Gaan na inhoud

Vladimir Horowitz

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Vladimir Horowitz

Vladimir Samoylovich Horowitz (/ˈhɒrəvɪts/; Russies: Владимир Самойлович Горовиц; Oekraïens: Володимир Самійлович Горовиць; Jiddisj: וולאדימיר סאַמוילאָוויטש האָראָוויץ‎; 1 Oktober [O.S. {{{3}}}] 18 September 1903 – 5 November 1989)[1] was 'n Amerikaanse klassieke pianis en komponis wat in die Russiese Ryk gebore is.[2] Hy was bekend vir sy virtuose tegniek, sy toonkleur en die opwinding wat met sy opvoerings gepaard gegaan het.[3] Hy word beskou as een van die grootste pianiste van alle tye.[4][5]

Lewe en vroeë loopbaan

[wysig | wysig bron]
Geboortesertifikaat van Vladimir Horowitz

Vladimir Horowitz is in Kiëf,[6] Russiese Ryk gebore (tans die hoofstad van die Oekraïne). Daar bestaan ongestaafde beweringe dat Horowitz in Berdychiv gebore is ('n stad naby Zhytomyr in Oekraïne), maar sy geboortesertifikaat konstateer egter op ondubbelsinnige wyse Kiëf as sy geboorteplek.[7]

Horowitz was die jongste van vier kinders in die huis van Samuil Horowitz en Sophia Bodik, wat geassimileerde Jode was. Samuil was 'n vooruitstrewende elektriese ingenieur en 'n verspreider van elektriese motors vir Duitse vervaardigers. Horowitz se oupa Joachim was 'n handelaar (en ondersteuner van die kunste) wat aan die Iste Gilde behoort het en derhalwe kwytgeskeld daarvan was om in die Russiese Vestigingsgebied vir Jode te woon. Horowitz is in 1903 gebore, maar ten einde hom as te jonk vir militêre diens te laat voorkom om te verhoed dat sy hande beseer word, het sy vader 'n jaar van sy seun se ouderdom afgetrek deur te beweer dat hy in 1904 gebore is. Diè datum het in baie verwysingswerke gedurende die pianis se lewe voorgekom.

Horowitz se oom Alexander was 'n leerling en hegte vriend van Skriabin.[8] Toe Horowitz tien jaar oud was, was daar gereël dat hy vir Scriabin speel, wat sy ouers meegedeel het dat hy besonders talentvol was.[9]

Horowitz het van 'n jong ouderdom instruksie in die klavier ontvang, aanvanklik van sy moeder, wat ook 'n pianis was. In 1912 het hy by die Kiev Konservatoria ingeskryf waar hy onderrig is deur Vladimir Puchalsky, Sergei Tarnowsky, en Felix Blumenfeld. Sy eerste solo uitvoering was in 1920 in Charkif.

Horowitz se roem het gegroei en het hy het gou begin om deur Rusland te toer, waar hy as gevolg van die ontberinge wat deur die Burgeroorlog veroorsaak was dikwels met brood, botter en sjokolade betaal is eerder as met geld.[10] Gedurende die 1922–23 seisoen het hy drie-en-twintig konserte van elf verskillende programme in Petrograd alleen opgevoer.[10] Ten spyte van sy vroeë sukses as pianis het Horowitz volgehou dat hy 'n komponis wou wees en slegs die loopbaan van 'n pianis aangeneem het ten einde sy familie te kan help, wat hul besittings gedurende die Russiese Rewolusie (1917) verloor het.[11]

In Desember 1925 het Horowitz na die Weste geëmigreer, oënskynlik om saam met Schnabel in Berlyn te studeer, maar met die geheime bedoeling om nooit weer terug te keer nie. Die 22-jarige pianis het Amerikaanse Dollars en Britse pondnote in sy skoene geprop ten einde sy aanvanklike konserte te finansier.[12]

Loopbaan in die Weste

[wysig | wysig bron]
Horowitz in 1931

Op 18 Desember 1925 het Horowitz sy eerste verskyning buite sy vaderland in Berlyn gemaak.[13] Hy het later in Parys, Londen, en New York Stad gespeel. Horowitz was deur die Sowjetse owerhede gekies om Oekraïne tydens die eerste Internasionale Chopin Klavierkompetisie in 1927 in Pole te verteenwoordig, maar hy het egter besluit om in die Weste te bly en gevolglik nie aan die kompetisie deelgeneem nie.[14]

Horowitz het sy Amerikaanse buiging op 12 Januarie 1928 in Carnegie Hall gemaak. Hy het Tsjaikofski se Klavierconcerto No. 1 onder leiding van Thomas Beecham gespeel, wat per abuis ook sy Amerikaanse buiging gemaak het. Horowitz het later gese dat hy en Beecham verskillende of uiteenlopende idees gehad het oor tempos en dat Beecham die partituur "vanuit sy geheue gedirigeer het en dat hy nie die stuk geken het nie". [15] Horowitz se rapport met sy gehoor was fenomenaal. Olin Downes, wat vir die The New York Times geskryf het, was krities oor die stryd tussen dirigent en solis, maar het Horowitz gekrediteer met beide 'n pragtige singende toon in die tweede beweging, en 'n geweldige tegniek in die finale, en het Horowitz se speelwerk 'n "tornado van die steppes losgelaat" genoem.[16] In sy debuutuitvoering het Horowitz 'n besondere vermoë getoon om sy gehoor opgewonde te maak, 'n vermoë wat hy vir sy gehele loopbaan onderhou het. Downes het geskryf, "dit is al jare sedert 'n pianis so 'n oproer veroorsaak het in 'n gehoor van hierdie stad." In sy resensie van Horowitz se solo uitvoering het Downes die pianis se speelwerk gekarakteriseer as die tentoonstelling van "die meeste, indien nie al die eienskappe, van 'n grootse interpreteerder."[17] In 1933 het Horowitz vir die eerste keer saam met die dirigent Arturo Toscanini gespeel tydens 'n uitvoering van Beethoven se Klavierconcerto No. 5. Horowitz en Toscanini sou voortgaan om baie kere saam op te voer, op verhoog en in opnames. Horowitz het hom in 1939 in die VSA gevestig en in 1944 'n burger van die land geword.[18] Hy het sy buiging op TV tydens 'n konsert op 1 Februarie 1968 gemaak wat by Carnegie Hall opgeneem is.

Ten spyte van geweldige ontvangste tydens uitvoerings het Horowitz al hoe meer onseker van sy vermoe as pianis begin word. Hy moes by verskeie geleenthede letterlik op die verhoog gestoot word. Hy het hom van 1936 tot 1938, 1953 tot 1965 en 1983 tot 1985 van openbare uitvoerings onttrek.

Repertorium, tegniek en styl

[wysig | wysig bron]
Horowitz in 1986

Horowitz is die bekendste om sy uitvoerings van die Romantiese klavierrepertoire. Baie[19] beskou Horowitz se opname van die Liszt Sonate in 1932 as die definitiewe interpretasie van daardie stuk, selfs na vyf-en-sewentig jare en oor die honderd uitvoerings wat op CD deur ander pianiste opgeneem is.[20] Ander stukke wat met Horowitz geassosieer word is Skriabin se Étude Op. 8 No. 12, Chopin se Ballade No. 1 in G mineur, en van Rachmaninoff se miniature, insluitend sy Polka de W.R. Horowitz is bekroon vir sy opnames van die Rachmaninoff Klavierconcerto No. 3, en sy uitvoering voor Rachmaninoff self het die komponis spraakloos gelaat, wat uitgeroep het "hy het dit heel ingesluk. Hy het die moed, die intensiteit, die gewaagdheid." Horowitz was ook bekend om sy uitvoeringe van meer intieme werke, insluitende Schumann se Kinderszenen, Scarlatti se klawerbordsonates, klawerbordsonates deur Muzio Clementi en verskeie Mozart- en Haydn sonates. Sy opnames van Scarlatti en Clementi word veral gewaardeer, en hy word daarmee gekrediteer dat hy gehelp het om belangstelling in die twee komponiste, wie se werke selde gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu uitgevoer is, te laat herleef.[21]

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was Horowitz 'n voorstander van kontemporêre Russiese musiek. Hy het die Amerikaanse debute van Prokofiëf se Klaviersonates Nos. 6, 7 en 8 (die sogenaamde "Oorlogsonates") en Dmitri Kabalefski se Klaviersonates Nos. 2 en 3 gegee. Horowitz het ook die eerste uitvoering van Samuel Barber se klaviersonate en Excursions gegee.

Hy is bekend om sy vertolkings van verskeie van Liszt se Hongaarse Rapsodieë. Die Tweede Rapsodie is in 1953 opgeneem gedurende Horowitz se 25ste herdenkingskonsert by Carnegie Hall; hy het gesê dat dit die moeilikste van sy rangskikkings was. Horowitz se noemenswaardige transkripsies sluit in sy komposisie Variasies op 'n Tema van Carmen en The Stars and Stripes Forever deur John Philip Sousa. Laasgenoemde het later 'n gunsteling by gehore geword wat dit as encore sou afwag. Behalwe vir transkripsies, was Horowitz nie gekant daarteen om die teks van komposisies te wysig om verbeterings aan te bring aan wat hy beskou het as "on-pianistiese" komposisies of strukturele lompheid nie. In 1940 het Horowitz met instemming van die komponis sy eie uitvoerings-weergawe van Rachmaninoff se Tweede klaviersonate van die oorspronklike 1913 en 1931-hersiene weergawe geskep, wat deur pianiste soos Ruth Laredo en Hélène Grimaud[22] gespeel is. Hy het Moessorgski se Skilderye by 'n Uitstalling herskryf om die werk meer effektief te maak, op grond daarvan dat Moessorgski nie 'n pianis was nie, en nie die moontlikhede van die instrument ingesien het nie. Horowitz het ook kort passasies in ander werke hersien, soos die vervanging van chromatiese skale in Chopin se Scherzo no. 1 in B mineur vir ineengeskakelde oktawe. Hierdie gebruik was in skerp kontras tot baie pianiste van die post-19de eeuse-era wat die komponis se wense as onaantasbaar beskou het. Lewende komponiste wie se werke Horowitz gespeel het (o.a. Rachmaninoff, Prokofiëf, en Poulenc) het sonder uitsondering Horowitz se uitvoerings van hul werk geprys wanneer hy hom sekere vryhede met hul partiture veroorloof het.

Horowitz se interpretasies is goed ontvang deur konsertgehore, maar nie deur sommige kritici nie. Virgil Thomson was bekend om sy konsekwente kritiek van Horowitz as 'n "meester van verwringing (verdraaiing) en oordrywing" in sy resensies wat in die New York Herald Tribune verskyn het. Horowitz het beweer dat hy Thomson se opmerkings as komplimente ervaar het, en het gesê dat Michelangelo en El Greco ook "meesters van verdraaiing" was.[23] In die 1980 uitgawe van Grove's Dictionary of Music and Musicians skryf Michael Steinberg dat Horowitz "illustreer dat 'n uitstaande instrumentale talent geen waarborg van musikale begrip gee nie." Die New York Times se musiekkritikus Harold C. Schonberg wys egter daarop dat resensente soos Thomson en Steinberg onbekend was met 19de eeuse uitvoerpraktyke, welke Horowitz se benadering onderlê het. Bykomend hiertoe, het verskeie pianiste soos Shura Cherkassky, Earl Wild, Lazar Berman, John Browning, Van Cliburn, Maurizio Pollini, Murray Perahia, Rudolf Firkušný, Claudio Arrau, Jefim Bronfman, en Horacio Gutiérrez, hoë agting vir Horowitz gehad.[24]

Horowitz se styl het dikwels uitgestrekte dinamiese kontraste bevat, met oorweldigende dubbele-fortissimos gevolg deur skielike delikate pianissimos. Hy kon 'n aardskuddende volume klank van die klavier produseer sonder om 'n harde en felle toon voort te bring. Hy het 'n buitengewone wye reeks tonale kleur verkry, en sy stywe, presiese aanval was merkbaar selfs in sy weergawes van tegnies nie-veeleisende stukke soos Chopin se Mazurkas. Hy is bekend vir sy oktaaftegniek; hy kon presiese passasies buitengewoon vinnig in oktawe speel. Toe hy deur die pianis Tedd Joselson gevra is hoe hy oktawe oefen, het Horowitz 'n demonstrasie gegee, en Joselson daarop soos volg gereageer, "Hy het hulle presies geoefen soos ons almal geleer is om te doen." Die musiekkritikus en biograaf Harvey Sachs het voorgestel dat Horowitz dalk "die begunstigde- en miskien ook die slagoffer- van 'n buitengewone sentrale senuweestelsel en 'n ewe groot sensitiwiteit tot tonale kleur was."[25] In sy boek, The Memoirs of an Amnesiac, skryf Oscar Levant dat Horowitz se oktawe "briljant, akkuraat en soos koeëls geëts" was. Hy het Horowitz gevra "of hy hulle vooruit verskeep het, of hulle saam met hom op toer gedra het."

Horowitz se handposisie was ongewoon omdat die handpalm dikwels onder die oppervlak van die sleutel(klawer)-oppervlak was. Hy het dikwels akkoorde met reguit vingers gespeel, en die kleinvinger van sy regterhand was dikwels opgekrul totdat dit nodig was om 'n noot te speel; vir Harold C. Schonberg, "was dit soos die toeslaan van 'n kobra." Nogtans het Horowitz selde sy hande hoër as die klavier gelig. Sy liggaam was onbeweeglik, en sy gelaatstrekke het selde enigiets anders as intense konsentrasie weerspieël.

Horowitz het verkies om op Sondae-middae te speel, aangesien hy gevoel het dat gehore meer gerus was, en meer aandagtig was as op weeksdae-aande.

Toekennings en pryse ontvang

[wysig | wysig bron]

Grammy vir Beste Klassieke Opvoering - Instrumentale Solis of Soliste (met of sonder orkes)

  • 1968 Horowitz in Concert: Haydn, Schumann, Scriabin, Debussy, Mozart, Chopin (Columbia 45572)
  • 1969 Horowitz on Television: Chopin, Scriabin, Scarlatti, Horowitz (Columbia 7106)
  • 1987 Horowitz: The Studio Recordings, New York 1985 (Deutsche Grammophon 419217)

Grammy vir Beste Solo-opvoering (met orkes)

  • 1979 Golden Jubilee Concert, Rachmaninoff: Piano Concerto No. 3 (RCA CLR1 2633)
  • 1989 Horowitz Plays Mozart: Piano Concerto No. 23 (Deutsche Grammophon 423287)

Grammy vir Beste Instrumentale Solo-opvoering (sonder orkes)

  • 1963 Columbia Records Presents Vladimir Horowitz
  • 1964 The Sound of Horowitz
  • 1965 Vladimir Horowitz plays Beethoven, Debussy, Chopin
  • 1966 Horowitz at Carnegie Hall – An Historic Return
  • 1972 Horowitz Plays Rachmaninoff (Etudes-Tableaux Piano Music; Sonatas) (Columbia M-30464)
  • 1973 Horowitz Plays Chopin (Columbia M-30643)
  • 1974 Horowitz Plays Scriabin (Columbia M-31620)
  • 1977 The Horowitz Concerts 1975/76 (RCA ARL1-1766)
  • 1979 The Horowitz Concerts 1977/78 (RCA ARL1-2548)
  • 1980 The Horowitz Concerts 1978/79 (RCA ARL1-3433)
  • 1982 The Horowitz Concerts 1979/80 (RCA ARL1-3775)
  • 1988 Horowitz in Moscow (Deutsche Grammophon 419499)
  • 1991 The Last Recording (Sony SK 45818)
  • 1993 Horowitz Discovered Treasures: Chopin, Liszt, Scarlatti, Scriabin, Clementi (Sony 48093)

Grammy vir Beste Klassieke Album:

  • 1963 Columbia Records Presents Vladimir Horowitz
  • 1966 Horowitz at Carnegie Hall: An Historic Return
  • 1972 Horowitz Plays Rachmaninoff (Etudes-Tableaux Piano Music; Sonatas)
  • 1978 Concert of the Century with Leonard Bernstein (conductor), the New York Philharmonic, Dietrich Fischer-Dieskau, Vladimir Horowitz, Yehudi *Menuhin, Mstislav Rostropovich, Isaac Stern, Lyndon Woodside
  • 1987 Horowitz: The Studio Recordings, New York 1985 (Deutsche Grammophon 419217)
  • 1988 Horowitz in Moscow (Deutsche Grammophon 419499)

Grammy vir Lewenslange Prestasie, 1990

Prix Mondial du Disque

  • 1970 Kreisleriana

Lukrake pryse/toekennings

  • 1972 – Erelid van die Koninklike Musiekakademie (Londen)[26]
  • 1982 – Wolf Foundation-prys vir musiek
  • 1985 – Commandeur de la Légion d'honneur van die Franse regering
  • 1985 – Merieteorde van die Italiaanse regering
  • 1986 – Verenigde State van Amerika se Presidensiële Vryheidsmedalje
  • 1988 – National Bow Tie League List of 10 Best Bow Tie Wearers of 1988[27]
  • 2012 – Gramophone Hall of Fame entrant[28]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Schonberg, Harold C. (1992). Horowitz: His Life and Music. Simon and Schuster. ISBN 0-671-72568-8
  2. "Vladimir Horowitz". Encyclopædia Britannica Online.
  3. Dubal, David (1989). The Art of the Piano. Amadeus Press. ISBN 1-57467-088-3.
  4. Merson, Francis (2012-07-05). "The 10 Greatest Pianists of All Time – 2. Vladimir Horowitz (1903–1989)". Limelight. Arts Illuminated Pty Ltd. bl. 9. Geargiveer van die oorspronklike op 2014-04-18. Besoek 2014-09-05
  5. Time. Michael Walsh, The Greatest Pianist of All?, 21 Julie 2008. Besoek op 3 Junie 2009.
  6. J. Silberman, J. Smilyanskaya. "Kiev Symphony Vladimir Horowitz
  7. Полновластный король, вечный странник-артист.... Interesting Kiev (in Russian). Interesniy.kiev.ua. 27 September – 3 Oktober 2003. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Oktober 2011. Besoek op 30 Desember 2011.{{cite web}}: AS1-onderhoud: onerkende taal (link) (Title translation: "Sovereign king, an eternal wanderer-artist...")
  8. Scriabin, a Biography Faubion Bowers, bl. 82
  9. A Little Nightmusic, Samuel Chotzinoff, bl. 36 Harper & Row, 1964
  10. 10,0 10,1 Plaskin, 1983, bls. 52, 56, 338–37, 353.
  11. Holland, Bernard (6 November 1989). "Vladimir Horowitz, Titan of the Piano, Dies". The New York Times (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Desember 2019. Besoek op 18 Maart 2010.
  12. Horowitz interview with Charles Kuralt, CBS News Sunday Morning
  13. Biography. Horowitz Berlin.
  14. Moshevich, Sofia (2004). Dmitri Shostakovich, Pianist. Montreal: McGill-Queen's University Press. p. 49. ISBN 0-7735-2581-5. Besoek op 8 November 2015.
  15. Opgeneemde onderhoud, 1982, intermissie tydens Londense uitvoering
  16. Olin Downes, New York Times, 13 Januarie 1928
  17. Olin Downes, New York Times, 21 Februarie 1928
  18. Vladimir Horowitz on Encyclopedia.com, besoek op 15 Januarie 2010
  19. Sien bv., Joachim Kaiser en Klaus Bennert, Grosse Pianisten in Unserer Zeit (1997)
  20. "Hierdie kolossale weergawe van Liszt se groot, allesomvattende toongedig vir klavier...is nooit werklik, wat betref die tegniese meesterlikheid daarvan, oortref nie." Sunday Times, 3rde Januarie 2010
  21. "Vladimir Horowitz biography" (in Engels). biography.yourdictionary.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Desember 2019. Besoek op 7 Junie 2012.
  22. Barnes & Noble. "Chopin, Rachmaninoff: Piano Sonatas". Barnes & Noble. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Maart 2012. Besoek op 8 November 2015.
  23. Plaskin, Glenn (1983). Biography of Vladimir Horowitz. UK: Macdonald. ISBN 0-356-09179-1
  24. Dubal, David (1993). Remembering Horowitz: 125 Pianists Recall a Legend. Schirmer Books. pp. 350–51. Preface Acknowledgments Introduction '......Van Cliburn ...Yefim Bronfman...Horacio Gutierrez......and Shura Cherkassky'
  25. Harvey Sachs, "Virtuoso", Thames and Hudson, 1982
  26. "The Horowitz Papers in the Irving S. Gilmore Music Library of Yale University". Besoek op 13 September 2009.
  27. Anthony Tommasini, Horowitz at 85: Still Playing Free, The New York Times, Sondag, 25 September 1988
  28. "Vladimir Horowitz (pianist)". Gramophone. Besoek op 11 April 2012.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Dubal, David (1989). The Art of the Piano. Amadeus Press. ISBN 1-57467-088-3.
  • Dubal, David (1991). Evenings with Horowitz: A Personal Portrait. Carol Publishers. ISBN 1-57467-086-7.
  • Epstein, Helen. Music Talks (1988) McGraw-Hill ('n omslagtige profiel van Horowitz wat in die New York Times tydskrif verskyn het, 1978)
  • Dubal, David (1993). Remembering Horowitz: 125 Pianists Recall a Legend. Schirmer Books. ISBN 0-02-870676-5.
  • Bernhard, Thomas (1991). The Loser: A Novel. Dawson, Jack (vert.). Universiteit van Chicago Uitgewers. ISBN 0-226-04388-6.
  • Plaskin, Glenn (1983). Biography of Vladimir Horowitz. UK: Macdonald. ISBN 0-356-09179-1
  • Schonberg, Harold C. (1992). Horowitz: His Life and Music. Simon and Schuster. ISBN 0-671-72568-8.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]