Gaan na inhoud

Die Transvaler

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Voorblad van die eerste Die Transvaler, 1 Oktober 1937.
Genls. J.B.M. Hertzog en Jan Smuts omstreeks 1939 buite die parlement in Kaapstad. Hulle samewerking in die Verenigde Party het daartoe gelei dat Die Vaderland en Die Volkstem albei regeringsgesinde dagblaaie in Transvaal geword het, wat die ruimte geskep het vir Die Transvaler as die enigste Nasionaal gesinde dagblad noord van die Vaalrivier.

Die Transvaler was 'n Afrikaanse oggendkoerant in Johannesburg van 1 Oktober 1937[1] tot vroeg in Februarie 1983 toe dit ingevolge 'n skikking tussen Perskor en Naspers ná 'n bittere persstryd wat albei maatskappye dermiljoene rande gekos het, na Pretoria verskuif het, waar dit as 'n middagblad[2] met moeite voortbestaan het tot sy sluiting in April 1993.

Die koerant is van sy ontstaan af deur Voortrekkerpers Beperk uitgegee tot en met sy uitgewer se samesmelting met die Afrikaanse Pers (1962) Beperk in 1971 om Perskor te vorm. Die Transvaler was die eerste dagblad in die destydse Transvaal wat die Gesuiwerde Nasionale Party van dr. D.F. Malan ondersteun het nadat hy en sy volgelinge op 5 Desember 1934 geweier het om met die Suid-Afrikaanse Party saam te smelt as die Verenigde Party.

Die ander destydse Nasionaalgesinde Afrikaanse dagblad in Transvaal, Die Vaderland, wat in 1936 gestig is, het genl. J.B.M. Hertzog tot in die Verenigde Party gevolg, maar met Hertzog se bedanking uit die V.P. omdat hy nie Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog gesteun het nie, weer die Afrikanerparty en die (Herenigde) Nasionale Party gesteun. In Pretoria was die dagblad Die Volkstem tot en met sy verdwyning in 1951 'n stoere ondersteuner van die Verenigde Party.

Van 1951 tot met die koms 17 jaar later (in 1968) van Hoofstad, 'n gesamentlike poging deur die Afrikaanse Pers (1962) Beperk en Voortrekkerpers Beperk, was daar in die destydse Transvaal net twee Afrikaanse dagblaaie. Sedert 1993 is Beeld die enigste Afrikaanse dagblad vir Gauteng, Noordwes, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal.

Uit die Nasionale Party gebore

[wysig | wysig bron]

Met die oog op die naderende verkiesing van 1938 het Nasionaliste in sowel die suide as noorde van die destydse Unie van Suid-Afrika bekommerd geraak oor die gebrek aan 'n Nasionaalgesinde dagblad in Transvaal, waar twee Afrikaanse dagblaaie destyds die Verenigde Party ondersteun het. Die Transvaler het sy eintlike ontstaan in 1935 op 'n trein gehad toe vyf toegewyde manne ernstig gesprek gevoer het oor die noodsaaklikheid van 'n Nasionaalgesinde dagblad in Transvaal. Al wat die vyf kon belowe vir die oprigting van die blad, was altesaam £500.

Dr. D.F. Malan, leier van die Nasionale Party en die Amptelike Opposisie in die Volksraad, volksraadslede Bruckner de Villiers en F.C. Erasmus, senator W.A. Hofmeyr en P.J.H. Hofmeyr was almal op pad terug Kaapstad toe nadat hulle die Kaaplandse kongres van die Nasionale Party op 17 en 18 September op Middelburg in die Noordoos-Kaap bygewoon het.

Verskeie afgevaardigdes op die kongres het op die behoefte aan 'n dagblad gewys om die party se saak in Transvaal te bevorder. Geen praktiese stappe is gedoen nie omdat die party die meeste van sy steun in die verarmde platteland geniet het waar 'n ernstige droogte kort op die Groot Depressie gevolg het. 'n Mate van welvaart het na die stedelike gebiede teruggekeer nadat Suid-Afrika afstand gedoen het van die Goudstandaard, maar hier het die party min steun gehad. Afgevaardigdes het nie veel hoop gehad dat die toestand gou sou verander nie, want die meeste Afrikaanssprekendes het bankvas agter genls. J.B.M. Hertzog en Jan Smuts se Verenigde Party gestaan.

Dr. D.F. Malan, toe minister van binnelandse sake in die Hertzog-kabinet en N.P.-leier in Kaapland, het met die stigting van die V.P. oorgestap om leier van die opposisie te word. 'n Invloedryke deel van die Kaapse Nasionaliste het die party, wat sy naam behou het, gesteun, maar in die ander drie provinsies was die party se steun ylverspreid. In Transvaal het slegs een Volksraadslid, adv. J.G. Strijdom van Waterberg, vir Malan gevolg. Soos sy mede-Nasionaliste het hy, ondanks genl. Hertzog se belofte van die teendeel, gereken dat die samesmelting van die N.P. en Suid-Afrikaanse Party sou lei tot die prysgawe van die republikeinse ideaal, dat Afrikaans onderploeg sou word en Afrikaners hulle aanspraak op nasieskap sou moes laat vaar.

In Kaapstad kon die Nasionale Party reken op die steun van Die Burger en in Bloemfontein op Die Volksblad. In Transvaal was daar hoegenaamd geen perssteun vir die party nie. Dr. Malan en sy kollegas het middele bespreek om dié toestand die hoof te bied toe W.A. Hofmeyr, wat in 1915 baie gedoen het om Die Burger te help oprig, sê: "Maar ons begin sommer hier!" Die vyf manne het daar en dan £500 belowe om die koerant, wat toe nog 'n naam moes kry, in die lewe te roep. Hulle het ander afgevaardigdes op die trein genader en voordat hulle Kaapstad bereik het, was daar beloftes van altesaam meer as £1 000.

Geldinsameling

[wysig | wysig bron]
Bruckner de Villiers, L.V..
W.A. Hofmeyr.

Die bedrag was hopeloos te min om 'n maatskappy te stig met personeel en 'n rolpers om 'n dagblad uit te bring. Op 30 September 1935 kom 19 mense Kapenaars en Bolanders in die Uitspan-koffiehuis in Van Riebeeckstraat op Stellenbosch byeen om die Transvaalse koerant se stigting te bespreek. W.A. Hofmeyr was die voorsitter. Op die vergadering sê hy daar is "'n noodkreet uit die noorde wat ons toeroep: Kom oor en help ons in ons stryd . . . Die Nasionale Pers is meermale reeds versoek om 'n dagblad in Transvaal in die lewe te roep, maar hy besit nie die nodige middele daartoe nie. Die direksie sal egter alles in sy vermoë doen om die saak te help bevorder."

Die vergadering vaardig 'n komitee af om Pieter Neethling (een van die stigters van Naspers) nog dieselfde dag op die dorp te gaan spreek en sy geldelike bystand te verkry. Hy was 'n vermoënde man en lewenslange Nasionalis wat nooit geskroom het om tot die Afrikanersaak by te dra nie. Neethling neem £5 000 se aandele op en die Nasionale Pers later dieselfde bedrag, wat die begin was van 'n fonds waarmee die stigter gehoop het om £150 000 (by wyse van £1-pond-aandele) in te samel. Op Stellenbosch is 'n komitee gestig met die mag om onderkomitees in ander provinsies te stig, maar aanvanklik het geen Transvaler in die komitees gedien nie. Uit die eerste £13 450 wat vir die fonds beloof is, het ook net £300 uit Transvaal gekom.

Op 22 Oktober 1935 doen Die Burger en Die Volksblad 'n beroep op hulle lesers om ook by te dra. Dr. Malan skryf daardie dag dat daar 'n ernstige behoefte aan 'n Nasionale dagblad in Transvaal bestaan. Daar "kry ons die grootste saamtrek van ons bevolking. Op die Witwatersrand woon daar vermoedelik 'n 120 000 Afrikaanssprekendes in een soliede blok aanmekaar en hul getal groei nog steeds vinnig aan." Hy beskuldig die bestaande pers in die Noorde daarvan dat hulle die Afrikaner se "Nasionale siel" wil verderf. In die nadraai van die depressie was geld skaars en al het Nasionaliste in alle uithoeke van die land gereageer, kon die meeste net 10 £1-aandele opneem in die te stigte maatskappy. Die reaksie was nietemin bemoedigend en daarom is planne beraam vir die registrasie van die maatskappy en die werwing van personeel.

Om veral drie redes kon die Nasionale Pers nie self oorgaan tot die stigting van 'n Transvaalse dagblad nie. "Die Transvalers moes voel dat hulle hul eie dagblad kry en nie 'n verlengstuk van Keeromstraat (soos destyds na die Nasionale Pers verwys is) nie. Om self 'n nuwe dagblad in die Noorde uit te gee, het die Nasionale Pers buitendien destyds as 'n te groot onderneming beskou. Van 1936 af het hy met die mededinging van die Unie-Volkspers te doen gehad: met sy middagblad Die Suiderstem en sy tydskrif Die Naweek. En 'n jaar later het die Nasionale Pers self 'n sprong na Port Elizabeth gewaag met sy halfweeklikse Die Oosterlig".[3]

Voortrekkerpers Beperk gestig

[wysig | wysig bron]

Die sertifikaat om sake te doen is op 23 April 1936 uitgereik en die Voortrekkerpers Beperk geregistreer met 'n nominale kapitaal van £150 000 aan £1-aandele. Sen. W.A. Hofmeyr was die eerste voorsitter met A.J. van Zyl die eerste besturende direkteur. Hy was tot in daardie stadium 'n senior personeellid van die Nasionale Pers in Bloemfontein. Die eerste redakteur was die 36-jarige dr. H.F. Verwoerd, wat van 1933 af professor in sosiologie en maatskaplike werk asook die eerste hoof van die departement aan die Universiteit van Stellenbosch was.

Hy was tydens sy studentejare voorsitter van die U.S. se studenteraad en baie aktief in Nasionale Partykringe. So kom hy onder die aandag van die party se leiers en is hy aangestel as hooforganiseerder van die Volkskongres oor die Armblankevraagstuk in Kimberley in 1934 en later ook voorsitter van die Voortsettingskomitee.

Sy rol in dié bedrywighede en sy akademiese kwalifikasies lei daartoe dat die Nasionale parlementslid Paul Sauer hom aanbeveel as die geskikste redakteur van die nuwe koerant. Verwoerd aanvaar die aanstelling onmiddellik, want, soos hy later sou sê, vir hom "was dit inderdaad my stygende geesdrif by die strewe na 'n republiek, gepaard met my begeerte om meer daadwerklik te help met die oplossing van die destydse vraagstuk van blanke armoede, wat my laat besluit het om in 1937 die professoraat aan die Universiteit van Stellenbosch prys te gee en om . . . redakteur van Die Transvaler en aktiewe deelnemer aan die politiek in Transvaal te word. Toe was daar nog net 'n gat in die grond vir die toekomstige persgebou en geen geld nie". Aangesien hy nie joernalistieke ervaring gehad het nie, het hy opleiding in die Keeromstraatse hoofkantoor van Die Burger ontvang voordat hy na die Rand vertrek het.

Die gat waarna hy verwys het, was die uitgrawing vir die fondament van die Voortrekkergebou wat kort daarna opgerig is op die perseel begrens deur Hoek-, De Villiers- en Noordstraat, naby aan die Johannesburgse stasie. Dit was die eerste tuiste van die Die Transvaler en die setel van die drukwerkafdeling en die Transvaler-Boekhandel, wat later tot 'n reeks boekwinkels sou uitbrei.

P.W. Coetzer en J.H. le Roux beweer in hul geskiedenis van die Nasionale Party[4] dat dr. D.F. Malan vir Verwoerd aangestel het oor meer as net sy akademiese prestasies. "Dr. Malan het, deur die aanstelling van 'n Kaaplandse hoofredakteur, op 'n heel besondere wyse die republikeinse geesdrif en entoesiasme in die Noorde probeer demp. Malan sou hom egter hierin vergis, want Verwoerd het hom heelhartig met die Transvaalse republikeinse strewe vereenselwig."

Al was daar eers agterdog by Transvaalse Nasionaliste oor dié Kaapse aanstelling, het hy mettertyd alle twyfel uit die weg geruim en "meer Transvaler geword as die Transvaler self".[3] Die republikeinse strewe het by hom byna 'n lewenswyse geword. So is Verwoerd en Strijdom, leier van die Gesuiwerde Nasionale Party in Transvaal, saamgebind in 'n hegte eenheidsfront.

Aanloop tot die eerste uitgawe

[wysig | wysig bron]
Dr. H.F. Verwoerd as redakteur.

Al was daar probleme om die kapitaal te verkry, is bestellings geplaas vir masjinerie. Op 30 Junie 1937, toe die bouwerk al goed onderweg was, het die kapitaal slegs £50 000 beloop en moes dit aangevul word uit verbande en lenings. Daar kom 'n kwaai terugslag toe die skip met die setmasjiene wat uit Amerika onderweg was, aan die brand raak en met sy hele lading in die Atlantiese Oseaan sink. Nietemin kon Nasionaliste uit alle dele van Transvaal en die land op 30 September 1937 in die Voortrekkergebou byeenkom om te aanskou hoe Oumatjie Stoffberg, weduwee van senator T.C. Stoffberg, 'n groot voorstander van die Afrikaanse taal en kultuur, die groot Vomag-rolpers aan die gang sit om die koerant, wie se naam gekies is uit voorstelle soos Boeretrots en Vastrapper, te druk.

Die volgende dag – Vrydag 1 Oktober 1937 – verskyn Die Transvaler se eerste uitgawe op straat. In sy hoofartikel in dié uitgawe skryf dr. Verwoerd oor die koerant: "Hy is gebore uit 'n diepgevoelde behoefte by 'n groot deel van die Afrikanerdom." Die meerderheid van die Transvaalse kiesers, trouens die Afrikaanse bevolking ook, het egter geensins dié behoefte gevoel nie, soos duidelik geblyk het uit die uitslag van die algemene verkiesing skaars agt maande later toe Transvaal slegs een Nasionalis parlement toe kon stuur – die jeugdige adv. J.G. Strijdom, wat sy setel Waterberg met 'n meerderheid van minder as 500 behou het en wat later vir dr. D.F. Malan as eerste minister van die Unie sou opvolg.

Strijdom was in sy oorsig van die getal stemme wat die Nasionale Party in die provinsie gekry het, tevrede met die uitslag, maar sommige partyleiers was bekommerd omdat dr. Verwoerd teenkanting uit 'n onverwagte oord gekry het. Later jare skryf hy: "Tot my verstomming het dr. Malan en ander Direkteure my betig en gesê dat hulle dan juis gereken het dat ek die Transvaalse geesdrif vir 'n Republiek 'n bietjie sou help demp. Ek het my sterk geloof hierin gestel en aangebied om liewer dadelik weer uit te tree aangesien ek nie kans gesien het om iets anders te doen as om steeds 'n sterk Republikeinse klank in Die Transvaler te laat hoor nie. Gelukkig het senator Willie Hofmeyr, wat toe Voorsitter van die Direksie was, my en my standpunt onder beskerming geneem en kon ons so voortgaan."

Verwoerd se standpunt het die koerant se voortbestaan in gedrang gebring, want die voorstel van 'n republiek was vir almal buiten 'n handjievol sakelui taboe en so is die koerant se advertensie-inkomste kwaai gestrem. In die boekjaar 1937-'38 is daar ook nog slegs 'n bykomende 30 000 £1-aandele in Voortrekkerpers Beperk opgeneem. Dit was hopeloos ontoereikend vir die produksie van 'n dagblad.

Kwaai mededinging

[wysig | wysig bron]
Nic Havenga en genl. J.B.M. Hertzog op 'n skip op pad terug na 'n Statebondskonferensie.

As enigste republikeinsgesinde koerant in Transvaal het Die Transvaler en Verwoerd se beginselvaste beleid 'n opdraande stryd gevoer teen die teenkanting van ses dagblaaie en twee Sondagkoerante: die Rand Daily Mail, The Star, die Daily Express, Die Vaderland, die Pretoria News, Die Volkstem en die Sunday Times en Sunday Express. Tussen die Engelse koerante het egter 'n hewige persstryd gewoed en so verdwyn die Daily Express kort na die nuwe Afrikaanse koerant se toetrede tot die mark. In 1951, drie jaar ná die verrassende nederlaag van die Verenigde Party in die algemene verkiesing, verdwyn sy Transvaalse lyfblad, Die Volkstem, ook van die toneel. Die Vaderland het hom egter in 1939 by Die Transvaler in sy teenkanting teen deelname aan die Tweede Wêreldoorlog geskaar.

Van die middel vyftigerjare sou Die Vaderland ewe vurig republikeisgesind wees. Later sou dié twee koerante ook die enigste noordelike dagblaaie word wat die beleid van afsonderlike ontwikkeling (apartheid) ondersteun het. Eers in 1968 maak Hoofstad sy verskyning as bondgenoot, waarin Die Vaderland se uitgewer, Afrikaanse Pers (1962) Beperk, die meerderheidsaandeel sou hê en Voortrekkerpers Beperk 'n minderheidsaandeel.

Vandat die Voortrekkerpers Beperk in 1936 geregistreer is, sou dit 19 jaar duur voordat hy sy eerste dividend in 1955 kon verklaar. Deurentyd het die koerant die vaandel van die Nasionale Party in Transvaal hoog gedra en kon die N.P. in 1938 sy tweede lid Volksraad toe stuur toe 'n Nasionalis 'n tussenverkiesing in die kiesafdeling Marico wen. Toe Suid-Afrika in 1939 oorlog teen Duitsland verklaar, het die Nasionale Party 29 lede in die Volksraad gehad. Genl. Hertzog se neutraliteitsmosie is met 'n skraal meerderheid van 13 verslaan en so stap hy met 35 volgelinge oor na die N.P. Die krag van die opposisie groei sodoende onmiddellik tot 67 lede.

Hertzog aanvaar dr. Malan se uitnodiging om die party, wat herdoop is tot die Herenigde Nasionale Party, te lei. Dié hereniging was egter van korte duur, want in 1940 stap genl. Hertzog en sy volgeling, wat toe heelwat minder was as die vorige jaar, maar die voormalige minister van finansies N.C. Havenga ingesluit het, uit die partykongres in Bloemfontein met die klag dat hy uitgedryf is. Klasie Havenga sou genl. Hertzog later jare opvolg as voorsitter van die Afrikaanse Pers Beperk. Albei bedank hul setel in die Volksraad, waarna die Verenigde Party albei in tussenverkiesings verower. Weereens is die opposisie en sy pers verdeel, met Die Vaderland wat Hertzog steeds steun.

Strijdom volg Hofmeyr op

[wysig | wysig bron]

Senator Hofmeyr se sakebelange in die Kaap het hom genoodsaak om die voorsitterskap van Voortrekkerpers in Februarie 1940 te laat vaar. Die direktuere verkies adv. Strijdom eenparig in sy plek. Hy was 'n vriend, leier en raadgewer van dr. Verwoerd en iemand wat die republikeinse ideaal ewe toegewyd nagestreef het. Die Transvaler se teenkanting teen die oorlog bly dus onveranderd. Die koerant was dit met Die Vaderland hieroor eens, maar weens die skeuring in die Herenigde Nasionale Party het hulle oor heelwat ander sake verskil.

Tydens die oorlog is genl. Smuts, eerste minister, verskeie male versoek om Die Transvaler se papierkwota op te hef weens die koerant se teenkanting teen die oorlogspoging. Hy wou egter nie sodanige inmenging in persvryheid toelaat nie. Gemoedere het nietemin hoog geloop, veral toe die oorlogskanse die Spilmoonthede (Duitsland en sy bondgenote) begunstig. Op die aand van 31 Januarie 1941 ontstaan 'n bakleiery in die Johannesburgse stadsaal tussen soldate en afgevaardigdes wat die Transvaalse kongres van die Herenigde Nasionale Party bygewoon het.

Die volgende dag bestorm 'n skare soldate die perseel van die Afrikaanse Pers by Pleinstraat 3 en laat dit in 'n chaos. Op pad na die Voortrekkergebou het afdelings militêre en burgerlike polisiemanne, wat hulle na die toneel gehaas het, hulle in De Villiersstraat gestuit. Die toonvensters van die Transvaler-Boekhandel is nietemin stukkend geslaan en alles in die winkel verniel. 'n Aanslag op die drukwerkmasjinerie is afgeweer en op adv. Strijdom se uitnodiging het Die Vaderland die perse benut,[5] hoewel Die Vaderland se rolperse volgens 'n ander bron[6] niks oorgekom het nie.

Terugslag en swaarkry

[wysig | wysig bron]
Genl. Jan Smuts het die mosie van genl. J.B.M. Hertzog in die Volksraad vir neutraliteit met 80 teen 67 stemme verslaan, maar die Verenigde Party het geskeur.

Op dié tydstip was die Voortrekkerpers se geldelike toestand van so 'n aard dat die direkteure hulle by die bank vir die maatskappy se skuld verantwoordelik moes stel. Redaksielede se salaris is ook verminder en soms moes hulle skuldbriewe onderteken sodat die tegniese afdeling se lone eerse betaal kon word. Met die Herenigde Nasionale Party het dit eweneens beroerd gegaan. In 1943 se algemene verkiesing het die Verenigde Party, Arbeidersparty en Dominiumparty kragte saamgesnoer en 'n onbetwiste oorwinning behaal. Die H.N.P. se setels neem af tot 43 en N.C. Havenga se pasgestigte Afrikanerparty kon nie 'n enkele setel wen nie. Die H.N.P. was weliswaar toe die enigste opposisie in die parlement terwyl dit vir Die Transvaler van belang was dat 11 van die Nasionaliste Transvalers was.

Ondanks die terugslae pleit die koerant steeds vir die beëindiging van Suid-Afrika se oorlogsdeelname. Dr. Verwoerd voel so sterk oor die saak dat hy, die koerant se geldnood ten spyt, weier om werwingsadvertensies vir die Verdedigingsmag te aanvaar. Ewe onverbiddelik bly hy in sy strewe na 'n republiek. Hy word kort na die oorlog tot ondervoorsitter van die party in Transvaal verkies, maar bly aan as redakteur. Met die besoek van die Britse koninklike gesin in 1947 kritiseer die Engelse pers Die Transvaler heftig vir die wyse waarop Verwoerd net kortliks na die koninklike gesin se uitgebreide toer deur die land verwys het. Selfs in sommige Nasionale Partykringe was daar mense wat gereken het die koerant het met sy standpunt oor die besoek min gedoen om die party se voortuitsig te bevorder.

Nasionale oorwinning van 1948

[wysig | wysig bron]
Die Nasionale Party se koukus in die Volksraad omstreeks 1950.

Ondanks dié ontevredenheid wen die Nasionale Party teen 1948 drie parlementêre en twee provinsiale tussenverkiesings en stap twee parlementslede oor om hulle by die N.P. aan te sluit. Al het die oorlogskoalisie enkele maande na die vredesluiting tot niet geloop, sluit die Verenigde Party en die Arbeidersparty in die aanloop tot die 1948-verkiesing 'n ooreenkoms. Die Dominiumparty, wat in 1943 sewe setels, een minder as in 1938, kon wen, ontbind in 1947 en vorm saam met afvalliges van die Arbeidersparty die Suid-Afrikaanse Party, wat net tot 1948 bestaan. Op hulle beurt bereik Malan en Havenga 'n ooreenkoms om 'n verdeling van die Nasionale stem te vermy.

Ondanks volle indiensneming en tekens van ongekende ekonomiese vooruitgang, was die gewildheid van die Smutsregering teen 1947, soos by die meeste oorlogstydse administrasies wêreldwyd, vinnig aan die kwyn. Die Transvaler het die samewerking tussen die H.N.P. en Afrikanerparty welkom. Malan voorspel 'n wins vir die opposisie van 20 setels, maar selfs hy kon nie die omvang van die swaai weg van die Verenigde Party voorsien nie wat die Nasionale Party en sy bondgenoot met 'n minderheid van slegs vyf setels sou stel.

Van die 79 Nasionaliste in die nuwe Volksraad was nege lede van die Afrikanerparty en 'n volle 36 verteenwoordigers van Transvaalse kiesafdelings. Hiervan was 32 lede van die H.N.P. Skielik was die Transvaalse party die grootste komponent in die Volksraad. Dit was hoofsaaklik te danke aan die "vasbeslote leierskap van die onvermoeibare Hans Strijdom"[5]

Die Transvaler se vreugde oor sy party se oorwinning is net getemper deur die nuus van sy redakteur, dr. Verwoerd, se nederlaag in die kiesafdeling Alberton waar hy met 171 stemme teen Marais Steyn van die Verenigde Party verloor het. Nogtans kon die koerant nou met gesag spreek, want hy was mondstuk van die regerende party in Transvaal en sy mening is aanvaar as regeringsmening.

H.L. du Toit neem oor

[wysig | wysig bron]

Die Transvaler se sirkulasie het vinnig toegeneem, maar die advertensieinkomste was so ontoereikend dat die Voortrekkerpers Beperk in 1947 feitlik op sy knieë was. Dit kan deels aan die koerant se sterk partypolitieke aanslag toegeskryf word asook sy teenkanting teen die Unie se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog. Die grootste deel van die sakewêreld was destyds in Engelse hande, wat sterk oorlogsgesind was,en dit moes noodwendig nadelig inwerk op die koerant se advertensies.

Die maatskappy se balansstaat vir die boekjaar 1946-'47 het 'm opgehoopte verlies van £84 110 getoon. Daar was geen reserwes nie – net 'n groot oortrokke bankrekening – en hoewel die vaste eiendom teen £137 193 gewaardeer was, het die verbande daarop £138 000 beloop. 'n Deurtastende ondersoek na die doeltreffendheid en toekomsmoontlikhede van die pers was dringend noodsaaklik, maar voordat dit voltooi kon word, is mnr. A.J. van Zyl, die eerste besturende direkteur, oorlede.

Sy opvolger was die 30-jarige H.L. du Toit, wat vroeg in 1948 in 'n waarnemende hoedanigheid aangestel is en in 1950 in die pos bevestig is. Onmiddellik nadat hy oorgeneem het, het Du Toit, wat die ouditeursprofessie verlaat het om na Voortrekkerpers toe te kom, 'n algehele herorganisasie van die maatskappy se finansies en administrasie begin. Voortrekkergebou is kort tevore aan die Johannesburgse stadsraad verkoop, maar die opbrengs was nie eers genoeg om die verbande af te los en die agent se kommissie te betaal nie. Nog geld moes verkry word vir die maatskappy se verpligtinge en die oprigting van die nuwe gebou. Voortrekkerpers het grond in Jorissenstraat, Braamfontein, besit, maar destyds was die waarde van die eiendom met die twee bouvallige geboutjies daarop 'n skamele £10 000 en die verband daarop £9 000.

Du Toit het besef dat Johannesburg se nuwe snelbrûe, wat die middestad en die noorde oor die spoorlyn sou verbind, toegang tot die tot dusver verwaarloosde voorstad aansienlik sou vergemaklik. Sodoende sou dit 'n uiters geskikte gebied wees vir die bou van die maatskappy se hoofkantoor, koerantkantore en drukwerkafdeling. Die direksie magtig dus die oprigting van die nuwe Transvalergebou in Jorissenstraat en in 1950 betrek Voortrekkerpers en Die Transvaler hul nuwe kantoor.

Dit was een van die eerste betekenisvolle maatskappy wat hom in Braamfontein gaan vestig het, waar grondwaardes in die jare sestig die vinnigste van enigste Johannesburgse gebied sou toeneem.[7] In Januarie 1953 koop die maatskappy byvoorbeeld op Du Toit se aanbeveling ook die stuk grond op die noordwestelike hoek van Jorissen- en Simmondsstraat vir £15 000. Skaars 15 jaar later was dit tien keer soveel werd.

Tweede Transvalergebou

[wysig | wysig bron]

Die oorspronklike Transvalergebou moes die onderneming vir die volgende tien jaar huisves, maar die koerant se sirkulasie het gestyg en die direksie het gereken die maatskappy se uitgewers-, boekhandel- en klein- en groothandelafdeling staan op die vooraand van reuse-uitbreidings. Toenemende bestellings vir drukwerkbestellings vir tydskrifte, ander blaaie en smoutwerk het ook begin instroom. Dit het steeds meer personeel, masjinerie en groter ruimte geverg.

Die maatskappy het aanhou dividende vermy en kon dus die jongste toerusting vir sy drukwerkafdeling bekostig, terwyl hy aangrensende eiendomme met verdrag bekom het totdat Voortrekkerpers amper die hele straatblok tussen Jorissen-, De Korte-, Simmonds- en Biccardstraat besit het. Van 1962 af is dele van die grond wat aan Jorissen- en Simmondsstraat front in stadiums benut vir groot uitbreidings aan die oorspronklike perseel. In die middel jare sestig het dié kant 'n nuwe vooraansig gekry (wat tot teen 2011 grotendeels onveranderd gebly het) terwyl aansienlike veranderinge ook binne aangebring is.

Dr. Verwoerd as direkteur, voorsitter

[wysig | wysig bron]
Dr. Hendrik Verwoerd, omstreeks 1962.
Adv. J.G. Strijdom.
Die Transvaler berig op 7 Oktober 1960 oor die oorwinning wat die republikeinsgesindes in die volkstemming behaal het in die aanloop tot Suid-Afrika se republiekwording op 31 Mei 1961.
Jannie Kruger, hoofredakteur van 1949 tot 1960.

Al het dr. H.F. Verwoerd die onderspit in Alberton gedelf in die 1948-verkiesing, het hy besluit hy sou van toe af sy party se belange die beste in die parlement kon dien. Hy bedank as redakteur van Die Transvaler en neem in Januarie 1949 sitting in die Senaat in. Twee jaar later word hy tot leier van die huis verkies. In 1950 is hy aangestel as minister van naturellesake, 'n portefeulje wat hy amper agt jaar lank sou beklee tot hy eerste minister geword het. J.J. Kruger, wat later voorsitter van die Publikasieraad sou word, het hom as redakteur opgevolg.

Verwoerd se verbintenis met Die Transvaler en Voortrekkerpers is skaars drie jaar lank onderbreek, want in 1951 sterf dr. Stals, kabinetsminister en 'n direkteur van die maatskappy. Verwoerd neem sy plek in op 'n tydstip toe die koerant alles in die stryd gewerp het vir die 1953-verkiesing, toe die Nasionale Party moes bewys sy oorwinning in 1948 was meer as net 'n gelukskoot. Die party wen die verkiesing met 'n grote getal setels én stemme as in 1948. Adv. J.G. Strijdom, wat voorsitter van die direksie was, se posisie is in so 'n mate deur die getal Transvaalse Nasionaliste in die Volksraad versterk dat hy verseker was van die premierskap toe dr. D.F. Malan in Desember 1954 bedank.

So kon Voortrekkerpers hom daarop roem dat sy voorsitter ook die eerste minister was. Toe reeds was Strijdom se gesondheid nie na wense nie en hy sterf in die amp in Augustus 1958. Die koukus kies Verwoerd as sy opvolger en kort daarna word hy ook die nuwe voorsitter van Voortrekkerpers Beperk.

In April 1960 was dit dr. G.D. Scholtz, wat Jannie Kruger enkele maande tevore as redakteur opgevolg het en wat in 1937 saam met dr. Verwoerd by Die Transvaler begin werk het, se taak om die nuus aan te bied van die aanslag op Verwoerd se lewe toe iemand twee koeëls op hom geskiet het onmiddellik nadat hy die Unieskou geopen het. Die koerant het sy lesers met Verwoerd se eie woorde bemoedig: "Uit elke krisis is 'n groot triomf gebore". Dr. Verwoerd het ten volle herstel en kon sy party lei tydens die volkstemming (referendum) in Oktober 1960 toe 'n meerderheid van 74 580 uit 1 626 336 kiesers ten gunste van republiekwording besluit het.

Die Transvaler se strewe dat Suid-Afrika sy grondwetlike bande met Brittanje moes verbreek, is op 31 Mei 1961 verwesenlik toe die koerant Verwoerd geloof het as "vader van die Republiek". Die koerant het tegelykertyd eer betoon aan 'n direkteur van Voortrekkerpers en voormalige minister van justisie, C.R. Swart, wat die land se eerste staatspresident geword het nadat hy die laaste goewerneur-generaal was.

Onder leiding van sy hoofredakteur, dr. Scholtz, en medehoofredakteur, J.J. van Rooyen, het die koerant die daaropvolgende vyf jaar die regering elke greintjie steun gegee, vanselfsprekend gegewe dat die eerste minister voorsitter van die direksie was en talle ministers daarin gedien het. Omstreeks 1970 skryf die maatskappy nietemin in "Die verhaal van Johannesburg": "Maar toe (1966), soos tans, was beleid een ding en kommentaar 'n ander, en Die Transvaler weifel nie om sy mening te lug as die hantering van 'n betrokke saak nie na wense geskied nie. Die tradisie word voortgesit deur sy huidige redakteur, mnr. Carl Nöffke, wat dr. Scholtz onlangs opgevolg het."[7] Hy is op sy beurt opgevolg deur Willem de Klerk, seun van senator Jan de Klerk en broer van F.W. de Klerk.

Verwoerd se dood

[wysig | wysig bron]
Met Republiekwording op 31 Mei 1961 is Die Transvaler se jare lange strewe verwesenlik.

Om 14:14 op 6 September 1966 is dr. Verwoerd in die Volksraad deur die bode Demetrios Tsafendas om die lewe gebring toe hy hom vier keer met 'n dolk gesteek het. Die Transvaler het hulde aan die eerste minister en direksievoorsitter gebring met 'n plakkaat waarop net die naam "Verwoerd" gestaan het en wat omsoom was met 'n swart rand en 'n krans. As huldeblyk het die Voortrekkerpers 'n fotobiografie[8] in Afrikaans en Engels gepubliseer wat twee personeellede, N.F. Hefer en G.C. Basson saamgestel het.

Kort ná Verwoerd se dood het die nuwe eerste minister, B.J. Vorster, die direksie se uitnodiging aanvaar om ook in die hoedanigheid van voorsitter van Voortrekkerpers sy voorganger se voetspoor te volg. Hy het egter laat in die jare sestig bedank om sy volle aandag aan sy pligte as eerste minister te wy. Die direksie verkies hierop vir M.C. Botha, 'n senior kabinetslid, in Vorster se plek. Drie van sy kabinetskollegas, dr. Nic Diederichs, Marais Viljoen en dr. C. de Wet, het destyds ook in die direksie gedien.

Al die voorste Nasionale politici in sy direksie kon die Voortrekkerpers egter nie noodwendig help sukses behaal nie. Die eerste dividend is eers sewe jaar nadat die Nasionale Party aan bewind gekom het, verklaar. Teen omstreeks 1970 het dit gestyg tot 8 persent en die kapitaal tot R1 600 000. Danksy besparing, beplanning en die aankoop van grond in Braamfontein toe dit daar nog goedkoop was, het die maatskappy se bates op die vooraand van die sewentigerjare op R4 650 000 gestaan.

Nuwe rigting

[wysig | wysig bron]

Jan J. van Rooyen, vir wie dr. Verwoerd in 1946 as joernalis by Die Transvaler aangestel het en wat aan die koerante verbonde was tot 1968, buiten van 1948 tot 1962 toe hy parlementêre beriggewer van die Nasionale Pers in Kaapstad en Pretoria was, skryf in sy boek "Ons politiek van naby"[9] dit het hom van die eerste dag hy aangestel is as verslaggewer by Die Transvaler opgeval dat Verwoerd "nooit die verband tussen die grote en die kleine uit die oog verloor het nie. Hy het bedagsaam die werkure van die koerant verduidelik, en gesê ek hoef nie vóór 9.30 te kom nie, want die nuusredakteur val dan eers in. Later weer, toe hy my in 1962 nader om mede-hoofredakteur van Die Transvaler te word, het hy my tot in die geringste detail oor die werkinge en posisie van die maatskappy (Voortrekkerpers) en die koerant ingelig. Hy was voorsitter van die direksie."

Van Rooyen vervolg: "In dié verband is dit belangrik om te sê dat dit dr. Verwoerd se standpunt was dat Die Transvaler, wat hy begin het en wat net soveel deel van hom was as sy posisie in die party en in die staatsopset, 'n nuwe aanslag en aanskyn moes kry. Dit was hy self wat die koerant, in die tyd toe dit nodig was, 'n politieke koerant gemaak het. Nou het hy dit nodig geag dat die koerant ook as moderne nuusblad mededingend met die beste koerante in die land moes word, natuurlik met behoud van die partyverband. Ek kon dr. Verwoerd se nuwe visie vir die koerant van harte steun, en daarom het ek sy opdrag aanvaar om dit te kom uitvoer – wie kon aan Verwoerd ongehoorsaam wees?

"Net 'n maand vóór sy oorlyde het hy in ons laaste gesprek baie duidelik aan my gesê dat aan sy verwagtinge voldoen word, en dat hy hoogs tevrede is met die koerant wat die politiek en die nuus betref."

Aanloop tot redakteurskap van Willem de Klerk

[wysig | wysig bron]
Die Transvaler se nuwe gebou, ontwerp deur Wynand Louw, toe die koerant in 1950 na Jorissenstraat, Braamfontein, verhuis vanaf sy eerste perseel in Hoekstraat in die Johannesburgse middestad.

Carl Nöffke het in sy laaste hoofartikel as redakteur op 13 Augustus 1973 geskryf staatkundige afsonderlikheid is 'n beginsel wat voor elke vierskaar van moraliteit en regverdigheid verdedig kan word. Verdedig dit net gereeld en sonder enige toegewings. Die volgende dag skryf Willem de Klerk, wat van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO Johannesburg toe gekom het om redakteur van Die Transvaler te word, die verwantskap van die koerant met die Nasionale Party is 'n vrywillige vennootskap op die raamwerk van basiese beleidstroom. "Dis nie napraat nie, maar saampraat – en as dit verantwoord is, teenpraat."

De Klerk is as redder van Perskor se vlagskip verwelkom wat die aanslag uit die Suide (van Nasionale Pers) moes afweer. Van hom skryf Dirk Richard:[10] "Willem de Klerk het 'n skerp brein en aanpassingsvermoë, hy weet hoe om te werk en hy het 'n innemende geaardheid wat mense na hom toe aantrek." Hy het in 'n politieke huis grootgeword. Sy vader, sen. Jan de Klerk, het as partysekretaris van die N.P. in Transvaal begin en later minister geword. Sy oom was adv. J.G. Strijdom en sy jonger broer, F.W. de Klerk, was vroeg reeds op 'n politieke koers wat uiteindelik tot minister- en presidentskap gelei het.

De Klerk het dikwels in stryd met sy vader gekom oor sy verligte uitkyk, maar sen. De Klerk was later een van sy grootste ondersteuners toe hy dikwels omstrede standpunte ingeneem het as Transvaler-redakteur. Voor sy aanstelling het De Klerk baie toesprake gehou en 'n verligte standpunt ingeneem in die Calvinistiese maandblad Woord en Daad. In 1966 was hy in die oog van die storm toe hy met die benamings "verlig" en "verkramp" vorendag gekom het tydens 'n toespraak voor die SABRA-jeugkongres op Warmbad. Hy het albei soort Afrikaners bygekom en die gematigde voorgehou as die positiewe, ideale Afrikaner. Die toespraak het by die koerante uitgekom en De Klerk is as liberalis uitgeskel.

Die Transvaler onder Nöffke was een van die platforms vir sy verguising. In Die Vaderland het A.M. van Schoor in 'n hoofartikel 'n gek van hom probeer maak deur hom as die "nuwe verlosser" voor te stel – die wyse man en redder wat deur sy nek praat en Afrikanerskap beledig het. Hierna is hy oorval deur uitnodigings om toesprake te lewer en sodoende het die derde begrip – die ideale Afrikaner – heeltemal verdwyn weens die bohaai oor "verlig" en "verkramp".

Ondanks sy verligte standpunte het hy amptelik min moeilikheid met die Potchefstroomse universiteitsrektor, prof. Bingle, of die Gereformeerde Kerk gehad. Aan die universiteit was daar egter teologiese onmin aan die broei onder De Klerk se fakulteitskollegas wat ontevrede was met die sogenaamde nuwe klanke wat hy van oorsee af sou inbring. Hy het later gesê: "Dit alles het in my 'n onbehaaglikheid wakker gemaak en ek was ryp om uit die akademiese wêreld pad te gee."[10] Twee persmaatskappye het hom gretig ingewag.

Nasionale Pers was eerste in die veld nadat hulle te hore gekom het van die luimverandering aan die universiteit op Potchefstroom. De Klerk het self 'n brief aan adv. David de Villiers, Naspers se besturende direkteur, geskryf en gesê hy verneem van Naspers se plan met 'n nuwe dagblad in Transvaal, naamlik Beeld, en dat sy kop joernalistiek toe staan. Tydens 'n onderhoud in die Carlton-hotel het Naspers hom mede-hoofredakteurskap saam met Schalk Pienaar, gewese redakteur van die Sondagkoerant Die Beeld, aangebied. De Klerk se pa was ontevrede hieroor en het die noord-suid-klemverskille aan sy seun voorgehou.

Toe bel Marius Jooste, besturende direkteur van Perskor, een oggend vir De Klerk en bied hom die redakteurskap van Die Transvaler aan. Hy het vier dae uitgestel gevra om te antwoord, maar die volgende oggend bulder Jooste in sy kenmerkende styl oor die telefoon: "Wanneer sê jy dan?" De Klerk het op die grasietyd gewys, maar die volgende middag dringend Johannesburg toe ontbied omdat iets glo gebeur het. Binne 'n halfuur het Jooste vir De Klerk heeltemal oordonder en hom, voor hy nog die aanbod aanvaar het, aan die redaksie gaan voorstel. 'n Jaar later bel adv. De Villiers weer en bied De Klerk die hoofredakteurskap van Beeld aan, want dit was duidelik dat Schalk PIenaar se gesondheid vinnig aan die verswak was. De Klerk het later gesê hy het dadelik geweier omdat De Villiers se aanbod eintlik 'n belediging was.

Willem de Klerk aan die stuur

[wysig | wysig bron]
Dr. Willem de Klerk.

De Klerk se eerste dag was 14 Augustus 1973. Met een slag is die koerant uit sy ou weë en knegskapverbintenis aan die Nasionale Party geruk. Dit het hom gereeld in stryd met die eerste minister, mnr. B.J. Vorster, gebring, wat geglo het sy kommentaar is te verlig, geleerd en teoreties. Oor verskeie vraagstukke het diep meningsverskille ontstaan. De Klerk was byvoorbeeld ten gunste van grys gebiede en dat die deel van openbare geriewe voorsiening moes maak vir wit, swart en grys vlakke. De Klerk het ook aangedring op die ontwerp van 'n grondwetlike grondplan met 'n verklaring van voorneme en perspektief op sekere basiese ontwikkelinge vorentoe. Vir Vorster was dit 'n belediging omdat die grondplan volgens reeds daar was en uit afsonderlike ontwikkeling bestaan het.

Nog 'n haakpunt was die posisie van stedelike swart mense. Die koerant se standpunt onder De Klerk was dat hulle nie net tydelike stadsbewoners was nie. Vorster het by sy bekende standpunt gehou: "Oor die stedelike swart man is klaar gedink." Hulle was ook haaks oor geskille in die Nasionale Party, want Vorster het geglo Die Transvaler gee te veel aandag aan "aksentverskille".

So het De Klerk se stryd om Die Transvaler 'n beter koerant, vry van die ou lojaliteitsjoernalistiek te maak, die wind van voor gekry. Sy standpunt was dat hy 'n "lojale vriend" was, maar geen "propagandis" nie. Dr. Connie Mulder, Transvaalse leier van die N.P., het op 23 Januarie 1975 op Naboomspruit in 'n toespraak gewaarsku dat geen koerant in Suid-Afrika die voorreg het om die N.P. se standpunt te verkondig nie. Die Transvaler het dit verwelkom, maar Mulder was omgekrap oor die redakteur se astrantheid en beplan 'n vergadering vir 25 Augustus 1975 met die vier dagbladredakteurs van Perskor: Willem de Klerk, Harald Pakendorf van Oggendblad, Arthur Lake van Hoofstad[11] en Dirk Richard van Die Vaderland. Beeld is van die gesprek uitgesluit.

Die voorwendsel was 'n vriendelike gesprek tussen pers en party, maar eintlik was dit, volgens Richard, 'n slim set om die redakteurs bloot te stel aan 'n saal vol politici wat van die seldsame vergunning gebruik gemaak het om die persmense by te kom. So erg het die klipgooiery geword dat adjunkminister Louis le Grange moes vra dat die byeenkoms verdaag word. Willem de Klerk het die ergste deurgeloop en is selfs daarvan beskuldig dat Die Transvaler met Swapo heul. Die gevolg was dat die redakteurs hulle verder verhard het teen inmenging van buite. Dr. Mulder was ook 'n direkteur van Perskor, maar sy politieke ambisie het swaarder geweeg as direkteurskap. De Klerk het uit die dagbestuur van die Nasionale Party bedank, die einde van 'n lang tradisie van redakteur van Die Transvaler.

Aan die einde van 1976 kom daar verdere botsings tussen die koerant en die N.P. toe dr. Andries Treurnicht, adjunkminister, in 'n warm debat ná sy toespraak oor gedeelde geriewe sê die oopstelling van teaters, kerke ens. rym nie met die regering se beleid van afsonderlike ontwikkeling nie. Rapport, Beeld en Die Transvaler het op hom toegesak. Laasgenoemde het selfs 'n spotprent geplaas waarin Treurnicht agterstevoor op 'n perd sit. Vorster was woedend. De Klerk is na die Uniegebou ontbied. Later het Vorster in die openbaar verklaar Treurnicht se uitsprake strook met die partybeleid.

Kort hierna het die Volksraadslid vir Vryheid, mnr. Joos le Roux, De Klerk voor 'n gehoor op Greytown aangeval. Rapport, Die Vaderland en Die Transvaler het teruggekap. Oor die politikus se stelling dat Afrikaanse redakteurs net in privaat gesprekke van politici mag verskil, maar dat hulle openbare standpunte nie dislojaal mag wees nie, het De Klerk gesê: "Dit is 'n onbekookte standpunt wat openbaarheid of privaatheid en die rol van die koerant in dié verband nie oordink het nie."

De Klerk het met sy voortreflike politieke joernalistiek groot aansien verwerf en sy koerant het een van die invloedrykste media in die land geword – veral nadat Die Burger in die laat Vorster-era al hoe flouer in sy verskille geword het. Buiten dat Die Transvaler 'n gerespekteerde meningsvormer geword het, het hy ook oneindig leesbaarder en nuuswaardiger as voorheen geword. Van die begin van die De Klerk-tyd het Perskor die "beste porsies" vir Die Transvaler afgeskep.[10] Geld, personeel en sirkulasie-bouende reekse en wedstryde is na hom toe gekeer.

Ondanks die haaksheid met die Transvaalse en Natalse politici, het die N.P. in die noorde hom sedert die koms van Beeld vir die welsyn van Die Transvaler beywer. Van Nöffke se tyd het die verkoopsyfer gestyg van 43 000 tot 50 000 vir die tydperk van Januarie tot Junie 1975. Beeld het destyds op 33 000 gestaan, 'n derde van wat sy stigters van hom verwag het. Toe kom 'n kunsmatige inspuiting met die plasing van 'n reeks oor die berugte skêrmoordenares van die Kaap, Marlene Lehnberg. Sy het die hele moordverhaal onder haar eie naam onthul. Min. Jimmy Kruger het probeer walgooi en met die wet gedreig, maar Marius Jooste het hom nie daardeur laat afskrik nie. Die reeks het in Januarie 1976 begin en teen die einde van die jaar staan die verkope op 'n ongekende 65 000. Perskor was in sy noppies. Skielik het dit gelyk of dit moontlik sou wees om Beeld te klop.

Die mededinger het nie op hom laat wag nie en begin met woordbouwedstryde met aanloklike pryse. Die Transvaler antwoord toe met woordbouspeletjies en stoot sy prysgeld hoër op as Beeld s'n. Albei se verkope het gestyg. Op 27 Augustus 1978 kondig Die Transvaler in Rapport aan dat hy die volgende vier maande 'n verstommende R304 000 aan wedstrydpryse sou weggee. Nasionale Pers se Kaapse uitdager het klein begin vertoon in die verte, aldus Richard.[10]

Die koerantwese het egter ongemaklik geraak met die wedywering en so kom die Persunie tot 'n vergelyk met die twee Johannesburgse oggendblaaie dat lokmiddels nie meer as R2 000 per maand mag oortref nie. Dit het Die Transvaler se verkoopsyfer van die rekord van sowat 80 000 na 66 000 laat terugsak.

Persstryd

[wysig | wysig bron]
Marius Jooste.

Op 16 September 1974 tree Naspers met die eerste uitgawe van Beeld toe tot die Afrikaanse koerantmark in Transvaal. Die redaksie van die nuwe toetreder het, gegrond op valse aannames oor Rapport se sirkulasie in die PWV-gebied, gehoop op verkope van 100 000 per dag, maar teen Februarie 1975 het dit gedaal tot 21 568, die laagste maandsyfer in sy bestaan. Op 29 April 1975 is 102 402 koerante verkoop danksy die nuus oor die Foxstraatbeleg,[12] maar die gemiddeld vir die ses maande Julie tot Desember 1975 (42 774) was steeds amper 20 000 minder as sy vernaamste mededinger, Die Transvaler, se 61 641.[13] Saam het die twee Afrikaanse oggendkoerante in Johannesburg die eens byna ondenkbare bereik deur met 'n gesamentlike sirkulasiesyfer van 104 000 net 27 000 minder as Johannesburg se Engelse oggenkoerant, die Rand Daily Mail, te verkoop.

Die stryd om lesers tussen Beeld en Die Transvaler het daartoe gelei dat Perskor se bestuur fiktiewe syfers vir hulle drie Johannesburgse dagblaaie, Die Vaderland, Die Transvaler en The Citizen, geskep het. Dirk Richard skryf in Moedswillig die uwe dat dit onseker is presies wanneer met die gekonkel begin is. Dit kon so vroeg as 1976 gewees het toe Beeld die eerste keer meer as 50 000 koerante oor 'n sesmaandetydperk verkoop het. Die hoogtepunt van die fiktiewe syfers was toe Die Transvaler op 1 Augustus 1980 op sy voorblad spog dat hy toe die grootste Afrikaanse dagblad in Suid-Afrika was met 'n sirkulasiesyfer vir die ses maande van Januarie tot Junie daardie jaar van 75 287.

Beeld se werklike syfer was toe 64 901. Minder as twee maande later kom 'n Perskor-amptenaar in die geheim met die bedrog vorendag. Die Sirkulasie-Ouditburo (later Audit Bureau of Circulation – ABC) het die saak ondersoek en op 22 September 1980 bekendgemaak dat die jongste sesmaandesyfer vir Die Transvaler 21 306 hoër as die werklike was en Die Vaderland s'n 9 367. The Citizen s'n is met 6 999 verhoog. By verdere ondersoek blyk dit dat die werklike en fiktiewe verkoopsyfers selfs meer verskil het:

  • Die Transvaler: 49 525 (75 287), verskil = 25 762;
  • Die Vaderland: 48 594 (60 564), verskil = 11 970;
  • The Citizen: 45 000 (54 266), verskil = 9 226.

Die drie koerante se ABC-lidmaatskap is opgeskort en Beeld kon onmiddellik sy advertensietariewe opstoot omdat dit toe in werklikheid die grootste Afrikaanse koerant in die Transvaal was. Dit was 'n klad op die naam van Perskor en die aansien van die persmaatskappy met die grootste omset in die land is geskaad, miskien onherstelbaar. Die Transvaler se sirkulasie het oornag tot net 46 000 getuimel. Beeld was skielik met meer as 20 000 voor. Die verhouding tussen Naspers en Perskor het in die debakel verstrak tot bykanse onversoenbaarheid. Intussen het die interne spanning aan De Klerk se gemoedsrus begin torring en het die verhouding tussen hom en Marius Jooste al hoe meer gespanne geraak.

Met die aanvang van die tagtigerjare het Die Transvaler sy kritiek meer gedemp begin stel. Politieke voorbokke is nie so skerp aangepraat nie. Die koerant het ál meer die rol van versoener begin speel en die De Klerk-bewonderaars het die profetiese inslag van sy vroeëre artikels begin mis. Volgens De Klerk het verligtheid toe al mode geword en was dit nie meer die afskeepkind van voorheen nie. Nietemin het hy toenemend ontuis in die Perskorgroep begin voel. Daar was geskille oor beleid met bestuurslede, die verontagsaming van sy vertoë oor knelpunte, beplanning en vernuwing. Politieke faktore en sy verhouding met Marius Jooste het waarskynlik bygedra tot sy bedanking op 18 Mei 1982.

Jooste het geweier om sy bedanking te aanvaar en wou blykbaar die laaste sê hê, want hy dank De Klerk onverwags op 27 Augustus daardie af. De Klerk se vertrek het Die Transvaler het die koerant in 'n benarde posisie gelaat, want Jooste se bestuursmetodes het die verkoopsyfer teen die tyd van sy dood tot onder die sukkelpeil van vroeër laat daal. Waarskynlik omdat Jooste gereken het hy kon sy dagblaaie se verkoopsyfers met die gekonkel kunsmatig hoog hou, het hy omstreeks 1978 onverwagse besnoeiings aangekondig.

In Oktober 1978 het Jooste in sy jaarverslag verklaar: "Die stryd, wat reeds meer as vier jaar duur, loop myns insiens na 'n einde, en daar kan verwag word dat 'n ooreenkoms binne afsienbare tyd tussen die koerantgroepe bereik sal word." Naspers wou egter nie byt nie. Vir Perskor het die weer gunstig gelyk met 'n sirkulasievoorsprong van sowat 25 000 bo Beeld, hoewel dit later sou blyk dié syfer was op bedrog gegrond.

Teen De Klerk se waarskuwings in word die uitgawes aan verspreiding drasties ingekort. 'n Uitstekende stelsel, wat 'n horde seunsverkopers ingesluit het, het oornag 'n amputasie ondergaan waarvan dit nooit weer herstel het nie. Juis hierdie organisasie het in die verlede gesorg dat Die Vaderland 'n rekordhoogte van 75 000 bereik het. Beeld het vinnig ingespring en die ou Perskor-stelsel met miljoene rande se slaankrag toegepas. Op verafgeleë plekke het dit tot R1 gekos om die blad van 20c te verkoop, maar Naspers het dit ter wille van sirkulasie gedoen.

Die Transvaler se verspreidingstelsel het in duie gestort en die verkope so vinnig gedaal dat 'n noodplan nodig was. Dit is nie duidelik of die knoeiplan reeds vooraf bedink is nie, maar dit wil voorkom asof dit minstens twee jaar gelede reeds ingevoer is. Waarskynlik het die syfers van die geknoei net in verhouding tot die verlies weens die verspreidingsramp toegeneem. In die hofsaak wat in September 1983 gedien het, het Perskor erken hy het van Januarie 1977 tot September 1980 die gemiddelde verkope van Die Transvaler met tot 23 125 per dag valslik verhoog. In 'n beëdigde verklaring het die maatskappy gesê geen direkteur was hiervan bewus nie. Die koerant is met R20 000 beboet en moes die reuse-bedrag vir destyds van R1,3 miljoen aan adverteerders uitbetaal.

Die Transvaler het weens die terugslag van die knoeiery se ontbloting en De Klerk se vertrek tot 'n sirkulasievlak gedaal waarvan hy nooit herstel het nie. Toe die twee mededingers die strydbyl op 8 Februarie 1983 begrawe en Perskor Die Transvaler na Pretoria verskuif om met Oggendblad en Hoofstad saam te smelt,[14] was sy verkope 'n skamele 38 780 vergeleke met Beeld se 75 982. As middagblad in Pretoria sou Die Transvaler se verkope selfs verder daal tot net oor die 20 000.

P.J. Cillié, voorsitter van Naspers, het intussen 'n informele gesprek met min. Ben Schoeman, voorsitter van Dagbreektrust, wat Perskor beheer het, versoek. Dit is gehou op 1 Desember 1980 in Pretoria. Cillié wou skadevergoeding hê vir Beeld se verlies aan advertensie-inkomste, maar Schoeman het 'n samesmelting tussen die twee persgroepe voorgestel. Cillié was hierteen gekant en het gesê die Nasionale Pers het 'n afkeer in so 'n monopolievorming.[12] Perskor wou nie kopgee oor vergoeding nie.

Adv. D.P. de Villiers van Naspers het in Januarie 1981 'n markverdeling in Transvaal voorgestel met Naspers in die oggendmark en Perskor in die middagmark omdat die oggendmark vir laasgenoemde, volgens hom, nog nooit lonend wat nie, maar die middagmark wel. Naspers het later bereken sy verlies vanweë die fiktiewe syfers was R13,7 miljoen. Omdat Perskor skuld ontken het, het Naspers besluit om 'n eis in te stel.

Marius Jooste het tot sy dood in Oktober 1982 vasgeskop teen die gedagte van 'n markverdeling, maar was wel ten gunste van amalgamering van die twee persgroepe. In November 1982 voer die nuwe voorsitter van Perskor, Willem van Heerden, en twee lede van die Dagbreektrust-direksie gesprek met twee senior Cillié en De Villiers. Die Naspers-amptenare verwerp 'n Perskor-voorstel vir 'n oorkoepelende maatskappy om die twee oggendblaaie in Johannesburg oor te neem. Die teenwoordiges besluit nie op 'n markverdeling nie, maar tog dat adviseuers aan albei kant die geldwaarde van Perskor se onttrekking aan die oggendmark moet bereken.

Uiteindelik besluit Perskor om Die Transvaler van die oggendmark te laat verdwyn as Naspers sy eis om skadevergoeding terugtrek en R5 miljoen vir die ontruiming van die oggendmark betaal. Naspers was oortuig daarvan dat Beeld Die Transvaler mettertyd heeltemal sou kon onderkry, maar die direksie was bang "die eventuele aftakeling van Die Transvaler as oggendblad kon groot bitterheid gewek het by 'n belangrike deel van die Transvaalse lesende publiek waarop Beeld aangewese was. Dit kon nadelige gevolge ook op politieke gebied gehad het",[12] aangesien albei koerante die Nasionale Party goedgesind was en op die party se ondersteuners vir lesers staatgemaak het.

Naspers se oorwinning was nie 'n joernalistieke oorwinning nie, maar 'n bestuursoorwinning, skryf Richard.[15] "Willem de Klerk het nie net gesorg dat sy blad nuuswaardig word nie, maar dit was ook 'n politieke voorloper, 'n meningsvormer wat prikkelend en verkennend was. Die Transvaalse publiek was in die gelukkige posisie om soggens uit twee eersteklas-koerante te kies."

Markverdeling

[wysig | wysig bron]

Vanaf die tweede week in Februarie 1983 het Die Transvaler as middagblad na Pretoria geskuif waar Perskor se oggendkoerant, Oggendblad (wat van Julie tot Desember 1981 slegs 5 828 koerante op weeksdae kon verkoop), en sy middagkoerant, Hoofstad (wat in dieselfde tydperk 13 628 koerante op weeksdae verkoop het, vergeleke met die Engelstalige Pretoria News se 24 876 op weeksdae), by Die Transvaler ingelyf is. Dit het Beeld as enigste Afrikaanse oggendkoerant in Johannesburg gelaat, hoewel dit ook in Pretoria en elders in Transvaal versprei is, en Die Vaderland as Johannesburg se Afrikaanse middagkoerant.

Nadat die Die Transvaler en Die Vaderland tot die ABC hertoegelaat is, was hulle weeksdagverkoopsyfer vir die tydperk Julie tot Desember 1981 onderskeidelik 44 109 en 40 998, vergeleke met Beeld se 67 963.[16] Die Rand Daily Mail het in daardie tydperk teruggesak tot 106 759, 5 000 minder as die toe nog twee Afrikaanse oggendkoerante, maar Beeld sou eers in 1988 oor 'n volle jaar op sy eie 'n sirkulasie van meer as 100 000 kon handhaaf. Dit was ook die jaar waarin Die Vaderland se 52 jaar lange bestaan as dagblad beëindig is toe dit by Die Transvaler ingelyf is.

Op 10 Februarie 1983 skryf Die Vaderland die markverdeling was onvermydelik. "Dit was 'n rasionele en logiese stap en dit is gedoen in die breë belang van Transvaalse Afrikaners." Al kon Beeld lank 'n sirkulasie van meer as 100 000 handhaaf, kon die koerant nog nooit hoegenaamd na aan die gesamentlike sirkulasie van die destydse vyf Afrikaanse dagblaaie in Transvaal van meer as 170 000 kom nie. Sedert die sluiting van Die Transvaler in 1993 was daar ook nooit weer mededinging in die Afrikaanse dagbladmark vir Beeld nie. Die enigste oorblywende Afrikaanse dagblad in dié mark se sirkulasie het van 2006 tot 2011 met meer as 'n kwart gedaal van 99 077 tot 73 344. Dit was nietemin steeds 14 000 meer as Die Burger se gesamentlike sirkulasie vir die Wes-Kaap en die Oos-Kaap, maar sowat 32 000 minder as Son, die grootse Afrikaanse dagblad.[17]

Redakteurs

[wysig | wysig bron]
  • Hendrik Verwoerd, 1937–1948
  • J.J. Kruger, 1948–1960 (1908–1976)
  • Gert Daniël Scholtz, 1960–1968 (1905–1983)[18]
  • C.F. Nöffke, 1969–1973
  • Willem de Klerk, 1973–1982
  • Blaar Grobbelaar, 1982–1987[19]
  • Gerhard Burger, 1987–1993[20]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. World Catalogue
  2. Beeld, 16 September 2009[dooie skakel]
  3. 3,0 3,1 Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die Suide. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
  4. Coetzer, P.W. en Le Roux, J.H. 1980. Die Nasionale Party. Bloemfontein: Instituut vir Eietydse Geskiedenis, Universiteit van die Oranje-Vrystaat.
  5. 5,0 5,1 Shorten, John R. 1970. Die verhaal van Johannesburg vertaal deur N.F. Hefer, J.J. Groenewald en C.J.H. Vorster. Johannesburg: Voortrekkerpers Beperk.
  6. L.J. Erasmus. 1969. 'n Volk staan op uit sy as: Verhaal van Die Afrikaanse Pers (1962) Beperk. Johannesburg: Afrikaanse Pers Beperk.
  7. 7,0 7,1 Shorten, John R. 1970. Die verhaal van Johannesburg. Johannesburg: Voortrekkerpers Beperk.
  8. Bidorbuy.co.za[dooie skakel]
  9. Van Rooyen, Jan J. 1971. Ons politiek van naby. Kaapstad en Johannesburg: Tafelberg-Uitgewers Bpk.
  10. 10,0 10,1 10,2 10,3 Richard, Dirk. 1985. Moedswillig die uwe. Perspersoonlikhede in die Noorde. Johannesburg: Perskor.
  11. Google Books
  12. 12,0 12,1 12,2 Beukes, W.D. (red.). 1992. Oor grense heen. Op pad na 'n nasionale pers 1948–1990. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
  13. Botha, F.M. (red.). 1976. Advertising & Press Annual of Africa 1976. Cape Town and Johannesburg: National Publishing Company (Pty) Ltd.
  14. Mediamense.co.za. Geargiveer 6 Maart 2016 op Wayback Machine URL besoek op 20 Junie 2013.
  15. Richard, Dirk. 1985. Moedswillig die uwe. Perspersoonlikhede in die Noorde. Johannesburg: Perskor
  16. Amptelike Jaarboek van die Republiek van Suid-Afrika 1983. 1983. Johannesburg: Chris van Rensburgpublikasies.
  17. SA’s daily newspapers in decline, The Media Online, 1 November 2011. URL besoek op 20 Junie 2013.
  18. Myfam.co.za[dooie skakel]
  19. "Die Burger". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Januarie 2012. Besoek op 20 Augustus 2011.
  20. Die Burger