde, gebraaide of gestoomde vispasta wat in piesangblare toegedraai is. Rys was die ander stapelvoedsel. Ander bronne van proteïen het ingesluit varke, beeste en pluimvee. Dié is aangehou onder die boere se huise, wat op stelte gestaan het om hulle teen vloede te beskerm.

Daar was geen permanente geboue op die markte nie; dit was oop pleine waar die handelaars op die grond op geweefde matte gesit het om hul ware te verkoop. Daar was geen tafels en stoele nie. Sommige handelaars het sambrele gehad om hulle teen die son te beskerm. Amptenare het ’n soort belasting of huur ingesamel vir elke spasie op die mark. Vroue het meestal aan die hoof gestaan van die handel en ekonomie op die Angkor-markte.

Zhou Daguan het die vroue van Angkor so beskryf:[28][29]

Die plaaslike mense wat weet hoe om handel te dryf is almal vroue. Wanneer ’n Chinees dus na hierdie land kom, moet hy eerste ’n vrou inneem, deels om voordeel te trek uit haar handeldryfvermoëns.
Die vroue word gou oud, ongetwyfeld omdat hulle trou en die lewe skenk wanneer hulle te jonk is. As hulle 20 of 30 jaar oud is, lyk hulle soos Chinese vroue van 40 of 50.

Die rol van vroue in die handel en ekonomie van die Khmer-ryk dui daarop dat hulle aansienlike regte en vryheid geniet het. Die praktyk om vroeg te trou, kon bygedra het tot die koninkryk se hoë vrugbaarheidsyfer en groot bevolking.

Gemeenskap en politiek

[wysig | wysig bron]
’n Vlootgeveg teen die Champa, soos uitgebeeld by Bayon.
’n Khmer-leër, Bayon.

Die Khmer-ryk was geskoei op uitgebreide netwerke landbougemeenskappe. ’n Besondere nedersettingshiërargie is duidelik: Klein dorpies was om streeksentrums gesentreer wat op hul beurt hul goedere na groter stede gestuur het in ruil vir ander goedere, soos pottebakkersware en buitelandse items van byvoorbeeld China.[30] Die koning en sy amptenare was in beheer van waterverspreiding en besproeiingskemas, wat bestaan het uit ’n ingewikkelde hidrouliese infrastruktuur soos kanale, gragte en enorme reservoirs bekend as barays.

Die gemeenskap was georden in ’n hiërargie wat die Hindoe-kastestelsel weerspieël waar die gewone mense – rysboere en vissers – die meerderheid van die bevolking uitgemaak het. Die kshatriyas – die koninklikes, adellikes, krygshere en soldate – het die regerende elite en owerhede gevorm. Ander klasse het ingesluit die Brahmane (priesters), handelaars, vakmanne soos timmermanne en messelaars, pottebakkers, metaalwerkers, goudsmede en wewers. Op die laagste sosiale vlak was die slawe.

Die uitgebreide besproeiingsprojekte het rys verskaf wat ’n groot bevolking kon onderhou. Die staatsgodsdiens was Hindoeïsme, maar is beïnvloed deur die kultus van devaraja, wat die Khmer-konings verhef het tot lewende gode op aarde, die inkarnasies van Vishnu of Shiva.[31] In die politiek is hierdie status beskou as die goddelike regverdiging van ’n koning se heerskappy. Die kultus het die koning in staat gestel om enorme argitektoniese projekte soos Angkor Wat en Bayon aan te pak om sy goddelike heerskappy op aarde te vier.

Die koning was omring deur ministers, amptenare, adellikes, paleisvroue en diensknegte, wat almal beskerm is deur wagte en troepe. Die hoofstad by Angkor en die Khmer-paleise was bekend vir grootse seremonies, met baie feeste en rituele wat in die stad plaasgevind het. Selfs wanneer hulle gereis het, was die koning en sy gevolg ’n groot skouspel, soos deur Zhou Daguan beskryf:[32]

Wanneer die koning [Indravarman III] uitgaan, lei troepe sy gevolg; dan is daar vlae, baniere en musiek. Paleisvroue, van 300 tot 500, met geblomde klere, blomme in hul hare en kerse in hul hande, vorm nog ’n groep. Die kerse word selfs helder oordag aangesteek. Dan volg ander paleisvroue, met koninklike toebehore van goud en silwer . . . Dan kom die paleisvroue wat lanse en skilde dra, saam met die koning se privaat wagte. Waens wat deur bokke en perde getrek word, alles in goud, kom volgende. Ministers en prinse ry op olifante, en voor hulle kan ’n mens van ver af hul ontelbare rooi sambrele sien. Daarna volg die koning se vroue en bywywe, in draagstoele en koetse, op die rug van perde en olifante. Hulle het meer as honderd sambrele, met goud bespikkel. Agter hulle kom die koning, staande op ’n olifant en met sy heilige swaard in sy hand. Die olifant se tande is met goud oorgetrek.

Oor die koning se klere skryf Zhou Daguan:[29]

Net die heerser mag klere dra wat oraloor ’n blomontwerp het . . . Om sy nek dra hy pêrels van omtrent drie pond. Aan sy polse, enkels en vingers dra hy goue armbande en ringe . . . Wanneer hy uitgaan, hou hy ’n goue swaard in sy hand.

Khmer-konings was dikwels in oorloë gewikkel. Danksy die groot bevolking kon die koning groot leërs byeenbring wat soms gebruik is om buurlande te verower. Danksy sy oorwinnings het die koning sy grondgebied en mag oor die streek uitgebrei. Konings en koninklike families was ook dikwels by groot magstryde betrokke ter wille van troonopvolging of by mededinging om prinsdomme.

Godsdiens

[wysig | wysig bron]
Vishnu, volgens die styl van die Baphuon-tempel.

Die hoofgodsdiens was Hindoeïsme, gevolg deur Boeddhisme in gewildheid. Die ryk het Hindoeïsme aanvanklik as die hoofstaatsgodsdiens beskou. Vishnu en Shiva was die gode wat die meeste in Khmer-tempels aanbid is. Tempels soos Angkor Wat is eintlik bekend as Preah Pisnulok (Vara Vishnuloka in Sanskrit), of die "ryk van Vishnu", om die postume koning Suryavarman II as Vishnu te gedenk.

Hindoeseremonies en -rituele wat deur Brahmane (Hindoepriesters) uitgevoer is, is gewoonlik onder die regerende elite, die koning se familie of adellikes gehou. Die ryk se amptelike godsdienste het Hindoeïsme en Mahayana-Boeddhisme ingesluit totdat Theravada-Boeddhisme oorheers het, selfs onder die laer klasse, nadat dit in die 13de eeu uit Sri Lanka na die Khmer-ryk oorgespoel het.[33]

Kuns en argitektuur

[wysig | wysig bron]

Zhou Daguan het die Angkor-paleis as volg beskryf:[34]

Al die amptelike geboue en huise van die aristokrasie, insluitende die Koninklike Paleis, kyk na die ooste. Die Koninklike Paleis lê noord van die Goue Toring en die Brug van Goud: Dit is een en ’n half myl in omtrek. Die teëls van die hoofwoning is van lood. Ander wonings is bedek met geel pottebakkersteëls. Uitgekerfde of geskilderde Boeddhas versier al die enorme pilare en lateie. Die dakke is ook indrukwekkend. Oop gange en lang kolonnades, wat in harmonieuse patrone gerangskik is, strek in alle rigtings.

Talle tempels en majestueuse monumente is in die Khmer-ryk gebou om die goddelike gesag van die konings te vier. Khmer-argitektuur weerspieël die Hindoegeloof dat ’n tempel gebou word as ’n herskepping van die blyplek van die gode, Berg Meru, met sy vyf pieke en omring deur seë wat deur damme en gragte verteenwoordig word. Met die vroeë Khmer-tempels wat in die Angkor-streek gebou is, is gebruik gemaak van trappiramide-strukture om die heilige tempelberg te verteenwoordig.

Khmer-kuns en argitektuur het hul estetiese en tegniese hoogtepunt bereik met die bou van die indrukwekkende tempel Angkor Wat. Ander tempels is ook in die streek gebou, soos Ta Prohm en Bayon. Die bou van die tempel demonstreer die artistieke en tegniese prestasies van die Khmer-ryk deur die argitektoniese bemeestering van klipmesselwerk.

Argitektoniese style in die Angkor-tydperk:[35]

Styl Datum Heersers Tempels Hoofeienskappe
Kulen 825–875 Jayavarman II Damrei Krap ’n Voortsetting van die tyd voor Angkor, maar ’n tydperk van innovasie en geleende idees van bv. Champa-tempels. Toring hoofsaaklik vierkantig en relatief hoog. Hoofsaaklik stene met laterietmure en klipdeuropeninge. Vierkantige en agthoekige pilare begin verskyn.
Preah Ko 877–886 Indravarman I
Jayavarman III
Preah Ko, Bakong, Lolei Eenvoudige plan: een of meer vierkantige steentorings op ’n enkele fondament. Eerste verskyning van konsentriese insluitings en van ingangstorings en biblioteke. Die eerste groot tempelberg by Bakong.
Bakheng 889–923 Yasovarman I
Harshavarman I
Phnom Bakheng, Phnom Krom, Phnom Bok, Baksei Chamkrong Ontwikkeling van die tempelberg. Groter gebruik van stene, veral vir groot tempels, en meer dekoratiewe sneewerk.
Koh Ker 921–944 Jayavarman IV Groep Koh Ker-tempels Skaal van geboue neem af na die middel. Stene steeds gewildste materiaal, maar sandsteen ook gebruik.
Pre Rup 944–968 Rajendravarman Pre Rup, Oos-Mebon, Bat Chum, Kutisvara Oorgang tussen Koh Ker en Banteay Srei. Lang sale wat heiligdom gedeeltelik omring. Toenemende gebruik van sandsteen.
Banteay Srei 967–1000 Jayavarman V Banteay Srei Ryklik versierde, supergeponeerde kroonlyste, swierige gewels, diep sneewerk. Gepleisterde stene vervang deur klip en lateriet. Verskyning van tonele op kroonlyste. Sensuele gode met sagte gesigsuitdrukkings.
Khleang 968–1010 Jayavarman V Ta Keo, Die Khleangs, Phimeanakas, Koninklike Paleis Eerste gebruik van galerye. Kruisvormige ingangstorings. Agthoekige pilare. Beheersde dekoratiewe sneewerk.
Baphuon 1050–1080 Udayadityavarman II Baphuon, Wes-Mebon ’n Terugkeer na versierde sneewerk: blommotiewe, maar ook lateie met tonele. Basreliëfs by Baphuon, sneewerk met lewendige tonele op klein panele, dikwels in ’n verhalende volgorde.
Angkor Wat 1080–1175 Jayavarman VI
Suryavarman II
Yasovarman II
Angkor Wat, Banteay Samré, Thommanon, Chau Say Tevoda, Beng Mealea, dele van Preah Pithu, Phimai en Phnom Rung Die uiters klassieke styl van Khmer-argitektuur. Ten volle ontwikkelde keëlvormige torings. Galerye breër en met halfgalerye aan een kant. Konsentriese insluitings deur galerye verbind. Kruisvormige terrasse. Ryklik versierde sneewerk aan lateie en ander versierings. Basreliëfs, beelde van vroulike geeste.
Bayon 1181–1243 Jayavarman VII
Indravarman II
Ta Prohm, Preah Khan, Neak Pean, Ta Som, Ta Nei, Angkor Thom, Prasat Chrung, Bayon, Olifantterras, Ta Prohm Kel, Krol Ko, Prasat Suor Prat, Banteay Chhmar, Hospitaalkapelle, Jayatataka-baray Die laaste groot styl. Vinnige bouwerk, dikwels met lateriet en nie klip nie, sneewerk minder elegant. Ingewikkelde planne, groot tempels. Drie periodes: 1. Groot, ingewikkelde tempels op een vlak; 2. Torings met gesigte en rye reuse; 3. Afname in boustandaard.
Post-Bayon 1243–15de eeu Jayavarman VIII en ander Terras van die Melaatse Koning, Preah Pithu, Preah Palilay (aanpassings aan tempels) Omkering van kruisvormige terrasse, paaie op pilare, hoog of laag.

Kultuur en lewenswyse

[wysig | wysig bron]
Haangevegte uitgebeeld op die mure van Bayon.

Zhou Daguan het Khmer-huise so beskryf:[29]

Die blyplekke van die prinse en hoofamptenare het ’n heel ander uitleg en dimensies as dié van die gewone mense. Al die buitegeboue het grasdakke; net die familietempel en die hoofwoning mag ’n teëldak hê. Die amptelike rang van elke mens bepaal die grootte van sy huis.

Die boere se huise was naby die rysvelde aan die rand van die stede. Die mure was van geweefde bamboes, die dakke van gras en die huise het op stelte gestaan. Die huise is deur geweefde bamboesmure in drie verdeel. Een was die ouers se slaapkamer, die tweede die dogters se slaapkamer en die derde deel was die woonkamer. Seuns het geslaap waar hulle ook al plek gekry het. Die kombuis was agter of in ’n aparte kamer. Adellikes en konings het in die paleis en veel groter huise in die stad gewoon. Hulle was van dieselfde materiaal as die boere se huise, maar die dakke was houtspane en daar was meer kamers.

Die gewone mense het ’n sampot gedra waarvan die voorste deel tussen die bene deur geloop en agter met ’n gordel vasgemaak is. Adellikes en konings het fyner materiale gedra. Vroue het ’n strook gedra wat die bors bedek het, terwyl adellike vroue ’n langer een gedra het wat oor die skouers geloop het. Mans en vroue het ’n krama (soort serp of bandana) gedra.

Saam met beelde van gevegte en militêre oorwinnings van die konings, beeld die basreliëfs van Bayon ook die alledaagse lewe uit, insluitende marktonele, vissermanne, slagters, mense wat ’n soort skaakspel speel en weddenskappe tydens haangevegte.

Betrekkinge met streekmagte

[wysig | wysig bron]
Phimai, die terrein van die antieke stad Vimayapura.
’n Beeld van Siamese handelaars in Angkor Wat.

Tydens die stigting van die ryk het die Khmer noue kulturele, politieke en handelsbande met Java gehad,[36] asook met die Srivijaya-ryk aan Khmer se suidelike seë. In 851 het ’n Arabiese handelaar met die naam Sulaimaan vertel hoe ’n Khmer-koning die mag van die Maharaja (heerser) van Zabaj ondermyn het en hoe hy later deur die Maharaja gestraf is. Zabaj is die Arabiese vorm van "Javaka" en kan na Java of Srivijaya verwys. Die legende beskryf waarskynlik die voorgangerstaat of beginstadium van die Khmer-ryk onder Javaanse oorheersing.[37] Die legende van die Maharaja van Zabaj is later deur die historikus Al-Masudi in sy boek van 947, Meadows of Gold and Mines of Gems, gepubliseer.

Die Kaladi-inskripsie van Java (omstreeks 909) maak melding van "Kmir" (Khmer of Kambodjane), "Campa" (Champa) en "Rman" (Mon) as buitelanders van die Suidoos-Asiatiese vasteland wat dikwels na Java gekom het om handel te dryf. Daar word gesinspeel op ’n maritieme handelsnetwerk tussen Kambuja en Java (die Mdang-koninkryk).[38]

Deur sy geskiedenis heen was die Khmer-ryk ook betrokke by ’n reeks oorloë met die naburige koninkryke Champa, Tambralinga en Dai Viet – en later in sy geskiedenis ook met die Siamese Sukhothai- en Ayutthaya-koninkryk. Die ryk se betrekkinge met sy buurman in die ooste, Champa, was besonder intens omdat albei ryke meegeding het om oorheersing van die streek. Die Champa-vloot het Angkor in 1177 geplunder, en in 1203 het die Khmer Champa-soldate teruggedryf en verslaan.

Arabiese skrywers van die 9de en 10de eeu maak skaars melding van die streek behalwe vir sy agterlikheid, maar hulle beskou die koning van Al-Hind (Indië en Suidoos-Asië) as een van die vier groot konings van die wêreld.[39] Die heerser van die Rashtrakuta-dinastie word beskryf as die grootste koning van Al-Hind, maar tog word selfs die minder belangrike konings, insluitende dié van Java, Birma en Khmer, uitgebeeld as uiters magtig met groot leërs soldate, perde en dikwels tienduisende olifante. Hulle het glo ook groot goud- en silwerskatte gehad.[40]

Dit lyk of die Khmer-ryk kontak met die Chinese dinastieë gehad het, van die laat Tang- tot die Yuan-tydperk. Die betrekkinge met die Yuan-dinastie was van groot historiese belang, want dit het gelei tot Die Gebruike van Kambodja (Chinees: 真臘風土記), wat ’n belangrike insig gee in die Khmer-ryk se daaglikse lewe, kultuur en gemeenskap. Die verslag is tussen 1296 en 1297 deur die Yuan-Chinese diplomaat Zhou Daguan geskryf – dié is deur Temür Khan van die Yuan-dinastie gestuur om in Angkor te gaan bly.[29]

Van die begin 13de eeu af was die betrekkinge met die Siamese moeilik en bitter, en dit het gelei tot eeue van mededinging en vyandelikheid. Die Siamese Sukhothai het in 1238 in opstand gekom teen die ryk se opperheerskappy. In Augustus 1296 het Zhou Daguan aangeteken die land is in ’n groot mate verwoes in die oorlog kort tevore met die Siamese. Dié verslag bevestig dat die Siamese strydhere teen die laat 13de eeu in opstand gekom het en die Khmer-ryk se heerskappy ontwrig het. Dit was die begin van Siam se opkoms. Teen die 14de eeu het die Siamese Ayutthaya-koninkryk die Khmer-ryk se groot teenstander geword – Angkor is twee keer, in 1353 en 1394, deur Ayutthaya-Siamese invallers verower.

’n Javaanse bron wat in 1365 geskryf is, beweer Java het diplomatieke betrekkinge met verskeie lande, onder meer Kambuja, Ayutthaya en Champa, aangeknoop. Die verslag beskryf die politieke situasie op die Suidoos-Asiatiese vasteland in die middel 14de eeu; hoewel die Kambodjaanse koninkryk steeds bestaan het, het die opkoms van die Siamese Ayutthaya sy tol geëis. Eindelik het die ryk geval, en dit het gebeur met die trek uit Angkor na Phnom Penh in 1431 weens Siamese druk.

Lys van heersers

[wysig | wysig bron]
Bewind Koning Hoofstad Inligting en gebeure
802–835 Jayavarman II Mahendraparvata, Hariharalaya Verklaar Kambuja onafhanklik van Java. Word gekroon as chakravartin op ’n heilige Hindoeritueel op Phnom Kulen en begin die Devaraja-kultus in Kambodja.
835–877 Jayavarman III Hariharalaya Seun van Jayavarman II.
877–889 Indravarman I Hariharalaya Broerskind van Jayavarman II. Bou Preah Ko, opgedra aan Jayavarman II, sy pa en oupa. Bou tempelberg Bakong.
889–910 Yasovarman I Hariharalaya, Yaśodharapura Seun van Indravarman I. Bou Indratataka-baray en Lolei. Skuif die hoofstad na Yaśodharapura, gesentreer om Phnom Bakheng, en bou Yashodharatataka.
910–923 Harshavarman I Yaśodharapura Seun van Yasovarman I. Betrokke in ’n magstryd met sy ma se broer Jayavarman IV. Bou Baksei Chamkrong.
923–928 Ishanavarman II Yaśodharapura Seun van Yasovarman I, broer van Harshavarman I. Bterokke in ’n magstryd met sy ma se broer Jayavarman IV. Bou Prasat Kravan.
928–941 Jayavarman IV Koh Ker Seun van Indravarman I se dogter Mahendradevi, getroud met Yasovarman I se suster. Maak deur sy ma se lyn aanspraak op die troon. Regeer vanaf Koh Ker.
941–944 Harshavarman II Koh Ker Seun van Jayavarman IV.
944–968 Rajendravarman II Angkor (Yaśodharapura) Oom en neef van Harshavarman II, en neem sy mag oor. Skuif die hoofstad terug na Angkor. Bou Pre Rup en die Oos-Mebon. Oorlogspoging teen Champa in 946.
968–1001 Jayavarman V Jayendranagari in Angkor Seun van Rajendravarman II. Bou ’n nuwe hoofstad, Jayendranagari, en Ta Keo in sy middel.
1001–1006 Udayadityavarman I
Jayaviravarman
Suryavarman I
Angkor Tydperk van chaos, 3 konings regeer tegelyk as antagoniste.
1006–1050 Suryavarman I Angkor Neem die troon oor. Bondgenootskap met Chola-dinastie en konflik met Tambralinga-koninkryk. Bou Preah Khan Kompong Svay. Bekeer hom tot Mahayana-Boeddhisme.
1050–1066 Udayadityavarman II Yaśodharapura II (Angkor) Afstammeling van Yasovarman I se vrou. Neem die troon oor. Bou Baphuon, Wes-Baray en Wes-Mebon, asook Sdok Kok Thom.
1066–1080 Harshavarman III Yaśodharapura II (Angkor) Volg sy ouer broer Udayadityavarman II op. Hoofstad by Baphuon. Champa-inval in 1074 en 1080.
1090–1107 Jayavarman VI Angkor Troonrower van Vimayapura. Bou Phimai.
1107–1113 Dharanindravarman I Angkor Volg sy joner broer Jayavarman VI op.
1113–1145 Suryavarman II Angkor Roof troon en vermoor sy grootoom. Bou Angkor Wat, Banteay Samre, Thommanon, Chau Say Tevoda en Beng Mealea. Val Dai Viet en Champa in.
1150–1160 Dharanindravarman II Angkor Volg sy neef Suryavarman II op.
1160–1167 Yasovarman II Angkor Bewind omvergewerp deur sy minister Tribhuvanadityavarman.
1167–1177 Tribhuvanadityavarman Angkor Champa-inval in 1177 en 1178 onder Jaya Indravarman IV. Plunder die Khmer-hoofstad.
1178–1181 Champa-besetting, onder die Champa-koning Jaya Indravarman IV
1181–1218 Jayavarman VII Yaśodharapura (Angkor) Voer ’n Khmer-leër aan teen die Champa-invallers en bevry Kambodja. Voer die oorwinning teen Champa (1190–1191) aan. Groot infrastrukturele bouwerk; bou hospitale, herberge, reservoirs en tempels, onder meer Ta Prohm, Preah Khan, Bayon in Angkor Thom en Neak Pean.
1219–1243 Indravarman II Angkor Seun van Jayavarman VII. Verloor beheer oor Champa en staan westelike gebiede af aan die Siamese Sukhothai-koninkryk.
1243–1295 Jayavarman VIII Angkor Mongoolse inval onder Koeblai Khan in 1283 en oorlog met Sukhothai. Bou Mangalartha. As vurige Shaivis wis hy Boeddhistiese invloede uit.
1295–1308 Indravarman III Angkor Gooi bewind van sy skoonpa, Jayavarman VIII, omver. Maak Theravada-Boeddhisme die staatsgodsdiens. Ontvang die Chinese diplomaat Zhou Daguan (1296–1297).
1308–1327 Indrajayavarman Angkor
1327–1336 Jayavarmadiparamesvara (Jayavarman IX) Angkor Laaste Sanskrit-inskripsie (1327).
1336–1340 Trosok Peam Angkor
1340–1346 Nippean Bat Angkor
1346–1351 Lompong Racha Angkor
1352–1357 Inval deur Siamese Ayutthaya-koninkryk onder Uthong
1357–1363 Soryavong Angkor
1363–1373 Borom Reachea I Angkor
1373–1393 Thomma Saok Angkor
1393 Inval deur Siamese Ayutthaya-koninkryk onder Ramesuan
1394–c.1421 In Reachea Angkor
1405–1431 Barom Reachea II Chaktomuk Verlaat Angkor (1431).

Galery

[wysig | wysig bron]
Tempels van Angkor
In Kambodja: Banteay Srei
In Kambodja: Banteay Srei
In Kambodja: Banteay Srei
 
Preah Khan
Preah Khan
Ta Keo
Ta Keo
Ta Keo
 
Phimeanakas
Phimeanakas
Phimeanakas
 
Chau Say Tevoda
Chau Say Tevoda
Chau Say Tevoda
 
Banteay Samré
Banteay Samré
Banteay Samré
 
Terras van die Olifante
Terras van die Olifante
Terras van die Olifante
 
In Thailand: Phanom Rung
In Thailand: Phanom Rung
In Thailand: Phanom Rung
 
Prasat Phimai
Prasat Phimai
Prasat Phimai
 
Prang Sam Yot
Prang Sam Yot
Prang Sam Yot
 
Prasat Sikhoraphum
Prasat Sikhoraphum
Prasat Sikhoraphum
 
Prasat Muang Tam
Prasat Muang Tam
Prasat Muang Tam
 
Prasat Muang Singh
Prasat Muang Singh
Prasat Muang Singh
 
Sdok Kok Thom
Sdok Kok Thom
Sdok Kok Thom
 
In Laos: Vat Phou
In Laos: Vat Phou
In Laos: Vat Phou
 

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Khmer-ryk by infopleace
  2. Damian Evans; et al. (9 April 2009). "A comprehensive archaeological map of the world's largest preindustrial settlement complex at Angkor, Cambodia". PNAS. 104 (36): 14277–82. doi:10.1073/pnas.0702525104. PMC 1964867. PMID 17717084. Besoek op 22 November 2009. {{cite journal}}: Ongeldige |ref=harv (hulp)
  3. 3,00 3,01 3,02 3,03 3,04 3,05 3,06 3,07 3,08 3,09 3,10 3,11 3,12 3,13 3,14 3,15 3,16 3,17 3,18 3,19 3,20 3,21 3,22 Coedès, George (1968). Walter F. Vella (red.). The Indianized States of Southeast Asia. trans.Susan Brown Cowing. University of Hawaii Press. ISBN 978-0-8248-0368-1.
  4. 4,0 4,1 4,2 4,3 4,4 4,5 4,6 4,7 Higham, C. (2014). Early Mainland Southeast Asia. Bangkok: River Books Co., Ltd., ISBN 9786167339443.
  5. Higham 1989, bl. 324ff.
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 6,4 Higham, C. (2001). The Civilization of Angkor. Londen: Weidenfeld & Nicolson, ISBN 9781842125847
  7. Albanese, Marilia (2006). The Treasures of Angkor. Italië: White Star. p. 24. ISBN 88-544-0117-X.
  8. David Chandler, A History of Cambodia (Westview Press: Boulder, Colorado, 2008) bl. 39.
  9. David Chandler, A History of Cambodia, bl. 42.
  10. David G. Marr; Anthony Crothers Milner (1986). Southeast Asia in the 9th to 14th Centuries. Institute of Southeast Asian Studies, Singapore. p. 244. ISBN 9971-988-39-9. Besoek op 5 Junie 2014.
  11. A History of Early Southeast Asia: Maritime Trade and Societal Development by Kenneth R. Hall bl. 182
  12. Indian History by Reddy: bl. 64
  13. 13,0 13,1 13,2 13,3 13,4 Kenneth R. Hall (Oktober 1975). Khmer Commercial Development and Foreign Contacts under Sūryavarman I. Journal of the Economic and Social History of the Orient 18(3):318–336.
  14. 14,0 14,1 14,2 R.C. Majumdar (1961), "The Overseas Expeditions of King Rājendra Cola", Artibus Asiae 24 (3/4), bl. 338–342, Artibus Asiae Publishers
  15. Early kingdoms of the Indonesian archipelago and the Malay Peninsula deur Paul Michel Munoz bl. 158
  16. Society and culture: the Asian heritage, deur Juan R. Francisco, Ph.D. University of the Philippines Asian Center bl. 106
  17. 17,0 17,1 17,2 17,3 Maspero, G., 2002, The Champa Kingdom, Bangkok: White Lotus Co., Ltd., ISBN 9747534991
  18. A History of India, Hermann Kulke, Dietmar Rothermund: bl. 125.
  19. Commerce and Culture in the Bay of Bengal, 1500–1800 by Om Prakash, Denys Lombard bl. 29–30
  20. 20,0 20,1 Cœdès 1966, p. 127
  21. Stark, M.T. (2006). From Funan to Angkor: Collapse and regeneration in ancient Cambodia. After collapse: The regeneration of complex societies. bl. 144–167.
  22. Welch, David (1998). "Archaeology of Northeast Thailand in Relation to the Pre-Khmer and Khmer Historical Records". International Journal of Historical Archaeology. 2: 205–233.
  23. 23,0 23,1 Buckley, B. M., Anchukaitis, K. J., Penny, D., Fletcher, R., Cook, E. R., et al. (2010). Climate as a contributing factor in the demise of Angkor, Cambodia.[1] Proceedings of the National Academy of Sciences 107(15):6748–6752.
  24. Miranda Leitsinger (13 Junie 2004). "Scientists dig and fly over Angkor in search of answers to golden city's fall". Associated Press. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Desember 2008. Besoek op 21 Augustus 2013.
  25. LG Gundersen. "A Reassessment of the Decline of the Khmer Empire" (PDF). {{cite journal}}: Cite journal requires |journal= (hulp)
  26. 26,0 26,1 Masako Fukawa; Stan Fukawa (6 November 2014). "Japanese Diaspora – Cambodia". Discover Nikkei (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Mei 2020. Besoek op 18 Oktober 2015.
  27. "History of Cambodia, Post-Angkor Era (1431 – present day)". Cambodia Travel (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 September 2019. Besoek op 18 Oktober 2015.
  28. Zhou Daguan (2007). A Record of Cambodia. vertaal deur Peter Harris. University of Washington Press. p. 70. ISBN 978-9749511244.
  29. 29,0 29,1 29,2 29,3 Cardiff de Alejo Garcia – Passing Notes – Smithsonian Magazine "History & Archaeology"
  30. Welch, D.J. (1998). Archaeology of northeast Thailand in relation to the pre-Khmer and Khmer historical records. International Journal of Historical Archaeology 2(3):205–233.
  31. Sengupta, Arputha Rani (red.) (2005). "God and King : The Devaraja Cult in South Asian Art & Architecture" (in Engels). ISBN 8189233262. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Februarie 2020. Besoek op 14 September 2012.
  32. Andrew Forbes, David Henley, Colin Hinshelwood (2012). Angkor: Eighth Wonder of the World. Cognoscenti Books. p. 108. ASIN B0085RYW0O.{{cite book}}: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)
  33. Keyes, 1995, bl. 78–82
  34. Tabish Khair, red. (2006). Other Routes: 1500 Years of African and Asian Travel Writing. Indiana University Press. p. 115. ISBN 978-0-253-21821-6.
  35. "Ancient Angkor guide book", deur Michael Freeman en Claude Jacques, bl. 30–31, 2003.
  36. Widyono, Benny (2008). Dancing in shadows: Sihanouk, the Khmer Rouge, and the United Nations in Cambodia. Rowman & Littlefield Publisher. Besoek op 25 Februarie 2013.
  37. St Julian, James (Maart 2014). The tale of the Khmer king and the Maharaja of Zabag. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)
  38. Fujita Kayoko; Shiro Momoki; Anthony Reid, reds. (2013). Offshore Asia: Maritime Interactions in Eastern Asia Before Steamships, volume 18 from Nalanda-Sriwijaya series. Institute of Southeast Asian Studies. p. 97. ISBN 9814311774.
  39. India and Indonesia During the Ancien Regime: Essays by P. J. Marshall, Robert Van Niel
  40. India and Indonesia During the Ancien Regime: Essays by P. J. Marshall, Robert Van Niel: bl. 41

Bibliografie

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

13°26′N 103°50′O / 13.433°N 103.833°O / 13.433; 103.833