Gaan na inhoud

Aleksei Petrowitsj, tsarewitsj van Rusland

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Hierdie naam is volgens die Oos-Slawiese gebruik; die patroniem is Petrowitsj en die van is Romanof.

Aleksei Petrowitsj
Tsarewitsj
Portret van Aleksei deur Bernhard Christoph Francke.
Portret van Aleksei deur Bernhard Christoph Francke.
Huis Romanof
Vader Pieter I van Rusland
Moeder Ewdokia Lopoechina
Gebore 28 Februarie [O.S. 18 Februarie] 1690,
Moskou, Rusland
Oorlede 7 Julie [O.S. 26 Junie] 1718,
Fort van Petrus en Paulus, Sint Petersburg
Eggenote Charlotte Christine van Brunswyk-Lüneburg
Kinders Natalia Aleksejewna
Pieter II van Rusland

Aleksei Petrowitsj Romanof (Russies: Алексе́й Петро́вич; 28 Februarie [O.S. 18 Februarie] 1690 – 7 Julie [O.S. 26 Junie] 1718) was ’n Russiese tsarewitsj. Hy is in Moskou gebore as die seun van tsaar Pieter die Grote en sy eerste vrou, Ewdokia Lopoechina. Aleksei en sy pa het nie langs dieselfde vuur gesit nie en nadat Pieter druk op hom geplaas het om óf sy pligte ordentlik na te kom óf afstand van die troon te doen, het Aleksei na Wene gevlug, waar hy die beskerming van sy swaer, die Romeinse keiser, gevra het.

Dit was vir Pieter ’n groot vernedering en hy het iemand gestuur om Aleksei terug te bring Rusland toe op voorwaarde dat hy hom sou vergewe en toelaat om ’n rustige lewe te lei. Aleksei is egter met sy aankoms in Rusland in hegtenis geneem, gemartel en ondervra. Nadat hy "beken" en sy vriende geïmpliseer het, is hulle tydens ’n terreurveldtog wreed vermoor. Pieter het ’n raad van hooggeplaastes gevra om oor sy seun se toekoms te besluit, en hulle het hom aan verraad skuldig bevind en ter dood veroordeel. Voor sy teregstelling is Aleksei agter aan wonde dood wat hy tydens sy marteling opgedoen het.

Kinderlewe

[wysig | wysig bron]

Die jong Aleksei is deur sy ma grootgemaak, wat ’n atmosfeer van minagting vir Pieter die Grote, Aleksei se pa, geskep het. Aleksei het as gevolg daarvan nie ’n goeie verhouding met Pieter gehad nie. Nadat Pieter sy vrou na ’n klooster weggestuur het, het Aleksei buitelandse onderwysers gehad wat hom geskiedenis, aardsrykskunde, wiskunde en Frans geleer het.

Latere lewe

[wysig | wysig bron]
Groothertogin Charlotte van Rusland.

In 1703 is Aleksei gelas om by die weermag aan te sluit. Pieter het van sy seun en erfgenaam verwag om sy lewe aan Rusland te wy en die land se nuwe rykdom en mag te bevorder. Gou was daar verdere konflik tussen pa en seun.

Nadat hy sy opvoeding voltooi het, is Aleksei op 14 Oktober 1711 met prinses Charlotte Christine van Brunswyk-Lüneburg getroud. Een van die huweliksvoorwaardes was dat hul kinders in die Ortodokse geloof grootgemaak sou word, maar dat sy Protestants kon bly – ’n ooreenkoms wat nie gewild was by Aleksei se volgelinge nie.

Aanvanklik het dit goed gegaan, maar ná net ses maande het die krake begin wys. Aleksei was permanent dronk en het sy vrou beledig en in die openbaar geïgnoreer. Kort daarna het sy pa hom na Toruń in Pole gestuur en hy was die volgende 12 maande voortdurend aan die beweeg. In April 1712 is hy gelas om na Pommere te gaan en in die herfs van dieselfde jaar is hy saam met sy pa op ’n toer deur Finland.

Aleksis in 1703.

Hy en Charlotte het twee kinders gehad: Natalia Aleksejewna en Pieter Akleksejewitsj. Pieter sou later keiser Pieter II van Rusland word. Sy dood in 1730 het ’n einde gebring aan die regstreekse manlike lyn van die Huis van Romanof.

Ná die geboorte van Natalia in 1714 het Aleksei sy Finse lyfeiene-minnares, Afrosinia,[1] na die paleis gebring om daar te kom woon.

Selfbannelingskap

[wysig | wysig bron]

Onmiddellik ná hul terugkeer van Finland af het Pieter die Grote Aleksei na Staraja Roessa en die Ladogameer gestuur om toesig te hou oor die bou van skepe. Dit was die laaste kommissie van Aleksei omdat sy pa ontevrede met sy prestasie en sy gebrek aan entoesiasme was. Charlotte is op 11 Oktober 1715 dood nadat sy die lewe aan hul seun, Pieter, geskenk het. Op die dag van die begrafnis het Pieter vir Aleksei ’n streng brief gestuur waarin hy hom gevra het om te begin belangstel in staatsake en gedreig het om hom te onterf. Aleksei het in sy antwoord aangebied om afstand van die troon te doen ten gunste van sy babaseun. Pieter het ingestem, maar op voorwaarde dat Aleksei ’n monnik word sodat hy nie ’n bedreiging vir die troon inhou nie.

Terwyl Aleksei besluit het wat om te doen, het sy pa op 26 Augustus 1716 van oorsee aan hom geskryf en gesê as hy tsarewitsj wil bly, moet hy dadelik by hom en die weermag aansluit. Aleksei het besluit om eerder saam met Afrosinia na Wene te vlug en het daar die beskerming van sy swaer, keiser Karel VI van die Heilige Romeinse Ryk gevra. Uit ’n brief van die keiser aan George I van Groot-Brittanje waarin hy sy raad vra, blyk die keiser het simpatie met Aleksei gehad en vermoed Pieter het moordgedagtes jeens sy seun.

Pieter het beledig gevoel. Die vlug van die tsarewitsj na ’n ander land was ’n skandaal en hy moes tot elke prys na Rusland teruggebring word. Dié moeilike taak is oorgelaat aan graaf Pieter Tolstoi, sy mees geslepe en gewetenlose dienaar.

Pieter I ondervra Aleksei tsarewitsj Aleksei Petrowitsj by Peterhof, ’n historiese skildery deur Nikolai Ge, 1871, Tretjakof-galery, Moskou.

Terugkeer

[wysig | wysig bron]

Aleksei was bereid om terug te keer op voorwaarde dat sy pa plegtig sweer hy sou hom nie straf nie, maar as ’n seun koester en hom toelaat om met Afrosinia te trou en ’n rustige lewe te lei.

Op 31 Januarie 1718 het die tsarewitsj in Moskou aangekom. Pieter het toe reeds besluit om ’n inkwisisie te hou. Op 18 Februarie is ’n "bekentenis" uit Aleksei gekry wat die meeste van sy vriende impliseer en daarna het hy in die openbaar afstand van die troon gedoen ten gunste van sy seun. ’n Wrede terreurveldtog het gevolg waarin die gewese tsarina, Ewdokia, uit haar klooster gesleep en in die openbaar verhoor is vir beweerde owerspel. Almal wat Aleksei op die een of ander manier bevriend het, is met pale deurboor of op die wiel gebreek terwyl hul vlees met rooiwarm tange geskeur of hul kaal rûe of voete stadig oor brandende kole gerooster is. Dit is alles gedoen om die reaksionêre te terroriseer en die tsarewitsj te isoleer.

In April 1718 is nog bekentenisse uit en oor Aleksei verkry. Dit sluit die woorde van Afrosinia in nadat sy ’n staatsgetuie geword het. Volgens haar met Aleksei vir haar gesê:

"Ek sal die ou burgers terugbring en vir my nuwes kies volgens my wil; wanneer ek die heerser word, sal ek in Moskou woon en Sint Petersburg verlaat sodat dit net nog ’n dorp is; ek sal nie skepe uitstuur nie; ek sal net vir verdediging troepe aanhou en teen niemand oorlog maak nie; ek sal tevrede wees met die ou grondgebiede. In die winter sal ek in Moskou woon en in die somer in Jaroslawl."

Ondanks dié en ander hoorsêgetuienis was daar geen feite wat enigiets bewys het nie. Die ergste wat bewys kon word, was dat Aleksei gewens het sy pa sterf. In Pieter se oë was Aleksei egter ’n selferkende en baie gevaarlike verraaier. Maar omdat hy belowe het om hom te vergewe en in vrede te laat lewe as hy na Rusland terugkeer, het hy die saak op 13 Junie 1718 aan ’n raad van kerkhoofde, senatore, ministers en ander hooggeplaastes opgedra.

Die kerkhoofde het onder meer verklaar Aleksei "het sy steun aan mense toegesê wat die antieke gebruike voorstaan en het met minagting gepraat van die nuwe gebruike wat sy pa ingestel het". Hulle het gereken dis ’n siviele saak en nie ’n kerklike een nie, en het die finale besluit aan die tsaar oorgelaat. Op 24 Junie het die senatore en die hof se landdroste Aleksei skuldig bevind en ter dood veroordeel. Maar Pieter was so desperaat om ’n sameswering te ontdek dat Aleksei se marteling en ondervraging voortgeduur het.

Op 19 Junie het die verswakte tsarewitsj 25 houe met die knoet gekry en op die 24ste nog 15. Op 26 Junie is Aleksei in die Fort van Petrus en Paulus in Sint Petersburg dood, twee dae nadat hy die doodstraf opgelê is omdat hy rebellie teen sy pa aangehits het en gehoop het op die samewerking van die gewone burgers en die gewapende ingryping van sy swaer, die Romeinse keiser.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Farquhar, Michael (2001). A Treasure of Royal Scandals, p.115. Penguin Books, New York. ISBN 0-7394-2025-9.

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Matthew S. Anderson, Peter the Great (Londen: Thames and Hudson, 1978).
  • Robert Nisbet Bain, The First Romanovs 1613–1725 (Londen, 1905).
  • Robert K. Massie, Peter the Great, His Life and World (New York: Ballantine, 1981).
  • B.H. Sumner, Peter the Great and the Emergence of Russia (Londen: 1950), ble. 91–100.
  • Lindsey Hughes, Russia in the Age of Peter the Great (New Haven en Londen: Yale University Press, 1998).

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]