Gaan na inhoud

Vlag van die Verenigde Koninkryk

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Union Jack)
Vlag van die Verenigde Koninkryk
Vlag van die Verenigde Koninkryk
Vlag van die Verenigde Koninkryk
Bynaam (en) Union Jack
(en) Union Flag
(en) Royal Union Flag
(af) (Koninklike) Unievlag
Gebruik Nasionale vlag Nasionale vlag
Verhouding 1:2 (op see)
Goedgekeur 1 Mei 1707 (oorspronklike weergawe)
1 Januarie 1801 (huidige weergawe)
Ontwerp ’n Wit simmetriese rooi kruis met ’n wit fraiing op ’n blou veld met ’n wit fraiing in die ander skuinskruis van rooi en wit.
Wisselvormvlag van die Verenigde Koninkryk
Wisselvormvlag van die Verenigde Koninkryk
Gebruik Nasionale vlag Nasionale vlag
Verhouding 3:5 (op land)[1][2][3]
Ontwerp Variantvlag van die Verenigde Koninkryk.
Wisselvormvlag van die Verenigde Koninkryk
Wisselvormvlag van die Verenigde Koninkryk
Gebruik Burgerlike vaandel Burgerlike vaandel
Verhouding 1:2
Ontwerp ’n Rooi veld met die Unievlag in die skildhoek.
Wisselvormvlag van die Verenigde Koninkryk
Wisselvormvlag van die Verenigde Koninkryk
Gebruik Staatsvaandel Staatsvaandel
Verhouding 1:2
Ontwerp ’n Blou veld met die Unievlag in die skildhoek.
Wisselvormvlag van die Verenigde Koninkryk
Wisselvormvlag van die Verenigde Koninkryk
Bynaam Vlootvaandel van die VK
Gebruik Vlootvaandel Vlootvaandel
Verhouding 1:2
Ontwerp ’n Sint Joriskruis met die Unievlag in die skildhoek.

Die nasionale vlag van die Verenigde Koninkryk, ook die Union Jack of Union Flag genoem,[4][5][6] is op 1 Januarie 1801 amptelik in gebruik geneem.[7] Die verhouding van die vlag is 3:5 (op land) of 1:2 (op see)[1][2][3] en die kleure is rooi (Pantone 186C), blou (Pantone 280C), en wit. Die vlag het ook amptelike of halfamptelike status in ander Statebondsgebiede; dit is byvoorbeeld in Kanada deur wetgewing as die Royal Union Flag afgekondig en simboliseer Kanada se affiliasie met die Britse monargie en die Britse Statebond.[8][9][10] Dit word ook as die amptelike vlag in sommige van die kleiner Britse oorsese gebiede gebruik. Die Union Flag verskyn ook op die wapperkant (boonste linkerkantse kwart) van die vlae van verskeie lande en gebiede wat voormalige Britse besittings of kolonies was.

Die oorsprong van die vorige vlag van Groot-Brittanje dateer terug na 1606.[11] James VI van Skotland het in 1603 die Engelse en Ierse trone geërf as James I, en sodoende die krone van Engeland, Skotland en Ierland in ’n persoonlike unie verenig, hoewel die drie ryke afsonderlike state gebly het. Op 12 April 1606 is ’n nuwe vlag van die koninklike unie tussen Engeland en Skotland in ’n koninklike dekreet gespesifiseer, waarvolgens die vlag van Engeland (’n rooi kruis op ’n wit agtergrond, bekend as die Sint Georgskruis), en die vlag van Skotland (’n wit skuinskruis op ’n blou agtergrond, bekend as die Saltire of Sint Andreaskruis), saamgevoeg is, die vorming van die vlag van Engeland en Skotland vir maritieme doeleindes. Koning James het ook sedertdien verwys na ’n "Koninkryk van Groot Britaine", hoewel die Unie ’n persoonlike een gebly het.

Die ontwerp van die Union Flag dateer uit ’n koninklike proklamasie ná die unifikasie van Groot-Brittanje en Ierland in 1801 (sien Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje en Ierland).[12] Die vlag kombineer aspekte van drie ouer nasionale vlae: die rooi kruis van Sint Georg van die Koninkryk van Engeland, die wit skuinskruis van Sint Andreas vir Skotland (hierdie twee was verenig in die eerste Union Flag), en die rooi skuinskruis van Sint Patrick om Ierland te verteenwoordig. Wallis, ten spyte daarvan dat dit ook deel van die Unie is, is nog nooit op die Britse vlag verteenwoordig nie.[13]

Ontwerp

[wysig | wysig bron]

Simboliek

[wysig | wysig bron]
Evolusie van die Britse vlag
Agterkant van ’n wapperende Britse vlag
Vir duidelikheid, word die fraiing van die vlagdele in geel uitgelig

Die Britse vlag is ’n superponering van die Engelse vlag (rooi kruis op ’n wit agtergrond, die sogenaamde Sint Joriskruis, die beskermheilige van Engeland), die Skotse vlag (wit skuinskruis op ’n blou agtergrond, die sogenaamde Sint Andrieskruis, die beskermheilige van Skotland) en die Ierse vlag (rooi skuinskruis op ’n wit agtergrond, die sogenaamde Sint Patriciuskruis, die beskermheilige van Ierland).

Kleure

[wysig | wysig bron]
Kleurskema Blou Rooi Wit
Pantone (druk) 280 C 186 C Veilig
Heksadesimaal (web) #00247D #CF142B #FFFFFF
NSN 8305.99.130.4580 8305.99.130.4584 8305.99.130.4585
CMYK 100.72.18.5 0.91.76.6 0.0.0.0
RGB 0, 36, 125 207, 20, 43 255, 255, 255

* Nie amptelik nie; hierdie is Wikimedia Commons se eie uitbeelding van Pantone-kleure.

Die Union Flag se blou was van 1600 tot 1700 ligter en rondom 1800 donkerder as dié van die huidige vlag.[14]

Ontwerp

[wysig | wysig bron]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Ontstaan

[wysig | wysig bron]
Ontwerp is in verlede gebruik maar sedertdien laat vaar Die Union Jack, 1606 tot 1800
Ontwerp is in verlede gebruik maar sedertdien laat vaar Skotse weergawe van die Union Jack, 1606 tot 1800

Die Uniegeus is die gevolg van die personele unie tussen die koninkryke van Engeland en Skotland deur koning Jakobus I, is in 1606 aanvaar en is gebruik tot 1649.[15] Dit was aanvanklik net ’n superponering van die vlae van Engeland en Skotland oormekaar.[7]

Ná die Engelse Burgeroorlog is die Ierse harp by die Engelse vlag gevoeg, wat tot 1660 in die middel van die vlag gepryk het. Tussen 1660 en 1801 is die oorspronklike Uniegeus weer gebruik.

In 1801, met die politieke hereniging van die naburige Ierland, is die rooi Sint Andrieskruis, destyds die vlag van die koninkryk van Ierland, by die Unievlag gevoeg. Die asimmetrie van die Uniegeus is te danke aan die gelykstaande vertoning van die Skotse Sint Andrieskruis en die Ierse Sint Patriciuskruis, wat langs mekaar vertoon word. Heraldies word dit bereik deur dié simbole nie direk op mekaar te sentreer nie, maar teen mekaar te "laat sweef". Die Engelse Sint Joriskruis is egter sentraal tot alle ander kruise, wat die politiese oorheersing van Engeland oor Skotland en Ierland simboliseer.

Die nuwe vlag van die Verenigde Koninkryk is amptelik deur ’n Ordonnansie van 1801 aanvaar.

1809 is die Uniegeus deur die parlement as die amptelike Britse nasionale vlag verklaar.

Die vlag van Wallis het nog nooit insluiting in die Uniegeus gevind nie omdat Wallis reeds deur die Act of Union 1535, voor die oprigting van die Verenigde Koninkryk, by Engeland ingelyf is. Daar bestaan tans voorstellings van die Uniegeus met die Sint Dawidkruis (geel kruis op ’n swart agtergrond vir Sint Dawid, die beskermheilige van Wallis). Die Britse minister van kultuur, Margaret Hodge, het in 2007 nie ’n herontwerp van die Uniegeus uitgesluit nie.[16]

Die amptelike naam van die vlag is die Unievlag, maar dit het oral gebruik geword om dit die Union Jack (Uniegeus) te noem. In letterkundige sin is die Uniegeus net die klein vlag of geus, wat van die geusstok (jackstaff), ’n stok op die boegspriet of voorgedeelte van ’n skip waai. ’n Ander verklaring is dat “Jack” afgelei is van die naam van James I, wie hierdie vlag in sy oorspronklike vorm ingevoer het.[7]

Diensvlae

[wysig | wysig bron]
Oorlogsvlag Union Jack van die Britse Weermag
Ontwerp is in verlede gebruik maar sedertdien laat vaar Groen Vaandel van Ierland, 1801 tot 1922

Omdat net die diensvlae, wat op water gebruik word, van die nasionale vlag verskil, word hulle 'n “vaandel” genoem, die term vir die stertvlag van ’n skip. Die Britse Vloot het tot die vloothervorming in 1864 drie modifikasies van die Unievlag gebruik:

  • Die Blou Vaandel word as diensvlag op water gebruik. Alle staatsowerhede is verplig om dit te gebruik. Sedert 1865 is afhanklike gebiede toegelaat om dit aan te vul met ’n embleem (wapen) en hul eie vlae, waaruit verskeie koloniale vlae ontstaan het. Sommige vlae word tot vandag nog gebruik en vorm die basis van heelwat huidige nasionale vlae. Dit is die basis van die vlae van Australië, Fidji, Nieu-Seeland, Tuvalu en sommige Australiese deelstate.
  • Die Rooi Vaandel (ook burgerlike vlag genoem) het die handelsvlag geword. Die Verenigde Koninkryk en sommige afhanklike gebiede en voormalige kolonies gebruik tot vandag die Rooi Vaandel vir hul skepe. Dit is ook die basis van die vlae van Bermuda en sommige Kanadese provinsies.
  • Die Wit Vaandel is sedert 1864 die enigste vlag van die Britse Vloot. Dit is die oorlogsvlag ter see.
  • Die Groen Vaandel was beperk tot Ierse handelskepe vanaf die 17de eeu tot die vroeë 20ste eeu. Die amptelike status van hierdie voormalige vlag is nie meer vandag bekend nie.[17]

Ander vaandels

[wysig | wysig bron]

Vlae van die monarg

[wysig | wysig bron]

Die monarg van die Verenigde Koninkryk is nie net die staatshoof van Groot-Brittanje nie, maar formeel ook in sommige ander lande in die Britse Statebond. In die lande waar die staatshoof die monarg van die Verenigde Koninkryk is, word ’n unieke vlag, bekend as ’n Koninklike Standaard, gebruik, wat van die Unievlag verskil. Hier is hoofsaaklik die wapen van die land gebruik. Die Koninklike Standaard wapper slegs vanaf geboue waar die monarg werklik teenwoordig is.

Ander vlae

[wysig | wysig bron]

Soortgelyke vlae

[wysig | wysig bron]

Onafhanklike lande

[wysig | wysig bron]

Baie voormalige kolonies het die Unievlag in hul nasionale vlae in die skildhoek behou. Dikwels is aangepaste Rooi Vaandels gelys as handelsvlag en Wit Vaandels as vlootvlae van hierdie lande. Verskeie provinsiale vlae gebruik ook die Unievlag in die skildhoek.

Afhanklike gebiede

[wysig | wysig bron]

Sedert 1865 is die Britse kolonies en afhanklike gebiede toegestaan om die Blou Vaandel met ’n eie wapen aan te vul. In sommige gevalle, soos byvoorbeeld in Suid-Afrika en Kanada, is die Rooi Vaandel as nasionale vlag gebruik. Die enigste uitsondering is die vlag van die Brits-Antarktiese Gebied, wat ’n aanpassing van die Wit Vaandel is.

Deelstate en provinsies

[wysig | wysig bron]

Voormalige vlae

[wysig | wysig bron]

Sedert 1865 is kolonies en afhanklike gebiede toegelaat om hul eie vlae te gebruik, dikwels ’n aanpassing van die Blou Vaandel. In 1875 is ’n vlag aan die Natalkolonie, in 1876 aan die Kaapkolonie, in 1902 aan die Oranjerivierkolonie en in 1904 aan die Transvaalkolonie deur koninklike lasbriewe toegeken. Hierdie vlae was ook op die Blou Vaandel gebaseer. Na die onafhanklikwording van talle van hierdie kolonies en afhanklike gebiede het hulle voortgegaan met die gebruik van die aangepaste Blou Vaandel.

Om in Suid-Afrika dieselfde verhouding as die Unievlag van Suid-Afrika te gebruik, is daar vanaf 1929 tot 1957 ’n Unievlag met die verhouding 2:3 toegestaan. ’n Uitsondering is die Vlag van Suid-Afrika wat van 1928 tot 1994 gebruik is. Saam met die vlae van die Oranje-Vrystaat (vertikaal) en Transvaal het die Unievlag die sentrale wapen op ’n Prinsevlag gevorm.

Protokol

[wysig | wysig bron]
Vlagpaal aan die linkerkant
Vlagpaal aan die regterkant
Korrekte manier om die vlag te vertoon
Vlagpaal aan die linkerkant
Vlagpaal aan die regterkant
Verkeerde manier om die vlag te vertoon

Die Unievlag mag deur enige individu of organisasie in die Verenigde Koninkryk vertoon word op enige dag van hul keuse. Wetlike regulasies beperk die gebruik van die Unievlag op regeringsgeboue in Noord-Ierland. Lang beperkings op die regeringsgebruik van die vlag is elders afgeskaf in Julie 2007.[20][21]

Omgekeerde vertoning

[wysig | wysig bron]

Hoewel die vlag simmetries blyk te wees, het die wit lyne bo en onder die diagonale rooi verskillende breedtes. Aan die vlagstokkant is die wit lyne bo die diagonale rooies wyer; aan die wapperkant is dit omgekeerd. So sal geen verandering duidelik wees wanneer die vlag deur 180 grade gedraai word nie, maar die spieëlbeeld van die vlag sal wel onderstebo wees.

Indien die vlag onderstebo vertoon word, word dit beskou as 'n belediging vir die koningshuis en sommige mense neem aanstoot daarmee.[22][23] Dit kan egter onderstebo as noodsein vertoon word. Hoewel dié gebruik selde voorkom, is dit só gebruik deur groepe onder beleg tydens die Tweede Vryheidsoorlog en tydens veldtogte in Indië in die laat 18de eeu.

Sint Patriciuskruis

[wysig | wysig bron]

Die rede hoekom die Britse vlag nie simmetries is nie, is as gevolg van die relatiewe posisies van die skuinskruise van Sint Patricius en Sint Andries. Die rooi skuinskruis van Sint Patricius is geneutraliseer so dat dit nie die wit skuinskruis van Sint Andries in ’n blote fraiing uitskuif nie. Sint Andries se skuinskruis het die hoër posisie op die vlagstok terwyl Sint Patricius se skuinskruis die hoër posisie op die teenoorgestelde kant het.

Halfstok

[wysig | wysig bron]
Die Britse vlag wapper halfstok by Elizabeth Harbour in Jersey na die dood van Margaret Thatcher op 8 April 2013
Die Britse vlag, die Noord-Ierse vlag en die vlag van die Oranjeorde naby Derry

Die Unievlag word in die volgende situasies halfmas vertoon op regeringsgeboue:[24]

  • van die aankondiging van die dood van die monarg (’n uitsondering word gemaak vir die Proklamasiedag – die dag waarop 'n nuwe vors aangekondig word, wanneer die vlag tot volstok gehys word vanaf 11:00 tot sononder);
  • die dag van die begrafnis van ’n lid van die Britse koninklike familie;
  • die begrafnis van ’n buitelandse staatshoof;
  • die begrafnis van ’n voormalige Britse eerste minister.

Die monarg mag ander dae verklaar waarop die vlag halfstok vertoon moet word. Halfstok beteken in die Verenigde Koninkryk dat die vlag twee-derdes na bo, met ten minste die hoogte van die vlag tussen die bokant van die vlag en die bokant van die vlagpaal, gehys moet word.[25]

Vertoning op openbare geboue

[wysig | wysig bron]

Tot Julie 2007 is die vertoon van die Unievlag op regeringsgeboue tot sekere spesiale dae beperk. Die keuse van dié dae is bestuur deur die Britse Departement van Kultuur, Media en Sport (DCMS).[20] Regeringsgeboue is geboue wat gebruik word deur staatsamptenare, die koningshuis of die gewapende magte. Dit was dus nie van toepassing op privaatburgers, korporasies of plaaslike owerhede nie.[20]

Op 3 Julie 2007 het die Sekretaris van Justisie, Jack Straw, ’n groenskrif by die parlement ingedien genaamd “Die Regering van Brittanje”.[21] Saam met ’n verskeidenheid van voorgestelde wysigings aan die grondwetlike reëlings van die Verenigde Koninkryk is ’n spesifieke aankondiging gemaak dat daar besprekings sou wees, oor die vraag of die reëls oor vlagvertoning op regeringsgeboue verslap is.

Twee dae later het die eerste minister, Gordon Brown, aangekondig dat die Unievlag met onmiddellike effek aan die vlagpaal bo die hoofingang van Downingstraat 10 op elke dag van die jaar vertoon sou word. Die bedoeling was om die gevoelens van die Britse nasionale identiteit te verhoog. Ander staatsdepartemente is gevra om hierdie voorbeeld te volg en al die regeringsgeboue in Whitehall het hieraan gehoor gegee.[26][27][28][29][30][31][32]

Skotland

[wysig | wysig bron]
Die Britse vlag, die Skotse vlag en die Europese vlag buite die parlement van Skotland in Edinburg

In Skotland het die Skotse regering besluit dat die vlag van Skotland elke dag op al sy geboue vertoon sal word van 08:00 tot sononder. Daar is geen spesifieke beleid vir die Unievlag nie en as sulks word dit soms langs die Skotse vlag vertoon. ’n Uitsondering word gemaak vir “nasionale dae”. Op hierdie dae sal die Skotse vlag gestryk en vervang word deur die Unievlag.

Nog ’n verskil is dat op Sint Andriesdag, die Unievlag slegs vertoon mag word indien die gebou meer as een vlagpaal het – die Skotse vlag sal nie gestryk word om plek te maak vir die Unievlag as daar is net een vlagpaal is nie.[33]

Noord-Ierland

[wysig | wysig bron]

In Noord-Ierland word die Unievlag gehys op geboue van die Noord-Ierlandkantoor soos bepaal deur regulasies wat in 2000 afgekondig is.[34] In 2002 is die regulasies gewysig om die vereiste te verwyder wat die vertoon van die vlag op die verjaarsdae van koningin Elizabeth, die koningin-moeder en prinses Margaret, gravin van Snowdon, wat albei in daardie jaar oorlede is, betref.[35]

Die Polisiediens van Noord-Ierland is die enigste liggaam in die Verenigde Koninkryk wat nie toegelaat word om die Unievlag te vertoon nie, en word net toegelaat om sy eie diensvlag of die Koninklike Standaard te vertoon in die geval van ’n besoek deur die monarg.[36]

Vlagdebat

[wysig | wysig bron]

Vlag van ’n multikulturele Verenigde Koninkryk

[wysig | wysig bron]

Sedert die 1990's word soms debateer om die vlag te verander teen die agtergrond van die multikulturele samestelling van die bevolking van die Verenigde Koninkryk, soos deur die bykomende insluiting van ’n swart Sint Andreaskruis. Die agtergrond van hierdie debat is onder ander die slagspreuk "There ain’t no black in the union jack" (Daar is geen swart in die Union Jack), wat oorspronklik in die 1960's deur rassistiese bewegings gebruik is om uit te druk, dat vir nie-Europese immigrante geen plek in die land is nie. Dit is later oorgeneem in die 1980's deur anti-rassistiese groepe, om die uitsluiting en vervreemding van immigrante uit die wit meerderheid en samelewing uit te druk.[37]

Verteenwoordiging van Wallis op die vlag

[wysig | wysig bron]

Gedurende ’n debat in die Britse Laerhuis in November 2007 oor die gereeldheid waarmee die vlag op openbare geboue vertoon word, het die destydse minister van kultuur, Margaret Hodge, gesê sy sal ’n herontwerp van die Unievlag, wat die Walliese draak insluit, oorweeg. Die kwessie is aanvanklik geopper deur Ian Lucas, ’n ander lid van die Arbeidersparty, wat gekla het dat die vlag wat in 1606 nadat James VI van Skotland die Engelse troon as James I bestyg het, ’n kombinasie was van die kruis van Sint Joris en die kruis van Sint Andries. Hierdie beginsel is in 1801 voortgesit toe Sint Patricius se kruis opgeneem is na aanleiding van die Unifikasiewet met Ierland van 1800. Lucas het beweer dat die identiteit van Wallis sedert die Uniewet van 1535–1542 onderdruk is. In die debat het Albert Owen, LP, gesê dat “ons in Wallis nie deel voel van die Unievlag nie omdat die draak of die kruis van Sint Dawid nie op die vlag is nie".[16] Die Konserwatiewe Parlementslid Stewart Jackson het die kommentare as “eksentriek” beskryf.[38]

Skotse onafhanklikheid

[wysig | wysig bron]

Tot 2013 is talle voorstelle gemaak oor hoe die Unievlag moontlik verander sou kon word om ’n vlag vir die unie van Engeland, Wallis en Noord-Ierland ná moontlike Skotse onafhanklikheid, te wees.[39] Die College of Arms het gesê dat dit onnodig is om die vlag te verander in só ’n omstandigheid en dat die bestaande vlag steeds gebruik kan word indien dit so verlang sou word.[40] Ten opsigte van die verwydering van die Skotse heraldiese kenmerke van die Unievlag, het die Hof van die Lord Lyon in 2012 verklaar dat “[dit] op hierdie stadium net spekulasie sou wees, en ons daardie brug sal oorsteek wanneer ons daar kom”.[41] Op 19 September 2014 het Skotland teen onafhanklikheid in die referendum gestem. Geen vlagherontwerp word dus vereis nie.[42]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 (en) "Union Flag: approved designs". College of Arms. Besoek op 5 Oktober 2021. For the avoidance of doubt and the sake of convenience, Garter King of Arms, under the authority of the Earl Marshal, has approved two versions of the Union flag as being accurate representations suitable for use. These are of the proportions 5:3, commonly flown on land; and 2:1, commonly flown at sea.
  2. 2,0 2,1 (en) "UK Flag Protocol | Free online guide | With illustrations". Flag Institute. Besoek op 5 Oktober 2021. The normal proportions for the national flags of the United Kingdom are 3:5 on land, but ensigns are customarily made in proportion 1:2.
  3. 3,0 3,1 (en) "United Kingdom Flag | Free official image and info | UK Flag Registry". Flag Institute. Besoek op 5 Oktober 2021. The flag is 3:5 on land and 1:2 at sea
  4. (en) Nicolls, Bruce. "The Union Jack or The Union Flag?". The Flag Institute. Besoek op 9 Maart 2015.
  5. (en) "The Flying of the Union Jack". House of Lords. 14 Julie 1908. cc579–80. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Januarie 2012. Besoek op 9 Maart 2015. {{cite book}}: |website= ignored (hulp)
  6. (en) The Lords Commissioners of the Admiralty (1911) [1908], Manual of Seamanship, I, London: HMSO 
  7. 7,0 7,1 7,2 (en) "Union Jack". The official website of The British Monarchy. The Royal Household. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Mei 2020. Besoek op 9 Maart 2015.
  8. (en) "The Royal Union flag (Union Jack)". Canadian Heritage. 17 November 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Julie 2013. Besoek op 9 Maart 2015.
  9. (en) "Statement by the Hon. Jason Kenney, PC, MP, Secretary of State (Multiculturalism and Canadian Identity) on Commonwealth Day". Canadian Heritage. 10 Maart 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 November 2011. Besoek op 10 Maart 2008.
  10. (en) "Royal Union Flag". Canadian Heritage / Patrimoine canadien. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 April 2008. Besoek op 19 Augustus 2011.
  11. (en) A.C. Fox-Davies, The Art of Heraldry: An Encyclopædia of Armory (1904, reprinted 1986, ISBN 0-906223-34-2), bl. 399.
  12. (en) Bartram, Graham. "British flags". The Flag Institute. Besoek op 9 Maart 2015.
  13. (en) "The History and Meaning of the Union Jack or Union Flag". Know Britain. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Desember 2019. Besoek op 9 Maart 2015.
  14. (en) "United Kingdom: colour of the flag". Flags Of The World website. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Januarie 2017. Besoek op 9 Maart 2015.
  15. (en) Perrin, William Gordon (1922). British flags, their early history, and their development at sea: with an account of the origin of the flag as a national device. The University Press. p. 55. Besoek op 9 Maart 2015.
  16. 16,0 16,1 (en) Patrick Wintour (28 November 2007). "Minister proposes a redesign for the union flag". The Guardian. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 November 2012. Besoek op 9 Maart 2015.
  17. (en) Ireland before the Partition of 1922 by Flags of the World. URL besoek op 9 Maart 2015.
  18. (en) "Royal Standard". The Royal Household. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Mei 2020. Besoek op 9 Maart 2015.
  19. (en) "The Royal Banner of the Royal Arms of Scotland". The Royal Household. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 9 Maart 2015.
  20. 20,0 20,1 20,2 (en) Departement vir Kultuur, Media en Sport: Flag Flying. URL besoek op 9 Maart 2015.
  21. 21,0 21,1 (en) The Governance of Britain, for flying the Union Flag, bl. 57–58. URL besoek op 9 Maart 2015.
  22. (en) Matthew Tempest and agencies, Paisley to stand down as MEP, The Guardian, 19 Januarie 2004. URL besoek op 9 Maart 2015.
  23. (en) Defence Secretary apologises for flag blunder BBC News, 13 November 1997. URL besoek op 9 Maart 2015.
  24. (en) FAQ Geargiveer 4 Desember 2012 op Wayback Machine Departement van Kultuur, Media en Sport. URL besoek op 9 Maart 2015.
  25. (en) FAQ: What is half mast? Geargiveer 4 Desember 2012 op Wayback Machine Britse Departement van Kultuur, Media en Sport. URL besoek op 9 Maart 2015.
  26. (en) "We're all proud to fly the flag"[dooie skakel]. The Sun, 5 Julie 2007. URL besoek op 9 Maart 2015.
  27. (en) "Morning Press Briefing" Geargiveer 9 Augustus 2007 op Wayback Machine by Prime Minister's Spokesman, 6 Julie 2007. URL besoek op 9 Maart 2015.
  28. (en) "Union flag already flying all year round" Geargiveer 3 November 2007 op Wayback Machine. The Daily Telegraph, 7 Julie 2007. URL besoek op 9 Maart 2015.
  29. (en) "Brown lifts ban on national flag". BBC News, 6 Julie 2007. URL besoek op 9 Maart 2015.
  30. (en) "Brown flies flag for Britain". The Guardian, 6 Julie 2007. URL besoek op 9 Maart 2015.
  31. (en) "Union Jack will fly over No. 10 permanently 'to show values'". The Times, 6 Julie 2007. URL besoek op 9 Maart 2015.
  32. (en) "Gordon orders Whitehall to fly the flag in boost for Britishness" Geargiveer 19 Augustus 2009 op Wayback Machine. Evening Standard, 6 Julie 2007. URL besoek op 9 Maart 2015.
  33. (en) "Royal and ceremonial", Skotse regering. URL besoek op 9 Maart 2015.
  34. (en) "The Flags Regulations (Northern Ireland) 2000". Opsi.gov.uk. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Desember 2009. Besoek op 9 Maart 2015.
  35. (en) "The Flags Regulations (Northern Ireland) (Amendment) 2002". Opsi.gov.uk. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Desember 2009. Besoek op 9 Maart 2015.
  36. (en) "Police Emblems and Flags Regulations (Northern Ireland) 2002". Opsi.gov.uk. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Desember 2009. Besoek op 9 Maart 2015.
  37. (en) news.bbc.co.uk: Rebranding puts black marks against UK flag. URL besoek op 9 Maart 2015.
  38. (en) Cleland, Gary (27 November 2007). "Union Jack should include Welsh flag, says MP", Daily Telegraph. URL besoek op 9 Maart 2015.
  39. (en) Sam Judah (4 Desember 2013). "What would the union jack look like if the Scottish bit was removed?". BBC News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Mei 2020. Besoek op 9 Maart 2015.
  40. (en) "Union Flag: What happens if Scotland wins independence?". ITV News. 27 November 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Mei 2020. Besoek op 9 Maart 2015.
  41. (en) "Would the blue have to be taken out of Union flag if Scotland became independent?". Daily Record. 7 Junie 2012. Besoek op 9 Maart 2015.
  42. (en) Scottish referendum: Salmond to quit after Scots vote No, BBC News, 19 September 2014. URL besoek op 9 Maart 2015.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]


Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Duitse Wikipedia vertaal.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.