Huis van Oldenburg
Huis van Oldenburg | |
---|---|
Lande | Denemarke, Ysland, Griekeland, Noorweë, Rusland, Swede, Sleeswyk, Holstein en Oldenburg |
Oorsprong | Noord-Duitsland |
Stigter | Christiaan I van Denemarke |
Gestig | 1448 |
Huidige hoof | Christian Herzog van Oldenburg |
Die Huis van Oldenburg is ’n Europese dinastie van Noord-Duitse oorsprong. Dit is een van Europa se invloedrykste koningshuise, met takke wat regeer of regeer het oor Denemarke, Ysland, Griekeland, Noorweë, Rusland, Swede, Sleeswyk, Holstein en Oldenburg. Die huidige koningin van Denemarke en koning van Noorweë, die voormalige koning van Griekeland, die gemale van Griekeland en Brittanje, sowel as die eerste 12 aanspraakmakers op die Britse troon is almal patrilineêre lede van die Glücksburg-tak van dié huis.
Die dinastie het beroemd geword toe graaf Christiaan I van Oldenburg in 1448 tot koning van Denemarke verkies is, in 1450 van Noorweë en in 1457 van Swede. Die huis regeer sedertdien oor Denemarke.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Die huwelike van Middeleeuse grawe van Oldenburg het die weg gebaan vir hul erfgename om konings van verskeie Skandinawiese lande te word. Deur ’n huwelik met ’n afstammeling van koning Waldemar I van Swede en van koning Erik IV van Denemarke, het hulle sedert 1350 ’n aanspraak op die Sweedse en Deense troon.
In dié tyd was hul mededingers die afstammelinge van Margrethe I van Denemarke. In die 15de eeu het die Oldenburg-erfgenaam met dié aanspraak getrou met Hedwig van Schauenburg, ’n afstammeling van Euphemia van Swede en Noorweë en ook ’n afstammeling van Erik V van Denemarke en Abel van Denemarke. Aangesien afstammelinge wat ’n groter aanspraak gehad het uitgesterf het, het hul seun, (die bogenoemde) Christiaan, koning van al drie koninkryke van die Kalmarunie geword. Verskillende Oldenburgse takke het in verskeie lande regeer. Die huis het kortliks ook op die Britse troon ’n aanspraak gehad, deur die huwelik van koningin Anna en prins George van Denemarke en Noorweë; weens die vroeë dood van al hul kinders het die troon egter na die Huis van Hannover gegaan.
Christian Herzog von Oldenburg is die huidige (2017) hoof van die Huis van Oldenburg.[1]
Hooflyn
[wysig | wysig bron]- Konings van Denemarke (1448–1863)
- Konings van Noorweë (1450–1814)
- Konings van Swede (1457–64, 1497–1501 en 1520–'21)
- Grawe van Oldenburg (1101–1773)
- Hertoë van Sleeswyk en grawe van Holstein (1460–1544)
- Hertoë van Sleeswyk en Holstein, geheers oor net ’n deel van die hertogdomme (1544–1721/1773)
- Hertoë van Sleeswyk (1721–1864, geheers oor die hele hertogdom)
- Hertoë van Holstein (1773–1864, geheers oor die hele hertogdom)
Takke
[wysig | wysig bron]- Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Augustenburg; manlike lyn het in 1931 uitgesterf
- Hertoë van Sleeswyk-Holstein (aanspraakmaker in 1863, daarna titulêre hertoë tot 1931)
- Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg
- Hertoë van Sleeswyk-Holstein (titulêre hertoë sedert 1931)
- Konings van Denemarke (sedert 1863)
- Koning van Ysland (1918–'44)
- Konings van Griekeland (1863–1924, 1935–'73)
- Mountbatten-Windsor-lyn: Hoewel prins Philip, Hertog van Edinburg, sy kinders en sy seuns se kinders patrilineêre afstammelinge van dié tak is, is die afstammelinge in die manlike lyn wat die titel "Koninklike Hoogheid" het, de jure lede van die Huis van Windsor, volgens deklarasie van die Britse monarg.[2]
- Konings van Noorweë (sedert 1905)
- Sleeswyk-Holstein-Gottorp
- Hertoë van Holstein-Gottorp (1544–1739)
- Holstein-Gottorp-Romanof (algemeen bekend as die Huis van Romanof)
- Holstein-Gottorp (Sweedse lyn), uitgesterf
- Konings van Swede (1751–1818)
- Koning van Noorweë (1814–'18)
- Holstein-Gottorp (groothertoglyn)
- Hertoë, later groothertoë, van Oldenburg (1773–1918)
Galery
[wysig | wysig bron]-
Die eerste Oldenburg-koning was Christiaan I van Denemarke, Noorweë en Swede (1426-1481).
-
Die voormalige koning Konstantyn II van Griekeland (1940-2023) en sy vrou, ’n prinses van Denemarke (*1946).
-
Frederick Augustus II, Groothertog van Oldenburg (1852–1931).
-
Swede se Gustav III (1746-1792).
-
Koning Harald V van Noorweë (*1937).
-
Koningin Margrethe II van Denemarke (*1940).
-
Tsaar Nikolaas II van Rusland (1868-1918) was die laaste Russiese keiser.
-
Prins Philip, Hertog van Edinburg, prins van Griekeland en Denemarke (1921-2021).
-
Koningin Sofía van Spanje, prinses van Griekeland en Denemarke (*1938).
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Genealogisches Handbuch des Adels, Fürstliche Häuser XVI. Haus Oldenburg. C.A. Starke Verlag, 2001, pp.44-50. (German). ISBN 3-7980-0824-8
- ↑ Royal Styles and Titles – 1960 Letters Patent
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Marek, Miroslav, The House of Oldenburg, Genealogy.EU, http://genealogy.euweb.cz/oldenburg/, besoek op 18 November 2017.
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Huis van Oldenburg.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia