Gaan na inhoud

Anna van Kleef

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Anna van Kleef
Portret deur Hans Holbein die Jongere, omstreeks 1539.
Portret deur Hans Holbein die Jongere, omstreeks 1539.
Eggenoot Hendrik VIII van Engeland
Tydperk 6 Januarie – 9 Julie 1540
Voorganger Jane Seymour
Opvolger Catharina Howard
Huis Huis van La Marck
Huis van Tudor
Gebore 22 September 1515
Oorlede 16 Julie 1557
Handtekening

Anna van Kleef (Duits: Anna von Jülich-Kleve-Berg, Engels: Anne of Cleves; 22 September 1515[1]16 Julie 1557) was ’n Duitse adellike en van 6 Januarie 1540 tot 9 Julie 1540 die vierde vrou van Hendrik VIII van Engeland. Die huwelik is nooit seksueel voltrek nie en sy is nie gekroon as koningin-gemalin nie. Sy was die laaste oorlewende vrou van Hendrik VIII.

Vroeë lewe

[wysig | wysig bron]

Anna is in 1515 in Düsseldorf gebore as die tweede oudste dogter van Johann III, Hertog van Kleef, en sy vrou, Maria, Hertogin van Jülich. Op 12-jarige leeftyd het Anna verloof geraak aan die latere Franz I, Hertog van Lotharinge, toe hy tien jaar oud was. Die verlowing was dus nie-amptelik en is in 1535 gekanselleer.

Die moontlikheid van ’n verbintenis tussen koning Hendrik en Anna is aangevoor deur sy kanselier, Thomas Cromwell. Die skilder Hans Holbein die Jongere is gestuur om skilderye te maak van Anna en haar jonger suster, Amalia, wat albei oorweeg is as Hendrik se vierde vrou. Die twee weergawes van Holbein se portrette hang tans in die Louvre in Parys en die Victoria en Albert-museum in Londen. Onderhandelings met Kleef was in volle gang teen Maart 1539. Cromwell het toesig oor die onderhandelings gehou en ’n huweliksverdrag is op 4 Oktober gesluit.

Hendrik het opvoeding en kulturele sofistikasie in vroue gewaardeer, maar Anna het nie een van die twee gehad nie: Sy het geen formele opvoeding gekry nie en het gehou van naaldwerk en kaart speel. Sy kon net Duits lees en skryf. Sy is egter as sagmoedig, deugsaam en inskiklik beskou – karaktertrekke wat haar ’n geskikte kandidaat gemaak het.

Hendrik het Anna in Kent ontmoet en volgens beëdigde getuienis van sy geselskap was die koning dadelik teleurgesteld in haar voorkoms. Hy het later gesê hy is mislei, want sy is nie so mooi as wat sy aan hom beskryf is nie.[2] Hendrik het Cromwell gevra om ’n wettige rede te kry om te keer dat die troue plaasvind, maar dit kon nie in dié stadium gedoen word sonder om betrekkinge met Duitsland te skaad nie.

’n Gedoemde huwelik

[wysig | wysig bron]

Ondanks Hendrik se gevoel is die twee op 6 Januarie 1540 in die Paleis van Placentia in Greenwich, Londen, getroud deur die aartsbiskop van Kantelberg, Thomas Cranmer. Anna het haar dadelik tot die Anglikaanse geloof bekeer.[3] Ná hul eerste nag saam het Hendrik teenoor Cromwell erken dat die huwelik nie voltrek is nie. Hy het bygevoeg: "Ek het voorheen nie baie van haar gehou nie, maar nou hou ek nog minder van haar."[4]

Die vroue van Hendrik VIII
Catharina van Aragon
Anna Boleyn
Jane Seymour
Anna van Kleef
Catharina Howard
Catharina Parr

Anna is op 24 Junie gevra om die hof te verlaat en op 6 Julie is sy ingelig dat haar man hul huwelik heroorweeg. Sy is kort daarna gevra om in te stem tot ’n nietigverklaring en sy het dit gedoen. Die huwelik is op 9 Julie 1540 nietig verklaar op grond van die feit dat dit nie voltrek is nie en van haar vorige verlowing aan Franz van Lotharinge.

Ná die huwelik

[wysig | wysig bron]

Die voormalige koningin het ’n groot bedrag as skikking gekry, onder meer Hever-kasteel, die voormalige tuiste van Anna Boleyn se familie. Sy en Hendrik het groot vriende geword en sy was ’n geëerde lid van die koning se familie. Daar is na haar verwys as "die koning se geliefde suster".

In 1553, toe Hendrik se dogters, Maria en Elizabeth, Londen binnery om lady Jane Grey se bewind oor te neem, was sy daar om hulle te groet.[3] Sy was ook teenwoordig met Maria se kroning as die nuwe koningin.[3] Dit was die laaste keer dat sy in die openbaar verskyn het.

Op 16 Julie 1557, agt weke voor haar 42ste verjaarsdag, is Anna oorlede, waarskynlik aan kanker.[5] Sy is in Westminster-abdy begrawe.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Alison Weir, Britain's Royal Family: A Complete Genealogy (Londen, VK: The Bodley Head, 1999), bl. 154.
  2. Schofield, p. 239.
  3. 3,0 3,1 3,2 Weir, Alison: The Six Wives of Henry VIII; Grove Press, 2000; bl. 388.
  4. Schofield, p. 240.
  5. Antonia Fraser, The Wives of Henry VIII, bl. 412

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]