Gaan na inhoud

Goue Eeu

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die binnehof van die beurs te Amsterdam, 1653.

Die Nederlandse Goue Eeu (Nederlands: Gouden Eeuw), verwys na 'n periode in die geskiedenis van die Noordelike Nederlande, wat toe die Republiek der Zeven Verenigd Nederlande gevorm het. Gedurende hierdie tydperk, wat rofweg met die 17de eeu ooreenkom, ondervind die land 'n bloeiperiode op die gebied van handel, wetenskap en kuns. Die Republiek bereik 'n vooraanstaande militêre posisie in Europa, veral wat sy vloot en seemag betref.

1602, toe die Vereenigde Oostindische Compagnie gestig is, word soms as die beginpunt van die Goue Eeu beskou. Gedurende die grootste deel van die daaropvolgende eeu ondervind die land merkwaardige ekonomiese groei, maar teen die rampjaar van 1672 was die Goue Eeu verby sy hoogtepunt.

Die Nederlandse kultuur het ook in hierdie tydperk 'n renaissance beleef. Teen die einde van die 17de eeu het konflikte met buurmoondhede sowel as 'n dalende ekonomiese invloed egter die einde van die tydperk gelei. Die proses waardeur die Nederlandse Republiek gedurende die era een van die voorste maritieme en ekonomiese moondhede van die wêreld geword het, is deur die historikus K. W. Swart as die "Nederlandse Wonder" verwys.[1] Die term "Nederlandse Goue Eeu" was omstrede in die 21ste eeu as gevolg van die uitgebreide Nederlandse betrokkenheid by slawerny en kolonialisme gedurende die tydperk, en dit is deur verskeie museums in Nederland, insluitend die Amsterdam Museum, afgespeel.[2][3]

Agtergrond

[wysig | wysig bron]
Die Nagwag deur Rembrandt (1642).

In 1568 het die Sewe Provinsies wat later die Unie van Utrecht onderteken het, 'n rebellie teen Filips II van Spanje begin wat tot die Tagtigjarige Oorlog gelei het. Voordat die Lae Lande heeltemal herower kon word, het 'n oorlog tussen Engeland en Spanje, die Anglo-Spaanse Oorlog van 1585-1604, uitgebreek wat Spaanse troepe gedwing het om hul opmars te staak en hulle in beheer van die belangrike handelsstede Brugge en Gent gelaat het, maar sonder beheer van Antwerpen, wat toe waarskynlik die belangrikste hawe ter wêreld was. Antwerpen het op 17 Augustus 1585, na 'n beleg, geval en die verdeling tussen die Noordelike en Suidelike Nederlande (laasgenoemde meestal moderne België) is gevestig.

Die Verenigde Provinsies (ongeveer vandag se Nederland) het voortgeveg tot die Twaalfjarige Wapenstilstand, wat nie die vyandelikhede beëindig het nie. Die Vrede van Wesfale in 1648, wat die Tagtigjarige Oorlog tussen die Nederlandse Republiek en Spanje beëindig het, en die Dertigjarige Oorlog tussen ander Europese supermoondhede, het die Nederlandse Republiek formele erkenning en onafhanklikheid van die Spaanse kroon gebring.

Migrasie van geskoolde werkers na die Nederlandse Republiek

[wysig | wysig bron]
De zielenvisserij, allegorie van die Protestants-Katolieke stryd.

Protestante was veral goed verteenwoordig onder die bekwame vakmanne en ryk handelaars van die hawestede Brugge, Gent en Antwerpen. Onder die voorwaardes van die oorgawe van Antwerpen in 1585 is die Protestantse bevolking (indien onwillig om te herbekeer) vier jaar gegee om hul sake te besleg voordat hulle die stad en Habsburg-gebied verlaat het.[4] Soortgelyke reëlings is op ander plekke getref.

Meer Protestante het tussen 1585 en 1630 na die noorde getrek as wat Katolieke in die ander rigting beweeg het, alhoewel daar ook baie hiervan was. Baie van diegene wat noord getrek het, het hulle in Amsterdam gevestig en wat 'n klein hawe was omskep in een van die mees belangrike hawens en kommersiële sentrums in die wêreld teen 1630.

Benewens die massamigrasie van Protestantse inboorlinge van die suidelike Nederlande na die noordelike Nederlande, was daar ook instrome van nie-inheemse vlugtelinge wat voorheen van godsdiensvervolging gevlug het, veral Sefardiese Jode uit Portugal en Spanje, en later Protestante uit Frankryk. Die Pelgrimsvaders het ook tyd daar deurgebring voor hul reis na die Nuwe Wêreld.

Protestantse werksetiek

[wysig | wysig bron]

Ekonome Ronald Findlay en Kevin H. O'Rourke skryf 'n deel van die Nederlandse opkoms toe aan die Protestantse werksetiek wat gebaseer is op Calvinisme, wat spaarsaamheid en opvoeding bevorder het. Dit het bygedra tot "die laagste rentekoerse en die hoogste geletterdheidskoerse in Europa. Die oorvloed van kapitaal het dit moontlik gemaak om 'n indrukwekkende vlak van rykdom te handhaaf, wat nie net in die groot vloot beliggaam is nie, maar in die oorvloedige voorraad van 'n verskeidenheid kommoditeite wat gebruik om pryse te stabiliseer en voordeel te trek uit winsgeleenthede."[5]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Swart, Koenraad Wolter (1969). The miracle of the Dutch Republic as seen in the seventeenth century. London: H.K.Lewis & Co Ltd. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Maart 2015. Besoek op 12 Maart 2015.
  2. Trouw (21 September 2019). "Het debat over de naam Gouden Eeuw is waardevol en nodig". Trouw (in Nederlands). Besoek op 13 Mei 2023.
  3. "Amsterdam Museum gebruikt term 'Gouden Eeuw' niet meer". Historiek (in Nederlands). 13 September 2019. Besoek op 13 Mei 2023.
  4. Boxer, Charles Ralph (1977). The Dutch seaborne empire, 1600–1800. Taylor & Francis. p. 18. ISBN 0-09-131051-2 – via Google Books.
  5. Findlay, Ronald; O'Rourke, Kevin H. (2003). "Commodity Market Integration, 1500–2000" (PDF). In Bordo, Michael D.; Taylor, Alan M.; Williamson, Jeffrey G. (reds.). Globalization in Historical Perspective. University of Chicago Press. pp. 13–64. ISBN 0-226-06598-7. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 4 Oktober 2018. Besoek op 9 Maart 2018.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]