Gaan na inhoud

Geskiedenis van Malta

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Malta is bewoon sedert dit rondom 5200 v.C. vanaf Sisilië gekoloniseer is[1]

Geologie en voorgeskiedenis

[wysig | wysig bron]
Die Neolitiese tempel van Mnajdra

Malta staan op 'n onderwaterrif wat strek vanaf Noord-Afrika tot by Sisilië. Op 'n sekere stadium in die verre verlede was Malta onder water, soos aangedui deur seefossiele in rotse gevind by die hoogste punte op Malta. Soos die rif opgedruk is en die straat van Gibraltar gesluit het as gevolg van tektoniese aktiwiteit, het die seevlakke gedaal, en Malta het op 'n landbrug geëindig wat gestrek het tussen die twee kontinente, omring deur massiewe mere. Sommige grotte in Malta het beendere van olifante, seekoeie en ander groot diere opgelewer wat nou in Afrika gevind word, en ander weer diere inheems tot Europa. Hierdie artikel bied onlangse teorieë aan oor hoe die Maltese eilande gelyk het ongeveer 20 000 jaar gelede:Malta 20 000 jaar gelede

Die mens het Malta die eerste keer bereik rondom 5200 vC. Hierdie eerste Neolitiese mense het heel moontlik vanaf Sisilië gekom (omtrent 100 kilometer/60 myl noord), en was hoofsaaklik boerdery- en visserygemeenskappe, met bewyse van jagaktiwiteite. Hulle het blykbaar in grotte en oop wonings gebly. Gedurende die daaropvolgende eeue is daar tekens van kontak met ander kulture, wat hulle invloed op die plaaslike gemeenskap agtergelaat het. Dit word gestaaf deur die erdewerk se ontwerpe en kleure.

Een van die merkwaardigste tydperke in die eilande se geskiedenis is die tempel-era wat omtrent 3600 vC begin het. Die Ggantija prehistoriese tempel in Goza is die oudste vrystaande gebou in die wêreld (foto Geargiveer 4 Maart 2016 op Wayback Machine). Die naam van die kompleks stam af van die Maltese woord ġgant, wat die omvang van die tempel se grootte reflekteer. Baie van die tempels is in die vorm van vyf halfsirkelvormige kamers wat met mekaar verbind in die middel. Daar is al geopper dat dit die kop, arms en bene van 'n godheid voorstel, aangesien die algemeenste beeldjies wat in die tempels gevind is die van 'n vet vrou is – 'n vrugbaarheidsimbool. Die Tempelperiode het tot omtrent 2500 vC geduur, waarna die beskawing wat hierdie massiewe strukture opgerig het skynbaar verdwyn het. Daar is heelwat spekulasie oor wat moontlik kon gebeur het en of hulle totaal en al uitgewis is of geassimileer is.

Na die Tempel-era volg die Bronstydperk. Daar het 'n paar nedersettings en dorpies vanuit hierdie era behoue gebly, asook dolmens – altaarstrukture gemaak uit baie groot steenblokke. 'n Oorblywende menhir, wat gebruik is vir die bou van tempels, staan nog steeds by Kirkop; een van min nog in goeie kondisie. Onder die mees interessante geheimsinnige oorblyfsels vanuit die tydperk is die sogenaamde waspore wat gesien kan word by 'n plek op Malta genaamd Clapham-kruising. Dit is parallel slote in die oppervlakte van die rots ingesny, wat oor groot afstande strek, in 'n presiese reguit lyn. Hulle gebruik is nie bekend nie. Een voorstel is dat lasdiere die waens getrek het en die slote die waens op koers gehou het sodat die diere nie kon afdwaal nie. Die samelewing wat hierdie strukture gebou het, het met die tyd uitgesterf of verdwyn.

Antieke tydperk

[wysig | wysig bron]

Fenisiërs en Grieke

[wysig | wysig bron]

Fenisiërs vanaf Tirus het die eilande omstreeks 1000 vC gekoloniseer en gebruik as 'n buitepos vanwaar hulle hul ontdekkings- en handelsreise in die Middellandse See kon uitbrei. Hulle noem die eiland Maleth/Malat wat "veilige hawe" beteken en bewoon die gebied waar die huidige stad Mdina en die voorstad Rabat nou geleë is.

Teen die einde van die 8ste eeu vC is 'n Griekse kolonie op die hoofeiland gestig met die naam Μελίτη (Melite), vanaf Doriese Grieks vir die woord heuningby. Daar word vermoed dat die naam 'n verwysing is na 'n plaaslike by-spesie en die kenmerkende heuning wat die maak.

Kartago en Rome

[wysig | wysig bron]

Die eilande kom later onder die beheer van Kartago (400 vC) en ook die Romeinse Republiek (218 vC). Die eilande het floreer onder Romeinse heerskappy, en was namate bekend as 'n Municipium en 'n Foederata Civitas. Heelwat Romeinse oudhede bestaan vandag nog, wat getuig van noue bande tussen die Maltese inwoners en mense van Rome.

In 60 nC, dokumenteer die nuwe Testament dat Paulus skipbreuk gely het op 'n eiland genaamd Melite, wat heelwat Bybel-kenners en Maltese met Malta vereenselwig; daar is 'n tradisie dat die skipbreuk plaas gevind het by die strand wat nou gepas "Saint Paul's Bay" genoem word.

Vandale en Bisantyne

[wysig | wysig bron]

Die eiland is in 440 verower deur die Vandale, wat op daardie stadium kort van tevore die Romeinse provinsie van Afrika beset het. Dit is herower deur die Bisantynse generaal Belisarius in 533, tesame met die ander Vandaalse eiendom en het deel van die Bisantynse provinsie van Sisilië gevorm vir die volgende 340 jaar.

Middeleeue

[wysig | wysig bron]

Arabiese tydperk

[wysig | wysig bron]

Malta is vanaf 870 tot 1090 beset deur die Fatimidiese Kalifaat, wat vir 220 jaar hul invloed op die destydse inwoners uitgeoefen het. Buiten hulle taal (Sisiliaanse-Arabies) is katoen, lemoene, suurlemoene en heelwat nuwe tegnieke van besproeiing bekend gestel. Sommige hiervan soos die noria (waterwiel), is steeds vandag onveranderd in gebruik. Baie plekname in Malta dateer vanuit die tydperk. Die Fenisiese stad Mdina was gedurende die tyd omvangryk verander.

Normandiese Koninkryk van Sisilië

[wysig | wysig bron]
Kaart van Malta in die 16de eeu, toe Italiaans tot amptelike taal verklaar is deur die Ridders van Malta.

Tussen 1194 en 1530 het die Koninkryk van Sisilië oor die eilande regeer en het die proses van algehele Romanisering in Malta begin.

In 1091 het Graaf Rogier I van Sisilië 'n aanvanklike poging aangewend om Normandiese heerskappy te vestig en was hy begroet deur 'n paar van die plaaslike Christene. In 1127 het sy seun, Rogier II van Sisilië, daarin geslaag. Dit merk die geleidelike oorgang van 'n Arabiese kulturele invloed na 'n Europese een. In 1191 is Tancred van Sisilië aangewys as Margaritus van Brindisi, die eerste Graaf van Malta. Tot met 1224 het daar egter 'n sterk Moslem-segment in die samelewing oorgebly.

Na die Normandiese verowering styg die bevolkingsgetalle op die eilande hoofsaaklik as gevolg van immigrasie vanaf die noorde (Sisilië en Italië), met die ballingskap na Malta van die totale manlike bevolking van Celano (Italië) in 1223, die uitplasing van 'n Normandiese en Sisiliaanse garnisoen op Malta in 1240 en die vestiging van adellike families vanaf Sisilië op Malta tussen 1372 en 1450. As gevolg hiervan het 'n vername akademiese studie gevind dat "die hedendaagse mans van Malta mees waarskynlik afkomstig is van Suidelike Italië, insluitende Sisilië en hoër op tot by Calabria".[2]

Malta was 'n anneks van Sisilië vir amper 440 jaar. Gedurende die tydperk is Malta verkoop en herverkoop aan verskeie leenhere en baronne, en was opeenvolgend oor geheers deur die heersers van Swabe, Anjou, die Kroon van Aragon, die Kroon van Kastilië, en Spanje. Die Kroon van Aragon, wat oor Malta regeer het op daardie stadium, het uiteindelik aangesluit by Kastilië in 1479 en so Malta deel van die Spaanse Ryk gemaak. Malta se administrasie beland op die manier in die hande van plaaslike adellikes wat 'n beheerliggaam genaamd die Università op die been bring.

Moderne era

[wysig | wysig bron]

Hospitaalridders

[wysig | wysig bron]
Heropvoering van 'n 16de eeuse militêre dril uitgevoer deur die Johannesridders. Fort Saint Elmo, Valletta, Malta, 2005.

Vroeg in die 16de eeu het die Ottomaanse Ryk begin uitbrei in die streek en bereik Suidoos-Europa. Die Spaanse koning Karel V het gevrees dat as Rome voor die Turke val dit die einde van Christelike Europa sou beteken. In 1522 verdryf Süleyman I die Hospitaalridders van Rhodos af. Hulle onttrek terug na hulle gesagsgebiede in Europa. Met ten doel om Rome te beskerm teen 'n inval vanuit die suide, gee Karel V in 1530 die Maltese eilande aan die Ridders.

Vir die volgende 275 jaar maak die bekende "Ridders van Malta" die eiland hulle domein en vestig Italiaans die amptelike taal. Hulle bou dorpe, paleise, kerke, tuine en verskansings, verfraai die eiland met talle kunswerke en vergroot die kulturele nalatenskap.

Die orde van die Ridders van Johannes was aanvanklik op die been gebring om voorposte op te rig langs die roete na die Heilige Land, om pelgrims by te staan wat in beide rigtings reis. As deel van die vele skermutselings wat plaasgevind het was een van hulle belangrikste take om mediese bystand te verskaf, en tot vandag nog word die agtpuntige kruis algemeen gebruik onder ambulanse en eerstehulporganisasies. As vergoeding vir die vele lewens wat hulle gered het, het die Orde heelwat nuut verowerde gebiede bygekry wat verdedig moes word. Tesame met die behoefte om die pelgrims in hulle sorg te verdedig, het dit gesorg vir die totstandkoming van die sterk militêre vleuel van die Ridders. Oor tyd het die Orde sterk en ryk geword. Die prioriteite van versorgers eerste en militariste tweede het namate omgeruil. Omrede baie van die gebiede wat hulle moes beskerm rondom die Middellandse See was, het hulle vername seevaarders geword.

Vanaf Malta het die ridders seelangs aanvalle op Ottomaanse skeepsmagte voortgesit en kort voor lank het die Sultan Süleyman die Manjifieke 'n finale aanval op die Orde beveel. Teen daardie tyd het die Ridders die stad Birgu beset, wat uitstekende hawens gehad het om hulle skepe in te huisves. Birgu was ook een van die twee vernaamste stedelike gebiede op daardie tydstip, die ander vername stedelike gebied was Mdina, die ou hoofstad van Malta. Die verskansings rondom Birgu is verbeter en nuwe verskansings is opgerig op die ander punt waar Senglea nou staan. 'n Klein fort is opgerig op die punt van die skiereiland, waar die stad Valletta nou geleë is, en is Fort Sint Elmo genoem.

Op 18 Mei 1565 beleër Süleyman die Manjifieke vir Malta. Teen die tyd wat die Ottomaanse vloot aangeland het was die Ridders so reg as wat hulle kon wees. Die Ottomane het eerste die nuutgeboude fort van Sint Elmo aangeval en na 'n maand se gevegte was die fort in puin gelê, terwyl die soldate daar aanhou baklei het tot die Turke almal doodgemaak het. Hierna het hulle begin om Birgu en die verskansings by Senglea aan te val, maar sonder enige gewin.

Na 'n uitgerekte beleg wat op 8 September dieselfde jaar geëindig het, wat later in geskiedenis as die Groot Beleg sou bekend staan, het die Ottomaanse Ryk die stryd gewonne gegee, omdat die naderende winterstorms sou verhoed dat hulle kon weg. Die Ottomaanse Ryk het 'n maklike oorwinning binne etlike weke verwag. Hulle het 40 000 man in slagorde ontplooi gehad teen die Ridders se 9 000 man, waarvan meeste Maltese soldate en gewone gewapende burgerlikes was. Hulle verliese van duisende manskappe was geweldig ontmoedigend. Die Ottomane het hierna geen verdere betekenisvolle militêre vordering in Europa gemaak nie en die Sultan is 'n paar jaar later oorlede.

Na die oorlog

[wysig | wysig bron]

Die jaar na die oorlog het die Orde begin met die bou van 'n nuwe verskansde stad, soos geen ander nie, op die skiereiland genaamd Gholja Sciberras, wat die Ottomane as 'n basis gebruik het tydens die beleg. Dit is Valletta gedoop na Jean Parisot de la Valette, die Grootmeester wat die Orde deur hulle oorwinning gelei het. Aangesien die Ottomane nooit weer aangeval het nie is die verskansings nooit getoets nie en bly dit tot vandag toe nog een van die bes bewaarde fortifikasies uit die tydperk.

Anders as ander heersers oor die eiland, het die Johannesorde geen "vaderland" buite die eiland gehad nie. Die eiland het hulle tuiste geword en daarom het hulle baie meer as enige ander mag in die eiland belê. Bowendien kom al die lede van adellike families en het hulle aansienlike rykdom bymekaargemaak met hulle dienste langs die roete na die Heilige Land. Die artistieke en argitektoniese nalatenskap uit die tydperk bly een van die grootste in Malta se geskiedenis te wees, veral hulle 'kroonjuweel' -- die stad Valletta.

Hoe dit ook al sy, omdat hulle belangrikste raison d'être in die niet verdwyn het was die Orde se dae ook getel.

Napoleonties-Franse verowering (1798–1800)

[wysig | wysig bron]

Deur die jare het die Ridders se mag afgeneem; hulle heerskappy eindig in 1798 na Napoleon Bonaparte se ekspedisieleër-vloot daar aanland onderweg na sy Egiptiese veldtog. Napoleon het gevra vir 'n veilige hawe vir die herbevoorrading van sy skepe, en na die Ridders geweier het om vars water aan hom te verskaf het Napoleon Bonaparte 'n afdeling soldate teen Valletta se heuwels opgestuur. Grootmeester Hompesch het op 11 Junie gekapituleer. Die volgende dag is 'n verdrag onderteken waarby die Orde die soewereiniteit van Malta aan die Franse Republiek oorhandig. In ruil daarvoor het die Franse Republiek ooreengekom om al sy invloed te gebruik tydens die kongres van Rastatt om 'n prinsdom vir die Grootmeester te beding, gelykstaande aan die een wat hy opgee.[3]

Gedurende sy kort verblyf (ses dae), het Napoleon heelwat hervormings afgehandel, veral merkbaar is die oprig van 'n nuwe administrasie met 'n Staatskommissie, die skep van twaalf munisipaliteite, die opstel van 'n openbare finansieringsadministrasie, die afskaf van alle feodale regte en voorregte, die afskaffing van slawerny en die toekenning van vryheid aan alle Turkse slawe (2000 altesaam). Op die geregtelike terrein is 'n familiekode opgestel en twaalf regters is genomineer. Openbare onderwys is gestruktureer volgens riglyne neergelê deur Bonaparte homself. Dit het voorsiening gemaak vir primêre en sekondêre onderwys. Vyftien laerskole is gestig en die universiteit is vervang deur 'n ’École centrale’ met agt leerstoele, almal met 'n sterk wetenskaplike uitkyk: ondermeer rekenkunde en stereometrie, algebra en ruimtemeetkunde, meetkunde en sterrekunde, meganika en fisika, navigasie, chemie, ensovoorts.[4]

Hy het hierna Egipte toe geseil met 'n aansienlike garnisoen wat op die eiland agter gebly het. Aangesien die Orde ook onder die plaaslike Maltese ongewild geraak het, is die Franse aanvanklik met optimisme begroet. Hierdie illusie het nie lank geduur nie. Binne 'n paar maande het die Franse begin om kloosters te sluit en kerkskatte te vat, onder andere die swaard van Grootmeester Jean Parisot de la Valette wat tot op datum nog uitgestal lê in die Louvre in Parys. Die Maltese het hierteen in opstand gekom en die Franse garnisoen van Generaal Claude-Henri Belgrand de Vaubois moes terugval tot in Valletta. Na vele mislukte pogings deur die inwoners om Valletta terug te neem, is die Britte om bystand gevra. Skout-Admiraal Lord Horatio Nelson besluit op 'n totale blokkade van die eiland in 1799. Die Franse garnisoen gee hulleself oor in 1800.

Malta in die Britse Ryk, 1800–1964

[wysig | wysig bron]

Britse Malta in die 19de eeu

[wysig | wysig bron]

In 1800, word Malta gewilliglik deel van die Britse Ryk. Onder die voorwaardes van die 1802 Verdrag van Amiens was Brittanje veronderstel om die eiland te ontruim, maar hulle bly in gebreke om die verpligting na te kom – een van verskeie onderlinge gevalle van nie-nakoming van die verdrag, wat op die ou einde lei tot die mislukking van die verdrag en die voortsetting van die oorlog tussen Brittanje en Frankryk.

Alhoewel daar nie aanvanklik veel waarde aan die eiland se belangrikheid geheg is nie, het die uitstekende hawens gesogte bates geword vir die Britte, veral na die opening van die Suezkanaal in 1869. Die eiland het 'n militêre- en vlootverskansing geword asook die hoofkwartier van die Britse Mediterreense vloot.

Selfregering was aanvanklik aan die Maltese geweier tot en met 1921, alhoewel 'n gedeeltelik verkose wetgewende raad reeds so vroeg as 1849 al bestaan (die eerste Regeringsraad onder Britse heerskappy is in 1835 gehou), en die plaaslike inwoners het soms geweldige armoede ervaar.[5] Dit was as gevolg van die feit dat die eiland oorbevolk was en grootliks afhanklik van Britse militêre uitgawes wat gewissel het na gelang van behoeftes rondom oorloë. Regdeur die 19de eeu het die Britse administrasie verskeie liberale grondwetlike hervormings ingestel,[6] wat oor die algemeen teengestaan is deur die Kerk en die Maltese elite wat verkies het om aan hulle feodale voorregte vas te klou.[7] Politieke organisasies, soos die Nasionalistiese Party, was op die been gebring of het ten doel gehad, die beskerming van die Italiaanse taal in Malta.

In 1813 is Malta die Bathurst Konstitusie vergun; in 1814 is dit vry van die plaag verklaar, terwyl die Weense Kongres van 1815 Britse heerskappy onder die 1814 Verdrag van Parys opnuut bevestig het. In 1819 is die plaaslike Italiaanstalige Università ontbind.

Die jaar 1828 sien die herroeping van die reg op kerklike beskerming na aanleiding van die Vatikaanse Kerk-Staat se proklamasie. Drie jaar later is die Bisdom van Malta onafhanklik verklaar van die Bisdom van Palermo. In 1839 is perssensuur afgeskaf en die konstruksie van die Anglikaanse Katedraal van Paulus is begin.

Na die 1846 Karnavalbetogings is 'n Regeringsraad met verkose lede, in 1849, onder Britse heerskappy saamgestel. In 1870 is 'n referendum gehou oor geestelikes op die Regeringsraad, en in 1881 is 'n Uitvoerende Raad onder Britse beheer geskep; in 1887 is "dubbele beheer" aan die Regeringsraad toevertrou onder Britse beheer. 'n Teenreaksie vind plaas in 1903, met die terugkeer na die 1849 vorm van Regeringsraad onder Britse heerskappy.

Die laaste vyftien jaar van die eeu is daar heelwat tegniese en finansiële vooruitgang gemaak in lyn met die Belle Epoque: in die daaropvolgende jare volg die grondlegging van die Anglo-Egiptiese Bank (1882) en die begin van die inwerkingstelling van die Malta Spoorweë (1883); die eerste Maltese posseëls is uitgegee in 1885 en in 1904 skop tremdienste af. Die Koninklike Operahuis is aan begin bou in 1888. In 1886 ontdek die hoof van chirurgie, David Bruce, die mikrobe wat Malta-koors veroorsaak, en in 1905 ontdek Themistocles Zammit die koors se oorsprong. Ten slotte, in 1912 skryf Dun Karm sy eerste gedig in Maltees.

Malta tussen die twee wêreldoorloë

[wysig | wysig bron]

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog raak Malta bekend as die Verpleegster van die Middellandse See .

In 1919 lei die Sette Giugno (7 Junie) onluste oor die uitbundige prys van brood, tot meer outonomie vir die plaaslike inwoners gedurende die 1920's. Nadat Filippo Sciberras 'n Nasionale Vergadering saamgestel het, is selfregering onder Britse beheer vergun in 1921. Malta bekom 'n tweekamer parlement met 'n senaat (later in 1949 ontbind) en 'n verkose Wetgewende Vergadering. Joseph Howard word aangewys as Eerste Minister. In 1923 is die Innu Malti vir die eerste keer in die openbaar gespeel, en in dieselfde jaar word Francisco Buhagiar Eerste Minister, gevolg deur Sir Ugo Pasquale Mifsud in 1924 en in 1927 deur Sir Gerald Strickland.

Die 1930's is gekenmerk deur die onstabiele verhoudings tussen die Maltese politieke elite, die Maltese kerk en die Britse heersers; die Grondwet van 1921 is twee keer opgeskort. Eers in 1930–1932, na 'n botsing tussen die regerende Konstitusionele Party en die Kerk[8] en laasgenoemde se daaropvolgende oplegging van doodsonde aan kiesers van die party en die se bondgenote, wat dus 'n vrye en regverdige verkiesing onmoontlik gemaak het. Weer, in 1933 is die Grondwet teruggetrek oor die Regering se begrotingstem vir die onderrig van Italiaans in laerskole.[9] Malta keer daarna dus terug na de Kroonkolonie status wat dit in 1813 gehad het.

Voor die koms van die Britte was die amptelike taal sedert 1530 (en die taal van die geleerde elite) Italiaans, wat later verwater het as gevolg van die toenemende gebruik van Engels. In 1934 is Engels en Maltees verklaar as die enigste amptelike tale. In 1934 kon slegs omtrent 15% van die bevolking Italiaans vlot praat.[10] Dit het beteken dat uit 58 000 mans wat volgens ouderdom kwalifiseer as jurielede, slegs 767 kon kwalifiseer op grond van taal, aangesien Italiaans tot op daardie stadium in die howe gebruik is.[10] Die ongeregtigheid het meer gewig gedra as die kommer oor fascisme.

In 1936 is die Grondwet hersien om voorsiening te maak vir die benoeming van lede tot die Uitvoerende raad onder Britse heerskappy, en weer in 1939 om voorsiening te maak vir 'n verkose Regeringsraad onder Britse heerskappy.

Britse Malta gedurende die Tweede Wêreldoorlog

[wysig | wysig bron]
Dienspersoneel en burgerlikes verwyder puin vanuit 'n straat na groot bomskade, in Valletta, Malta op 1 Mei 1942

Voor die Tweede Wêreldoorlog was die Britse Middellandse See-vloot se hoofkwartiere in Valletta. In weerwil van Winston Churchill se besware[11] is die kommandement geskuif na Alexandrië, Egipte, in April 1937, uit vrees dat dit te ontvanklik was vir lugaanvalle vanaf Europa.[11][12][13] Teen die tyd van die Italiaanse oorlogsverklaring (10 Junie 1940) het Malta 'n garnisoen van minder as vierduisend soldate gehad en omtrent vyf weke se kosvoorraad vir 'n bevolking van naastenby driehonderdduisend mense. Daarbenewens het Malta se lugafweergeskut bestaan uit ongeveer twee-en-veertig lugafweer kanonne (vier-en-dertig "swaar" en agt "lig") en vier Gloster Gladiators, vir wat daar drie loodse beskikbaar was.

Aangesien dit 'n Britse kolonie was, naby aan Sisilië en die Spilmoondhede se skeepsroetes, is Malta gebombardeer deur die Italiaanse en Duitse lugmag. Malta is deur die Britte gebruik om aanvalle op die Italiaanse vloot van stapel te stuur en het ook 'n duikbootbasis gehad. Dit was ook gebruik as 'n luisterpos, met die afluister van Duitse radioboodskappe insluitende Enigma verkeer.[14]

Die eerste lugaanvalle op Malta het op 11 Junie 1940 plaasgevind; daar was ses aanvalle op daardie dag. Die eiland se tweevlerkvliegtuie kon nie in die verdediging gebruik word nie aangesien die Luqa-vliegveld nog nie voltooi was nie, dit was egter reg teen die sewende aanval. Aanvanklik het die Italianers op omtrent 5 500 meter gevlieg en dan gedaal tot 3 000 meter (om die akkuraatheid van die bomwerping te verbeter). Majoor Paine het vermeld "[Na hulle gedaal het], het ons een of twee afgeskiet elke ander dag, so hulle het begin om teen [sesduisend meter] in te kom. Hulle bomwerping was nooit baie akkuraat nie. Soos hulle hoër gevlieg het, het dit nogal blindelings geskied."[15] Mabel Strickland sou vermeld, "Die Italianers het besluit hulle hou nie van die [die Gladiators en lugafweerkanonne] nie, so hulle het die bomme 20 km weg van Malta gewerp en dan teruggekeer."[16]

Teen die einde van Augustus is die Gladiators aangevul deur twaalf Hawker Hurricanes wat via die HMS Argus aangeland het.[16] Gedurende die eerste 5 maande van die oorlog het die eiland se vliegtuie ongeveer 37 Italiaanse vliegtuie afgeskiet of beskadig. Italiaanse vegvlieënier Francisco Cavalera het opgemerk "Malta was regtig 'n groot probleem vir ons gewees — baie goed verdedig."[16]

Op Malta het 330 mense omgekom en is 297 ernstig beseer sedert die aanvang van die oorlog tot Desember 1941. In Januarie 1941, het die Duitse X. Fliegerkorps in Sisilië aangekom op die tydstip wat die Afrika Korps in Libië aangekom het. Oor die daaropvolgende paar maande is 820 mense dood en 915 ernstig beseer.[17]

Op 15 April 1942 ken Koning George VI die George-kruis (die hoogste siviele toekenning vir dapperheid) toe aan "die eiland-fort van Malta — sy mense en verdedigers."[16] Franklin D. Roosevelt arriveer op 8 Desember 1943 en oorhandig 'n Verenigde State Presidensiële Sitaat aan die inwoners van Malta vanaf die mense van die Verenigde State. Hy oorhandig ook 'n perkamentrol op 8 Desember, wat hy weens simboliese redes terugdateer na 7 Desember. Gedeeltelik lees dit: "Onder herhaalde vuur vanuit die lug, staan Malta alleen en onbevrees in die middel van die see, een klein helder vlam in die donker — 'n baken van hoop vir die helderder dae wat aangebreek het."[18] (Die volledige Sitaat staan nou op 'n gedenkplaat teen die muur van die Grootmeester se paleis in Republic-straat in die dorpsplein van Valletta.[19])

In 1942 het Operasie Pedestal se konvooi in Grand Harbour aangekom, en die volgende jaar het Franklin D. Roosevelt en Winston Churchill Malta besoek. George VI arriveer in Grand Harbour vir 'n besoek.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was Ugo Mifsud en George Borg Olivier die enigste twee oorblywende Nasionalistiese lede van die Maltese parlement. Ugo Mifsud het flou geval na hy 'n passievolle verweer gelewer het vir die deportasie na konsentrasiekampe in Uganda van Enrico Mizzi en 49 ander Maltese Italianers aangekla van pro-Italiaanse politieke aktiwiteite. Hy is 'n paar dae later oorlede.

Die Geallieerdes skop hulle inval van Sisilië af, en begin vanaf Malta. Dieselfde jaar, 1943, na die Cassibile-wapenstilstand, gee die Italiaanse vloot oor aan die Geallieerdes in Malta. In 1945 ontmoet Churchill en Roosevelt vir Josef Stalin in Malta voor die Jalta-konferensie.

Die Nasionale Vergadering van 1946 het die 1947 grondwet onder Britse heerskappy tot gevolg, met die herinstel van selfregering en Paul Boffa wat eerste Minister word.

Van Selfregering tot onafhanklikheid

[wysig | wysig bron]

Na die Tweede Wêreldoorlog verkry die eilande selfregering met die Malta Arbeidersparty (MLP) van Dom Mintoff wat volle integrasie met die VK soek of anders "eie-ontwikkeling (onafhanklikheid)", en die Partit Nazzjonalista (PN) van George Borg Olivier wat onafhanklikheid voorstaan met dieselfde "gebiedstatus" wat Kanada, Australië en Nieu-Seeland geniet.

Intussen onderteken Malta in 1949, na die Rooi vlag insident van 1948, die Noord-Atlantiese verdrag en sluit aan by NAVO.

Na die Kroningsinsident in 1953, word 'n Ronde-tafel konferensie in Londen gehou in Desember 1955, oor die toekoms van Malta, bygewoon deur die nuwe Eerste Minister Dom Mintoff, Borg Olivier en ander Maltese politici, tesame met die Britse Koloniale sekretaris, Alan Lennox-Boyd. Die Britse regering onderneem om die eilande hul eie verteenwoordiging te gee in die Britse Laerhuis, met Britse Binnelandse sake wat verantwoordelikheid oorneem vir Maltese sake, van die Koloniale kantoor. Onder hierdie voorstelle sal die Maltese parlement verantwoordelikheid behou oor alle sake behalwe verdediging, buitelandse beleid en belasting. Die Maltese sal ook sosiale en ekonomiese gelykheid met die VK geniet, gewaarborg deur die Britse ministerie van verdediging (MoD), die eiland se hoofbron van arbeid.

'n VK integrasie-referendum is op 11 en 12 Februarie 1956 gehou, waarin 77.02 persent van kiesers ten gunste van die voorstel was,[20] maar omrede 'n boikot deur die Nasionalistiese party het slegs 59.1 persent van die stemgeregtiges gestem wat die referendum onbeslis gelaat het. Daar was ook kommer onder Britse LP's dat die verteenwoordiging van Malta in Westminster 'n president sal skep vir ander kolonies, en dit kan die uitslag van die algemene verkiesing beïnvloed.[21]

Bykomend beteken die verminderde strategiese belang van Malta vir die Britse vloot dat die Britse regering toenemend huiwerig was om die vloot se skeepswerwe te onderhou. Na aanleiding van 'n besluit deur die Admiraliteit om 40 werkers af te lê by die skeepswerf, het Mintoff verklaar dat "verteenwoordigers van die Maltese mense in die Parlement verklaar dat hulle nie langer gebonde is aan die ooreenkomste en verpligtinge tot die Britse regering nie..." (die 1958 Caravaggio-insident )[22] In antwoord hierop het die Koloniale sekretaris 'n kabelgram aan Mintoff gestuur waarin hy dit stel dat hy die integrasieplan "met roekeloosheid in gevaar gestel het".[22]

Dom Mintoff het onder protes bedank as Eerste Minister, terwyl Georgio Borg Olivier geweier het om 'n alternatiewe regering te vorm. Dit het tot gevolg gehad dat die eilande onder direkte koloniale administrasie geplaas is vanaf Londen, met die MLP wat ondersteuning onttrek het aan die integrasie voorstel en nou onafhanklikheid voorstaan. In 1959 is 'n tussentydse Grondwet verskaf vir 'n Uitvoerende raad onder Britse heerskappy.

Terwyl Frankryk 'n soortgelyke beleid geïmplimenteer het in hulle kolonies, waarvan sommige oorsese departemente geword het, het die posisie wat Brittanje aan Malta geoffer het 'n unieke uitsondering bevat. Malta was die enigste Britse kolonie waar integrasie met die VK ernstig oorweeg is, en latere Britse regerings het integrasie van die oorblywende kolonies soos Gibraltar heeltemal uitgeskakel.[23]

In 1961 het die Blood-kommissie voorsiening gemaak vir 'n nuwe grondwet wat 'n mate van selfregering toelaat en die "Staat van Malta" erken. Giorgio Borg Olivier word Eerste Minister die volgende jaar met die lewering van die Stolper-verslag.

Geskiedenis van die onafhanklikheid van Malta (1964-)

[wysig | wysig bron]

Nasionalistiese regerings (1964–1971)

[wysig | wysig bron]

Na aanleiding van die Maltese grondwetlike referendum in 1964, goedgekeur deur 54.5% van die kiesers op 21 September 1964, word Malta 'n onafhanklike staat as 'n Konstitusionele Monargie, met Elizabeth II as Staatshoof. Dit word gevier as Onafhanklikheidsdag of Jum l-Indipendenza in Maltees. Op 1 Desember 1964 is Malta toegelaat tot die Verenigde Nasies

In die eerste twee verkiesings sedert onafhanklikheid, 1962 en 1966, het die Nasionalistiese party verrys as die grootste party, en verkry 'n meerderheid van die Parlementêre setels.

In 1965 sluit Malta aan by die Europese raad, en in 1970 teken Malta 'n Assosiasie-ooreenkoms met die Europese Gemeenskap.

Arbeider regerings (1971–1987)

[wysig | wysig bron]

Met die 1971 verkiesing wen die Arbeidersparty (MLP) onder Dom Mintoff met net oor die 4000 stemme.

Die Arbeiders begin onmiddellik met nuwe onderhandelings rondom die post-onafhanklike militêre en finansiële ooreenkomste aangegaan met die Verenigde Koninkryk. Die regering het ook nasionaliseringsprogramme onderneem asook die uitbreiding van die openbare sektor en die welsynstaat. Arbeidswetgewing is opgedateer met geslagsgelykheid wat ingebring is by die betaling van salarisse. Betreffende siviele reg is burgerlike huwelike ingestel en homoseksualiteit en ontug is gedekriminaliseer (1973); die doodstraf vir moord is in 1971 afgeskaf. Die daaropvolgende jaar het Malta 'n Militêre basis-ooreenkoms betree met die Verenigde Koninkryk en ander NAVO lande.

Deur 'n pakket van grondwetlike hervormings, ooreengekom met die Nasionalistiese opposisie, het Malta 'n republiek geword op 13 Desember 1974, met die laaste Goewerneur-Generaal, Sir Anthony Mamo, as die eerste President. Die Gieh ir-Repubblika-akte is die volgende jaar uitgevaardig, wat alle titels van adellikheid in Malta tot niet verklaar en beveel dat dit nie verder erken sal word nie.

Die Party is tot bewind aanvaar met die 1976 verkiesing. Malta is tussen 1976 en 1981 deur onstuimige jare en die Arbeidersregering het aangedring dat Maltese die belt stywer trek sodat die uitdagings en moeilikhede oorkom kan word. Daar was tekorte aan noodsaaklike items; water- en elektrisiteitverskaffing is 2 tot 3 maal per week opgeskort. Politieke spanning het toegeneem, veral op Swart Maandag na 'n mislukte sluipmoordpoging op die Eerste Minister, die perseel van die Times of Malta tot op die grond afgebrand is en die huis van die Leier van die Opposisie aangeval is.

Op 1 April 1979 verlaat die laaste Britse magte die eiland na die afhandeling van die ekonomiese ooreenkoms om die Maltese ekonomie te stabiliseer. Dit word gevier as Vryheidsdag (Jum Il-Ħelsien) op die 31ste Maart. Die vieringe begin met 'n seremonie in Floriana na aan die Oorlog-gedenkteken. 'n Populêre gebeurtenis op die herdenkingsdag is die tradisionele regatta. Die regatta word in Grand Harbour gehou en die deelnemende spanne gee hulle allerbeste om die gesogte Regatta-skild te verower. Mintoff het ook noue kulturele en ekonomiese bande gesluit met Muammar Gaddafi van Libië.[24]

Die 1981 algemene verkiesing lewer vir die Nasionalistiese Party (NP) 'n algehele meerderheid van stemme, maar die Arbeiders verkry nog steeds 'n meerderheid van setels in die parlement onder die Enkel-oordraagbare stem en Mintoff bly Eerste Minister. Dit lei tot 'n politieke krisis. Die Nasionaliste, nou gelei deur Eddie Fenech Adami, weier om die uitslag te aanvaar en weier ook om hulle plekke in die parlement in te neem vir die eerste paar jaar van die wetgewende liggaam. Dit bou op tot 'n veldtog wat eis dat die Parlement die wil van die kiesers moet weergee. Ten spyte hiervan het die Arbeidersregering vir die volle 5 jaar aan bewind gebly. Mintoff bedank as Eerste Minister en Partyleier en wys Karmenu Mifsud Bonnici aan as sy opvolger in 1984.

Die Mifsud-Bonnici jare is gekenmerk deur politieke spanning en geweld. Na 'n 5-jaar debat het Fenech Adami, deur die tussenbeidetrede van Dom Mintoff, 'n ooreenkoms bereik met Karmenu Mifsud Bonnici, om die grondwet te verbeter. Grondwetlike wysigings is oor gestem en bekragtig in Januarie 1987, wat waarborg dat die party met 'n oorgrote meerderheid van stemme die meerderheid van parlementêre setels sal kry, om sodoende te kan regeer. Dit het die weg gebaan vir die Nasionalistiese Party om later daardie jaar te regeer.

Die toetredingsproses tot die Europese Unie (1987–2004)

[wysig | wysig bron]
Edward Fenech Adami, Maltese eerste minister, van 1987 tot 1996 en weer van 1998 tot 2004

Die algemene verkiesing wat in 1987 gevolg het lewer vir die Nasionalistiese Party so 'n meerderheid. Die nuwe Nasionalistiese administrasie van Edward Fenech Adami was opsoek daarna om Malta se bande met Wes-Europa en die Verenigde State te vernou. Die Nasionalistiese Party het Malta se lidmaatskap tot die Europese Unie bepleit en lê 'n aansoek voor op 16 Julie 1990. Dit word 'n betwisbare saak met die Arbeiders wat lidmaatskap teëstaan.

'n Deurtastende program van liberalisering en openbare beleggings lei tot 'n groter meerderheid vir die Nasionaliste in die 1992 verkiesing. In 1993 is plaaslike rade weer hervestig in Malta

Algemene verkiesings was in Malta gehou op 26 Oktober 1996; alhoewel die Arbeiders die meeste stemme ontvang het, het die Nasionaliste die meeste setels gewen. Die grondwetlike veranderings van 1987 moes vir die tweede keer gebruik word, en die Arbeidersparty is 'n addisionele 4 setels toegeken om hulle meerderheid in die Parlement te verseker. Malta se aansoek tot die EU is gevolglik op ys geplaas. 'n Verdeling in die Arbeidersparty in 1998 tussen Eerste Minister Sant en voormalige Eerste Minister Mintoff, nou 'n agtersitter, het tot gevolg gehad dat die regerings sy meerderheid verloor. Nieteenstaande die President van die Republiek se voorkeur vir 'n onderhandelde oplossing, het alle pogings vrugteloos geëindig, en het hy geen ander opsie oorgehad as om Sant en sy regering se bedanking te aanvaar nie, en 'n vroeë verkiesing uit te roep.

Met hulle terugkeer na hul amp as regeerders in die 1998 verkiesing, met 'n 13 000 stemme voorsprong, het die Nasionalistiese Party die EU lidmaatskapaansoek heropen. Malta is formeel aanvaar as 'n kandidaadland tydens die Helsinki-Europese raad van Desember 1999.[25] In 2000 is die doodstraf ook geskrap uit die militêre wet van Malta.

EU toetrede-onderhandelings is laat in 2002 afgehandel en 'n referendum om lidmaatskap in 2003 het aangedui dat 53.65% uit 90.86% geldige stemme ten gunste daarvan was. Die Arbeiders het dit gestel dat hulle nie gebonde sal wees aan die uitslag nie indien hulle die leisels sou oorneem met die algemene verkiesing later daardie jaar. Onder hierdie omstandighede is 'n verkiesing uitgeroep en die Nasionalistiese Party het nog 'n mandaat gewen, om Lawrence Gonzi as Eerste Minister aan te wys. Die Toetrede-ooreenkoms is geteken en bekragtig en Malta sluit die 1ste Mei 2004 aan by die EU. Eenstemmigheid oor lidmaatskap is vervolgens met die Arbeiders bereik dat hulle die uitslag sal respekteer. John Dalli is aangewys as die eerste Maltese Europese kommissaris by die tweede Barroso-kommissie.

Malta in die Europese Kommissie (2004-)

[wysig | wysig bron]

Binne die konteks van die EU lidmaatskap het Malta by die Eurosone aangesluit op 1 Januarie 2008; die 2008 verkiesing bevestig Gonzi in die premierskap, terwyl George Abela in 2009 President van Malta word.

Op 28 Mei 2011 stem die Maltese "ja" in die konsulterende egskeidingsreferendum. Op daardie tydstip was Malta slegs een van drie lande in die wêreld, saam met die Filippyne en die Vatikaanstad, waar egskeidings ontoelaatbaar is. As gevolg van die referendum se uitslag is 'n wet, wat egskeiding onder sekere omstandighede toelaat, dieselfde jaar uitgevaardig.[26] Na aanleiding van 'n korrupsieskandaal moes John Dalli bedank en is hy vervang met Tonio Borg as die Maltese kommissaris in 2012. 'n Dringende verkiesing is uitgeroep vir Maart 2013 na die Gonzi-regering hul Parlementêre meerderheid verloor het.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  • Stephenson, Charles. The Fortifications of Malta 1530–1945 . Great Britain: Osprey Publishing Ltd., 2004.
  • Attard, Joseph. Britain and Malta. Malta: PEG Ltd.1988.
  • Luke, Sir Harry. Malta – An Account and an Appreciation. Great Britain: Harrap, 1949.
  1. "Gozo" (in Engels). IslandofGozo.org. 7 Oktober 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 April 2009. Besoek op 21 Maart 2013.
  2. C. Capelli, N. Redhead, N. Novelletto, L. Terrenato, P. Malaspina, Z. Poulli, G. Lefranc, A. Megarbane, V. Delague, V. Romano, F. Cali, V.F. Pascali, M. Fellous, A.E. Felice, and D.B. Goldstein; "Population Structure in the Mediterranean Basin: A Y Chromosome Perspective," Geargiveer 28 Augustus 2013 op Wayback Machine Annals of Human Genetics , 69, 1–20, 2005.
  3. Porter, 451.
  4. http://www.napoleonicsociety.com/english/Life_Nap_Chap12.htm
  5. Attard P.76
  6. Luke ChVIII
  7. Attard P.64:Luke P.107
  8. "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Februarie 2011. Besoek op 21 Maart 2013.
  9. http://www.intratext.com/IXT/ITA2413/_P6.HTM
  10. 10,0 10,1 Luke P.113
  11. 11,0 11,1 Bierman, John; & Colin Smith (2002). The Battle of Alamein: Turning Point, World War II. Viking. p. 36. ISBN 978-0-670-03040-8.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  12. Titterton, G. A. (2002). The Royal Navy and the Mediterranean, Volume 2. Psychology Press. p. xiii. ISBN 978-0-7146-5179-8.
  13. Elliott, Peter (1980). The Cross and the Ensign: A Naval History of Malta, 1798–1979. Naval Institute Press. p. ??. ISBN 978-0-87021-926-9.
  14. Calvocoressi, Peter (1981 (reprint)). Top Secret Ultra – Volume 10 of Ballantine Espionage Intelligence Library. Ballantine Books. pp. 42, 44. ISBN 978-0-345-30069-0. {{cite book}}: Gaan datum na in: |year= (hulp)
  15. Bierman & Smith. p. 37. {{cite book}}: Ontbrekende of leë |title= (hulp)
  16. 16,0 16,1 16,2 16,3 Bierman & Smith. p. 38. {{cite book}}: Ontbrekende of leë |title= (hulp)
  17. Shankland, Peter; & Anthony Hunter (1961). Malta Convoy. I. Washburn. p. 60.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  18. "Mr. Roosevelt Gives Scroll To People On Isle Of Malta". The Gettysburg Times. Associated Press. 10 Desember 1943. pp. 1, 4.
  19. Rudolf, Uwe Jens; & Warren G. Berg (2010). Historical Dictionary of Malta. Scarecrow Press. pp. 197–198. ISBN 978-0-8108-5317-1.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  20. Referenda in Malta: The Questions and the Voters' Responses
  21. "MALTA (ROUND TABLE CONFERENCE)HC Deb 26 Maart 1956 vol 550 cc1778-931". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 September 2015. Besoek op 21 Maart 2013.
  22. 22,0 22,1 "Penny-Wise", TIME, 13 Januarie 1958, archived from the original on 2 Maart 2009, https://web.archive.org/web/20090302023516/http://www.time.com/time/magazine/article/0%2C9171%2C862830%2C00.html, besoek op 21 Maart 2013 
  23. "Hansard 3 August 1976 Written Answers (House of Commons) → Foreign and Commonwealth Affairs". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Januarie 2016. Besoek op 21 Maart 2013.
  24. "argiefkopie". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 April 2009. Besoek op 21 Maart 2013.
  25. http://www.consilium.europa.eu/uedocs/cms_data/docs/pressdata/en/ec/ACFA4C.htm
  26. "MPs in Catholic Malta pass historic law on divorce" (in Engels). BBC News. 25 Julie 2011. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Augustus 2019. Besoek op 16 Julie 2011.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.