Gaan na inhoud

Harald Bloutand

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Harald I van Denemarke)
Vir 'n artikel oor die protokol vir koordlose kommunikasie, wat na Harald Bloutand genoem is, sien Bluetooth.
Harald Bloutand
Koning van Denemarke en Noorweë
Harald word gedoop, omstreeks 960.
Harald word gedoop, omstreeks 960.
Huis Jelling
Titel Koning van Denemarke
Regeer 958-'85/'86
Voorganger Gorm die Oue
Opvolger Sven Vurkbaard
Titel Koning van Noorweë
Regeer 970-'85/'86
Voorganger Harald II
Opvolger Sven Vurkbaard
Oorlede 985/'86
Eggenote Gyrid Olafsdottir
Thora
Kinders Thyra Haraldsdatter
Sven Vurkbaard
Haakon
Gunhilde

Harald "Bloutand" Gormsson (Oud-Noors: Haraldr Blátǫnn Gormsson;[1] Deens: Harald Blåtand Gormsen; sterfdatum omstreeks 985/'86) was 'n koning van Denemarke en Noorweë.

Hy was die seun van koning Gorm die Oue en Thyra Dannebod. Harald het van omstreeks 958 tot omstreeks 986 as koning van Denemarke regeer. Hy het Denemarke gekersten en sy heerskappy oor die grootste deel van Jutland en Seeland gekonsolideer. Harald se bewind as koning van Noorweë ná die moord op koning Harald II (Harald Grysjas) van Noorweë was onsekerder en het waarskynlik net ’n paar jaar in die 970's geduur. Sommige bronne sê sy seun, Sven Vurkbaard, het hom voor sy dood met geweld van die Deense troon verwyder.

Die Curmsunskyf met die inskripsie "Arald Curmsun" daarop (in die boonste reëls).

Harald se naam is in die Jellingsteen-inskrywing in runeskrif geskryf as haraltr : kunukʀ (ᚼᛅᚱᛅᛚᛏᚱ ᛬ ᚴᚢᚾᚢᚴᛦ). In genormaliseerde Oud-Noors sou dit ooreenstem met Haraldr konungr, dit wil sê "Harald koning". Die gelatiniseerde naam soos gegee in die Middeleeuse Deense Kroniek is Haraldus Gormonis filius (Harald, Gorm se seun). Die gegewe naam Haraldr (ook Haralldr) is die ekwivalent van die Oudengelse Hereweald en Oudhoogduitse Heriwald, vanaf hari, "leër", en wald-, "heers".[2]

Harald se naam is ook gegraveer op die sogenaamde Curmsunskyf, wat in 2014 herontdek is nadat dit in 1841 oorspronklik as deel van 'n Vikingskat ontdek is in Pommeren, naby 'n vestig uit die Wikingtydperk. Sy naam daarop is +ARALD CVRMSVN + REX AD TANER + SCON + JVMN + CIV ALDIN, dit wil sê "Harald Gormson, koning van Dene, Skone, Jumne, in Bistum Oldenburg".[3]

Die eerste aangetekende voorkoms van Harald se bynaam "Bloutand" (as blatan of *blátǫnn) is in die Chronicon Roskildense (geskryf omstreeks 1140), saam met die alternatiewe bynaam Clac Harald.[4]

Clac Harald blyk 'n samevoeging te wees van Harald Bloutand met die legendariese of semilegendariese Harald Klak, seun van Halfdan. Die bynaam word gegee as Blachtent en eksplisiet verklaar as "blouagtige of swart tand" (dens lividus vel niger) in 'n kroniek uit die laat 12de eeu.[5]

Bewind

[wysig | wysig bron]
Harald Bloutand se ryk in rooi, met sy vasalstate en bondgenote in geel.

Tydens sy bewind het Harald toesig gehou oor die heropbou van die Jellingrunestene en verskeie ander openbare werke. Die bekendste hiervan was die versterking van die vesting van Aros (die huidige Aarhus), wat in die jaar 979 in 'n sentrale posisie in sy koninkryk geleë was. Sommige glo dat dié projekte 'n manier was vir hom om ekonomiese en militêre beheer oor sy land en die hoofstad te konsolideer. Ringforte is op vyf strategiese liggings gebou, met Aarhus perfek in die middel. Al vyf forte het soortgelyke ontwerpe gehad: "perfek sirkelvormig met hekke wat oopmaak na die vier windrigtings, en 'n binneplein wat in vier gebiede verdeel is met groot huise in 'n vierkantige patroon."[6] ’n Sesde stad met ’n soortgelyke ontwerp, geleë by Borgeby in Skone, dateer van omstreeks 1000 n.C. en kon deur koning Harald gebou gewees het.

Hy het die oudste bekende brug in Suid-Skandinawië gebou: die Ravningbrug by die Ravningweivelde, wat 5 m breed en 760 m lank was.

Terwyl stilte in die binneland geheers het, het hy sy energie op buitelandse ondernemings gefokus. Hy het in 945 en 963 vir Richard die Onverskrokkene van Normandië te hulp gesnel. Ná die moord op koning Harald II van Noorweë het hy die mense van dié land tydelik onder sy beheer gedwing.

Die Noorse sagas skets Harald in 'n negatiewer lig. Hy is twee keer gedwing om hom aan die afvallige Sweedse prins Styrbjörn die Sterke van die Joms-Wikinge te onderwerp – eers deur vir Styrbjörn 'n vloot en sy dogter Thyra te gee, en daarna deur homself as gyselaar te gee saam met nóg 'n vloot. Toe Styrbjörn dié vloot na Uppsala bring om die Sweedse troon op te eis, het Harald sy eed verbreek en met sy Dene gevlug om te verhoed dat hy teen die Sweedse leër moes veg in die Slag van Fýrisvellir.[7]

Harald se Opstand

[wysig | wysig bron]

Ná die dood van Otto I van Sakse het Harald Sakse in 973 aangeval. Otto II het in 974 teen Harald teruggeveg en dele van sy ryk verower.[8] Harald het in 983 van die verowerde gebiede teruggewen toe Otto II deur die Sarasene verslaan is.[8]

As gevolg van Harald se nederlaag teen die Duitsers in 974 by Danevirke, het hy nie meer beheer oor Noorweë gehad nie, en die Duitsers het hulle in die grensgebied tussen Skandinawië en Duitsland gevestig. Hulle is in 983 uit Denemarke verdryf deur 'n alliansie van Wes-Slawiese soldate en troepe lojaal aan Harald, maar kort daarna is Harald vermoor in 'n opstand wat deur sy seun, Sven, gelei is. Hy is vermoedelik in 986 oorlede, hoewel sommige bronne 985 as sy sterfjaar aandui. Volgens Adam van Bremen het hy in die Wikingvesting Jomsborg aan sy wonde beswyk.[9]

Harald het die eerste nasionale muntstelsel in Denemarke ingevoer.[10] Die Hiddenseeskat, 'n groot versameling goue voorwerpe, is in 1873 op die Duitse eiland Hiddensee in die Oossee ontdek. Daar word geglo dié items het aan Harald se familie behoort.[11]

Bekering tot die Christendom

[wysig | wysig bron]

Koning Harald Bluetooth se bekering tot die Christendom is ’n betwiste stuk geskiedenis, veral omdat Middeleeuse skrywers soos Widukind van Corvey en Adam van Bremen teenstrydige weergawes gee van hoe dit gebeur het.

Widukind van Corvey, wat tydens die lewe van koning Harald en Otto I, Heilige Romeinse Keiser (regeer 962-'73), geskryf het, beweer Harald is deur ’n "kerklike met die naam Poppa" bekeer. Toe Harald vir Poppa vra om sy geloof in Christus te bewys, het Poppa ’n "groot stuk" yster wat deur vuur verhit is, gedra sonder om hpm te brand.[12] Volgens die 12de-eeuse Deense geskiedskrywer Saxo Grammaticus in sy werk Gesta Danorum het Poppa (of Poppo) sy wonderwerk vir Harald se seun, Sven Vurkbaard, uitgevoer nadat Sven twyfel oor sy eie doop begin kry het.[13] Harald self het hom tot die Katolisisme bekeer ná ’n vredesooreenkoms met die Heilige Romeinse Keiser (óf Otto I óf Otto II).[14]

Adam van Bremen, wat 100 jaar ná koning Harald se dood geskryf het in "Geskiedenis van die Aartsbiskoppe van Hamburg-Bremen" (in 1076 voltooi), skryf die Heilige Romeinse Keiser het Harald gedwing om hom te bekeer ná ’n nederlaag in 'n geveg.[15] Widukind noem egter nie so ’n gebeurtenis in sy kontemporêre werk Res gestae saxonicae sive annalium libri tres, of Die dade van die Saksers, nie.

’n Kerklike met die naam Poppa, moontlik dieselfde een, verskyn ook in Adam van Bremen se geskiedenis, maar in verband met Erik die Oorwinnaar van Swede, wat na bewering Denemarke verower het. (Die feit dat Eric Denemarke tydens die bewind van Sven Vurkbaard verower het, word deur Saxo as ’n straf vir Sven se afvalligheid verduidelik.)[16][17]

Die grootste Jellingsteen, met die inskripsie oor Harald.

Soos reeds genoem, is Harald se vader, Gorm die Oue, in 958 oorlede en in ’n grafheuwel begrawe. Die heuwel self dateer van omstreeks 500 v.C., maar Harald het dit hoër laat bou oor sy vader se graf en ’n tweede heuwel suid daarvan opgerig. Grafheuwelbou was in die 10de eeu ’n hernude gebruik, waarskynlik as ’n "teruggryp na ou tradisies in die aangesig van Christelike gebruike wat van Denemarke se suidelike bure, die Duitsers, versprei het".[18]

Ná sy bekering, omstreeks die 960's, het Harald sy vader se liggaam laat herbegrawe in die kerk langs die nou leë heuwel.[19] Hy het die Jellingstene laat oprig ter ere van sy ouers.[20] Die biografie van Harald Bloutand word saamgevat in dié inskripsie in runes op die Jellingstene:

Koning Harald het dié gedenktekens laat maak ter ere van Gorm, sy vader, en Thyra, sy moeder. Die Harald wat die hele Denemarke en Noorweë veslaan en van die Dene Christene gemaak het.

Harald het ongetwyfeld die Christelike geloof bely en tot die verspreiding daarvan bygedra, maar met beperkte sukses in Denemarke en Noorweë.[21]

Die Bluetooth-logo.

Bluetooth-tegnologie

[wysig | wysig bron]

Die Bluetooth-protokol vir koordlose kommunikasie is in 1997 na Harald Bloutand genoem,[22] gebaseer op 'n analogie dat die tegnologie toestelle sou verenig op dieselfde manier as wat koning Harald die stamme van Denemarke in een koninkryk verenig het.[23][24]

Die Bluetooth-logo bestaan uit 'n saamgesmelte rune van sy voorletters, H (ᚼ) en B (ᛒ).[25]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Fagrskinna hoofstuk 7 (red. Finnur Jónsson 1902–8, p. 31) af Harallde Gormssyne (dative), hoofstuk 14 (p. 58) við Haralld konong Gorms sun (accusative).
  2. A. Förstemann, Altdeutsches Namenbuch (1856), 631f.
  3. Sven Rosborn. "A unique object from Harald Bluetooth´s time. (2015)". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Februarie 2017. Besoek op 12 Oktober 2015.
  4. Mortuo patre, [Haraldus] quinquaginta annos regnavit. Hic Christianus extitit cognomine Blatan sive Clac Harald. red. Langebek (1772) p. 375 Geargiveer 14 April 2023 op Wayback Machine.
  5. ed. Ludewig, Reliquiæ Manuscriptorum, vol. IX, 591–650: Haraldus, hinc cognomento Blachtent, id est, dens lividus, vel niger
  6. Fortehad, Oram en Pedersen, Viking Empires Geargiveer 5 April 2023 op Wayback Machine, Cambridge University Press (2005) p. 180. ISBN 0-521-82992-5
  7. Williamson, Jonathan (15 Augustus 2023). "Harald Bluetooth Gormsson: The Viking king who connected kingdoms". The Viking Herald (in Engels). Besoek op 28 Februarie 2024.
  8. 8,0 8,1 Bagge, Sverre (2009). Early state formation in Scandinavia. Vol. 16. Austrian Academy of Sciences Press. p. 148. ISBN 978-3-7001-6604-7. JSTOR j.ctt3fgk28. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Junie 2021. Besoek op 22 Junie 2021.
  9. Rosborn, Sven (2015) A unique object from Harald Bluetooth´s time? Malmö: Pilemedia, pp. 4–5 Geargiveer 1 Februarie 2017 op Wayback Machine www.academia.edu
  10. Moesgaard, Jens Christian (2015). King Harold's Cross Coinage: Christian Coins for the Merchants of Haithabu and the King's Soldiers (in Engels). University Press of Southern Denmark. ISBN 978-87-7602-323-2. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 April 2023. Besoek op 26 November 2021.
  11. Pontus Weman Tell (2016), The Curmsun Disc – Harald Bluetooth´s Golden Seal? Geargiveer 20 November 2018 op Wayback Machine www.academia.edu
  12. Widukind, Res gestae Saxonicae 3.65, geredigeer deur Paul Hirsch en Hans-Eberhard Lohmann, MGH SS rer. Germ. in usum scholarum (Hanover, 1935), bl. 140–141. Vertaal uit Latyn deur Anders Winroth, 2006.
  13. Zeeberg, Peter (2000). Saxos Danmarkshistorie (e-book uitg.). Gads Forlag. pp. 924–925. ISBN 978-87-12-04745-2.
  14. Zeeberg, Peter (2000). Saxos Danmarkshistorie (e-book uitg.). Gads Forlag. p. 1069. ISBN 978-87-12-04745-2.
  15. Adam van Bremen, Geskiedenis van die Aartsbiskoppe van Hamburg-Bremen Geargiveer 14 April 2023 op Wayback Machine, vertaal deur Francis J. Tschan (New York, 2002), bl. 55–57.
  16. Adam van Bremen, Geskiedenis van die Aartsbiskoppe van Hamburg-Bremen Geargiveer 14 April 2023 op Wayback Machine, vertaal deur Francis J. Tschan (New York, 2002), bl. 77–78.
  17. Zeeberg, Peter (2000). Saxos Danmarkshistorie (e-book uitg.). Gads Forlag. p. 1100. ISBN 978-87-12-04745-2.
  18. Anders Winroth, Viking Sources in Translation, met teks gebaseer op ’n onderskrif deur Anders Winroth in Barbara Rosenwein, Reading the Middle Ages, (Peterborough, Ontario, 2006). bl. 266.
  19. Rose, Mark. "Gorm the Old Goes Home". Archaeology. Archaeological Institute of America. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 November 2022. Besoek op 9 November 2022.
  20. C. Michael Hogan, "Jelling Stones"
  21. Latourette, Kenneth Scott (1975). A History of Christianity. New York: HarperCollins. p. 87.
  22. Kardach, Jim (3 Mei 2008). "Tech History: How Bluetooth got its name". EE Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Oktober 2014. Besoek op 9 Junie 2014.
  23. "'So, that's why it's called Bluetooth!' and other surprising tech name origins". PCWorld (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Augustus 2017. Besoek op 16 Augustus 2017.
  24. Kardach, Jim (5 Maart 2008). "Tech History: How Bluetooth got its name". eetimes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Junie 2012. Besoek op 11 Junie 2013.
  25. The story behind how Bluetooth® technology got its name, [1] Geargiveer 28 Desember 2020 op Wayback Machine .

Skakels

[wysig | wysig bron]