Gaan na inhoud

Vlag van Venezuela

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Vlag van Venezuela
Vlag van Venezuela
Vlag van Venezuela
Gebruik Burgerlike vlag en vaandel Burgerlike vlag en vaandel
Verhouding 2:3
Goedgekeur 12 Maart 2006[1]
Ontwerp Drie horisontale bane in geel, blou en rooi met agt wit vyfpuntige sterre in ’n halfmaan in die blou baan.
Wisselvormvlag van Venezuela
Wisselvormvlag van Venezuela
Gebruik Staats- en Oorlogsvlag en Staats- en Vlootvaandel Staats- en oorlogsvlag en staats- en vlootvaandel
Verhouding 2:3
Goedgekeur 12 Maart 2006[1]
Ontwerp Drie horisontale bane in geel, blou en rooi met agt wit vyfpuntige sterre in ’n halfmaan in die blou baan en die land se wapenskild in die skildhoek.

Die nasionale vlag van Venezuela is op 12 Maart 2006 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon drie horisontale bane in geel, blou en rooi met agt wit vyfpuntige sterre in ’n halfmaan in die blou baan. Die ontwerp van die vlag is baie soortgelyk aan dié van Colombia en Ecuador wat ook voormalige samestellende gebiede van Groot-Colombia is. Al drie vlae is gebaseer op ’n voorstel van die Venezolaanse generaal Francisco de Midanda wat in 1811 deur Venezuela aanvaar is en later deur Groot-Colombia met ’n paar verstellings.

Simboliek

[wysig | wysig bron]

Kleure

[wysig | wysig bron]

Die kleure van die Venezolaanse vlag stel die volgende voor: geel stel die welvaart van die land voor, blou stel die territoriale water van Venezuela voor en rooi stel die bloed van die patriotte voor wat gevloei het in die onafhanklikheidstryd.

Sterre

[wysig | wysig bron]

Sewe van die agt sterre in die vlag simboliseer die sewe provinsies wat aan die begin van die negentiende eeu teen die Spanjaarde in opstand gekom het; Caracas, Cumaná, Barcelona, Barinas, Margarita, Mérida en Truillo. Die ander ster stel oorwinning en toekoms voor. Die agtste ster verwys moontlik ook na die Venezolaanse aanspraak op ’n groot deel van Guyana en Trinidad en Tobago.

Ontwerp

[wysig | wysig bron]

In die grondwet van Venezuela staan dat die hoogte-breedteverhouding 2:3 is en dat die vlag horisontaal verdeel is in drie gelyke bane in geel, blou en rooi. Die agt vyfpuntige sterre is in ’n boog waarvan die buitenste punte van die sterre hulle op die lyn van ’n sirkel staan. Artikel 3 van die Wet op Vaderlandsimbole (Ley de los Símbolos Patrios) stel dit so:

Die Nasionale Vlag is geïnspireer deur die vlag wat die Kongres in 1811 aangeneem het. Dit is gevorm deur due kleure geel, blou en rooi in verenigde bane, gelyk en in ’n horisontale volgorde van die voormelde kleure van bo na onder en in die middel van die blou baan agt wit sterre met vyf punte, geplaas in die boog van ’n sirkel met die konveks na bo.[2]
Konstruksietekening
Konstruksietekening

Kleure

[wysig | wysig bron]
Vlag van Venezuela op die kasteel La Galera, Juan Griego.

Hierdie wet lê geen benaming vir die kleure vas nie en bepaal ook nie die presiese kleure wat gebruik moet word nie. Aan die hand van verskeie bronne kan die volgende egter dien as riglyn:

Geel Blou Rooi
RGB (hex) 255-204-0 (#ffcc00ff) 0-36-125 (#00247dff) 207-20-43 (#cf142bff)
CMYK 0-20-100-0 100-71-0-51 0-90-79-19

Volgens die huidige interpretasie dui die kleure aan:

  •    Geel: Die rykdom van die land, die rykdom van die Venezolaanse grond, die goud, soewereiniteit, harmonie, geregtigheid en landbou, sowel as die son, die bron van lig.

  •    Blou: Die Karibiese See wat die land omring, sowel as die Venezolaanse strande.

  •    Rooi: Die bloed wat vir Venezuela se onafhanklikheid van Spanje gevloei het.


Protokol

[wysig | wysig bron]

Gebruike en regulasies

[wysig | wysig bron]
Monument vir die vlag in La Vela de Coro, waar Francisco de Miranda Rodríguez vir die eerste keer die nasionale vlag op die Venezolaanse vasteland gehys het.
Vlag van Venezuela waai by die hoofkwartier van die Nasionale gebou in Barquisimeto.

Soos met die meeste ander nasionale vlae moet die Venezolaanse vlag daagliks van 7:00 tot 18:00 vertoon word deur die wetlik geregistreerde openbare instellings. Privaatinstellings, besighede en burgers behoort die vlag op nasionale vakansiedae te vertoon te word, of op dae wat deur die nasionale uitvoerende gesag vasgestel is. Instellings wat verplig is om die vlag te vertoon, is:

  • die Federale Wetgewende Palys wanneer die Nasionale Vergadering in sitting is en geboue waarin ’n wetgewende raad gehou word;
  • openbare nasionale, staats- en munisipale kantore op openbare vakansiedae en ander dae soos vasgestel deur ’n besondere besluit van die relevante owerhede;
  • ambassades, gesantskappe, konsulate en ander nasionale agente in die buiteland, op nasionale vakansiedae of soos verlang deur die gasnasie;
  • Miraflores-palys, die gebou waarin die kantoor van die President van die Bolivariaanse Republiek Venezuela is;
  • Geboue van die weermag, forte en ander militêre geboue soos vasgestel deur die wet en geldende voorskrifte; en
  • Venezolaanse koopvaardyskepe wat die burgerlike vaandel gebruik, aangesien hulle in ’n burgerlike kapasiteit optree.

Daar is tans geen regulasie wat die dimensies van die vlag, die gebruik binne privaat of openbare instellings of deur die publiek in die algemeen, die vorm en protokol, reguleer nie. Die verdrae wat bestaan is vrylik vasgestel. Nietemin volg opvoedkundige instellings tans ’n protokol wat geskoei is op regulasies wat vir die weermag uitgevaardig is om die vlag op spesiale dae te hys.

Uit respek vir die vlag behoort die volkslied gespeel te word en alle teenwoordiges behoort op aandag te staan en die hoed van die hoof te verwyder.

Vou van die vlag

[wysig | wysig bron]

Hoewel daar geen regulasie is oor die vou van die vlag nie, is daar, soos in ander lande, ’n prosedure met wydverspreide aanvaarding in skole, verkennersgroepe en militêre instellings. Die oorsprong is nie bekend nie, maar daar is verskeie moontlikhede, soos dat die “vouprotokol” oorgeneem is van ander lande. In die Venezolaanse geval is daar twee maniere waarop die vlag opgevou kan word, afhangend van of dit ’n burgerlike of staatsvlag is.

  • Vir die staatsvlag word die vlag gestryk en geneem na die plek waar dit gevou gaan word. Dit word deur ten minste twee mense aan die vier punte gehou. Die rooi baan word oor die blou baan gevou en die geel baan weer daaroor sodat die geel baan met die wapen bo is en die blou baan met die sterre onder. Die vlag word dan na onder in ’n driehoek gevou van die wapperkant na die vlagpaalkant sodat die oorblywende materiaal aan die einde ingevou word en slegs ’n geel driehoek met die wapenskild oorbly.
  • Vir die burgerlike vlag word die vlag ook gestryk soos hierbo maar die geel baan word hier eerste ingevou en dan die rooi baan sodat die blou baan met die sterre na onder wys. Die vlag word dan na bo in ’n driehoek gevou sodat dit uitloop op ’n blou driehoek met sterre.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Oorspronklike vlag

[wysig | wysig bron]
Detail van Die Slag van Carabobo (1887) deur Martín Tovar y Tovar

Die vlag is in wese steeds dieselfde as die een wat deur Francisco de Miranda ontwerp is vir sy mislukte ekspedisie in 1806 om Venezuela te bevry en wat in 1811 deur die Nasionale Kongres aangeneem is. Dit het bestaan uit drie horisontale bane in geel, blou en rooi. Miranda se vlag is ook die inspirasie vir die vlae van Colombia en Ecuador. Die oorspronklike ontwerp is vir die eerste keer op 12 Maart 1806 vertoon in Jacmel, Haïti, toe Miranda se ekspedisie voorbereidings getref het vir die laaste been van hul tog na Venezuela. Die vlag is vir die eerste keer op 3 Augustus 1806 op Venezolaanse bodem vertoon by La Vela de Coro. Tot 2006 is Vlagdag in Venezuela op 12 Maart gevier, maar sedertdien is dit op 3 Augustus.

Miranda het ten minste twee inspirasies vir sy vlag gelys. In ’n brief aan graaf Simon Romanowitsj Woronzof in 1792 sê Miranda dat die kleure gebaseer is op die teorie van primêre kleure wat deur die Duitse skrywer en filosoof Johann Wolfgang von Goethe gegee is. Miranda het ’n laataand-gesprek wat hy met Goethe tydens ’n feestelikheid in die winter van 1785 in Weimar gehad het, beskryf. Goethe was in so ’n mate bekoor deur Miranda se wedervaringe in die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog en sy reise deur Europa en die Amerikas, dat hy aan Miranda gesê het “Jou lot is om in jou land ’n plek te skep waar die primêre kleure nie versteur is nie.” Miranda verduidelik in die brief wat Goethe bedoel het:

Hy het eers aan my verduidelik hoe die iris lig in die drie primêre kleure opbreek […] waarna hy gewys het waarom geel die warmste, edelste en naaste aan [wit]lig is; waarom blou ’n mengsel van opwinding en helderheid, ’n afstand wat skadu’s oproep; en waarom rooi die verheerliking van geel en blou is, die sintese, die verdwyning van lig in die skadu.

Dit is nie so dat die wêreld uit geel, blou en rooi bestaan nie; dit is dat die mens op hierdie manier, asof met ’n oneindigende kombinasie van hierdie drie kleure, die wêreld sien. […] [Goethe se gevolgtrekking was dat] ’n Land begin met ’n naam en ’n vlag en soos wat die mens se lot vervul, so word die land daardie simbole.


Nadat Miranda later sy vlag ontwerp het met hierdie gesprek as basis, het hy hom herinner dat hy ’n muurskildery deur Lazzaro Tavarone in die Palazzo Belimbau in Genua gesien het wat Christophorus Columbus afgebeeld het waar hy ’n soortgelyk gekleurde vlag ontrol in Veragua gedurende sy vierde reis.[3]

In sy militêre dagboek gee Miranda ’n ander moontlike inspirasie vir sy vlag: die geel, blou en rooi van die vaandel val Hamburg se Bürgerwache, wat hy ook gesien het tydens sy reise in Duitsland.[4][5]

In 1801 se plan vir ’n weermag om Spaans-Amerika te bevry wat sonder sukses deur Miranda ingedien is by die Britse kabinet, het hy materiaal versoek vir “tien vlae waarvan die kleure rooi, blou en geel in drie sones sal wees.”[6]

Die simboliek wat aanvanklik aan die kleure toegeskryf is, is dat die geel die rykdom van die grond voorstel, rooi stel moed voor en blou stel die onafhanklikheid van Spanje voor, of kortweg: “goue” Amerika geskei van bloedige Spanje deur die diep blou see.

19de-eeuse veranderinge

[wysig | wysig bron]

Gedurende die eerste helfte van die 19de eeu is sewe sterre tot die vlag toegevoeg wat die sewe ondertekenaars van die Venezolaanse onafhanklikheidsverklaring, nl. Caracas, Cumaná, Barcelona, Barinas, Margarita, Mérida en Trujillo.

Na die veldtog van Guayana het Simón Bolívar ’n agtste ster tot die nasionale vlag toegevoeg (die sogenaamde vlag van Angostura) in verteenwoordiging van die nuutbevryde provincie. Bolívar het die volgende verordening uitgevaardig:

Simón Bolívar. Opperleier van die Republiek en Gesagvoerder van die weermagte van Venezuela en Nueva Granada. Sedert die aantal provinsies wat die Republiek Venezuela opmaak vermeerder het, het die nasionale vlag van Venezuela ook een ster meer as simbool vir die provinsie van Guayana. Daar sal dus van nou af agt sterre op die vlag wees. Deur my onderteken en gestempel met die land se amptelike stempel in die regeringspaleis in die stad van Angorusta op 20 November 1817.[7]

Veranderinge van 1954

[wysig | wysig bron]

Die Wet op die Nasionale Vlag, Wapenskild en Volkslied het die wapenskild tot die vlag toegevoeg op 19 Februarie 1954. Die wapenskild is nie tot die burgerlike of vlootvaandel toegevoeg, wat bedoel is vir nie-regeringsdoeleindes soos burgerlike gebruik, koopvaardyskepe en internasionale sportkompetisies, nie.

Veranderinge van 2006

[wysig | wysig bron]

In 2006 het president Hugo Chávez planne aangekondig om ’n agtste ster tot die vlag toe te voeg om ’n late nakoming van Bolívar se verordening van 1817 te vervul. Die agtste ster verteenwoordig die Guayana Provinsie, een van die provinsies van Venezuela ten tyde van die onafhanklikheidsverklaring. Hoewel die nuwe vlag deur die Venezolaanse regering goedgekeur is, het dit ’n mate van kontroversie veroorsaak. Ten tyde van die onthulling van die vlag het Óscar Pérez, ’n woordvoerder vir die Nasionale Weerstandsbeheer verklaar dat die opposisie nie die nuwe vlag sou gebruik nie.[8]

Die opposisie het gekla oor die noemenswaardige koste verbonde aan die aanpassing teen 2011 van alle vlae en daarmee saam alle dokumente waarop die vlag of die wapenskild verskyn, soos deur die regering voorgestel. Die regering het egter gesê dat die voorgestelde datum van 2011 genoegsame tyd voorsien vir die infasering van die nuwe vlag deur burgers, besighede en ander organisasies.

Die verandering van die perd op die wapenskild het ook ’n mate van kontroversie veroorsaak onder die opposisie, kommentators en komediante wat opgemerk het dat die perd se “hardloop na links” ’n minder subtiele refleksie is van Chávez se linkse politieke neigings. Die nuwe wet noem slegs dat die rigting van die perd te make het met “onafhanklikheid en vryheid”.

Met die afsluiting van die Mej. Heelal 2010-skoonheidskompetisie, het Stefanía Fernández, die wenner van 2009 ’n Venezolaanse vlag met sewe sterre vertoon.[9]

Ander vlae

[wysig | wysig bron]

Ooreenkomste met ander vlae

[wysig | wysig bron]
Die vlae van Colombia, Ecuador en Venezuela

Die vlae van Colombia, Ecuador en Venezuela kan elkeen teruggetrek word na die vlag van die nasie Groot-Colombia (1819–1830), die kortstondige republiek wat die gebied van al drie lande beslaan het. Die vlag van Groot-Colombia is geïnspireer deur die vlag van die Eerste Republiek Venezuela, die eerste onafhanklike regering van daardie nasie. Die vlag van die Venezolaanse Republiek is geïnspireer die vlag wat vroeër deur generaal Francisco de Miranda geskep is in sy pogings om onafhanklikheid vir Venezuela te verkry. Hierdie vlag is in 1806 oor die hawe van La Vela in Santa Ana de Coro, Venezuela, vertoon.[10]

Die vlae van Colombia, Ecuador en Venezuela gebruik al drie die geel, blou en rooi driekleur maar dit is waar die ooreenkomste eindig. In ’n dekreet wat in 1934 in Colombia uitgevaardig is, is die bane vasgestel in ’n verhouding van 2:1:1 en die vlag in ’n verhouding van 2:3, soortgelyk aan die huidige vlag van Ecuador. Die wapenskild word egter slegs gebruik op vlae wat deur regeringsamptenare of militêre magte gebruik word.[11] Vir Venezuela was die basiese ontwerp om die drie bane gelyk in die vertikaal te hê, anders as dié van Ecuador en Colombia. Sedert 1863 het Venezuela egter besluit om hul vlag met wit sterre te versier in plaas van ’n wapenskild. Daar is egter die opsie om die Venezolaanse vlag met die wapenskild op te vertoon. In 2006 is hierdie vlag verander deur een ster by te voeg en die wapenskild effens te verander. Die posisie van die wapenskild op die Venezolaanse vlag verskil ook van dié van Ecuador en Colombia deur in die skildhoek te wees, in plaas van in die middel van die vlag.[12]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 "Venezuela" (in Engels). Flags of the World. 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Maart 2019. Besoek op 21 Mei 2019.
  2. (es) "Wet op die Nasionale Vlag, Volkslied en Wapenskild van die Bolivariaanse Republiek Venezuela". 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Maart 2007. Besoek op 16 April 2013.{{cite web}}: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
  3. (es) Serpa Erazo, Jorge, [opsomming van Ricardo Silva Romero se] "La Bandera del Mundo." Geargiveer 12 Augustus 2007 op Wayback Machine Pañol de la Historia. Deel 1, Seksie 1 (30 Julie 2004). ISSN 1900-3447. URL besoek op 2 Desember 2008
  4. (es) Dousdebés, Pedro Julio, "Las insignias de Colombia," Boletín de historia y antigüedades, Augustus 1937, 462, aangehaal in Nelson González Ortega, "Formación de la iconografía nacional en Colombia: una lectura semiótico-social," Revista de Estudios Colombianos, No. 16 (1996), 20.
  5. (es) Miranda, Francisco; Josefina Rodríguez de Alonso and José Luis Salcedo-Bastardo (1983), Colombeia: Segunda sección: El viajero ilustrado, 1787–1788, 4, Caracas: Ediciones de la Presidencia de la República, p. 415, ISBN 84-499-6610-8, "19 April: […] Ongeveer 5:30 in die aand had ek die plesier om die Bürgerwache te sien verbygaan met wapperende vlae en ’n tromgeroffel, wat elke dag op presies dieselfde tyd gebeur […] Die [offisiere van die] infanterie het rooi aangehad met ’n geel embleem en die artillerie blou met ’n rooi embleem." 
  6. (es) Miranda, Francisco; Josefina Rodríguez de Alonso and José Luis Salcedo-Bastardo (1978), Colombeia: Primera parte: Miranda, súbdito español, 1750–1780, 1, Caracas: Ediciones de la Presidencia de la República, p. 80, ISBN 978-84-499-5163-3 
  7. "Vlag van Venezuela" (in Spaans). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 April 2020. Besoek op 14 April 2013.
  8. Morsbach, Greg (13 Maart 2006). "Nuwe Venezuela-vlag verdeel nasie" (html) (in Engels). BBC News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 19 September 2010.{{cite news}}: CS1 maint: date and year (link)
  9. (en) "Die slagvelde van Caracas". Investors Business Daily. 25 Augustus 2010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Augustus 2011. Besoek op 14 April 2013.
  10. (es) Rodríguez, Roberto (Julie 2001). "Die Colombiaanse vlag". Credencial Historia. Biblioteca Virtual del Banco de la República. Besoek op 27 Julie 2010.
  11. "Geskiedenis van die vlag" (in Spaans). President van die Republiek Colombia. 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Februarie 2012. Besoek op 24 Julie 2010.
  12. (es) "Ontwikkelingsgeskiedenis van die nasionale vlag". President van die Bolivariaanse Republiek Venezuela. 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Julie 2009. Besoek op 24 Julie 2010.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal.