Gaan na inhoud

Andries Treurnicht

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf A.P. Treurnicht)
Andries Treurnicht
Andries Treurnicht

Leier van die Konserwatiewe Party
Ampstermyn
1982 – 22 April 1993
Voorafgegaan deur pos geskep
Opgevolg deur Ferdinand Hartzenberg

Minister van Staatsadministrasie en Statistiek
Ampstermyn
1980 – 1982
Eerste minister P.W. Botha
Voorafgegaan deur Ferdinand Hartzenberg

Minister van Openbare Werke, Statistiek en Toerisme
Ampstermyn
1979 – 1980

Leier van die Nasionale Party in Transvaal
Ampstermyn
1978 – 1982

Adjunkminister van Meervoudige Betrekkinge en Ontwikkeling
Ampstermyn
1978 – 1979

Adjunkminister van Onderwys en Opleiding
Ampstermyn
1978 – 1979

Ampstermyn
1971 – 1993

Persoonlike besonderhede
Gebore 19 Februarie 1921
Piketberg, Kaapprovinsie
Sterf 22 April 1993 (op 72)
Kaapstad, Suid-Afrika
Politieke party Nasionale Party
(1971-1982)
Konserwatiewe Party (1982-1993)
Eggenoot/-note Engela Dreyer
Kind(ers) 4 dogters
Alma mater Universiteit Stellenbosch
Universiteit van Kaapstad
Religie Nederduitse Gereformeerde Kerk

Dr. Andries Petrus Treurnicht (19 Februarie 1921, Piketberg - 22 April 1993, Kaapstad) was ’n Suid-Afrikaanse kabinetsminister, leier van die Konserwatiewe Party, NG predikant, koerantredakteur en provinsiale rugbyspeler.

NG predikant

[wysig | wysig bron]

Hy is in 1943 as predikant gelegitimeer, waarna hy reisende sekretaris van die Christen-studentevereniging was. Hy was predikant op Oudtshoorn toe hy in 1949 vir Suidwestelike Distrikte as skrumskakel teen die All Blacks uitgedraf het. Tydens sy bediening as studenteleraar in die NG gemeente Rondebosch (1950-1954), behaal hy sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad oor Abraham Kuyper. Sy laaste twee gemeentes was Stellenbosch (1954-1958) en Pretoria (1958-1960).

Koerantredakteur

[wysig | wysig bron]

Op 1 Maart 1960 word hy aangestel as redakteur van die Kerkbode en druk gou sy stempel af toe hy standpunt inneem teen die besluite van die Cottesloe-kerkeberaad, wat op die Sharpeville-slagting gevolg het. Treurnicht word bekend as behoudende kerkman en ’n ondubbelsinnige ondersteuner van die regering se apartheidsbeleid. Hy het hom weekliks in die Kerkbode uitgelaat oor wat hy geglo het die kerk se standpunt behoort te wees en ook in sy boeke oor die politiek, waaronder Credo van ’n Afrikaner en Op die keper. Intussen maak hy opgang in die kerk en word mettertyd assessor van die Kaapse asook die Algemene Sinode.

In 1967 versoek eerste minister John Vorster hom om redakteur te word van die nuwe, regeringsgesinde Pretoriase middagblad, Hoofstad. Treurnicht aanvaar die aanstelling, maar weens sy uiters konserwatiewe standpunte bots hy meermale met die eerste minister.

Politikus

[wysig | wysig bron]

In die jare sewentig word hy Volksraadslid vir die Nasionale Party in die kiesafdeling Waterberg en later adjunkminister van Bantoe-onderwys. Hy neem ’n onbuigsame standpunt in tydens die Soweto-jeugopstand van 1976 met onder andere sy opdrag dat tegniese skoolvakke aan swart skole in Afrikaans gedoseer moet word.[1]

Vroeg in die jare tagtig word hy Transvaalse leier van die Nasionale Party en minister van staatsadministrasie. Weer bots hy met die eerste minister, dié keer P.W. Botha en wel oor sy onwrikbare standpunt dat apartheid sonder toegewings toegepas moet word. Uiteindelik bedank hy in 1982 uit die kabinet en die Nasionale Party en word stigterleier van die regse Konserwatiewe Party.

Die KP het in 1987 die Progressiewe Federale Party met meer as ’n kwart van die kiesers se steun as amptelike opposisie onttroon, en sy hoogtepunt tydens die "laaste blanke verkiesing" op 6 September 1989 bereik, met 41 uit 178 volksraadsetels en byna ’n derde van die kiesersteun.

Die politieke skrif was egter teen 1992 vir Treurnicht en sy Konserwatiewe Party aan die muur toe sy "nee"-standpunt (wat hom die bynaam van "Dr No" in die Engelse pers op die hals gehaal het) beslissend tydens die blanke referendum, wat president F.W. de Klerk uitgeroep het, verslaan is.

Treurnicht is op 22 April 1993 tydens 'n hartoperasie in Kaapstad oorlede. Dit volg kort na die KP 'n terugslag beleef het met die inhegtenisneming van Clive Derby-Lewis, 'n seniorlid van die party, vir die moord op Chris Hani. Sy voormalige adjunkminister, Ferdinand Hartzenberg, is ná sy dood as laaste leier van die Konserwatiewe Party verkies.

Van Treurnicht skryf dr. Frits Gaum ná sy dood: "Hierdie knap teoloog/filosoof, boeiende prediker, spreker en skrywer en wat in ’n stadium baie na aan die eersteministerskap van Suid-Afrika gekom het - het as ’n teleurgestelde mens gesterf."

Treurnicht se weduwee, Engela, het in 2020 aan Covid-19 gesterf. Sy was die tannie van die moderator van die NG Kerk se Hoëveldse Sinode, dr. André Bartlett, se vrou.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Gaum, Frits (hoofred.), Christelike Kernensiklopedie, Lux Verbi.BM, Wellington, 2008.
  • Gaum, Frits (red.), Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke 1990, Pretoria: Tydskriftemaatskappy van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1989.
  • Olivier, ds. P.L. (samesteller), Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers, 1952.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Robert Scott Jaster: South Africa’s Other Whites: Voices for Change. New York: Palgrave Macmillan 1993, bl. 3