Gaan na inhoud

Heilsleër

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Die Heilsleër is ‘n Christelike evangeliese organisasie wat besonder klem lê op maatskaplike opheffingswerk.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

In die Londen van die 1860’s was William Booth bekommerd oor die onbekeerde deel van die mensdom en die swak toestande waaronder die meeste van hulle geleef het. In sy boek Darkest England and the Way Out sit hy sy buitengewone metodes uiteen om sulke mense met die Evangelie te bereik. Eers het hy sy organisasie die Christian Revival Association genoem, maar dit in 1878 na die Salvation Army herdoop. Aanvanklik het dit kritiek, spot en teenstand ervaar, maar in 1904 spreek koning Edward VII sy bewondering vir Booth en sy doelstellings uit.

Organisasie

[wysig | wysig bron]

Die kerk se amptenare en lidmate is op ‘n militêre grondslag ingedeel en sterk dissipline is nagestreef. Alle amptenare (dus die geestelikes) het militêre range en titels gekry en die deelnemers (die lidmate) is as soldate beskou. Opvallend is die donker uniforms en die pette van die lede. Op die pette staan drie S’e. Dit verwys na soup, soap, salvation, voedsel, reinheid en redding. ‘n Kenmerk van hul byeenkomste is die optrede deur koperblaasorkeste. The War Cry, Die Strydkreet en Reporter is hul bekendste publikasies.

Aktiwiteite

[wysig | wysig bron]

Die Heilsleër kombineer die verkondiging van die Christelike geloof met ‘n praktiese uitleef van hul geloofsoortuiging. Dit word gedoen deur maatskaplike werk en hulpverlening aan hulle in die samelewing wat hulp nodig het, maar geen genoeg ondersteuners het nie. Sulke mense is dikwels plakkers, dakloses, psigiatriese pasiënte, bejaardes, prostitute, alkoholiste, verslaafdes en soms kinders. Die organisasie stry teen ongeloof, sonde, nood, leed, ellende, onverskilligheid, materialisme, geldsug en mensehandel. Maatskaplike dienste word dus gelewer by kinderhuise, kraaminrigtings, sopkombuise, arbeidsburo’s, mobiele klinieke, nagskuilings, gevangenisse, plakkerskampe, verbeteringskole en rehabilitasiesentrums. Steun word verleen aan slagoffers van gesinsgeweld en daar word gehelp met die opspoor van vermiste familielede. Behoeftige mense word meesal bereik deur straatwerk. Predikers het voorheen hul boodskap op sypaadjies aan verbygaande lede van die publiek verkondig en daarby het soms ‘n koor en ‘n orkes opgetree.

Suid-Afrika

[wysig | wysig bron]

Die organisasie is in 128 lande werksaam. Reeds in 1880 was hulle in die VSA en die 1881 in Kanada. Op 4 Maart 1883 is die eerste byeenkoms in Suider-Afrika in die Drilsaal in Loopstraat in Kaapstad onder leiding van majoor Francis Simmonds en sy vrou Rose en luitenant Alice Teager. In 1884 is ‘n tak in Port Elizabeth gestig en die jaar daarna in Durban. In 1888 is met sendingwerk onder die Zulu begin. Veral in Zululand was die blaasorkeste ‘n groot sukses. Booth besoek Suider-Afrika in 1891. Waarskynlik is die inrigting vir dranksugtiges by Muldersdrift buite Stellenbosch die bekendste aktiwiteit van die Heilsleër in Suid-Afrika. Die hoofkantoor en die opleidingskollege vir die offisiere is in Braamfontein.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • salvationarmy.org/ihq/southernafrica
  • salvationarmy.org.za
  • www.salvationarmy.org