Die Fobos-ruimteprogram (Russies: Фобос) was ’n onbemande sending van die Sowjetunie wat bestaan het uit twee ruimtetuie wat die planeet Mars en sy twee mane, Fobos en Deimos, moes verken. Hulle is op 12 Julie 1988 gelanseer. Albei tuie het groot tegniese foute ondervind.
Fobos 1 het gewerk tot op 2 September 1988. ’n Sagteware-probleem het kommunikasie beëindig. Fobos 2 het data oor die son, Mars en Fobos ingesamel. Net voor die finale fase van die sending, waartydens twee landingstuie vrygelaat sou word, is kontak met die tuig verloor weens ’n rekenaarfout.