Nederlandse Kaapkolonie
| |||||
| |||||
Evolusie van die Nederlandse Kaapkolonie | |||||
Hoofstad | Eers die Kasteel die Goeie Hoop, later Kaapstad 33°55′S 18°25′O / 33.917°S 18.417°O | ||||
Taal/Tale | Nederlands (amptelik), Xiri, Korana, Khoekhoen, Xhosa, Engels | ||||
Godsdiens | Gereformeerd, Waals Gereformeerd (tot 1713), Lutheranisme (vanaf 1778)[1] Tradisionele Afrika-godsdiens | ||||
Regering | Republiek | ||||
Goewerneur | |||||
- 1652–1662 | Jan van Riebeeck | ||||
- 1679–1699 | Simon van der Stel | ||||
- 1771–1785 | Joachim van Plettenberg | ||||
- 1803–1806 | Jan Willem Janssens | ||||
Historiese tydperk | Imperialisme | ||||
- Stigting van Kaapstad | 6 April 1652 | ||||
- Verhef tot Gouvernement | 1691 | ||||
- Eerste Britse besetting | 7 Augustus 1795 | ||||
- Kaapkolonie herplaas onder Nederlandse bewind | 1 Maart 1803 | ||||
- Slag van Blaauwberg | 8 Januarie 1806 | ||||
Bevolking | |||||
- 1797[2] skatting | 61 947 | ||||
Geldeenheid | Ryksdaalder |
Die Geskiedenis van die Kaapkolonie reeks
|
Voor 1806 |
Die Nederlandse Kaapkolonie was tussen 1652 en 1795 'n kolonie van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Die kolonie is deur Jan van Riebeeck gestig as 'n herlaai- en tussenstop-hawe vir skepe van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie wat met Asië handel gedryf het.[3] Jan van Riebeeck het in die Kaap aangekom met twee skepe (die Drommedaris en De Goede Hoop), vergesel van 82 mans en agt vrouens, insluitend sy vrou Maria. Ná Jan van Riebeeck het Zacharias Wagenaer die pos oorgeneem (6 Mei 1662 – 27 September 1666). Met sy aankoms is hy beveel om 'n vyfpunt-klipkasteel te bou, genaamd De Goede Hoop.
Agtergrond
[wysig | wysig bron]Die doel van die vestigingspos in 1652 was om voorsiening te maak aan verbygaande handelskepe wat gevaar tussen Nederland en die Ooste. Die vestigingspos het ten doel gehad om voorsiening te maak aan voorrade soos vars kos, water, mediese dienste asook die herstel van skepe.
Met die beveiliging van die gebied het Van Riebeeck en sy manne vinnig begin om 'n fort te bou wat die middelpunt van Nederlandse bedrywighede aan die Kaap sou word. Die Fort de Goede Hoop is binne 'n paar maande voltooi en het beide militêre en administratiewe doeleindes gedien. Van Riebeeck se primêre doelwit was om te verseker dat die stasie aan die logistieke behoeftes van die VOC voldoen het, maar sy aankoms het ook dramatiese veranderinge vir die inheemse mense in die gebied ingelui.
Die kolonie het in die jare ná sy stigting vinnig uitgebrei tot 'n vestigingskolonie, tot die groot ontsteltenis van die bestuur van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie wat hoofsaaklik geïnteresseerd was in winsbejag uit die Asiatiese handel.
Omdat die kolonie, as enigste permanente vestiging van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie, nie as 'n handelspos gedien het nie, was dit 'n ideale plek vir afgetrede werknemers van die Kompanjie om hulle in te vestig. Na 'n paar jaar van diens in die maatskappy kon werknemers as 'n "vryburgher" grond in die kolonie huur waarop hulle gewasse kon kweek wat hulle aan die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie moes verkoop het vir 'n vaste prys. Omdat hierdie plase arbeidsintensief was, het die vryburghers slawe uit Madagaskar, Mosambiek en Asië ingevoer wat die bevolking vinnig laat toeneem het.[3] Nadat Lodewyk XIV die Edik van Nantes, wat die reg van die Hugenote in Frankryk beskerm het om hul godsdiens sonder vervolging van die staat te beoefen, in Oktober 1685 herroep het, het die kolonie baie Hugenoot-setlaars gelok wat uiteindelik met die algemene Vryburgher-bevolking gemeng het.
As gevolg van die outoritêre gesag van die Kompanjie, wat boere aangesê het wat om te verbou en teen watter prys, en die monopolisering van die handel, het sommige boere probeer om die oppergesag van die maatskappy te ontsnap deur verder na die binneland te trek. Die maatskappy het probeer om hierdie migrante te beheer deur die oprigting van 'n landdroskantoor in Swellendam in 1745 en 'n verdere een by Graaff-Reinet in 1786. Die Kompanjie het die Gamtoosrivier tot die oosgrens van die kolonie verklaar, net om te sien hoe die trekboere dit kort daarna oorsteek. Om moontlike konflik met die Bantoevolke te vermy wat van Oos-Sentraal-Afrika na die suide en weste beweeg het, het die Nederlanders in 1780 besluit dat die Groot-Visrivier die kolonie se oosgrens sal vorm.
In 1795 is die Kaapkolonie ná die Slag van Muizenberg deur die Britte beset. Onder die voorwaardes van die Vrede van Amiens in 1802 was dat die kolonie op 1 Maart 1803 aan die Nederlanders teruggegee sou word, maar nadat die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie genasionaliseer is, is die kolonie direk deur die Bataafse Republiek geregeer. Die oordrag was egter nie lank van krag nie, omrede die uitbreek van die Napoleontiese Oorloë die Vrede van Amiens ongeldig gemaak het. In Januarie 1806 is die kolonie ná die Slag van Blaauwberg vir 'n tweede keer deur die Britte beset. Hierdie oordrag is bevestig in die Anglo-Nederlandse Verdrag van 1814.
Die rol van die Khoi tydens 1652
[wysig | wysig bron]Vervaardiging en Handelsdryf – Die Khoi was veeboere en het 'n belangrike rol gespeel in die verskaffing van vars vleis aan die vroeë Nederlandse setlaars. Hulle het ook handel gedryf met die VOC vir Europese goedere soos alkohol, tabak en ysterware in ruil vir beeste en skape, dus het die Khoi verslaaf geraak aan tabak en alkohol omdat dit iets was wat hulle nie geken het nie.
Grondbesetting en Konflik – Die uitbreiding van die Nederlandse kolonie het gelei tot konflik tussen die Khoi en die kolonialiste, aangesien die Nederlanders meer grond vir hul boerdery geëis het. Die Nederlanders het voordeel getrek daaruit dat die Khoi nie so ingelig was soos die Nederlanders oor grondbesetting nie.
Krotoa se huwelik met Pieter van Meerhof
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Eva Krotoa.
Gedurende die eerste paar dae van die vestiging in die Kaap het Jan van Riebeeck vir Krotoa as 'n huishulp ingeneem. Sy was slim en het gou Nederlands en Portugees aangeleer, haar "Nederlandse" maniere het gegroei en sy was as tolk gebruik, omdat hulle haar vertrou het. Sy het die eerste oorlog in 1660 tussen die Khoi-Khoi en Nederlanders beëindig. Later het haar naam na Eva verander en sy het tussen die twee kulture beweeg asook haar Khoi-Khoi velle verruil vir Hollandse klere.
In 1662 was sy die eerste Suid-Afrikaner wat as 'n Christen gedoop was. In 1664 het sy verloof geraak aan Pieter van Meerhof wat 'n Deense soldaat was. Die Kompanjie het haar 'n ruim bruidskat gegee. Dit was die eerste huwelik tussen 'n inheemse en 'n Christen wat gesluit is.
Administratiewe afdelings
[wysig | wysig bron]Die Nederlandse Kaapkolonie was verdeel in vier distrikte met bevolking:[4]
Distrik | Vrye Christene | Slawe | Hottentotte | Totaal (1797) |
---|---|---|---|---|
Distrik van die Kaap | 6 261 | 11 891 | – | 18 152 |
Distrik van Stellenbosch en Drakenstein | 7 256 | 10 703 | 5 000 | 22 959 |
Distrik van Swellendam | 3 967 | 2 196 | 500 | 6 663 |
Distrik van Graaff-Reinet | 4 262 | 964 | 8 947 | 14 173 |
Fotogalery
[wysig | wysig bron]-
Jan van Riebeeck land in Tafelbaai op 6 April 1652
-
Die eerste grondbrief aan 'n vryburger, in die naam van Jacob Cloete van Cologne. Die datum daarop is 1675 en dit verwys na grond langs die Liesbeekrivier.
-
Skets van 'n groep Khoi-vroue deur 'n Nederlandse kunstenaar in die vroeë 1700's
-
Die Nederlandse Kaapkolonie op sy grootste in 1795
-
Die Slag van Blaauwberg op 8 Januarie 1806
-
Kaart van die Kaapkolonie in 1809
-
Administratiewe afdelings van die Kaapkolonie aan die vooraand van die Britse besetting in 1795
Sien ook
[wysig | wysig bron]- Geskiedenis van Suid-Afrika
- Lys van kommandeurs en goewerneurs van die Kaapkolonie
- Geldsoorte van die Kaapkolonie
- Kaapse maateenhede
Notas
[wysig | wysig bron]- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ ,(nl) W. Wijnaerdts van Resandt (1980). Repertorium DTB: Globaal Overzicht van de Nederlandse Doop-, Trouw en Begraafregisters E.D. voor de invoering van de burgerlijke btand. Den Haag: Sentrale Kantoor vir Genealogie.
- ↑ (en) Robert Montgomery Martin (1836). The British Colonial Library: In 12 volumes. Mortimer. p. 112.
- ↑ 3,0 3,1 (nl) "Kaap de Goede Hoop". De VOC site. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Mei 2019. Besoek op 8 Februarie 2013.
- ↑ (en) Sir John Barrow (1806). Travels Into the Interior of Southern Africa. T. Cadell and W. Davies. p. 25.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- (en) The Migrant Farmer in the History of the Cape Colony. P.J. Van Der Merwe, Roger B. Beck. Ohio University Press. 1 Januarie 1995. 333 bladsye. ISBN 0-8214-1090-3.
- (en) History of the Boers in South Africa; Or, the Wanderings and Wars of the Emigrant Farmers from Their Leaving the Cape Colony to the Acknowledgment of Their Independence by Great Britain. George McCall Theal. Greenwood Press. 28 Februarie 1970. 392 bladsye. ISBN 0-8371-1661-9.
- (en) Status and Respectability in the Cape Colony, 1750–1870 : A Tragedy of Manners. Robert Ross, David Anderson. Cambridge University Press. 1 Julie 1999. 220 bladsye. ISBN 0-521-62122-4.
- (af) de Wet, Con en Leon Hattingh en Jan Visagie (reds.): Die VOC aan die Kaap, 1652–1795. Pretoria: Protea Boekhuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0019-9
- (af) Botha, S., 2023. Krotoa (film). Aanlyn beskikbaar by: https://www.litnet.co.za/krotoa-film/ Toegang verkry op 18 September 2024.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Nederlandse Kaapkolonie.