Gaan na inhoud

Henri Cartier-Bresson

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Henri Cartier-Bresson
Henri Cartier-Bresson in 1954
Gebore(1908-08-22)22 Augustus 1908
Chanteloup-en-Brie, Frankryk
Sterf3 Augustus 2004 (op 95)
Montjustin, Frankryk
NasionaliteitFrans
BeroepFotograaf, skilder
EggenootRatna Mohini
Martine Franck
KindersMélanie

Henri Cartier-Bresson (IFA: kaʁtje bʁɛsɔ̃; 22 Augustus 1908 – 3 Augustus 2004) was ’n Franse fotograaf wat beskou word as die vader van fotojoernalisme. Hy het vroeg al die 35 mm-formaat begin gebruik en was ’n meester van steelfotografie. Hy het die "straatfotografie"-styl help ontwikkel wat The Decisive Moment gedoop is en het geslagte fotograwe ná hom beïnvloed.

Vroeë lewe

[wysig | wysig bron]

Cartier-Bresson is in Chanteloup-en-Brie, Frankryk, gebore as die oudste van vyf kinders. Sy pa was ’n bekende en ryk tekstielvervaardiger. Sy ouers kon hom finansieel help om sy belangstelling in fotografie te ontwikkel op ’n onafhankliker manier as die meeste van sy tydgenote. Hy het ook in sy vrye tyd geskets. Sy pa het verwag hy sou die gesinsonderneming oorneem, maar hy wou nie.

Hy het die École Fénelon, ’n Katolieke skool, bygewoon. Hy is in dié tyd ook deur sy oom, Louis, aan olieskilderwerk bekendgestel. In 1927 het hy op 20-jarige ouderdom ’n privaat kunsskool begin bywoon, asook die Lhote-akademie, die ateljee van die kubistiese skilder en beeldhouer André Lhote. Lhote het sy studente na die Louvre geneem om klassieke kunstenaars te bestudeer en na Paryse kunsuitstallings vir moderne kuns. Cartier-Bresson het hom beskou as sy onderwyser van "fotografie sonder ’n kamera".

In die 1920's het skole van fotografiese realisme regdeur Europa geopen, maar elk het ’n ander mening gehad oor die rigting wat fotografie moet inslaan. Cartier-Bresson het met die surrealiste begin meng by Café Cyrano, in die Place Blanche. Hy kon homself egter nie uitleef in sy skilderwerk nie; hy was gefrustreerd deur sy eksperimente en het eindelik baie van sy vroeë werk vernietig.

Nadat hy diensplig in die Franse leër gedoen het, het hy avontuur in die Ivoorkus, destyds ’n Franse kolonie, in Afrika gaan soek. Hy het oorleef deur wild te skiet en dit aan die plaaslike inwoners te verkoop.

Fotografieloopbaan

[wysig | wysig bron]
Cartier-Bresson se eerste Leica.

Nadat hy na Frankryk teruggekeer het, is hy geïnspireer deur ’n 1930-foto deur die Hongaarse fotojoernalis Martin Munkacsi van drie kaal Afrika-seuns in die water van die Tanganjika-meer. Dit het die vryheid, grasie en spontaniteit van hul beweging en hul vreugde om te lewe vasgevang. Die foto het hom laat besluit om op te hou skilder en fotografie ernstig op te neem. Hy het die Leica-kamera gekoop wat hy jare lank sou gebruik. Die anonimiteit wat die klein kamera hom in ’n skare of tydens ’n intieme oomblik gegee het, het gehelp om die selfbewustheid te oorkom van mense wat weet hulle word afgeneem.

Hy het foto's in Berlyn, Brussel, Warskou, Praag, Boedapest en Madrid geneem. Sy foto's is in 1932 die eerste keer in New York uitgestal en daarna in Madrid. Dit sou jare duur voordat hy eindelik foto's in Frankryk geneem het.

In 1934 het Cartier-Bresson ’n jong Poolse intellektueel, David Szymin, ontmoet wat later sy naam na David Seymour verander het en deur hom die Hongaarse fotograaf Endré Friedmann, wat sy naam na Robert Capa sou verander. Die drie het ’n ateljee gedeel en Capa het Cartier-Bresson die raad gegee om ’n fotojoernalis te word.

Rolprente en fotojoernalisme

[wysig | wysig bron]

Later in die dekade het Cartier-Bresson aansoek gedoen vir ’n werk by die bekende Franse rolprentregisseur Jean Renoir. In 1936 het hy in Renoir se prent Partie de campagne en in 1939 in La Règle du jeu gespeel. Hy het Renoir ook ’n prent help maak vir die Kommunistiese Party oor die 200 families, onder andere sy eie, wat Frankyk beheer

Sy eerste fotojoernalistieke foto's is in 1937 gepubliseer toe hy die kroning van koning George VI van Brittanje vir die Franse weekblad Regards gedek het. Hy het op die nuwe koning se onderdane gefokus wat al langs die strate saamgedrom het en het nie ’n enkele foto van die koning geneem nie. Die naam "Cartier" het by die foto's verskyn omdat hy huiwerig was om sy volle van te gebruik.

Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, het hy as ’n korporaal by die weermag se rolprent-en-foto-eenheid aangesluit. In Junie 1940 is hy deur Duitse soldate gevang en was daarna 35 maande lank ’n oorlogsgevangene. Hy het twee keer probeer ontsnap en is weer gevang. Sy derde poging was suksesvol en hy het vals dokumente gekry om in Frankryk te reis. Hier het hy ondergronds saam met ander fotograwe gewerk om die besetting en later die bevryding van Frankryk te dokumenteer.

Teen die einde van die oorlog het gerugte versprei dat Cartier-Bresson dood is. ’n Rolprent wat hy gemaak het oor terugkerende oorlogsgevangenes, wat in 1947 in die VSA uitgereik is, het gelei tot ’n terugbliktentoonstelling van sy werk in die Museum of Modern Art. Dit het saamgeval met die publikasie van sy eerste boek, The Photographs of Henri Cartier-Bresson.

Magnum Photos

[wysig | wysig bron]
’n Uitstalling van foto's deur Cartier-Bresson in Milaan.

In die lente van 1947 het Cartier-Bresson, Robert Capa, David Seymour, William Vandivert en George Rodger Magnum Photos gestig. Dit was ’n foto-agentskap wat deur die lede besit is. Die span het sendings tussen hulle verdeel; Cartier-Bresson sou in Indië en China werk. In 1948 het hy internasionale erkenning gekry vir sy foto's van Gandhi se begrafnis in Indië en in 1949 vir die Chinese burgeroorlog. In Sjanghai het hy dikwels saam met die fotojoernalis Sam Tata gewerk, met wie hy vroeër in Bombaai bevriend geraak het.[1] Hy is daarna na die Hollands-Oos-Indiese Eilande (nou Indonesië), waar hy hul onafhanklikwording van Nederland gedokumenteer het.

The Decisive Moment

[wysig | wysig bron]

In 1952 het Cartier-Bresson sy boek Images à la sauvette gepubliseer, waarvan die Engelse titel The Decisive Moment was. Dit het ’n portefeulje van 126 van sy foto's van die Ooste en Weste ingesluit. Die omslag vir die boek is deur Henri Matisse geskilder.

Latere loopbaan

[wysig | wysig bron]

Cartier-Bresson het hom in 1966 onttrek as ’n vennoot van Magnum (wat steeds sy foto's gepubliseer het) om op portretstudies en landskapfotografie te konsentreer. In 1968 het hy minder foto's begin neem en weer op sy skilderwerk gekonsentreer. In 1970 het hy hom heeltemal aan fotografie onttrek en vyf jaar later het hy sy eerste uitstalling van sketse in New York gehou.

Cartier-Bresson is op 3 Augustus 2004 in Montjustin, Frankryk, oorlede. Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie.

Pryse

[wysig | wysig bron]

Cartier-Bresson het talle pryse en eredoktorsgrade ontvang. Van hulle is:

  • 1948: Overseas Press Club of America Award
  • 1953: A.S.M.P. Award
  • 1954: Overseas Press Club of America Award
  • 1959: Prix de la Société française de photographie
  • 1960: Overseas Press Club of America Award
  • 1964: Overseas Press Club of America Award
  • 1974: Kultuurprys, Deutsche Gesellschaft für Photographie
  • 1981: Grand Prix National de la Photographie
  • 1982 Hasselblad-prys
  • 2006: Prix Nadar vir sy fotoboek Henri Cartier-Bresson: Scrapbook

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Dessureault, Pierre. The Tata Era / L'Epoque Tata. Canadian Museum of Contemporary Photography. Ottawa, 1988.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Assouline, P. (2005). Henri Cartier-Bresson: A Biography. Londen: Thames & Hudson.
  • Galassi, Peter (2010). Henri Cartier-Bresson: the Modern Century. Londen: Thames & Hudson.
  • Montier, J. (1996). Portrait: First Sketch. Henri Cartier-Bresson and the Artless Art (p. 12). New York: Bulfinch Press.
  • Warren, J (2005), Encyclopedia of Twentieth-Century Photography. Routledge

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]