Gaan na inhoud

George V van die Verenigde Koninkryk

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
George V
Koning van die Verenigde Koninkryk en die Britse Dominiums; Keiser van Indië
Koning George V.
Koning George V.
Vorstehuis Sakse-Koburg en Gotha;
Windsor
Titels SM die Koning
SKH die Prins van Wallis
SKH die Hertog van Cornwallis en York
Regeer 6 Mei 191020 Januarie 1936
Kroning 22 Junie 1911
Voorganger Edward VII
Opvolger Edward VIII
Volle naam George Frederick Ernest Albert
Gebore 3 Junie 1865; Marlborough House, Londen
Oorlede 20 Januarie 1936; Sandringham House, Norfolk
Begrawe 29 Januarie 1936; St. George-kapel, Windsor
Eggenote Mary van Teck
Kinders Edward VIII
George VI
Prinses Mary, Gravin van Harewood
Prins Henry, Hertog van Gloucester
Prins George, Hertog van Kent
Prins John
Vader Edward VII
Moeder Alexandra van Denemarke

George V (George Frederick Ernest Albert; 3 Junie 1865 - 20 Januarie 1936) was tot met sy dood in 1936 koning van die Verenigde Koninkryk en die Britse dominiums asook keiser van Indië en die eerste koning van Ierland na dié se onafhanklikwording.

George is gebore tydens die bewind van sy ouma, koningin Victoria. Hy was die tweede oudste seun van Albert Edward, die Prins van Wallis, en die derde aanspraakmaker op die Britse troon ná sy vader en oudste broer, prins Albert Victor. Van 1877 tot 1892 het hy in die Britse Vloot gedien, tot met die onverwagte dood van sy oudste broer vroeg in 1892 wat hom in die direkte lyn van die troonopvolging geplaas het. George het die volgende jaar met sy broer se verloofde, prinses Victoria Mary van Teck, getrou en hulle het ses kinders gehad. Ná koningin Victoria se dood in 1901 het George se vader die troon bestyg as Edward VII en George het die Prins van Wallis geword. Hy het in 1910 koning geword met die dood van sy vader.

Gedurende George se bewind was daar die opkoms van sosialisme, kommunisme, fascisme, Ierse republikanisme en die Indiese onafhanklikheidsbeweging – wat alles die politieke landskap van die Britse Ryk verander het, terwyl die ryk sy territoriale hoogtepunt aan die begin van die 1920's bereik het. Die Parlementswet van 1911 het die oppergesag van die verkose Laerhuis gevestig bo dié van die onverkose Hoërhuis. Weens die Eerste Wêreldoorlog (1914-'18) het die ryke van sy neefs Nikolaas II van Rusland en Wilhelm II van Duitsland geval, terwyl die Britse Ryk sy grootste omvang bereik het.

In 1917 het George die eerste monarg van die Huis van Windsor geword nadat hy die Huis van Sakse-Koburg en Gotha vanweë anti-Duitse sentiment hernoem het. Hy het in 1924 die eerste ministerie van die Arbeidersparty aangestel, en die Verordening van Westminster van 1931 het die ryk se grondgebiede erken as aparte, onafhanklike state binne die Britse Statebond.

George het aan die einde van sy bewind aan rookverwante siektes gely. Hy is met sy dood in Januarie 1936 opgevolg deur sy oudste seun, Edward VIII. Edward het in Desember dié jaar geabdikeer en is opgevolg deur sy jonger broer, Albert, wat die troonnaam George VI aangeneem het.

Vroeë lewe

[wysig | wysig bron]

George is op 3 Junie 1865 in Marlborough House, Londen, gebore. Hy was die tweede oudste seun van Albert Edward, Prins van Wallis, en Alexandra, Prinses van Wallis. Sy pa was die oudste seun van koningin Victoria en prins Albert, en sy ma was die oudste dogter van koning Christiaan IX en koningin Louise van Denemarke. Hy is op 7 Julie 1865 in Windsor-kasteel deur die Aartsbiskop van Kantelberg gedoop.

George as 'n jong seun, 1870.

As 'n jonger seun van die Prins van Wallis was daar min verwagting dat George koning sou word. Hy was die derde aanspraakmaker op die troon, ná sy vader en oudste broer. George was net 17 maande jonger as Albert Victor en die twee prinse is saam opgevoed. Nie Albert Victor of George het intellektueel presteer nie.[1] Omdat hulle vader geglo het die vloot is "die beste moontlike opvoeding vir enige seun",[2] het George in September 1877, toe hy 12 jaar oud was, saam met sy broer by die opvoedingskamp van die HMS Britannia by Dartmouth, Devon, aangesluit.[3]

Van 1879 af het die twee prinse drie jaar lank op die HMS Bacchante diens gedoen. Hulle het deur die kolonies van die Britse Ryk in die Karibiese See, Suid-Afrika en Australië getoer en Norfolk (Virginië), Suid-Amerika, die Mediterreense gebied, Egipte en Oos-Asië besoek. In 1881, op 'n besoek aan Japan, het George 'n plaaslike kunstenaar 'n tatoe van 'n blou-en-rooi draak op sy arm laat aanbring[4] en is hy in 'n oudiënsie deur keiser Meiji ontvang.[5]

Toe hulle na Engeland terugkeer, het die koningin gekla haar kleinseuns kan nie Frans of Duits praat nie; hulle het dus ses maande in Lausanne deurgebring in 'n onsuksesvolle poging om 'n ander taal aan te leer.[6] Ná Lausanne is die broers geskei; Albert Victor het aan Trinity College in Cambridge studeer, terwyl George sy loopbaan in die vloot voortgesit het. Hy het deur die wêreld gereis en baie gebiede van die Britse Ryk besoek.

Huwelik

[wysig | wysig bron]
George in 1893.

As 'n jong man wat in die vloot sou dien, het prins George baie jare lank diens gedoen onder bevel van sy oom prins Alfred, Hertog van Edinburg, wat in Malta gestasioneer was. Daar het hy verlief geraak op sy niggie prinses Marie van Edinburg. Sy ouma, vader en oom het die verhouding goedgekeur, maar sy eie en Marie se moeder was daarteen. Die Prinses van Wallis het gedink die familie is te pro-Duits, en die Hertogin van Edinburg het nie van Engeland gehou nie. Die hertogin, die enigste dogter van Aleksander II van Rusland, was gebelgd deur die feit dat sy, as die vrou van die jonger seun van die Britse monarg, sou moes terugstaan vir George se moeder, die Prinses van Wallis, wie se vader 'n mindere Duitse prins was voordat hy onverwags koning van Denemarke geword het. Onder haar moeder se leiding het Marie George se huweliksaanbod van die hand gewys. Sy het daarna getrou met die toekomstige koning van Roemenië.[7]

George en Mary op hulle troudag.

In November 1891 het prins Albert Victor verloof geraak aan sy agterkleinniggie prinses Victoria Mary van Teck, wat in haar familie as "May" bekend was.[8] Haar ouers was Francis, die Hertog van Teck ('n lid van 'n morganatiese, jonger seun se tak van die Huis van Württemberg), en prinses Mary Adelaide van Cambridge, 'n kleindogter van George III en 'n niggie van koningin Victoria.[9]

Op 14 Januarie 1892, ses weke ná die amptelik verlowing, is prins Albert Victor tydens 'n grieppandemie aan longontsteking oorlede, en George was nou die tweede aanspraakmaker op die troon en die moontlike opvolger van sy vader. George het self pas herstel van ingewandskoors, die siekte wat vermoedelik sy oupa prins Albert se lewe geëis het.[10] Koningin Victoria het Mary steeds as 'n paslike vrou vir 'n kleinseun beskou, en George en May het geheg aan mekaar geraak gedurende hulle gesamentlike routydperk.[11]

'n Jaar ná Albert Victor se dood het George Mary om haar hand gevra en sy het ja gesê. Hulle is op 6 Julie 1893 in die Sint James-paleis getroud. Hulle het deur hulle hele lewe toegewy aan mekaar gebly. George, wat moeilik sy gevoelens verbaal kon uitspreek, en Mary het dikwels liefdesvolle briewe uitgeruil.[12]

Hertog van York

[wysig | wysig bron]
Saam met sy kinders, Edward, Albert en Mary. Foto deur sy moeder, Alexandra, 1899.

Die dood van sy ouer broer het George se vlootloopbaan beëindig, omdat hy nou die tweede aanspraakmaker op die troon was, ná sy vader.[13] Koningin Victoria het George op 24 Mei 1892 die Hertog van York, Graaf van Inverness en baron Killarney gemaak,[14] en hy het lesse in grondwetlike geskiedenis ontvang.[15]

Die Hertog en Hertogin van York het vyf seuns en 'n dogter gehad. Volgens Randolph Churchill was George 'n streng vader en was sy kinders bang vir hom. George het glo vir die Graaf van Derby gesê: "My pa was bang vir sy ma, ek was bang vir my pa en gaan deksels seker maak my kinders is bang vir my." In werklikheid is daar geen direkte bron vir dié opmerking nie en sy styl as ouer was waarskynlik maar soos die meeste mense s'n in dié tyd.[16]

Die gesin het meestal in York Cottage gewoon,[17] 'n relatief klein huis in Sandringham, Norfolk, waar hulle eerder 'n gerieflike middelklasbestaan gevoer het as een van koninklikes.[18] George het 'n eenvoudige, byna stil, lewe verkies in teenstelling met die lewendige sosiale lewe van sy vader. Hy het 'n groot rol gespeel in die opbou van die Koninklike Filatelieversameling in die omvattendste versameling seëls van Brittanje en die Statebond in die wêreld.[19]

In Oktober 1894 is George se ma se swaer, Aleksander III van Rusland, dood. Op versoek van sy pa, "uit respek vir die arme, liewe oom Sasja se nagedagtenis", is hy saam met sy ouers na Sint Petersburg vir die begrafnis.[20] Hulle het in Rusland gebly vir die troue van die nuwe Russiese keiser, Nikolaas II, sy ma se susterskind, en een van George se niggies aan vaderskant, prinses Alix van Hesse-Darmstadt, wat eens beskou is as 'n paslike bruid vir George se ouer broer.[21]

Prins van Wallis

[wysig | wysig bron]
George in 1901 in Montreal en Quebec.

As Hertog van York het George 'n groot verskeidenheid pligte uitgevoer. Ná die dood van koningin Victoria op 22 Januarie 1901 het sy vader die troon as koning Edward VII bestyg.[22] George het die titel Hertog van Cornwallis geërf en was vir 'n groot deel van die res van die jaar bekend as die Hertog van Cornwallis en York.[23]

In 1901 het die hertog en hertogin deur die Britse Ryk getoer, onder meer deur Gibraltar, Malta, Ceylon, Singapoer, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Kanada. Die toer is deur die koloniale minister Joseph Chamberlain gereël met die steun van die premier, lord Salisbury, om die dominions te beloon vir hulle deelname aan die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 in Suid-Afrika. George het duisende spesiaal ontwerpte medaljes aan koloniale troepe uitgedeel. In Suid-Afrika het die koninklike groep burgerleiers, Afrikaleiers en Boeregevangenes ontmoet. Hulle is onthaal met uitspattige versierings, duur geskenke en vuurwerkvertonings. Desondanks was nie alle burgers tevrede met die toer nie. Baie Afrikaners was gebelgd daaroor. Kritici in die Engelse pers het die enorme koste afgekeur in 'n tyd toe baie gesinne finansieel swaargekry het.[24]

Skildery deur Tom Roberts van die hertog wat die eerste parlementsitting van Australië op 9 Mei 1901 open.

In Australië het George die eerste Australiese parlementsitting geopen ná die skepping van die Statebond van Australië.[25]

Op 9 November 1901 het George die Prins van Wallis en Graaf van Chester geword.[26][27] Koning Edward wou sy seun voorberei op sy toekomstige rol as koning. In teenstelling met Edward, vir wie koningin Victoria met opset van staatsake uitgesluit het, het George by sy vader algemene toegang tot staatsdokumente gekry.[13][28] George het weer sy vrou toegang tot die dokumente gegee,[29] want hy het haar raad hooggeag en sy het dikwels gehelp om sy toesprake te skryf.[30]

Van November 1905 tot Maart 1906 het George en May deur Brits-Indië getoer, waar hy ontstel is deur rassediskriminasie en hy 'n beroep gedoen het dat Indiërs groter betrokkenheid kry in die land se regering.[31] Feitlik direk daarna het die egpaar na Spanje gereis vir die troue van koning Alfonso XIII met George se niggie Victoria Eugénie van Battenberg. Hier het die bruid en bruidegom ternouernood aan die dood ontkom in 'n sluipmoordaanval. 'n Week nadat hulle na Brittanje teruggekeer het, het George en May na Noorweë gereis vir die kroning van koning Haakon VII, George se neef, en koningin Maud, George se suster.[32]

Bewind

[wysig | wysig bron]
Portret deur Fildes, 1911.

Op 6 Mei 1910 het Edward VII gesterf en het George koning geword. Hy het nooit van sy vrou se gewoonte gehou om dokumente as Victoria May te onderteken nie en het haar gevra om net een van die name te gebruik. Nie een het gehou van die idee dat sy as koningin Victoria bekend sal wees nie en sy het dus koningin Mary geword.[33]

Die koning en koningin by die Delhi Durbar, 1911.

George het beswaar aangeteken teen die anti-Katolieke bewoording van die troonopvolgingsverklaring wat hy op sy eerste parlementsopening moes voorlees. Hy het geweier om die parlement te open tensy die bewoording verander word. Die verklaring is toe verkort en verander.[34]

George en Mary se kroning was op 22 Junie 1911 in die Westminster-abdy.[13] In Julie het die koning en koningin Ierland vir vyf dae besoek, waar hulle hartlik ontvang is.[35][36] Later in 1911 het hulle na Indië gereis vir die Delhi Durbar, waar hulle op 12 Desember 1911 aan hooggeplaastes voorgestel is as die keiser en keiserin van Indië. George was die enigste keiser van Indië wat by sy eie Delhi Durbar teenwoordig was.

Eerste Wêreldoorlog

[wysig | wysig bron]
'n Spotprent van 1917 wys hoe George sy Duitse titels wegvee.

Op 4 Augustus 1914 het Brittanje oorlog teen Duitsland verklaar. Tot in 1918 was Brittanje en sy bondgenote in 'n oorlog met die Sentrale Moondhede onder leiding van die Duitse Keiserryk gewikkel. Die keiser, Wilhelm II, wat vir die Britse publiek al die afgryse van die oorlog versinnebeeld het, was George se neef. George se oupa aan vaderskant was prins Albert van Sakse-Koburg en Gotha; die koning en sy kinders het dus die titels prinse en prinsesse van Sakse-Koburg en Gotha en hertoë en hertoginne van Sakse gehad. Koningin Mary was, hoewel sy nes haar ma in Engeland gebore is, die dogter van die Hertog van Teck, 'n afstammeling van die Duitse hertoë van Württemberg. George het swaers en neefs gehad wat Britse onderdane was, maar Duitse titels gehad het, soos die Hertog en Hertogin van Teck, prins en prinses van Battenberg, en prins en prinses van Sleeswyk-Holstein. Toe H.G. Wells van Brittanje se "buitelandse en oninspirerende hof" skryf, het George geantwoord: "Ek is dalk oninspirerend, maar ek is verdomp nie buitelands nie."[37]

Op 17 Julie 1917 het George Britse nasionalistiese gemoedere gekalmeer deur 'n koninklike verordening uit te reik waarin die naam van die koningshuis van die Huis van Sakse-Koburg en Gotha verander is na die Huis van Windsor.[38] Hy en al sy Britse familielede het afstand van hulle Duitse titels gedoen en Engelsklinkende vanne aangeneem. George het sy manlike familielede vergoed deur vir hulle Britse titels te gee. Sy neef prins Louis van Battenberg, wat vroeër in die oorlog as First Sea Lord moes bedank weens anti-Duitse sentimente, het Louis Mountbatten, 1ste Markies van Milford Haven, geword. Koningin Mary se broers het Adolphus Cambridge, 1ste Markies van Cambridge, en Alexander Cambridge, 1ste Graaf van Athlone, geword.[39]

George V (regs) en sy neef Nikolaas II van Rusland in Mei 1913 in Duitse uniforms.

In 'n patentbrief van 11 Desember 1917 het die koning die aanspreekvorm "Koninklike Hoogheid" en "prins (of prinses) van Groot-Brittanje en Ierland" beperk tot die kinders van die koning, die kinders van die seuns van die koning en die oudste lewende seun van die seun van die Prins van Wallis.[40] George se familielede wat aan die Duitse kant geveg het, soos Ernest Augustus, kroonprins van Hannover, en Charles Edward, Hertog van Sakse-Koburg en Gotha, se Britse titels is in 1919 weggeneem.

Toe tsaar Nikolaas II van Rusland, George se neef, in die Russiese Rewolusie van 1917 omvergewerp word, het die Britse regering asiel aan hom en sy familie aangebied, maar verslegtende omstandighede vir die Britse volk en die vrees dat 'n rewolusie in Brittanje kan uitbreek, het George laat dink die teenwoordigheid van die Romanofs sou as onvanpas beskou word.[41] Ondanks die latere bewerings van lord Mountbatten van Birma dat die premier, Lloyd George, teen die redding van die Romanofs was, dui die briewe van lord Stamfordham daarop dat dit George was wat die idee teengestaan het ondanks die raad van sy regering.[42] Nikolaas en sy gesin het in Rusland gebly, waar hulle in 1918 deur die Bolsjewiste vermoor is. Die volgende jaar is Nikolaas se moeder, Maria Fjodorowna, en ander lede van die uitgebreide Russiese keiserlike familie deur 'n Britse oorlogskip van die Krim af gered.[43]

Twee maande ná die einde van die oorlog is die koning se jongste seun, prins John, op 13-jarige ouderdom dood nadat hy sy lewe lank siek was.[44]

Ná die oorlog

[wysig | wysig bron]
Die Britse Ryk het sy territoriale hoogtepunt in 1920 bereik.[45]

Voor die Eerste Wêreldoorlog is die meeste lande in Europa regeer deur familielede van George, maar gedurende en ná die oorlog is die monargieë Oostenryk, Duitsland, Griekeland en Spanje, net soos Rusland, deur rewolusie en oorlog getref. In Maart 1919 is luitenant-kolonel Edward Lisle Strutt in opdrag van die koning gestuur om die voormalige keiser Karel I van Oostenryk en sy gesin in veiligheid na Switserland te bring.[46] In 1922 is 'n skip van die Britse vloot na Griekeland gestuur om sy neef en kleinniggie, prins en prinses Andreas (prins Philip se ouers) te red.[47]

Politieke onrus het ook in Ierland voortgeduur terwyl die nasionaliste vir onafhanklikheid geveg het; George het sy afsku teenoor die premier, Lloyd George, uitgespreek oor die moorde en vergeldingsmaatreëls wat deur die regering goedgekeur is.[48] Op die openingsessie van die parlement van Noord-Ierland op 22 Junie 1921 het die koning 'n beroep om versoening gedoen in 'n toespraak wat deur generaal Jan Smuts help skryf en deur Lloyd George goedgekeur is.[49] 'n Paar weke later is op 'n gewapende vrede besluit.[50] Samesprekings tussen Brittanje en die voorstanders van afskeiding het gelei tot die Anglo-Ierse Verdrag.[51] Teen die einde van 1922 was Ierland verdeel, die Ierse Vrystaat gestig en Lloyd George nie meer premier nie.[52]

Die koning en sy raadgewers was bekommerd oor die opkoms van sosialisme en die groeiende arbeidersbeweging, wat hulle verkeerdelik met republikanisme verbind het. Die sosialiste het egter nie meer in hulle antimonargistiese slagspreke geglo nie en was bereid om die monargie te aanvaar as dit die eerste stap sou neem. George het 'n demokratieser, inklusiewe houding aangeneem wat oor klasgrense gestrek en die monargie nader aan die werkersklas gebring het – 'n drastiese stap deur die koning, wat op sy gemaklikste was tussen vlootoffisiere en mense van die hoër stand. Hy het vriendskaplike bande aangeknoop met gematigde politici van die Arbeidersparty en vakbondleiers. Sy afstanddoening van sosiale afsydigheid het die familie se houding op peil gebring en hulle gewildheid verhoog in die ekonomiese krisisse van die laat 1920's en vir meer as twee geslagte daarna.[53][54]

In die jare tussen 1922 en 1929 was daar dikwels veranderings in die regering. In 1924 het George die eerste premier van die Arbeidersparty, Ramsay MacDonald, aangestel nadat nie een van die drie grootste partye 'n volstrekte meerderhed behaal het nie. Sy taktiek om dit te doen (die premier het korter as 'n jaar gehou) het die vermoedens van die party se aanhangers uit die weg geruim dat hy teen hulle belang sou handel. Tydens die algemene staking van 1926 het George die regering van die Konserwatiewe Party van Stanley Baldwin afgeraai om opruiende aksie te neem.[55] Hy was beswaard oor voorstelle dat die stakers "rewolusionêre" was en het gesê: "Probeer om op hulle lone te lewe voordat jy hulle oordeel."[56]

By die premiers van die Britse Ryk op die Rykskonferensie in 1926. George is in die middel en die premier van Suid-Afrika, J.B.M. Hertzog, staan agter tweede van regs.

In 1926 het George 'n Rykskonferensie in Londen gehou waarop die ontwikkeling aanvaar is van die Britse dominions tot selfregerende "outonome gemeenskappe binne die Britse Ryk, met gelyke status, op geen manier ondergeskik aan mekaar nie". Daar is ook bepaal die opvolging van die troon mag nie verander word nie, tensy die parlemente van al die dominions en die parlement by Westminster saamstem.[13]

Aan die vooraand van die Groot Depressie het George in 1931 die vorming van 'n nasionale regering onder MacDonald en Baldwin aangemoedig,[57] en aangebied om die siviele lys (van koninklikes wat vir hulle dienste betaal word) te verklein om die begroting te laat klop.[57] Hy was bekommerd oor die opkoms in Duitsland van Adolf Hitler en die Naziparty.[58] In 1934 het George aan die Duitse ambassadeur gesê Duitsland is nou 'n gevaar vir die wêreld en dat daar beslis binne 10 jaar 'n oorlog sal wees as Duitsland teen die huidige pas voortgaan; hy het die Britse ambassadeur in Berlyn gewaarsku om agterdogtig te wees teenoor die Nazi's.[59]

Die konings se Kersboodskap, 1934.

In 1932 het George ingestem om 'n koninklike Kersboodskap oor die radio uit te saai; dit het daarna 'n jaarlikse instelling geword. Hy was nie aanvanklik ten gunste daarvan nie, maar die regering het hom oortuig die volk wil dit hê.[60] Teen die tyd van sy silwerjubileum in 1935 was hy 'n geliefde koning. In reaksie op die skare se toejuiging het hy gesê: "Ek verstaan dit nie; ek is eintlik maar 'n baie gewone soort ou."[61]

George se verhouding met sy oudste seun en erfgenaam, Edward, het in dié jare agteruitgegaan. George was teleurgesteld omdat Edward nie tot rus kon kom nie en was ontsteld oor sy baie verhoudings met getroude vroue.[13] In teenstelling hiermee was hy dol oor sy tweede oudste seun, prins Albert (later George VI), en baie lief vir sy oudste kleindogter, prinses Elizabeth; hy het haar die bynaam "Lilibet" gegee en sy het hom liefderyk "Grandpa England" genoem.[62]

In 1935 het George van Edward gesê: "As ek dood is, sal die seun homself binne 12 maande vernietig." Van prins Albert en Elizabeth het hy gesê: "Ek bid my oudste seun sal nooit trou en kinders hê nie, en dat niks sal kom tussen Bertie en Lilibet en die troon nie".[63][64]

Gesondheid en dood

[wysig | wysig bron]
Portret deur Arthur Stockdale Cope, 1933.

Die Eerste Wêreldoorlog het sy tol geëis wat Gorge se gesondheid betref. Hy is ernstig beseer toe hy op 28 Oktober 1915 van sy perd gegooi is terwyl hy soldate in Frankryk geïnspekteer het,[65] en sy rookgewoonte het asemhalingsprobleme veroorsaak. Hy het aan chroniese brongitis gely. In 1925 het hy op bevel van sy dokters teensinnig op 'n privaat vaart op die Middellandse See vertrek ter wille van sy gesondheid. Dit was sy derde reis oorsee sedert die oorlog en sy laaste.[66] In November 1928 het hy ernstig siek geword aan bloedvergiftiging en Edward het die volgende twee jaar baie van sy pligte oorgeneem.[67] In 1929 het die koning 'n voorstel van nog 'n ruskans oorsee "in taamlike sterk taal" van die hand gewys.[68] In die plek daarvan het hy vir drie maande in die kusoord Bognor in Sussex gaan bly.[69]

George het nooit heeltemal herstel nie. In sy laaste jaar het hy suurstof ontvang.[70] Die dood van sy gunstelingsuster, prinses Victoria, in Desember 1935 het hom baie depressief gemaak. Op die aand van 15 Januarie 1936 het George na sy slaapkamer in Sandringham House gegaan nadat hy van 'n verkoue gekla het; hy het tot met sy dood in die kamer gebly.[71] Hy het geleidelik swakker geword en was soms by sy bewussyn en soms nie.

Teen 20 Januarie was George naby aan die dood. Sy dokters het 'n verklaring uitgereik wat lui die koning nader die einde van sy lewe vreedsaam.[72][73] Sy hoofarts, lord Dawson van Penn, 'n voorstander van genadedood,[74] het in sy dagboek erken dat hy die koning se lewe beëindig het.[75][76][77] Dawson het geskryf hy het dit gedoen om die koning se waardigheid te red, om verdere spanning op die familie te voorkom en sodat George se dood net voor middernag in die oggenduitgawe van die koerant The Times aangekondig kon word in plaas van in die "minder gepaste" aandkoerante.[75][76] Nie koningin Mary, wat uiters godsdienstig was en dalk nie genadedood sou goedgekeur het nie, of die Prins van Wallis is geraadpleeg nie. Die koninklike familie wou nie hê die koning moes ly of dat hy kunsmatig aan die lewe gehou moes word nie, maar hulle het ook nie Dawson se optrede goedgekeur nie.[78]

George V is op 28 Januarie 1936 in Sint Goerge-kapel in Windsorkasteel begrawe.[79] Edward het voor die einde van die jaar geabdikeer en Albert het die troon as George VI bestyg.[80]

Nalatenskap

[wysig | wysig bron]
Standbeeld van George V op Koning Georgeplein buite die Brisbane-stadsaal.

George het nie daarvan gehou om vir portrette te poseer nie[13] en ook nie van moderne kuns nie; hy was so ontevrede oor een portret deur die skilder Charles Sims dat hy opdrag gegee het dat dit verbrand word.[81] Hy het die beeldhouer Bertram Mackennal bewonder wat standbeelde van hom gemaak het, asook William Reid Dick, wie se standbeeld van George V buite Westminster-abdy in Londen staan.[13]

Hoewel hy en koningin Mary soms deur die Britse Ryk gereis het, het hy verkies om by die huis te bly en seëls te versamel of te jag. Sy lewe was volgens latere biograwe redelik vervelig omdat dit so konvensioneel was.[82] Hy was nie intellektueel nie: Nadat hy een aand die opera bygewoon het, het hy geskryf: "Is na Covent Garden en het Fidelio gesien, en dit was verdomp vervelig."[83]

George was baie toegewy aan Brittanje en sy Ryk.[84] Hy het verduidelik: "Dit was altyd my droom om my met die wonderlike idee van Ryk te identifiseer."[85] Hy het hardwerkend voorgekom en is bewonder deur die inwoners van Brittanje en die Ryk, sowel as die "establishment".[86] In die woorde van die historikus David Cannadine was koning George V en koningin Mary 'n "onskeibaar toegewyde paartjie" wat "karakter" getoon en "gesinswaardes hoog gehou het".[87]

George het 'n gedragstandaard vir die Britse koninklikes daargestel wat die waardes van die hoër middelklas weerspieël het en nie van die hoër stand nie.[88] Binne sy grondwetlike perke het hy 'n reeks krisisse bekwaam hanteer: Ierland, die Eerste Wêreldoorlog en die eerste sosialistiese minderheidsregering in Brittanje.[13] Hy was 'n tradisionalis wat nooit die rewolusionêre veranderings verstaan of goedgekeur het wat in die Britse gemeenskap plaasgevind het nie.[89] Hy het egter sy gesag uitgeoefen as 'n mag van neutraliteit en verandering wat sy rol beskou het as bemiddelaar eerder as finale besluitnemer.[90]

Wapens

[wysig | wysig bron]
Wapen as die Hertog van York
Wapen as die Prins van Wallis
Wapen as koning van die Verenigde Koninkryk (Soos buite Skotland gebruik)
Wapen as koning van die Verenigde Koninkryk (Soos in Skotland gebruik)
Wapen as koning van Kanada vanaf 1921

Kinders

[wysig | wysig bron]
Naam Gebore Oorlede Notas
Edward, die Prins van Wallis
later Edward VIII
23 Junie 1894 28 Mei 1972 Later die Hertog van Windsor; getroud met Wallis Simpson; geen kinders
Prins Albert, die Hertog van York
later George VI
14 Desember 1895 6 Februarie 1952 Getroud met lady Elizabeth Bowes-Lyon; het kinders gehad
Prinses Mary, Gravin van Harewood 25 April 1897 28 Maart 1965 Getroud met Henry Lascelles, 6de Graaf van Harewood; het kinders gehad
Prins Henry, Hertog van Gloucester 31 Maart 1900 10 Junie 1974 Getroud met lady Alice Montagu-Douglas-Scott; het kinders gehad
Prins George, Hertog van Kent 20 Desember 1902 25 Augustus 1942 Getroud met prinses Marina van Griekeland en Denemarke; het kinders gehad
Prins John 12 Julie 1905 18 Januarie 1919 Dood aan siektetoevalle

Stamboom

[wysig | wysig bron]
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Prins Albert van Sakse-Koburg en Gotha
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Edward VII van die Verenigde Koninkryk
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Victoria van die Verenigde Koninkryk
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 George V 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Christiaan IX van Denemarke
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Prinses Alexandra van Denemarke
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Louise van Hesse-Kassel
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 


Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Clay, p. 39; Sinclair, pp. 46–47
  2. Sinclair, pp. 49–50
  3. Clay, p. 71; Rose, p. 7
  4. Rose, p. 13
  5. Keene, Donald (2002), Emperor of Japan: Meiji and his world, 1852–1912, Columbia University Press, pp. 350–351 
  6. Clay, p. 92; Rose, pp. 15–16
  7. Pope-Hennessy, pp. 250–251
  8. Rose, pp. 22–23
  9. Rose, p. 29
  10. Rose, pp. 20–21, 24
  11. Pope-Hennessy, pp. 230–231
  12. Sinclair, p. 178
  13. 13,0 13,1 13,2 13,3 13,4 13,5 13,6 13,7 Matthew, H.C.G. (September 2004; aanlyn, Mei 2009) "George V (1865–1936)" Geargiveer 23 Januarie 2013 op Wayback Machine, Oxford Dictionary of National Biography, Oxford University Press, doi:10.1093/ref:odnb/33369, besoek op 1 Mei 2010 (inskrywing nodig)
  14. Clay, p. 149
  15. Clay, p. 150; Rose, p. 35
  16. Rose, pp. 53–57; Sinclair, p. 93 ff
  17. Renamed from Bachelor's Cottage
  18. Clay, p. 154; Nicolson, p. 51; Rose, p. 97
  19. The Royal Philatelic Collection, Official website of the British Monarchy, archived from the original on 15 April 2012, https://web.archive.org/web/20120415133541/https://www.royal.gov.uk/The%20Royal%20Collection%20and%20other%20collections/TheRoyalPhilatelicCollection/History.aspx, besoek op 1 May 2010 
  20. Clay, p. 167
  21. Rose, pp. 22, 208–209
  22. Rose, p. 42
  23. Rose, pp. 44–45
  24. Buckner, Phillip (November 1999), "The Royal Tour of 1901 and the Construction of an Imperial Identity in South Africa", South African Historical Journal 41: 324–348, doi:10.1080/02582479908671897 
  25. Rose, pp. 43–44
  26. "No. 27375". The London Gazette. 9 November 1901. p. 7289.
  27. Previous Princes of Wales, Household of HRH The Prince of Wales, https://www.princeofwales.gov.uk/titles-and-heraldry, besoek op 19 March 2018 
  28. Clay, p. 244; Rose, p. 52
  29. Rose, p. 289
  30. Sinclair, p. 107
  31. Rose, pp. 61–66
  32. Rose, pp. 67–68
  33. Pope-Hennessy, p. 421; Rose, pp. 75–76
  34. Wolffe, John (2010), Brown, Callum G.; Snape, Michael F., eds., Secularisation in the Christian World, Farnham, Surrey: Ashgate Publishing, pp. 63–64, ISBN 978-0-7546-9930-9 
  35. Rayner, Gordon (10 November 2010), "How George V was received by the Irish in 1911", The Telegraph, https://www.telegraph.co.uk/news/uknews/theroyalfamily/8121389/How-George-V-was-received-by-the-Irish-in-1911.html 
  36. "The queen in 2011 ... the king in 1911", the Irish Examiner, 11 May 2011, http://www.irishexaminer.com/analysis/the-queen-in-2011-the-king-in-1911-154342.html, besoek op 13 August 2014 
  37. Nicolson, p. 308
  38. "No. 30186". The London Gazette. 17 Julie 1917. p. 7119.
  39. Rose, pp. 174–175
  40. Nicolson, p. 310
  41. Nicolson, p. 301; Rose, pp. 210–215; Sinclair, p. 148
  42. Rose, p. 210
  43. Clay, pp. 355–356
  44. Pope-Hennessy, p. 511
  45. Rein Taagepera (September 1997), "Expansion and Contraction Patterns of Large Polities: Context for Russia", International Studies Quarterly 41 (3): 475–504, doi:10.1111/0020-8833.00053, http://www.escholarship.org/uc/item/3cn68807, besoek op 28 December 2018 
  46. "Archduke Otto von Habsburg", The Daily Telegraph (London, UK), 4 July 2011, https://www.telegraph.co.uk/news/obituaries/royalty-obituaries/8616240/Archduke-Otto-von-Habsburg.html, besoek op 4 April 2018 
  47. Rose, pp. 347–348
  48. Nicolson, p. 347; Rose, pp. 238–241; Sinclair, p. 114
  49. Mowat, p. 84
  50. Mowat, p. 86
  51. Mowat, pp. 89–93
  52. Mowat, pp. 106–107, 119
  53. Prochaska, Frank (1999), "George V and Republicanism, 1917–1919", Twentieth Century British History 10 (1): 27–51, doi:10.1093/tcbh/10.1.27 
  54. Kirk, Neville (2005), "The Conditions of Royal Rule: Australian and British Socialist and Labour Attitudes to the Monarchy, 1901–11", Social History 30 (1): 64–88, doi:10.1080/0307102042000337297 
  55. Nicolson, p. 419; Rose, pp. 341–342
  56. Rose, p. 340; Sinclair, p. 105
  57. 57,0 57,1 Rose, pp. 373–379
  58. Nicolson, pp. 521–522; Owens, pp. 92–93; Rose, p. 388
  59. Nicolson, pp. 521–522; Rose, p. 388
  60. Sinclair p. 154
  61. Sinclair, p. 1
  62. Pimlott, Ben (1996), The Queen, John Wiley and Sons, ISBN 978-0-471-19431-6 
  63. Ziegler, Philip (1990), King Edward VIII: The Official Biography, Londen: Collins, p. 199, ISBN 978-0-00-215741-4 
  64. Rose, p. 392
  65. Windsor, pp. 118–119
  66. Rose, pp. 301, 344
  67. Ziegler, pp. 192–196
  68. Arthur Bigge, 1ste baron Stamfordham, aan Alexander Cambridge, 1ste Graaf van Athlone, 9 Julie 1929; aangehaal in Nicolson p. 433 en Rose, p. 359
  69. Pope-Hennessy, p. 546; Rose, pp. 359–360
  70. Bradford, Sarah (1989), King George VI, London, UK: Weidenfeld and Nicolson, p. 149, ISBN 978-0-297-79667-1 
  71. Pope-Hennessy, p. 558
  72. The Times (Londen), 21 Januarie 1936, p. 12, col. A
  73. Rose, p. 402
  74. Lelyveld, Joseph (28 November 1986), "1936 Secret is out: Doctor sped George V's death", The New York Times: A1, A3, PMID 11646481, https://www.nytimes.com/1986/11/28/world/1936-secret-is-out-doctor-sped-george-v-s-death.html, besoek op 18 September 2016 
  75. 75,0 75,1 Watson, Francis (1986), "The death of George V", History Today 36: 21–30, PMID 11645856 
  76. 76,0 76,1 Ramsay, J.H.R. (28 May 1994), "A king, a doctor, and a convenient death", British Medical Journal 308 (6941): 1445, doi:10.1136/bmj.308.6941.1445, PMID 11644545  (inskrywing nodig)
  77. Matson, John (1 Januarie 2012). Sandringham Days: The Domestic Life of the Royal Family in Norfolk,1862–1952. The History Press. ISBN 9780752483115.
  78. "Doctor murdered Britain's George V", Observer-Reporter, 28 November 1986, https://news.google.com/newspapers?nid=2519&dat=19861128&id=bkZiAAAAIBAJ&pg=2197,3764364, besoek op 18 September 2016 
  79. Rose, pp. 404–405
  80. "No. 34350". The London Gazette. 15 Desember 1936. p. 8117.
  81. Rose, p. 318
  82. Bv. Harold Nicolson se dagboek, soos aangehaal deur Sinclair, p. 107; Best, Nicholas (1995), The Kings and Queens of England, Londen, VK: Weidenfeld & Nicolson, p. 83, ISBN 0-297-83487-8 ; Lacey, Robert (2002), Royal, Londen, VK: Little, Brown, p. 54, ISBN 0-316-85940-0 
  83. Pierce, Andrew (4 August 2009), "Buckingham Palace is unlikely shrine to the history of jazz", The Telegraph (Londen), https://www.telegraph.co.uk/culture/music/rockandjazzmusic/5967347/Buckingham-Palace-is-unlikely-shrine-to-the-history-of-jazz.html, besoek op 11 February 2012 
  84. Clay, p. 245; Gore, p. 293; Nicolson, pp. 33, 141, 510, 517
  85. Harrison, Brian (1996), The Transformation of British Politics, 1860–1995, pp. 320, 337 
  86. Gore, pp. x, 116
  87. Cannadine, David (1998), History in our Time, p. 3 
  88. Harrison, p. 332; "The King of England: George V", Fortune: 33, 1936 
  89. Rose, p. 328
  90. Harrison, pp. 51, 327

Aangehaalde bronne

[wysig | wysig bron]

Nog leesstof

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]