Cornelis Tromp
Cornelis Tromp | |
---|---|
| |
Geboortedatum | 9 September 1629 |
Geboorteplek | Rotterdam, Holland, Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande |
Sterfdatum | 29 Mei 1691 (61 jaar oud) |
Sterfplek | Amsterdam, Holland, Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande |
Lojaliteit | Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande (1643–1676, 1678–1691) Denemarke (1676–1678) |
Diens/Tak | Nederlandse vloot Deense vloot |
Jare in diens | 1643–1691 |
Rang | Admiraal-generaal (Denemarke) Luitenant-admiraal-generaal (Nederlandse Republiek) |
Veldslae/oorloë | Eerste Anglo-Nederlandse Oorlog Tweede Anglo-Nederlandse Oorlog Derde Anglo-Nederlandse Oorlog Skonse Oorlog |
Toekennings | Orde van die Olifant |
Familie | Maarten Tromp (vader) |
Cornelis Tromp (9 September 1629 in Rotterdam – 29 Mei 1691 in Amsterdam) was 'n Nederlandse admiraal uit die 17de eeu, veral bekend vir sy deelname aan verskeie groot seegevegte tydens die Anglo-Nederlandse Oorloë. Hy is die seun van Maarten Tromp, 'n ander beroemde admiraal.[1]
Hy het sy eerste groot sukses behaal tydens die Eerste Engelse Oorlog (1652–1654), waar hy geveg het onder die bevel van sy vader. Gedurende die Tweede Anglo-Nederlandse Oorlog (1665-1667) het Cornelis Tromp as vise-admiraal gedien en was hy betrokke by verskeie groot gevegte teen die Engelse vloot. Een van sy bekendste veldslae tydens hierdie tydperk was die Vierdaagse Seegeveg (11 tot 14 Junie 1666), waarin hy onder bevel van admiraal Michiel de Ruyter die Engelse vloot suksesvol gekonfronteer het. Tromp se verhouding met die gewilde De Ruyter was egter gespanne, en die twee het verskeie kere gebots oor taktiese kwessies en persoonlike aspirasies.
Tromp was 'n voorstander van Orangisme en in 1672, tydens die rampspoedige Frans-Nederlandse Oorlog, was hy persoonlik betrokke by die moordkomplot teen die prominente politikus Johan de Witt en sy broer Cornelis de Witt. Die nuwe leier van die Republiek, Willem III, het daarin geslaag om Tromp met die nuut aangestelde luitenant-admiraal-generaal Michiel de Ruyter te versoen en tydens die voortsetting van die Frans-Nederlandse Oorlog en die Derde Anglo-Nederlandse Oorlog (1672-1674) het Tromp sowel Franse kusgebiede aangeval as die Engelse vloot in verskeie seegevegte verslaan.
In 1676 het hy 'n aanbod van die Deense koning Frederik III aanvaar om as admiraal in die Deense vloot te dien. Hy het tydens die Skonse Oorlog (1675–1679) gehelp om die Deense vloot te versterk en het 'n belangrike rol gespeel in die stryd teen die Sweedse vloot. Tromp se tyd in die Deense vloot het sy reputasie as 'n bekwame en dapper vlootbevelvoerder verder versterk, en hy het bygedra tot verskeie Deense oorwinnings tydens hierdie konflik.
Op 6 Februarie 1679 word Cornelis Tromp as luitenant-admiraal-generaal van die Republiek aangestel. Hy sou sy posisie egter nie so geniet nie: hy het meer van 'n las as 'n steun vir Willem III geword en hy sou nooit weer 'n vloot aanvoer nie. In April 1684 word hy as opperbevelhebber opgevolg deur Cornelis Evertsen die Jongste.
Cornelis Tromp is op 29 Mei 1691 in Amsterdam oorlede en is in Delft begrawe. Hy was getroud met 'n vermoënd weduwee, Margaretha van Raephorst, en hul privaat landgoed staan as Trompenburgh bekend.
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- Prud'homme van Reine, R. (2001). Schittering en schandaal (in Nederlands). Amsterdam: De Arbeiderspers. ISBN 978-9-02953-5724.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Cornelis Tromp.
- ↑ Cornelis Maartenszoon Tromp Britannica