Gaan na inhoud

Constantius II

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Constantius II
Keiser van die Romeinse Ryk
’n Borsbeeld van Constantius II.
’n Borsbeeld van Constantius II.
Caesar 8 November 324 - 9 September 337
Augustus 9 September 337 – 3 November 361
Gebore 7 Augustus 317
Sirmium, Serwië
Oorlede 3 November 361 (op 44)
Mopsuestia, Sisilië
Volle naam Flavius Julius Constantius[1]
Voorganger Konstantyn I
Opvolger Julianus
Dinastie Konstantynse
Vader Konstantyn I
Moeder Fausta

Constantius II (Flavius Julius Constantius; Grieks: Κωνστάντιος, Konstantios; 7 Augustus 317 - 3 November 361) was van 337 tot 361 keiser van die Romeinse Ryk. Tydens sy bewind was daar voortdurende grensoorloë teen die Sassanidiese Ryk en Germaanse volke, terwyl die Romeinse Ryk intern dikwels burgeroorlog en troonrowery moes deurstaan. Sy godsdiensbeleide het binnelandse konflik aangeblaas wat ná sy dood sou voortduur.

Bewind

[wysig | wysig bron]

Hy was die tweede oudste seun van Konstantyn die Grote en sy vrou, Fausta, en is in 324 deur sy pa caesar gemaak. Konstantyn is ’n jaar later dood en toe het Constantius die titel augustus met sy twee broers, Konstantyn II en Constans, gedeel. Hy het dadelik agt van sy familielede, die seuns van sy oupa se tweede vrou, laat vermoor om sy mag te konsolideer.[2][3]

Die broers het die ryk tussen hulle verdeel,[4] en Constantius het die oostelike provinsies gekry, insluitende Konstantinopel, Thracië, Klein-Asië, Sirië en Egipte. Konstantyn en Constans het die westelike provinsies tussen hulle verdeel.[5]

In 340 het Konstantyn en Constans gebots oor die westelike provinsies. Konstantyn is in die konflik gedood en Constans het oorgebly as heerser van die hele weste. In 350 is Constans deur die troonrower Magnentius omvergewerp en vermoor.

Constantius was nie gewillig om Magnentius as medeheerser te aanvaar nie en het ’n burgeroorlog teen hom gevoer. Hy het hom in 351 en 353 verslaan. Magnentius het daarna selfmoord gepleeg en Constantius het as die enigste heerser van die Romeinse Ryk oorgebly. In 351 het Constantius sy neef Constantius Gallus tot die ondergeskikte rang van caesar opgehef om in die ooste te heers, maar het hom drie jaar later laat teregstel nadat hy verslae gekry het oor sy gewelddadige en korrupte persoonlikheid. In 355 het Constantius sy laaste oorlewende neef, Gallus se jonger halfbroer, Julianus, tot caesar verhef.

Constantius was ’n Ariaanse Christen, het heidene laat vervolg en diskriminerende wette teen Jode uitgevaardig. Sy militêre veldtogte teen die Germane was suksesvol. Die oorlog teen die Sassanidiese Ryk, wat sedert 350 in felheid afgeneem het, het in 359 opnuut opgevlam en in 360 het Constantius na die ooste gereis om stabiliteit te herstel ná die verlies van verskeie grensforte. Julianus het egter in dieselfde jaar die titel augustus opgeëis. Nadat Constantius Julianus nie kon oorreed om daarvan af te sien nie, het oorlog tussen die twee uitgebreek. Geen veldslag het egter plaasgevind nie, want Constantius het siek geword en is op 3 November 361 in Mopsuestia aan koors dood. Hy het Julianus voor sy dood as sy regmatige opvolger aangewys.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. CIL 06, 40776 = AE 1934, 00158 = AE 1950, 00174 = AE 1951, 00102 = AE 1982, 00011
  2. X. Lucien-Brun, "Constance II et le massacre des princes," Bulletin de l'Association Guillaume Budé ser. 4 (1973): 585–602; Joe W. Leedom, "Constantius II: Three Revisions," Byzantion 48 (1978): 132–145, en Michael DiMaio en Duane Arnold, "Per Vim, Per Caedem, Per Bellum: A Study of Murder and Ecclesiastical Politics in the Year 337 A.D," Byzantion, 62(1992), 158ff. Aangehaal in DiMaio and Frakes.
  3. Zosimus, New History II.57-8
  4. Odahl, C.M., Constantine and the Christian Empire (2004), p. 275
  5. Zosimus, New History II.57

Skakels

[wysig | wysig bron]